Hk 4 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 11 views
Notes
Transcript

SONDAG 4

Die skuld en straf van die sonde

Lees: Romeine 5, vs. 12-21.

Sing: Psalm 65, vs. 1; Psalm 5, vs. Gesang 12, vs. 2; Gesang 139, vs. 7.

Vraag 9: Doen God die mens dan geen onreg nie dat Hy in sy wet van hom eis wat hy nie kan doen nie?

Antwoord: Nee, want God het die mens so geskape dat hy dit kon doen, maar die mens het homself en al sy nakomelinge deur verleiding van die Duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

Vraag 10: Wil God sodanige ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly ?

Antwoord: Nee, sekerlik nie, maar Hy toorn verskriklik oor die aangebore sowel as die werklike sondes en wil dit deur 'n regverdige oordeel tydelik en ewiglik straf; soos Hy gesê het: „Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie."

Vraag 11: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig; daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God begaan is, ook met die hoogste, dit is, met die ewige straf aan liggaam en siel gestraf moet word.

Die vierde Sondag handel nog, in voortsetting van die voorafgaande, oor die oorspronklike toestand van die mens en dan oor die verwoestende invloed wat die sondeval daarop gehad het. Dit beklemtoon veral die straf van God, oor daardie sonde.

God het sy wet aan die mensekinders gegee om uit te voer. Sy wet is die wet van liefde, eerstens teenoor God en dan teenoor die naaste, soos dit in die tweede Sondag gestel word.

Die mens het in ongehoorsaamheid aan daardie wet geval. Deur daardie sonde het hy in 'n toestand gekom, waar hy van nature geneig is om God en sy naaste te haat. So kan van nature die wet van God nie nagekom word nie. Maar die gehoorsaamheid aan daardie wet bly 'n dringende vereiste.

Nou word die vraag gestel of God aan die mens dan geen onreg doen om van hom te eis, wat hy nie kan doen nie.

Om daardie vraag te kan beantwoord moet ons teruggaan na die oorspronklike skeppingstoestand van die mens, voordat hy hom oorgegee het aan die mag van die sonde. Daar sal ons dan moet bepaal of die mens deur sy eie skuld die bedorwe natuur bekom het en of dit van buite, sonder sy toedoen, op hom geplaas is.

By die skepping is die mens nie alleen verhef bo alle ander skepsele nie, maar is tewens wesenlik verskillend van alle ander gemaak. Die menseskepping het plaasgevind na 'n besondere beraadslaging en hy is gemaak na die beeld en gelykenis van God, dit is, in ware kennis, geregtigheid en heiligheid, soos dit in die vorige Sondag behandel word (Genesis 1, vs. 26).

Genesis 1, vs. 31 leer dat alles wat God gemaak het baie goed was. So was die mens en dus sonder sonde.

Volgens Pred. 7, vs. 29 het God die mens reg gemaak, maar hulle het baie slim planne gesoek. Daardie toestand van onskuld waar in die mens geskape is, was nie net 'n negatiewe afkeer van wat kwaad is nie, maar ook 'n positiewe liefde tot God. Dit het die mens in staat.: gestel om weerstand te bied teen versoekings, waarin hy kon kom. Daardie toestand van onskuld was nog geen toestand van volmaaktheid waarin die mens verkeer het nie; anders sou die mens nie vatbaar vir sonde kon gewees het nie. Die ongehoorsaamheid aan die gebod van God, van die eerste mensepaar, wys dat hul nog nie volmaak was nie. Ons kan veeleer sê dat hul deur beproewings en opvoeding daartoe kon kom. As die mens in die toestand was dat hy nie kan sondig nie, sou die gebod van God in die Paradys oorbodig gewees het, want dan sou die begrippe „goed" en „kwaad" nie vir hom enige betekenis gehad het nie.

Die mens het die vermoë gehad om nie te sondig nie maar hy moes nog kom tot daardie toestand om nie te kan sondig nie. So, daar is 'n keuse vir die mens gelaat. Van die staat van onskuld kon die mens, deur 'n eie besluit, kom tot die staat van volmaaktheid of tot die toestand van sonde en skuld.

Die toestand van onskuld wat die mens in staat gestel het om vry te bly van die sonde was natuurlik, eie aan die mens. Dit was nie, soos die Roomse Kerk leer, dat dit 'n buitegewone en bonatuurlike gawe aan die mens was nie. Nee, die mens was na sy wese in staat om die kwaad te laat of om dit te kies.

Die verhaal van die sondeval is bekend hoe die mens op ingewing van die Satan en deur moedswillige ongehoorsaamheid die weg van die sonde gekies het. Die Satan was wel tot aansporing maar die mens self het daardie ingewing in 'n daad omgesit. Omdat die mens self gekies het, dra hy die skuld vir daardie keuse. Hy kon die wet onderhou maar deur eie ongehoorsaamheid het hy dit nagelaat.

