Hk 34 U Enigste Troos
SONDAG 34
Die eerste gebod
Lees: Mattheus 6, vs. 19-34.
Sing• Psalm 105, vs. 3; Psalm 119, vs. 1; Psalm 81, vs. 10 en i; Psalm 68, vs.
Vraag 92: Hoe lui die wet van die Here?
Antwoord: God het al hierdie woorde gespreek (Ex. 20, VS. 1-17 ; Deut. 5, vs. 6-21). Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het. En dan volg die tien gebooie.
Vraag 93: Hoe word hierdie tien gebooie ingedeel?
Antwoord: In twee tafels, waarvan die eerste leer hoe ons teenoor God ons moet gedra; die ander wat ons aan ons naaste verskuldig is.
Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?
Antwoord: Dat ek, so dierbaar as die saligheid van my siel is, alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van die heiliges of van ander skepsele moet vermy en ontvlug, en die enige ware God reg moet leer ken, Hom alleen moet vertrou, in alle ootmoed en lydsaamheid my aan Hom alleen moet onderwerp, van Hom alleen alles wat goed is moet verwag, Hom van ganser harte moet liefhê, vrees, en eer, sodat ek eerder van alle skepsele sal afsien en hulle laat vaar as dat ek in die allerminste teen sy wil sal handel.
Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord: Afgodery is, om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders te versin of te hê waarop die mens sy vertroue stel.
Sonder wette sal die hele inrigting van die maatskappy in die war loop, sonder bepaalde voorskrifte sal dit onmoontlik wees om orde te handhaaf, sonder tradisies sal ons lewensloop sy rigting verloor.
Ons het die reg en dit is in ons eie belang om wette te maak en bepaalde reëls en voorskrifte daar te stel wat deur ons en ander nie mag geminag word nie. In elke huis is die kinders verplig om aan die eise van hulle ouers gehoorsaam te wees, in die skool word 'n bepaalde orde deur die onderwysers gehandhaaf, in die staat vind ons tallose wette wat die regering van die land moontlik maak. Ons kan nie altyd doen en laat wat ons wil nie. Oral kom ons in botsing met wette en bepalinge.
Ons mense maak wette, ons lê ondergeskiktes op verskillende maniere aan bande. En as ons die reg besit hoeveel te meer dan nie die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde nie? Ons is die maaksel van sy hande en daarom spreek dit vanself as Hy aan ons grense stel wat nie deur ons oorskry mag word nie. Hy is onse Vader en ons sy kinders en daarom spreek dit vanself dat ons aan Hom gehoorsaam moet wees. En voor die sondeval het hierdie gehoorsaamheid vir ons vanself gespreek. Nooit is daar enige wanklank verneem tussen Skepper en skepsel nie. Maar deur die sonde is die wet van God in ons verdonker en kragteloos gemaak. Sinds die sondeval het ons nie meer 'n behae in die wet van God na die inwendige mens nie, sy insettinge en regte word nie langer deur ons geëerbiedig nie. Ons het sy diens verlaat en weier om altyd rekening te hou met die grense wat Hy aan ons stel. Gedurig kom ons in opstand teen God, elke dag is ons besig om teen Hom te rebelleer. Gedurig moet daar uit die hemel oor ons gekla word: Ek het kinders grootgemaak en verhoog maar hulle het teen My oortree. 'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar; maar My volk het geen kennis nie, My volk verstaan nie.
Ons het 'n geslag van kwaaddoeners geword, kinders wat verderflik handel. Die Here onse God het ons verlaat, die Heilige van Israel word dikwels deur ons verag . . . vreemde weë word deur ons bewandel. Ons is 'n wederstrewige geslag wat die reg en geregtigheid gedurig met voete vertrap. Ons weet die wil van God, maar ons doen dit nie, ons ken die weg van God maar ons bewandel dit nie. Na die stem van God in ons binneste, ons gewete, luister ons nie. Hierdie stem word gedurig deur ons onderdruk.
Maar al weier ons om met God rekening te hou, in sy taaie lankmoedigheid hou Hy aan om met ons bemoeienisse te maak; al laat ons Hom los, Hy laat nooit vaar die werke van sy hande nie. God het geen lus in die dood van die sondaar nie en daarom gaan Hy onafgebroke voort om sy wil aan ons bekend te maak en ons die weg te leer wat deur Hom bepaal is. God gee aan ons sy Woord om te wees 'n lamp vir ons voet en 'n lig op ons pad. Ons het Moses en die Profete en as ons weier om na hulle te luister dan word ons uitgewerp in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is. Gedurig word ons gewaarsku: Na die Wet en die getuienis; as julle nie spreek volgens hierdie Woord nie, dan is daar vir julle geen daeraad nie.
