Hk 37 U Enigste Troos
SONDAG 37
Die eed
Lees: Josua 24, vs. 13-33.
Sing• Psalm 105, vs. 5; Psalm 25, vs. 2; Gesang 3, vs. 5; Gesang 9, vs. 4.
Jeremia 4, vs. 2. „Dan sal jy sweer: So waar as die Here leef; in waarheid, in reg en in geregtigheid."
Vraag 101: Maar mag ons ook godsalig by die Naam van God 'n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis, of anders die nood dit vorder om trou en waarheid daardeur te bevestig, en dit tot eer van God en tot heil van die naaste; want om so 'n eed te sweer het sy grond in die Woord van God en daarom ook deur die heiliges in die Ou- en Nuwe Verbond reg gebruik.
Vraag 102: Mag 'n mens ook by die heiliges of by enige ander skepsel 'n eed sweer ?
Antwoord: Nee; want as ons 'n regte eed sweer beteken dit dat ons God aanroep om as die enigste kenner van die hart vir die waarheid getuienis te gee, en my te straf as ek vals sweer, 'n eer wat aan geen skepsel toekom nie.
Laat ons by die behandeling van hierdie Sondagsafdeling dadelik insien dat ons by die eedswering ook gestel word voor die aangesig van die God wat op Sinai gespreek het: „Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het", wie se mag en wysheid hoër is as die van aardse vorste en regeringe, wat 'n hele leërmag in die Rooie See laat omkom het terwille van die bevryding van 'n volk uit die hand van die onderdrukkers. Ons word gestel voor die God wat gesê het: „Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie." Dit is die een en enigste God van majesteit en heerlikheid in die hemel en op die aarde. Hy wat alwetend is, merk ook die afdwalinge van sy skepsele op aarde en hoe dat hulle in gedagtes, woorde en werke ongehoorsaam is aan sy gebooie. By die eedswering is ons nog verder bewus van wat daar geskryf staan: „Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie. Want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat." Ja, Hy is 'n heilige Wese. In sy heiligheid is Hy soos 'n verterende vuur, wat die sonde en ongeregtigheid van die mens wil uitbrand. In sy heiligheid sal Hy sy toorn laat ontvlam teenoor hulle wat sy Naam ydellik gebruik.
Tereg sê die Skrif dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God, om Hom te ontmoet as Regter wat alwetend is, wat sy gebooie gegee het en geen jota of tittel daarvan sal laat val nie. Waar die mens dan geroep word om 'n eed van waarheid of van trou te sweer, daar word hy gestel voor die aangesig van die ewige God wat soveel kragtige dade gedoen het; wat uitdruklik bepaal het dat Hy die enige en waaragtige God is aan wie toekom en ook in die eedswering toegebring word die eer en die aanbidding. Vir die mens word die geleenthede van eedswering dan gewyde oomblikke van toetreding tot heilige grond. In die volle besef van die waarheid wat hy sal betuig roep hy die Heilige van hemel en aarde dan aan met die bede: so help my, God Almagtig.
So 'n eedswering, waar woord en daad in die geloofslig ooreenstem, getuig van onwrikbare vertroue op die Here. Daarin kan geen sweem van valsheid wees nie. Ons staan wel voor die mens, maar in die geloof sien ons Hom van wie ons weet dat Hy die God van waarheid is en 'n wreker van alle ongeregtigheid. Tog wil ons in 'n opregte geloof Hom en die waarheid bly aankleef.
Dit is die gesindheid wat deur die Profeet Jeremia verwag word: „As jy jou bekeer, Israel," spreek die Here, „bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van My aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie. Dan sal jy sweer: So waar as die Here leef; in waarheid, in reg en in geregtigheid."
Wil ons derhalwe voldoen aan die gees wat uit hierdie Sondagsafdeling spreek, dan is dit nodig om te wandel op die effe weg van die Here, om terug te keer tot onse genadige hemelse Vader en in stille toewyding van ons lewe aan Hom sy weg te bewandel; om in die woorde van Jeremia ons te bekeer tot die Here. Die godsalige eedswering kan alleen gedoen word deur die mens van suiwer geloofsvertroue en onvervalste lewenswandel, wat in daad en gedagte „nie hoef rond te swerwe nie." So 'n mens se eed sal wees „in waarheid, in reg en in geregtigheid."
