Hk 35 U Enigste Troos
SONDAG 35
Die tweede gebod
Lees: Exodus 32, vs. 1-9.
Sing: Gesang 2, vs. 1; Psalm 68, vs. 9; Gesang 4, vs. 1 en 7.
Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod ?
Antwoord: Dat ons God op geen wyse mag afbeeld nie en Hom op geen ander manier mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.
Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie. Die skepsele mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons 'n beeltenis van hulle sal maak of hê om dit te vereer of God daardeur te dien.
Vraag 98: Maar sou ons die beelde in die kerke as boeke van die leke nie mag toelaat nie?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wees nie, wat sy Christene nie deur stomme beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord wil laat onderrig.
Die eerste en tweede gebod moet ons duidelik van mekaar onderskei. As ons vlug daaroor heen leer, kom dit voor asof daar weinig verskil is tussen die afgode van die eerste gebod en die gesnede beelde van die tweede gebod. Tog het die twee niks met mekaar gemeen nie. In die eerste gebod word ons geleer dat ons God die Here alleen moet dien en eer, en dat ons geen ander gode, d.i. heidense gode mag dien of eer nie. In die tweede gebod word ons weer geleer hoe die Here wil hê dat ons Hom sal dien. Hier is egter nie sprake van afgodediens nie. Wat in die tweede gebod verbied word, is die vervalste aanbidding van die enige en ware God, wat Israel uit die slawehuis van Egipte verlos het. Dit gaan hier om die beeldediens waarby voorgegee word dat God onder beelde en gelykenisse gedien en geëer word. Die volk van Israel het dan ook nie van Aaron begeer dat hy vir hulle afgode sou maak nie; hulle het nie in gedagte gehad om vreemde gode in te voer nie, maar het eintlik alleen gevra na 'n sinnebeeldige voorstelling van die geestelike en onsienlike Wese. Israel wou met hierdie „gode wat voor ons uittrek", nie die Here verlaat nie. Hulle het geen heidense gode begeer in die plek van die Here nie. Die Here wat hulle opgevoer het uit Egipte, wat die waters van Mara drinkbaar gemaak het, wat hulle met brood van die hemel gespysig het, en wat met water uit die rots hulle dors geles het, wil hulle nie nou verlaat nie. Maar met die godebeelde wil hulle die geestelike God wat bo die wêreld verhewe is en in die hoogte woon, in 'n tasbare en sigbare wese naby hulle hê. En Aaron was swak genoeg om hieraan toe te gee. Hy kies dan ook 'n goue kalf as simbool van die alvermoënde krag van God. Hierdie beeld van die kalf het hulle in Egipte goed geken.
Maar die aanbidding van die goue kalf was 'n sonde. Die geestelike dorheid van die siel word ook in so 'n aanbidding geopenbaar. So 'n veruitwendigde aanbidding word dan ook streng verbied en veroordeel. Die mens mag nie 'n beeld of tekening van die Here maak om Hom daardeur te aanbid nie. Die inhoud van die tweede gebod is hier duidelik. Dit spreek van wat bo in die hemel is, n.l. die son, maan en sterre. Die oue Chaldeërs was bekende sterreaanbidders, en Israel word uitdruklik teen hierdie vreemde invloed gewaarsku. Die tweede gebod spreek ook van wat op die aarde is. Diere- of mensvormige godebeelde mag nie gemaak word om God daardeur te aanbid nie. Die beeld van die kalf was weer baie bekend by die Egiptenaars. Ook die waterdiere, bv. visse e.a. word hier genoem. As voorbeeld dink ons hier aan die Filistynse god Dagon, wat half mens en half vis was.