God eis van ons gehoorsaamheid aan sy wet; die vier gebooie van die eerste tafel wys ons op die verhouding waarin ons tot God moet staan, terwyl die ses gebooie van die tweede ons leer wat ons aan ons ewemens verskuldig is en hoe ons ons teenoor Hom moet gedra.
In die Wet gaan dit om ons verhouding tot God en ons naaste en word daarom deur Jesus saamgevat in een groot gebod: Liefde tot God en die tweede gebod hieraan gelyk: liefde tot ons naaste.
Vir Israel was die Wet van die allergrootste betekenis; deur die streng tug van die goddelike Wet is hierdie volk sedelik gevorm, as volk van die verbond staande gehou en vir verval bewaar. Mede deur die Wet is Israel gevorm om die draer te wees van die heilsopenbaring.
Maar ons leef tog onder die Nuwe Verbond en wat is dan die betekenis en waarde van die Wet ? Is gehoorsaamheid aan die Wet vir ons 'n noodsaaklike voorwaarde om salig te word?
Daar is sommige mense wat die nadruk — ons dink aan die Sabbatariërs — laat val op die onderhouding van die Wet, veral die Sabbatsgebod. Hierdie mense dwaal egter deur gebrek aan kennis, want as hulle hulle Bybel ken en verstaan dan sou hulle weet dat ons nie langer leef onder die Wet nie, maar onder die genade. Net soos Israel deur Moses verlos is uit die dienshuis van die Egiptiese slawerny, so is ons deur Christus verlos uit die harde dienshuis van die Wet. Die bedeling van die Wet was slegs tydelik en is bygevoeg totdat die belofte van die Saligmaker in vervulling gegaan het. Christus is die einde van die Wet — Hy het deur sy lye, dood en opstanding die Wet en Profete vervul.
Maar wat is dan vir ons Christene die betekenis van die Wet ? Die wet is daar terwille van die oortredinge — deur die Wet is die kennis van die sonde. Die Wet is die spieël waarin ons ons in ons sondige gedaante sien. Die Wet leer wat verkeerd is en teenstrydig met die wil van God. Die Wet is die tugmeester wat ons na Christus toe dryf om ons te verlos van die sonde waaraan ons ons deur die oortreding van die Wet skuldig gemaak het. Ons word geregverdig deur die geloof in Christus en nie deur die werke van die Wet nie. Nie die Wet nie maar Christus is ons Middelaar en Saligmaker
Maar waarom word die Wet ons dan nog gedurig voorgehou? Waarom word die Tien Gebooie elke Sondag in die Kerk voorgelees ?
Omdat Christus in die wêreld gekom het om vir ons sonde te ly en te sterf daarom word van ons verwag om deur dankbaarheid en wederliefde gedring, al ons kragte in te span om soveel moontlik gehoorsaamheid aan sy gebooie te bewys. Ons moet die wil doen van ons Vader wat in die hemel is.
En die eerste eis wat God aan ons stel is dat ons geen ander gode voor sy aangesig mag hê nie.
Maar is hierdie gebod vir ons nodig ? Ons is tog Christene en spreek dit dan nie vanself dat ons ons nie aan afgodediens skuldig maak nie?
Ag as ons die hand in eie boesem steek dan moet ons maar telkens weer tot die beskamende ontdekking kom dat ons 'n verdeelde hart in ons omdra. So dikwels stel ons onsself in die diens van vreemde meesters.
Die eerste gebod kan nie losgemaak word van die aanhef: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het, nie. Israel moet daaraan dink wat hulle Verbondsgod vir hulle was en gedoen het, want as hulle dit doen dan sal hulle nooit gaan staan in die diens van vreemde gode nie. Nee deur dankbaarheid en wederliefde gedring sal hulle hulle vreugde daarin vind om aan die gebooie van God gehoorsaam te wees.
God vra nie voordat Hy eers gegee het nie — dit is ook waar vir ons wat leef onder die Nuwe Verbond.
