Hk 36 U Enigste Troos
SONDAG 36
Die derde gebod
Lees: Levitikus 24, vs. 10-16
Sing: Gesang 59, vs. 1 en 5; Gesang 11, vs. 6; Gesang 76, vs. 1.
Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Dat ons nie alleen deur te vloek of deur 'n valse eed nie, maar ook deur onnodig te sweer die Naam van God nie moet laster of misbruik nie; en dat ons ook deur te swyg of dit toe te laat, aan sodanige verskriklike sondes geen deel moet hê nie; kortom, dat ons die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied moet gebruik nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word.
Vraag 100: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster, deur te sweer en te vloek, dat God ook oor diegene toorn wat dit nie, soveel as dit in hulle vermoë is, help weer en verbied nie?
Antwoord: Ja seker, want daar is geen groter sonde of een wat God meer vertoorn as die lastering van sy Naam; daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf.
Die Here Christus leer ons om te bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word.
In die Twaalf Artikels van die geloof bely die Kerk die driemaal heilige Naam van die Here.
Die derde gebod waarsku ons teen die ydel gebruik van die Naam van die Heer: Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik nie ongestraf laat bly nie.
Welbeskou is dit tog eintlik 'n ontsettende aanklag teen die mensdom wat daar in die stem vanaf Sinai tot ons kom. Dit kan sover kom dat die skepsel hom vergryp aan die eer van sy Maker. So diep het hy geval dat hy hierdie herinnering nodig het. Wie aandagtig daarop let word getref deur die eerbied wat in die Skrif vir die Naam van God opgeëis word en deur die krag wat aan die Naam toegeskryf word. Gods naam en God self is een. Hy wat die Naam van God ken, ken God self. Wie die Naam van die Here aanroep neem tot God self die toevlug. Wie op die Naam van die Here vertrou, vertrou op God self. Wie die Naam van God laster en vloek, die laster en vloek God self. Die Naam is die Wese. As daar by die doringbos wat brand, die Here aan Moses vir Israel sy Naam gee, dan gee Hy Homself. Die Naam is die Wese, omdat dit die uitdrukking is van die Wese. In die derde gebod is ook hierdie Naam in die eerste plek bedoel. Maar ook die ander name van God as uitdrukking van die volheid en heerlikheid van Gods Wese is hier bedoel. Wanneer Moses aan die Here vra: Laat my tog U heerlikheid sien, dan is die antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die Here uitroep (Eks. 33, vs. 18 en 19). As die Here dan sy Naam uitroep, waar sy hand Moses bedek hou, dan blyk dit dat die Naam van die Here die saamvoeging is van sy deugde en eienskappe (Eks. 34, vs. 6 en 7).
Wie die Naam van die Here aantas, laster, onteer, ydel gebruik, ontheilig die Wese van God, en sal geensins ongestraf bly nie. En wie dit rustig aansien en aanhoor en toelaat dat hierdie dinge gebeur in sy teenwoordigheid, die staan ook skuldig. Die een bewys daarmee dat hy eerder die mens ontsien as wat hy ontsag het vir die Heer. In Israel was hierdie kwaad strafbaar met die dood. Onder ons is hierdie kwaad nie strafbaar nie, omrede van ons verdraagsaamheid en mensliewendheid. Geregtigheid beoefen ons alleen as daar teen mense oortree word. Dat die eer van God aangetas word laat die meeste mense koud.
Aan hierdie heilige gebod van God is ons almal skuldig. In Sondag 23, daar lees ons dat die gewete van die geregverdige hom aanklaag dat hy teen al die gebooie van God swaar gesondig het, dus ook teen die derde. Van al die gebooie, dus ook nie eers hierdie een nie, het hy nie een gehou nie. Ons is reeds skuldig aan hierdie gebod maar ons sal dit ook moet erken. Daar is verskeie onder u, en ons is God dankbaar daarvoor, wat van hulle jeug af 'n stil ingetoë lewe gevoer het, wat hulle nie herinner dat hulle ooit gevloek het nie. Hoogstens was hulle 'n keer driftig en het gegryp na 'n vloekwoord maar hulleself tog weer bedwing. Die blote beskuldiging „Jy is 'n vloeker" sal menigeen met krag afwys. En tog, die beskuldiging staan vas: Ons het oortree.
