Hk 41 U Enigste Troos
SONDAG 41
Die sewende gebod
Lees: Mattheus 19, vs. 1-15.
Sing: Psalm 119, vs. 17; Gesang 59, vs. 8; Psalm 139, vs. 12.
Hebr. 13, vs. 4. „Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel."
Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Dat alle onkuisheid deur God vervloek is, en dat ons daarom van harte vyande daarvan moet wees en kuis en matig moet lewe sowel in die heilige staat van die huwelik as daarbuite.
Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod nie meer as egbreuk en dergelike skandelikhede nie?
Antwoord: Omdat ons liggaam en siel tempels is van die Heilige Gees, daarom wil Hy dat ons altwee rein en heilig moet bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en wat die mens daartoe kan verlei.
Daar is baie bande wat mense saamsnoer in die lewe. Daar is die bande van bloed, van vriendskap, van gemeenskaplike belange en nog veel meer. Daar word egter nêrens iets gevind wat in hierdie opsig met die huwelik op een peil gestel kan word nie. In die huwelik word nie net twee liggame nie maar ook twee siele saamgesmelt tot 'n hoëre eenheid. Hier ondersteun twee mense mekaar by elke las wat gedra moet word; die een verryk en verdiep die lewe van die ander. In dae van treurigheid kla die een sy nood by die ander en saam kniel hulle voor die Allerhoogste om aan Hom hulle sielsbehoeftes bekend te maak. In dae van blydskap bring hulle ook saam hulle offers van dankbaarheid aan Hom wat die gewer is van alle goeie dinge. Die vreugde van die lewe word vir hulle vermeerder omdat hulle dit met mekaar mag deel.
Wanneer met Christus oor die egskeiding gepraat word dan verwys Hy na die skepping, na die begin. Hy voer die huwelik terug na die skepping van man en vrou. Die eerste lied in die Bybel is dan ook 'n bruilofslied. Uit Adam word Eva geneem en God bring haar weer na hom toe as 'n hulp vir hom. Die twee geslagte verskil van mekaar liggaamlik sowel as geestelik, so het God hulle gemaak en so moet dit ook bly. Die twee vul mekaar aan in die lewe. God wil dat deur die huwelik die menslike geslag gebou sal word. Die Skepper het in sy wysheid besluit dat die mens sal wees — man en vrou. Omdat die huwelik 'n heilige instelling van God is daarom moet dit ook in alle opsigte eerbaar wees. Die egbreuk wat ons in die sewende gebod verbied word is in stryd met 'n goddelike verordening. Hoe vrolik ons huweliksfeeste dan ook al mag wees, nooit mag dit ontaard in dronkpartye waar ons die Here, wat dit ingestel het, nie ook sal kan verwelkom nie. So heilig is die huwelik dat die liefde van die egpaar as beeld gebruik word van die liefde van Christus tot sy gemeente. Wanneer Israel afvallig word en die afgode dien dan word hierdie sonde voorgestel as 'n verbreking van 'n egverbintenis. Deur God self ingestel is dit dus 'n dwaasheid wanneer mense die huwelik afkeur of voorstel asof dit onrein is.
Die huwelik reg aangegaan was dan ook ten alle tye 'n groot seën vir die mensheid. Die egverbintenis is ook 'n baie gelukkige verbintenis. Hoe gelukkig kan dit nie wees vir mense wat dit in suiwere liefde aangaan nie. Hulle deel in mekaar se vreugde en smart, hulle kan mekaar ondersteun in die diens van die Here, saam besit hulle kinders wat hulle vir die hemel mag opvoed. Die huisgesin — wat was dit nie al vir mense wêrd nie? Die geluk wat dit aan ouer en kind kan gee is van onskatbare waarde. In hierdie lewensvreugde wat voorkom uit 'n gelukkige egverbintenis het die ryke geen voorsprong bo die arme nie.
Van hierdie verbintenis tussen mense sê die gebod van die Here: „jy mag nie egbreek nie." In die huwelik is daar vir die mens soveel op die spel daarom is die verwoesting wat deur die sonde aangerig word hier ook so ontsettend. Die egbreuk vernietig die doel van die huwelik. Hier skei mense op ruwe manier wat God in sy liefde saamgevoeg het. Die mens, die kroon van die skepping, word deur hierdie sonde sy treurigste vernedering besorg. Trou 'n woord by ons so goed bekend, beteken dat twee mense voor die heilige God belowe om mekaar getrou te wees totdat die dood hulle skei. Die egbreuk vernietig hierdie heilige belofte en maak die skuldiges ook tot meinediges.