Omdat God Israel verlos het uit die dienshuis van Egipte daarom doen Hy 'n beroep op hulle gehoorsaamheid. Omdat Hy ons uitgelei het uit die slawehuis van die sonde deur Jesus Christus, daarom verwag Hy dat ons Hom bo alles en almal moet liefhê en ons naaste soos onsself. Die verlossingswerk van God is volmaak, aan sy liefde hoef ons nooit te twyfel nie. Maar daarom eis Hy ook van ons kant gehoorsaamheid. God het geen welgevalle in 'n verdeelde hart nie. In ons verhouding tot God kan ons nie op twee gedagtes hink nie. Die Here alleen is God en niemand meer nie, Hy alleen wil regeer in die wêreld en in ons harte. Dit is onmoontlik om God en die wêreld gelyk te dien. Daar is geen deelgenootskap tussen die lig en die duisternis nie; geen ooreenstemming tussen Christus en Beliam nie. Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode ? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: „Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal vir hulle 'n God wees en hulle sal vir My 'n volk wees. Ek sal vir hulle 'n Vader wees en julle sal My seuns en dogters wees."
En tog moet ons met skaamte erken dat God nie altyd regeer op die troon van ons hart nie. Telkens moet ons maar weer tot die ontdekking kom dat ons in die diens van een of ander afgod staan. Dikwels is daar vir God geen plek in ons lewe nie, sy teenwoordigheid is vir ons hinderlik.
God het Hom in sy Woord aan ons geopenbaar. Aan die weg van saligheid behoef ons nie te twyfel nie. En tog so dikwels blyk dit dat die mense aan hierdie openbaring nie genoeg het nie. Hulle wil nog meer weet as wat deur die Woord van God geleer word. In stryd met die Woord van God word geloof geheg aan Spiritisme; mediums word geraadpleeg; daar word geloof geheg aan waarsêers en kaartleërs; sogenaamde fortuinvertellers word deur hulle aanbid; aan valse profete word geglo en dit nieteenstaande daar in Gods Woord geskryf staan: „Niemand mag met waarseggery, goëlery, met verklaring van voortekens of towery omgaan nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen is vir die Here 'n gruwel" (Deut. 18).
God het Hom in sy Woord geopenbaar en dit is vir ons voldoende tot saligheid. As ons na allerlei kunsmiddels gryp om te wete te kom wat alleen by God bekend is dan is ons handelswyse niks anders as 'n sondige poging om die teuels in ons eie hande te neem nie.
Gedurig is ons besig om ons aan die gebod van God te vergryp. Soveel afgode word deur ons gelyktydig en om die beurt gedien. So dikwels maak ons van ons eie ek 'n afgod. Onsself wil in die middelpunt staan. Dit gaan vir ons om eie eer en aansien. Ons wil graag 'n naam maak. Ons is aanbidders van onsself. Dit is vir ons 'n harde saak om ons self te verloën en om altyd die minste te wees. Ons het nog nie geleer om self elke dag minder te word nie sodat Christus in ons lewe gedurig kan meer word nie.
En hoeveel mense is daar nie wat van plesier 'n afgod maak nie? Hulle gee nie om hoeveel geld hulle uitgee om plesier te koop nie. Terwille van plesier ontheilig hulle die Sondag. Die dag van die Here bring hulle deur in die diens van die sonde. Solank hulle maar kan eet en drink en vrolik wees kan dit hulle nie skeel of hulle siel vergaan van honger nie.
Ander weer maak van geld 'n afgod. Solank hulle maar kan geld maak gee hulle nie om van welke ongeoorloofde middels hulle gebruik maak nie. As hulle nie die geld kan verdien nie gaan soek hulle geluk op die dobbelplekke. Duisendes is daar wat hulle siel op die dobbelbane vermoor. En wat help dit tog al win ons die hele wêreld en ons ly skade aan ons siel?
Welke ander gode word deur u aanbid en gedien? Aan welke sonde waarteen die eerste gebod waarsku maak u u skuldig? Wat sal u vonnis wees as u teen hierdie gebod geweeg word op die skale van Gods heilige reg?
Sal ons nie almal te lig bevind word nie? Wie is daar wat nie ander gode dien of gedien het nie?
Indien ons ander gode dien dan verkeer ons in gevaar. Onse God is 'n jaloerse God. Sy eis is onverbiddelik: Jy moet die Here jou God liefhê het jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand.
God het aan ons in Christus Jesus sy onuitspreeklike Gawe geskenk en hierdie hoogste liefde moet deur ons met dankbare wederliefde beantwoord word.
Christus het ons verlos van die vloek van die Wet en elkeen wat in Hom glo sal gered word.
Amen.
J. J. Prinsloo.