Daarom is dit geen onreg van Gods kant om van die mens te eis om sy wet te onderhou nie. Deur 'n eie keuse het die mens daartoe gekom om God en sy naaste te haat, maar die wet eis dat hy sal liefhê.

Daardie sondige neiginge is op alle mense voortgeplant. Deur sy geboorte is die natuur van die mens sondig. (Ps. 51, vs. 7, Gen. 8, vs. 21.) In Genesis 5, vs. 3 lees ons: „Toe Adam 130 jaar oud was het hy 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem." Met die skepping van Adam was hy na die beeld en gelykenis van God en so sonder sonde. Na die sondeval is Set egter na die beeld van Adam en so het die sonde hom van nature aangekleef. Daarom is dit dat die Kategismus sê: „ maar die mens het homself en al sy nakomelinge deur die ingewing van die Duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof." Dit is die gawes om die wet van God te kon nakom.

Vandag word die feit van die erflikheid alweer erken. Selfs in die natuur word daardie feit treffend weerspieël. Te dikwels sien ons hoe 'n liggaamlike gebrek van die ouers op die kind oorgeplant word — of hoe die neiging ten goede of ten kwade van die ouers die kind aankleef. Ons moet erken dat familie sondes soms soos 'n onafgebroke draad aan die nageslag kleef.

Maar afgesien van wat die natuur ons leer van die erflikheid, word dit onderskrywe in Gods Woord wat die maatstaf vorm vir die leer van die erfsonde: „Daarom soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het." (Rom. 5, vs. 12.) Die mensegeslag vorm nie alleen 'n natuurlike nie maar ook 'n geestelike eenheid. Die menseskepping was nie soos die engele nie, waar die een kon val, sonder om die ander saam nie. As dit die geval was sou die voortbestaan van die mensegeslag 'n  tallose herhaling van die Paradysgebeurtenis gewees het. Die mense is as 'n eenheid geskape. Soos die kinders in die huis is vir die skuld van die vader, so is die nageslag van Adam ook medeverantwoordelik vir sy sondeskuld. Waar daar 'n misdaad gepleeg word, ontstaan skuld. In elke gemeenskap waar die reg gehandhaaf word, moet die persoon wat die misdaad gepleeg het, gestraf word. Dit word ook wel genoem, die skuld moet betaal word.

God, in sy regverdige oordeel, laat die sonde daarom nie ongestraf nie. "Want die toorn van God word van die hemel af openbaar oor al die goddeloosheid van die mense." (Rom. 1, vs. 18.)

Soos die Kategismus dit aanhaal wil Hy tydelik en ewiglik straf soos geskrywe staan: "Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie."  (Gal. 3, vs. 10.)

As ons die sonde as 'n misdaad of oortreding van die wet van God erken, erken ons ook die skuld vir daardie toestand en die sondige dade wat ons pleeg.  Waar die skuld erken word, erken ons ook dat ons die straf van God verdien.

God kan dit nie ongestraf laat bly nie:  :U haat al die werkers van ongeregtigheid." (Ps. 5, vs. 6b).  "Hierdie dinge het jy gedoen, en sou ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. (Ps. 50, vs. 21.)

Meermale het God sy strafgerigte oor die aarde laat kom, en die mens getoon dat geen skuld onbetaald uitgewis word nie. Ons kan tot 'n voorbeeld neem die Sondvloed, Sodom en Gomorra of indiwiduele persone, Korag, Datan en Abiram of Ananias en Saffira.

God wil so tydelik straf maar ook ewig met die gevolg dat sy oordeel nie alleen in hierdie lewe bestaan nie, maar die ewige verdoemenis is ons deel as daardie skuld nie betaal word nie. Soveel beelde kry ons, wat ons die ewige straf voorstel.

Markus 9, vs. 43-44 beskryf dit as 'n hel met 'n onuitbluslike vuur waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie."

By die gelykenis van die bruilof is dit 'n buitenste duisternis. Daar sal geween en gekners van tande wees." (Matt. 22, vs. 13.)

God wil die ongehoorsaamheid en afval nie ongestraf laat bly nie, maar Hy vertoorn Hom verskriklik oor die aangebore sowel as die werklike sonde en wil dit deur 'n regverdige oordeel tydelik en ewiglik straf. Ons hoor in die Woord van God die een oomblik „die lieflike fluitspel van genade" maar dan sien ons Hom weer staan met die tweesnydende swaard wat uit sy Mond gaan. (Openb. 1, vs. 16.)