Die bewoording van die eed vereis dat mens teenoor die Here in 'n opregte betrekking moet staan. Wie 'n ongelowige is mag dus geen eed sweer waarby God as getuie genoem word nie, al wil hy ook die waarheid spreek. Hoe kan iemand 'n wese as getuie roep aan wie hy nie glo nie, aan wie se bestaan hy twyfel, of wat deur hom heeltemal verwerp word? Dit is tog valsheid. Hoe kan die mens wat 'n ongoddelike lewe leef die eed neem en die God van waarheid as sy hulp en getuie inroep! Hoe kan die hulp van die Almagtige ingeroep word deur 'n mens wat vooraf weet dat hy onwaarhede gaan spreek en in sy getuienis vals gaan wees ? Voorwaar, hier is sulke mense besig met 'n bespotting van die Allerhoogste.
Veral waar die mens voor die aardse regbank moet verskyn is dit gebiedend noodsaaklik dat hy ook sal meehelp om waarheid, reg en geregtigheid te laat seëvier. Dan mag ons nooit vergeet nie dat die magte wat daar is van God ingesteld is, dat die wat besig is om hulle teen sulke magte te versit besig is om die instelling van God te weerstaan. Dit is 'n dure plig wat op elke Christen rus om juis voor die regbank, waar noukeurige ondersoek na die aard en oorsake van oortredinge plaasvind, die Here te dien in die gees van waarheid, om met elke getuienis te besef dat Hy alles weet. Dit is ter bevordering van die gees van die Godsryk, wat die waarheid en die bevestiging daarvan ook insluit, dat ons voor die regbank 'n suiwer getuienis sal bevestig met 'n eed voor God ten einde die reg en geregtigheid soos Hy dit lief het te laat seëvier en voortleef. Maar dan word ook van die owerheid en die regbank verwag om die wetgewing en die regspraak op 'n onaanvegbare wyse te handhaaf en die geregtigheid te help seëvier. In die gesindheid en onder sulke omstandighede word elke eedswering opnuut 'n belydenis dat God leef en die waarheid liefhet.
Om dit so te verstaan sal geen Christen-gelowige die eedswering behoef te weier nie. Hy sal dit eerder verwelkom om die belydenis, dat hy glo in die lewende God, weer af te lê.
Dit is tog nie om geringe redes dat die eedswering in swang gehou word nie. „Dit is ook omdat die nood dit vorder om trou en waarheid daardeur te bevestig, en dit tot eer van God en tot heil van die naaste; want om so 'n eed te sweer het sy grond in die Woord van God en daarom ook deur die heiliges in die Ou- en Nuwe Verbond reg te gebruik."
Die Heilige Skrif bring vir ons oorvloedige voorbeelde van eedswering en hoe die beloftes wat so gemaak is, gestand gehou is. Die versoek van Rachab "sweer dan nou tog vir my by die Here" is deur die twee verspieders in Jericho toegestaan en later uitgevoer. As Abram die buit, wat die koning van Sodom hom aanbied, weier dan doen hy dit omdat hy „sy hand opgesteek het na die Here" dat „hy geen draad en geen skoenriem” sal neem nie. Dawid het selfs 'n eed gesweer aan Saul, sy vervolger, dat hy sy nageslag nie sal uitroei nie. Waarlik dit was manne wat „trou en waarheid" wou bevestig deur die eedswering; hulle het dit gedoen tot heil van die naaste, wat dikwels vreemd aan God geleef het. Maar hulle het die eed nie verbreek nie en sodoende het hulle die eer toegebring aan die lewende God, wat hulle aangeroep het as hulle getuie.
Die Apostel Paulus het ook elke keer sy woorde met 'n eed bevestig. Hy skryf aan die Korintiërs: „Maar ek roep God as getuie aan oor my siel." Aan die gemeente te Galate lui dit: „en wat ek julle skryf, voor die aangesig van God, ek lieg nie." Aan die Tessalonisense laat hy weet: „Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word."
Hoe dikwels hoor ons ook nie van die kansels die vraag waardeur 'n belofte van Christen-gelowiges gevra word nie: in teenwoordigheid van God en sy christelike gemeente vra ek u. Hierop volg die bevestigende antwoord, maar in die geheel het ons hier net 'n gewysigde eedswering, 'n belofte waarby die Here die getuie en die helper is.
En tog is daar mense wat wel die geloof bely, maar weier om die eed te neem, hoewel hulle bedoeling en voorneme tog is om die waarheid te spreek. Hulle weier die eedswering met 'n beroep op die uitspraak van Christus en die Apostel Jakobus: „Sweer hoegenaamd nie; nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is, ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning . . . maar laat julle woord wees: ja, ja, nee, nee." „Maar voor alles, my broeders, moenie sweer nie; nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder 'n oordeel val nie."
