Hk 32 U Enigste Troos
SONDAG 32
Die noodsaaklikheid van die goeie werke
Lees: 1 Johannes 1, vs. 1-17.
Sing: Psalm 1, vs. I; Psalm 119 vs. 18; Gesang 58, vs. 4; Gesang 62, vs. 6.
Johannes 1, vs. 4. „Hy wat sê: ek ken Hom en sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie."
Vraag 86: Aangesien ons sonder enige verdienste, van ons kant, alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is, waarom moet ons dan nog goeie werke doen?
Antwoord: Omdat Christus, nadat Hy ons met sy bloed gekoop en vrygemaak het, ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe, sodat ons met ons ganse lewe aan God dankbaarheid vir sy weldade sal bewys en Hy deur ons geprys word. Dan ook, dat elkeen by homself van sy geloof uit die vrugte versekerd kan wees en dat deur ons Godsalige wandel ons naaste ook vir Christus gewin kan word.
Vraag 87: Kan diegene dan nie salig word wat in hulle goddelose onboetvaardige lewe volhard en hulle tot God nie bekeer nie?
Antwoord: Nee hoegenaamd nie; want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, geldgierige, dronkaard, lasteraar of rower of dergelike die koninkryk van God sal beërwe nie.
Geliefdes,
Ons is nou by die derde deel van die Kategismus, en die opskrif bo-aan pryk ook daar groot, oor die dankbaarheid van die mens. Ons kry vandag te doen met die noodsaaklikheid van goeie werke, wat maar net 'n sinoniem is vir die vervulling van God se gebooie.
Die vervulling van die gebooie van God met dankbaarheid is noodsaaklik en word deur die Kategismus met drie bewysgronde aangetoon. 1) Omdat Christus ons deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe het. 2) Sodat ons daardeur versekering kan kry van ons geloof en 3) dat deur ons Godsalige wandel ons naaste vir Christus kan gewin word.
Laat my toe om u te herinner aan die gelykenis van die Here Jesus van die twee seuns wat in die wingerd moes gaan werk. Die een seun lees ons het dadelik ja geantwoord op die woord van sy vader maar tog nie gaan werk nie. Hierdie seun is sinnebeeld van so baie mense wat dadelik ja sê maar die gebooie van die Heer het nie so baie gewig by hulle nie. Mens moet eintlik hier dink aan 'n stille redenering. Ag die Here Jesus het tog vir my sonde betaal en waarom moet ek dan nou nog die moeite hê om goeie werke te doen. In die tyd van die Apostel Paulus was daar ook mense wat die opvatting toegedaan was, daarom dat Paulus in Rom. 3, vs. 8 sê: „Hulle veroordeling is regverdig." Reeds hierdie gedagte laat ons sien dat elkeen opsetlik oor die doen van goeie werke ernstig moet nadink.
Ons dank God dat ons Here Jesus ons uit al ons ellende verlos het, en dit gedoen het alleen uit genade, maar Hy het ook nog iets anders gedoen, n.l. deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe. Jesus het dus nie net ons saak by God in orde gemaak nie, maar ook die fout in onsself reggemaak.
Aan die eis van God se regverdigheid het Hy voldoening gegee, maar Hy het ook die wonder van die wedergeboorte in ons gewerk. Sy Gees het as 't ware 'n nuwe lewe te voorskyn geroep, die het ons hervorm, sodat die mens wat lus had vir die sonde totaal gesterf het, en daar 'n nuwe mens tevoorskyn gekom het wat die beeld van Jesus vertoon en die gesindheid van Jesus openbaar. Net soos Jesus dit as sy hoogste roeping gesien het om die wil van die Vader te doen so is dit ook vir die verlostes, die wedergeborenes, die hoogste lus en drang om die wil van die Vader te doen. As dit nie so is nie dan begin ons twyfel aan die egtheid van die geloof en van die wedergeboorte, die verlossing, dan vra ons of die persoon nie 'n leuenaar is nie, en dan twyfel ons of die waarheid in hom is. As Jesus waarlik die Owerste Leidsman en Voleinder van die geloof is dan kan dit tog nie anders dan dat ons sal volg op die pad wat Hy bewandel nie. Die geloof en die doen van goeie werke is onafskeidelik aan mekaar verbind. Waar net een van die twee gevind word moet ons onrustig wees. 'n Geloof sonder die werke is 'n dooie geloof. Ek dink aan die woorde van Paulus „al had ek die geloof om berge te versit en ek het die liefde nie dan is ek niks nie." Uit die werke moet die geloof gesien word. Onthou ook aan die ander kant dat goeie werke wat nie uit 'n ware geloof voortvloei nie ook niks beteken nie. Ons waarsku ernstig teen die werkheiligheid. Goeie werke doen om die hemel daarmee te verdien, geskied nie uit dankbaarheid nie en daardeur word God ook nie geprys en verheerlik nie. Die goeie werke moet gedoen word om dankbaarheid aan God te bewys vir sy weldade en om Hom te prys en te verheerlik.
In die tweede instansie is die goeie werke noodsaaklik dat elkeen by homself van sy geloof uit die vrugte versekerd kan wees. 'n Boom moet aan sy vrugte geken word, want 'n goeie boom kan geen slegte vrugte voortbring en 'n slegte boom geen goeie vrugte nie.