Die Naam van God staan in die middelpunt van sy selfopenbaring aan ons. Al wat ons van God afweet, groepeer hom rondom die Naam, waarby ons Hom noem, sodat ons 'n soort van tempelskat het. God hou Hom nie verborge nie, Hy het Hom aan ons bekend gestel. Hy het ons alles in die hande gegee: sy Persoon, sy Wese, sy Woord. En daar die Woord met die Naam as middelpunt word deur die een ernstig opgeneem. Vir 'n ander een is dit die voorwerp van spot omdat hy in die diepste van sy wese tog nie daaraan glo nie. Daarom, dat die een mens bid en die ander een vloek. Nogtans rig altwee, die bidder en die vloeker, hulle op dieselfde Naam. Die een gebruik die Naam, die ander een misbruik dit. Niemand is los en kom los van die Naam nie. Die een wat nie bid nie moet vloek. Daaruit volg dat ons nie te gemaksugtig of te lui moet wees om God te ken nie, aangesien Hy Hom juis aan ons gegee het om Hom te kan ken. Ons is skuldig om sy Woord te ondersoek, want daaruit kan ons Hom ken soos Hy van ons geken wil wees.
So kom daar dan eers die ry van vloekers, daardie gemaksugtige lui Christene, wat voorgee God oral te kan dien, wat geen voet in die kerk sit nie. Die, wat hulle Bybel tuis net sowel kan lees en wat nooit die behoefte gevoel om saam met die gemeente te aanbid nie.
Daar staan as vloekers aangewys die oppervlakkige Christene, wat botweg weier om hulle harsings in te span in die kerk. Om vooruit te kom in die wêreld is geen moeite of inspanning te groot nie. Wanneer dit daarop aankom om die diep ryk gedagtes van God te verstaan, dan word die inspanning te groot. 'n Gemoedelike, maklik verteerbare prekie, waarby mens so nou en dan 'n traan kan uitvee, dit is die vereiste wat hulle stel aan die diens van die Woord. Dat die diens van die Woord ook hulle verstand opeis, dit kom by hulle nooit op nie. So 'n paar bekende verhale uit die Skrif ken hulle. Die profete is vir hulle 'n vreemde gebied, die Briewe van Paulus, daarin lees mens nie. Wie daarin wil grawe moet tenminste predikant wees. En so leef daar duisende van die Christene rondom ons. Die grootste deel van die Bybel is vir hulle soos die dor sandvlaktes van die Kalahari, waar omtrent nooit iemand kom nie. Wat is dit anders as vloek en die Naam van die Here laster en minag? En as daar nog iemand gevind word, wie dit smart dat so 'n groot deel van die Bybel braak lê en wat die skatte binne die bereik van die gemeente trag te bring, dan is daar talloos baie wat hulle maar liewer hiervan afkeer. Hulle verkies dan 'n gemoedelike beuselpraatjie of 'n week, soetsappige storie vol aangeplakte vroomheid bo 'n deurdagte preek. Is dit iets anders as 'n welbewuste lastering van die Naam van die Heer ?
En hierdie kwaad is nie alleen maar by enkelinge te vind nie. Dit het al ons hele volkslewe deurtrek en deursuur, van bo tot onder.
Die owerheid van ons land het ons daarin voorgegaan. In watter skool vind die Bybel sy regmatige plek. Allerhande nuttige kennis moet ons kinders bygebring en geleer word. Maar die vernaamste kennis word oorbodig geag. Die kennis van God wat ons volk grootgemaak het, wat die steun van ons vadere was, van God wie se hand ons wieg beskerm het en wat eenmaal ons sterfbed sal bewaak, word vergeet. Wat baat al die kennis van die teenwoordige wêreld as ek nie weet — wie bring my in hierdie lewe nie, wie dra my deur hierdie lewe nie en wie bring my eenmaal tuis nie. Hierdie kennis het ons wetgewers oorbodig geag. En nooit is daar in ons land verskrikliker gevloek as toe die Bybel op ons skole plek moes inruim vir ander dinge nie.
Die kerk as kerk het gevolg op die voetspoor van die staat. Die ou vorms geld nog, maar die inhoud is lankal verteer deur die mot en roes. Neem maar die verslag wat jaarliks deur die kerkraad ingestuur word na die Ringvergaderinge. Een van die vrae daarin gestel is: Is u Kerkraad nougeset in die toepassing van die sensuur ? Die gewone antwoord hierop is „ja". Waar word die sensuur toegepas ? Meestal alleen by oortredings van die sewende gebod. Asof die ander gebooie nie oortree word nie, ook nie die derde nie. Waar bly die veragters van God en van sy Woord en van die heilige Sakramente ?