Hierdie uitsprake in die Heilige Skrif was nie om die godsalige eed af te skaf nie, dit was om die verkeerde gebruik van die eed onder die Joodse volk teen te gaan. Waar hulle die Naam van die Allerhoogste uit vrees nie op die lippe wou neem nie, daar het hulle ander vorms van eedswering in oorvloed aangewend om hulle woorde in die alledaagse lewe te bevestig. Die onnodige bevestiging van die gesprokene behoef nie te wees nie, en sal geen grond van bestaan hê in 'n omgewing waar die gees van waarheid suiwer bly nie.
Ook in ons daaglikse lewe hoor ons so dikwels hoe dat mense krag by hulle woord wil byvoeg deur 'n eed te neem. Ons erken dat die boosheid al diep in die lewe van die mens ingedring het sodat mense baie keer voor leuenagtighede staan. Wanneer die mens self voel dat hy sy woord met 'n eed moet bevestig dan het mens die vingerwysing en die aanklag van diepgesonkenheid en afdwaling van die weg van waarheid.
Hierdie gees mag nie bestaan, dit moet verander word sodat die mens die waarheid liefkry en daarvolgens leef; dit moet plek maak vir so 'n gesindheid en liefde vir die waarheid dat ja altyd ja en nee altyd nee is. Die woord moet verhewe wees bo elke sweem van twyfel en onbetroubaarheid. Hier pas dit ons om werklik aan te neem dat Jesus Christus die weg en die waarheid en die lewe is, dat wie die gees van Christus aanneem en openbaar op die weg van waarheid gehou sal word. Sy woord sal betroubaar wees sonder dat hy dit ook met 'n eed moet bevestig. Wie die waarheid aankleef staan voor God Almagtig, die enigste Here.
Maar die woorde van Christus en die Apostel Jakobus is deur die Doopsgesindes aangegryp as grond vir die eedswering en vandag nog word op grond van hierdie woorde gemoedsbesware en geloofsbesware teen die aflê van 'n eed ingebring. Hierdie uitsprake het egter geen betrekking op die eedswering voor die regbank nie, maar net op die daaglikse lewe waar waarheid in alle verhoudings met mekaar gehandhaaf moet word.
Waar 'n mens dan by die eed die woorde „so help my, God Almagtig" uitspreek, daar sluit dit tegelyk 'n bede om hulp in. Dit is 'n aanroeping van die heilige God in die hemel, wat gesê het dat jy geen ander gode voor sy aangesig mag hê nie, al gebeur die aanroeping nou ook al so dat die woorde sonder ernstige nadenking uitgespreek word. Dit is 'n erkenning van God as die alwetende, wat selfs die geheime roersele van die verborge ken. En die Here, wat die innerlike lewe van die mens so noukeurig ken en weet hoe hy die waarheid wil bevestig, tree seënend toe om die waarheid te laat seëvier.
Daar is niemand anders wat so n kenner van die verborge dinge is nie, selfs die maagd Maria of die Apostels van die Here Jesus nie. Die Roomse Kerk wil tog dat hulle ook wesens is by wie 'n mens kan sweer maar ons verstaan baie duidelik dat hulp in die opsig alleen verwag kan word van so 'n wese wat die mens in al sy bedenkinge ken, wat die waarheid in elke getuienis kan toets en weet hoe om te oordeel tussen die goeie en die kwaaie. So 'n wysheid is nie aan 'n gestorwe aardse wese geskenk nie.
God alleen ken die kwaad en die valsheid by die eedswering, Hy alleen het ook die almag om by die veroordeling die straf te voeg. Die tugroede is nie in die hand van 'n gestorwene nie. Dit is steeds maar die kastydende hand van die Allerhoogste wat uitgestrek word, en nie die hand van selfs hulle wat deur Hom behoue is nie. Die God van waarheid wat die septer swaai oor die ganse heelal sal seën en veroordeel volgens sy regverdige oordeel.
Die wat Hom ken deur die geloof sal aan Hom die eer toebring vir sy genade waardeur hulle op die weg van waarheid staande gehou word; vir die seëviering van die waarheid en die geregtigheid waarvoor hulle in godsalige eedswering steeds geywer het. God sal sy waarheid nooit krenk nie en waar die goddelike waarheid onder die mense en voor die gereg staande gehou word deur Hom wat 'n jaloerse God is, daar sal die blymoedigheid tot Hom bly voortleef. Die gelowige sal aan Hom die eer en die verheerliking toebring as die God wat trou bly tot in ewigheid en die werke van sy hande, ja ook die werke van die waarheid, nooit sal laat vaar nie.
Amen.
P. W. Venter.