God is heilig. Daarom word sy toorn oor die mensesondes openbaar. 'n God sonder heilige toorn in hierdie wêreld sou 'n God sonder geregtigheid gewees het, wat Hom feitlik magteloos by die heersende kwaad sou neerlê. Die diepe goddelike liefde gaan met die heilige toorn gepaard. Dit is geen sondige wraaksug wat daar spreek nie maar „'n heilige mishae teenoor alles wat die glorie van die Naam van die Here verduister en sy heerlike handewerk verwoes."

Die straf het 'n tweeledige karakter nl. 'n vergeldende vir gedane kwaad en 'n reinigende sodat ons die Vaderlike kastyding daarin gewaar en sy roepstem tot bekering hoor.

Wie kan die gange van God nareken in sy strafbepaling ? By blindgeborenes praat ons van skuld en straf, maar Christus spreek van die heerlike werk Gods. As die mens soms verslae en terneergedruk is, troos ons hom deur te wys op die feit dat God die kasty wat Hy liefhet, maar daardie mens se eie gewete kla hom aan dat dit die vergeldende Hand van God is oor gedane kwaad. So wie kan werklik die strafgerig van God nareken en dit by elke sondedaad met juistheid plaas ?

Maar wie Christus as Heer en Meester, Verlosser en Saligmaker erken, mag nie twyfel aan die ewige straf oor die sonde nie. Want juis daarom het Hy gekom, om ons te verlos van ons sonde. Daarmee erken ons dat ons midde in die daad lê en moet buk onder 'n sondelas.

Nog 'n ander vraag kom by die mens op as ons spreek van die straf oor die sonde. „Is God dan nie ook barmhartig nie?" vra die Kategismus. Ja, God is barmhartig. Reeds in die Wet van die Here getuig Hy: „ . en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie bewaar." Op die berg Sinai het Moses uitgeroep: „Here, Here 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou." (Ex. 34, vs. 6.)

Maar God is ook regverdig en so kan ons skuld nie onbetaald uitgewis word nie. As Hy die sondige mens straf, is dit nog geensins in stryd met die feit dat Hy 'n God van liefde is nie.

Sal ons beweer dat God nie barmhartig is, as Hy sy Eniggebore Seun terwille van ons gestuur het, sodat ons nie verlore sou gaan nie, maar die ewige lewe hê?

Wie van die mensekinders sal beweer dat God nie barmhartig is, die seëninge tel wat ons uit sy Vaderhande ontvang nie? Maar barmhartigheid beteken nie om maar die mens in die weg van sonde te laat gaan, soos ouers dikwels met bedorwe kinders maak nie.

Nee, God is heilig en regverdig. Hy het sy bevele gegee om die wat onskuldig is en die wat reg het nie om te bring nie, „want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie." (Ex. 23, vs. 7)

Vir elke misdaad ontstaan 'n skuld wat vereffen moet word. Wat sal van die geregtigheid word, as daardie beginsel opgegee word?  Hy is 'n Betoner van die geloof wat Hom soek. Blydskap en vrede verseker Hy.  Die opregte gebed kom voor Hom soos die offer van Abel. Hy troos die treurendes en verseker die ontelbare verlossinge van sy aangesig.

Maar daar is ook die loon van die sonde. Juis in sy ewige straf betoon God Hom regverdig. Die sonde is gepleeg teen God. Omdat daar sonde teen die hoogste Majesteit gepleeg is, is die eis dat dit met die hoogste d.i. met die ewige straf aan liggaam en siel gestraf word.

Dan, waar ons hulpeloos staan in sonde voor sy regverdige oordeel, bewys Hy sy grote barmhartigheid. Dit getuig Johannes: „As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig." (1 Joh. 1, vs. 9.)

So bewys Hy juis in sy regverdigheid sy barmhartigheid.

Sy barmhartigheid is groot genoeg om die sondaar aan die kruis die saligheid te verseker.

Aan die kruis bewys Christus sy grootste barmhartigheid en suiwerste regverdigheid. Regverdig is Hy, omdat Hy vir die sonde, wat die ewige dood verdien, met die hoogste straf betaal het. God verseker dit deur die hoogste offer van sy engste Seun. Barmhartig is Hy omdat Hy daardie weg vir sondaars geopen het, tot die ewige lewe.

Die regverdigheid en barmhartigheid wat vir ons in stryd met mekaar skyn te wees, blyk daar aan die Kruis onafskeidbaar te wees. Daarom, God is ook barmhartig.

Die mens staan hulpeloos in sondeskuld. God openbaar Hom in krag en dit word betaal deur die dood van sy Seun, ons Verlosser.

Nie om nou maar sonder meer af te skryf nie asof ons geen sonde gehad het nie. Nee ons haal weer Johannes aan: „As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig." Amen.

P. M. Smith.

Related Media
See more
Related Sermons
See more