Hoor ons in die laaste tyd nie te min van daardie begeerte na die versekerdheid van die geloof nie?
Daar moet ernstige navraag wees na die kentekens van die genade; nie uit nuuskierigheid nie maar om die sekerheid van die geloof. Daar moet egter gewaak word teen die verkeerde koers wat soms ingeslaan word. Sommige mense soek na 'n stem wat met hulle spreek soos by die profeet Samuel, ander wil hê dat hulle 'n ervaring moet deurmaak soos Paulus op die pad na Damaskus, maar dit is sekerlik nie die regte weg om te volg nie.
Ons moet die versekering van die egtheid van ons geloof kry uit die vrugte van die geloof. Die geloof self is die eerste bewys, maar soms is die geloof swak en wankelend en daarom word juis na die genadetekens gesoek.
Ons Heer Jesus self het die goeie werke vrugte genoem, en hierdeur moet ons tot sekerheid kom. Die grootheid of hoeveelheid kom daar nie soseer op aan nie, maar die innerlike waarde van die goeie werke. Goeie werke is die bewaring van die gebooie van God tot sy eer, werke wat nie op die goeddunke van mense gegrond is nie.
Die vraag is nie of ons die volmaaktheid bereik het nie maar of ons seker is van die genadestaat. Indien ons nie seker is nie dan moet ons in die gebed tot God ons wend. Die resultate van ons lewe moet oordink word en daar sal baie sonde aangetref word, maar waar die geloof is sal ook egte goeie werke wees.
As ons vind dat daar vrugte is van die geloof dan is ons tevrede, dan weet ons dat Gods Gees met ons gees getuig soos Paulus dit stel.
Goeie werke is in die derde plek noodsaaklik, sodat deur ons Godsalige wandel ons naaste ook vir Christus kan gewin word.
Sodra ons hier kom, is die vraag wie is my naaste ook weer op die voorgrond. Hier lyk dit of die uitspraak baie eenvoudig is, hier moet net 'n end kom aan die Kainshouding. „Is ek my Broer se oppasser ?" Elke mens moet hier in aanmerking kom. Die bevel van die Heiland is: verkondig die Evangelie aan die ganse mensdom. Die ganse mensdom moet vir Christus gewin word. Ons kan sekerlik hier niemand gaan uitsluit nie. Die Godsalige lewenswandel moet daar wees om almal met wie ons in aanraking kom te besiel en aan te moedig.
Ons hele gedrag, handel en wandel oefen invloed uit op die omgewing, ten goeie of ten kwade, en die saligheid van ons medemens is ten nouste met ons eie lewe verbonde.
Ons lewensrigting moet vas wees, ja so bestendig dat daar vooraf kan bepaal word hoedat ons, as Christene in bepaalde omstandighede sal reageer. Ons handel en wandel moet steeds in ooreenstemming wees met ons belydenis. As die lewenswandel nie in ooreenstemming is met die belydenis nie dan is daar nie 'n ander resultaat te verwag nie as dat die wêreld met die Christen sal spot.
As die wêreld ons egter bespot wanneer ons vaste koers hou dan moet ons daardie bespotting gewilliglik dra, maar die bespotting wat kom deurdat ons doen en late in stryd is met ons belydenis is 'n skande.
Die goeie werke moet in die oë van die buitestaanders 'n verheerliking van God wees; ja soseer dat dit ook by hulle die begeerte sal wek om God te dien; om Jesus van Nasaret aan te neem as Redder en Verlosser.
Die Here het ons in 'n huiskring geplaas waar daar van ons invloed moet uitgaan, in 'n gemeentekring geplaas waar ons 'n voorbeeld moet wees! Laat elkeen dan tog maar die gewetensvraag stel: Watter invloed gaan daar van my uit ? Is dit 'n invloed ten goeie of ten kwade?
Net soos die goeie werke kentekens is van die ware geloof, so is die bose werke ook kentekens van 'n goddelose lewe.
Ons Kategismus noem hier 'n paar van die openbare sondes op, en om die gevaar te vermy om net die genoemde sondes te beskou as sondes wat die mens uit die Koninkryk van God uitsluit voeg die Kategismus by „of dergelike." Net so min as die christelike sedelikheid bestaan in die beoefen van 'n paar deugde bestaan die goddeloosheid in die doen van enige slegte dade, maar hang dit heeltemal af van die gesindheid van die hart. By die lys van sondes wat ons Nagmaalsformulier noem kan ons miskien heelwat byvoeg.
In alles moet ons besonder versigtig wees, want die oordeel oor die huigelaars sal baie swaar wees, immers ons lees in die Openbaring dat elkeen geoordeel sal word volgens sy werke.
Hoe hard die straf ook al is vir hulle wat 'n goddelose lewe lei, daar is hoop op redding, as daar berou is en bekering, as hulle hulle deur die Gees van God laat verander en vernuwe na die ewebeeld van Christus.
Ons kan almal kom net soos wat ons is om ons van Christus te laat verander, want sonder 'n bruilofskleed mag ons die bruilofsaal nie binnegaan nie, en die kleed is alleen van Jesus te kry. Alleen deur die bloed van die kruis word ons geskik gemaak vir die bruilof.
Amen.
W. J. Kemp.