Daardie talle wat net kerk-toe kom as hulle 'n kind laat doop. Wat is hulle anders as vloekers; wat doen hulle anders as vloek met hulle hele gedrag. Al die gierigaards wat die diaken soveel as moontlik moeite aandoen, wat hom twee-, driemaal wegstuur om hom 'n vierde keer ook nog leeg te laat omdraai of hom uiteindelik wegstuur met 'n karige aalmoesie. Wat is dit anders as 'n welbewuste lastering van die Naam van die Here ?
Wat van daardie ander skare wat vanaf Maandag alreeds sy kleinste geldstuk bewaar om Sondag kerkgeld te hê. Die sente is bestem vir die armbeurs, iets anders kan mens tog nie daarmee doen nie. Wat is dit anders as om te vloek teen die Naam van die Here ? Vir sy eie genot sal hy twintig- of honderdmaal meer uitgee, terwyl hy nie die minste skroom om die Here af te skeep met die minste in sy beurs nie. Wat is dit anders as godslastering ? En 'n kerk wat dit toelaat met droë oë, doen die nie mee aan die vloek nie? Word so die Naam van die Heer nie gelaster nie?
En waar die kerk en die staat so voorgaan, daar drup die vloek op almal wat daaronder staan. Ons het al gepraat van daardie wesenlose gebabbel in menige kerkgebou, waar die mense huis-toe gestuur word met 'n vroom praatjie of waar die spronge en fratse indruk moet maak, waar die geleentheid nie waargeneem word om verstand en hart op te eis vir God en sy heilige Woord nie.
En as daardie rivier uit die hoogte eers sy loop in die vlakte kry ! As die deursnee mens wat meen dat hy los staan van God, God aangryp, Gods Naam aangryp om sy gemoed en sy haat af te koel, of om ander mense daarmee die skrik op die lyf te jaag! As hy wanneer hy sy onmag besef, gaan gryp na daardie allersterkste wapen — die ontsaglike Naam van die Here! U het hulle al gesien daardie diermense, wat skrik en bewing om hulle versprei, wat God besteel van sy mag en heerlikheid en heiligheid, wat 'n onweer rondom hulle skep van weerlig en bliksem en donder. Geen wonder is dit dat daar sulke uitspruitsels voortkom!
Maar hoe kan hierdie kwaad in ons midde gekeer word? Die regte bid keer die vloek af.
Altwee, die bidder en die vloeker, rig hulle tot God. Altwee wys heen na die eindbestemming van die mens. Die mens se eerste toevlug is God. Maar die duiwel het tussenin gekom. Die mens se toevlug is nog God. Maar hy neem die toevlug al vloekende. So wil God dit nie. God wil dat die vloeker 'n bidder word. En om sover te kom is nodig dat die mens homself leer ken as 'n vloeker, 'n gebore vloeker. En aan wie dit leed en smart aandoen, word deur Hom heengelei na 'n ander Naam, die wonder heerlike Naam, die Naam Jesus. En wie tot God roep in hierdie Naam, die oorwin die vloek, die leer om te bid. En hy bid goed. Wie so bid kan nie meer vloek nie. Dit moet wyk. Dan bestraf die vader dit in die seun, die moeder dit by die dogter, die vrou by die man, die meester dit by die skool, die offisier dit in die kamp.
Hierdie gebod moet ons swaarder ag as diefstal. God voeg 'n dreiging hieraan toe. Dit is die enigste gebod met 'n dreiging. In die tweede kry ons dit ook, maar daar word dit onmiddellik opgevolg deur 'n belofte.
Daar ontstaan dan by ons 'n heilige drang om weg te bly van hierdie kroongebied van God. Dan meng ons nie meer die heilige Naam met die onsuiwere dinge van hierdie aarde nie. Heilig is die Naam van die Here. Hierdie Naam moet deur ons geprys word, deur woord en wandel. So word deur die genade van God ons hele persoon omgeset, sodat 'n gebore vloeker dit dan nie kan nalaat om die Naam van die Here sy God te loof met gebed, woord en werk nie. Dit is dan sy hoogste lus. Dan kom daar ook in ons mond, opgerys uit die hart die bede: Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word — ook deur my.
Amen.
E. S. Mulder.