Die son en die maan en die sterre, die mense en diere op die aarde, die visse en ander waterdiere mag dan nie afgebeeld word om God daardeur te dien nie. God is Gees en kan op geen wyse afgebeeld word nie. Elke gemaakte beeld is niks anders nie as 'n misdadige bespotting van die Here, want die heiligheid en grootheid van God word daarmee aangetas. God is dit wat ewig lewe. En daar is geen beeld wat ewige lewe besit nie. 'n Beeld kan wel oë hê, maar dit kan die ellende van die mense nie sien nie; dit kan ore hê, maar dit kan die versugtinge en smekinge van die sondaar nie hoor nie; dit kan hande hê, maar dit kan nie in liefde en ontferming oor sondaars uitgebrei word nie. Die onsigbare wese van God kan nie in 'n menslike of dierlike gedaante voorgestel word nie. God is Gees, en 'n gees het vir ons geen bepaalde vorm of gedaante nie. Die geestelike eienskappe of volmaakthede van God, sy wysheid, goedheid, waarheid, regverdigheid en trou, wat vir ons vleeslike oog verborge is, kan nie in beeld gebring word nie. Die mens mag ook vir hom geen gesnede beeld maak om hom daarvoor neer te buig en om God daardeur te dien nie. Maar die mens moet neerkniel voor die lewende beeld van God wat in Christus op aarde gekom het. In Christus is die beeld van God geopenbaar, vol van genade en waarheid. En hy wat die beeld van God in Christus aanbid, vind ook vrede en rus vir sy siel. Hy wat die beeld van die Vader dra, het aan die kruis sy magswoord gespreek: „Dit is volbring!" Die werk van Gods genade tot versoening oor ons sondes, is nou volbring. Dit was die oorwinningswoord van Hom wat gesê het: „Die wat My gesien het, het die Vader gesien." Die ware beeld van God sien ons net in Christus. Die Apostel Paulus sê dan ook: „Hy is die beeld van die onsienlike God." (Kol. 1, vs. 15). Die wat Christus dan gesien het, het ook die Vader gesien. Wie die majesteit, genade en liefde van Christus gesien het, weet ook hoedanig God is. En die hart wat genoeg het aan die beeld van God soos wat dit in Christus geopenbaar is, het ook geen behoefte aan gesnede beelde nie, maar dit is sy gebed wat in stilte opstyg na die hemel: „Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie! God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid!"
As die Here beveel: „Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie," dan is die bedoeling egter nie dat die mens geen beeld of portret of skildery van bemindes en bekendes en van troue helde mag maak nie. Die beeldhou- en skilderkuns is 'n hoë en edele kuns wat beoefen mag word. Dit word nie verbied of veroordeel nie. God self word ook genoem die kunstenaar en boumeester. Beelde wat nie tot verering opgestel word en wat nie tot dwaling kan lei nie, behoort ons nie te verwerp nie. Die skilder- en beeldhoukuns moet ons erken as 'n geskenk van God. Ons word alleen verbied om beelde te vervaardig met die doel om God daardeur te soek en te vereer, of om dit tot bygeloof en afgodery te misbruik.
Maar dit is tog goed dat ons in ons kerke geen beelde of skilderye aanhou nie. Die mens is so geneig om onder die bekoring van die sienlike dinge te kom en aan die uitwendige dinge verkleef te raak wat dikwels beslis tot skade van sy siel is. Ons dink in die eerste plek aan allerlei beelde, maar ook aan allerlei vorme en seremonies wat meer tot die sinne spreek as tot die hart. Dit kan so maklik ontaard tot 'n vormdiens sonder die diepere, geestelike betekenis. Want dooie vorme laat ook dooie siele na. Baie vorme en seremonies werk ook nie altyd tot stigting nie. God wil ook gedien word op eenvoudige wyse, in gees en in waarheid. Die verering van God moet altyd 'n geestelike karakter dra. Dit kan geskied deur gebed en sang, deur die verkondiging van die Evangelie en die Sakramente. Ook deur die kunste kan ons God vereer in soverre dit deur Christus ons hart verhef tot God self. Die ware godsdiens sit in die hart. Ons godsdiens moet deur en deur geestelik wees. Die Here wil sy gelowiges ook nie onderrig deur dooie beelde nie; ook nie deur baie vorme en seremonies nie, maar deur die verkondiging van sy Woord. Die prediking van die Evangelie mag deur niks anders verdring word nie. Die Apostels kry dan ook die uitdruklike bevel om die Evangelie te gaan preek. In die Woord van God word Christus, die Gekruisigde, vir ons geskilder. Stomme beelde en vorme en seremonies mag dan nooit die verkondiging van de kruis-evangelie in die weg staan nie. Die suiwere en eenvoudige verkondiging van die Woord is dit wat vrugbaar moet wees vir ons siele. Beelde van allerlei aard en vorme en seremonies mag nie as lokmiddels dien om die mense in die kerk te kry nie. Dit het tog ook geen uitwerking ten goede nie. En wat ook die belangrike in hierdie verband is, is dat God beveel het: — die verkondiging van 'n ryke Christus vir arme sondaars. Daardeur moet die siele van sondaars nader gebring word na die Koninkryk van die hemele, en gelowiges word daardeur gestig. Met 'n verwaterde godsdiens kan die mense op die duur nie by die kerk gehou word nie, en wat die siel behoefte aan het, kan dit ook nie gee nie. Maar in die prediking van die Woord is die Gees van God ook kragtig werksaam om die mens van binne te vernuut. Die prediking moet dan ook altyd so wees, dat die beeld van Christus die gemeente voor die gees sweef. Christus moet ons sien as diegene in wie God al sy liefde geopenbaar het. En die wat Christus gesien het, het ook die Vader gesien. So barmhartig en genadig as wat Christus is, is God ook. En God wat so liefdevol en barmhartig is, kan nie anders gedien en aanbid word nie as in gees en in waarheid.
Om God in die gees te aanbid, beteken dat ons aanbidding inwendig moet wees, met al die kragte en vermoëns van ons siel, met ons gedagtes en gevoelens en met ons wil wat altyd bereid moet wees tot gehoorsaamheid aan die Allerhoogste. Die drang van ons hart in alles wat ons doen en dink en spreek, moet wees: die eer van die Here!
En ons aanbidding moet ook wees ooreenkomstig die waarheid. God moet aanbid word so as wat Hy waarlik is. Die wese wat ons aanbid moenie 'n ingebeelde God wees na die wense van ons hart nie, want so 'n beeld van God is 'n valse beeld. As ons tot God bid, dan kan ons nie nalaat om 'n voorstelling van Hom te maak nie. Die beeldediens is ook die uiting van hierdie behoefte van die mens.
Ook die Skrif spreek op menslike wyse van God, n.l. van sy hande, voete, oë, berou, ens. Allerlei voorstellings mag ons egter nie stel in die plek van die geopenbaarde God nie, maar ons moet dit altyd wysig na die beeld van God soos Hy Homself in Christus geopenbaar het. God mag nie anders voorgestel word as wat Hy Hom in die Heilige Skrif geopenbaar het nie. Sy majesteit, liefde en trou mag nie anders voorgestel word nie, en ons moet berus by wat ons nie begryp nie. Ons moet waak teen 'n valse beeld van God. Die Jode het ook 'n valse beeld van God gehad en daarom het hulle die Seun van God verwerp en Hom aan die kruis gedood. Die voorwerp van ons aanbidding moet wees die enige, waaragtige Skepper van hemel en aarde, die Vader vol genade en barmhartigheid, so as wat Hy Hom in sy Woord geopenbaar het.
Die ware godsdiens sit in die hart, en ons moet God aanbid in gees en in waarheid. Ons moet waak teen 'n gewoonte-Christendom teen 'n Sondags-Christendom, teen 'n bekrompe vormdiens wat aan kleinighede hang, teen 'n godsdiens wat sonder invloed bly op die daaglikse lewe, en teen 'n kerklike ywer sonder liefde vir God.
Geen ander gode behalwe die ewige Skepper mag gedien word nie; en geen beeld of gelykenis mag goddelike eer ontvang nie, „want", so staan daar geskrywe, „Ek die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou."
Met ywer waak die Here oor die eer wat Hom toekom. „Ek is die Here, dit is My Naam; en My eer sal Ek aan geen ander gee, of ook My lof aan die gesnede beelde nie." So staan dit geskrywe in die Boek van Jesaja. Wanneer volke of geslagte of persone die eer aan die Here nie gee nie, dan noem Hy dit 'n misdaad wat ook nie ongestraf kan bly nie. En die Here straf sulke oortreders met uitroeiing, nadat Hy met sy lankmoedigheid op boete en bekering lank tevergeefs gewag het. Aan die anderkant weer doen die Here barmhartigheid aan duisende wat Hom liefhet, en sy ryke en weldadige seëninge kom op die komende geslagte wat deur godvrugtige ouers opgevoed word in die vrese van die Here.
Die belofte is dan ook baie sterker as die bedreiging. Want die straf van die Here eindig by die derde of vierde geslag, terwyl sy barmhartigheid oneindig veel verder reik! Geseënd is hulle dan wat die Here onse God alleen dien, en wat genoeg het aan die onderwysing van die Woord. Geseënd is hulle wat die huis van die Here lieflik vind sonder beelde en vorme en wat in die Evangelie verkondiging die Woord van die Here beluister! Want hulle het ook niks te vrese vir die straf en oordeel van die tweede gebod nie, maar hulle kan hoop op die belofte, op die barmhartigheid van God wat vir duisende is! Hulle kan dan ook ten alle tye en onder alle omstandighede sing van die grootheid en majesteit van God:
„U, Vader, sy ons lied gewy!
Ons loof en eer U heerskappy,
Bron van lig en lewe!
grenselose mag gebied
en wêrelde verrys uit niet,
deur glorieglans omgewe.
O Almag Gods, hoe groots U werk,
stof tot aanbidding onbeperk —
wysheid, nooit volsonge!
Die groot heelal lofsing U Naam;
ook ons, o Vader, loof U saam
met stamelende tonge.
Ges. 2, vs. 2.
Amen.
C. S. v. H. Steenekamp.