Ons moet hierdie gebod van die Here in ag neem want die vers so groot. Reeds in onsself is daar 'n vyand wat ons nooit gering moet skat nie — die geslagsdrif. Hierdie drif wat God met 'n verhewe doel in die mens geplaas het kan so maklik, wanneer die mens nie op sy hoede is nie, tot 'n verterende vuur word.
Die straf wat die oortreder van die sewende gebod op hom haal is seker. Ons dink hier aan die diepte van ellende waarin dit Dawid laat val het. Nadat hierdie man owerspel gepleeg het het hy nooit weer geword wat hy voor die tyd was nie.
Die Simson wat hom inlaat met hierdie Delila se lewenskrag word gebreek sodat hy magteloos staan teenoor sy vyande. Die mens wat hom aan hierdie sonde skuldig gemaak het, het alle agting vir homself en sy medemens verloor. Hoe kan die mens wat hierdie gruwelike sonde begaan het die oë weer ophef na 'n heilige God? In samelewing bring so 'n mens wanorde. Hy bring nie net oor homself die diepste ongeluk nie maar hy maak ook ander mense ongelukkig. Die wat hy verlei het sit die verwoestingswerk voort en word weer die verleiers van ander swakkelinge. Wanneer ons dit alles sien hoe swaar word die rekening dan nie van hierdie mens nie. Daar kan geen twyfel meer bestaan oor die noodsaaklike eis wat die wet van die Here stel nie.
In al die gebooie van die Here word net een enkele saak genoem maar die is dan ook die grofste vorm van oortreding op daardie terrein. Die egbreuk is die grofste vorm van huweliks sondes. Die gebod sluit in veel meer dan net die enkele sonde wat hier genoem word. Heel tereg stel ons belydenis die eis van hierdie gebod in die volgende woorde: „Dat alle onkuisheid deur God vervloek is en dat ons daarom van harte vyande daarvan moet wees en kuis en matig moet lewe sowel in die heilige staat van die huwelik as daarbuite." Hierdie gebod is nie net bedoel vir getroude mense nie, ook die wat nie deur die huwelik aan een persoon verbind is nie kan hom skuldig maak aan die sonde wat hier genoem word. Streng word dit veroordeel dat mense buite die huwelik vir korter of langer tyd met mekaar mag saamleef. Die oordeel gaan ook oor daardie ontsettende euwel wat ons verplig is om hier te noem — die prostitusie. Soos kanker vreet hierdie onheil aan die maatskaplike lewe van ons groot stede.
Die veelwywery is 'n ander oortreding waarop hierdie gebod betrekking het. Hierdie sonde kan nie goedgepraat word deur na die Ou Testament te verwys nie. Ons moet daarop let dat in die geval van Abraham dit voorgekom het alleen toe dit vir Sara duidelik was dat sy self nie meer aan hom 'n kind kan skenk nie. In die geloof het hulle saam oorleg gepleeg oor die saak. Wat Jakob betref moet ons onthou dat dit nie sy eie keuse was nie. Die gedwonge dubbele huwelik het hom dan ook baie smarte besorg. Dit is waar dat Dawid, die man na die hart van God, meer dan een vrou gehad het maar tot watter diepe val het dit hom nie gebring nie? Salomo het in navolging van Oosterse vorste 'n groot aantal vroue gehad. Die straf vir hom en sy nageslag het nie uitgebly nie. Wie hom hieraan skuldig maak verraai 'n dierlike wellus wat die Christene onwaardig is.
Die huwelik moet eerbaar wees „omdat ons liggaam en siel tempels is van die Heilige Gees." Die denkbeeld van 'n tempel sluit al dadelik in reinheid en heiligheid. As woonstede van die Allerhoogste moet die mens in alle opsigte daardie hemelse bewoner waardig wees. Daarom word ons onverbiddelik verbied: „Alle onkuise dade, gebare, luste en wat die mens daartoe kan verlei." Hoe swaar word die skuldelas nie van baie wat op hierdie manier die tempel van God in hulle skend nie. Daar is onkuise gebare in die voorkoms, in die kleredrag, in die liggaamshouding wat daarop gemik is om te verlei. Daar is onkuise woorde, insinuasies, grappe wat die onreine toestand van die hart verraai. Daar is onkuise gedagtes waardeur die mens vir hom allerhande tonele van onreinheid voorskilder. Daar is die onkuise luste wat in die mens opwalm. Daar word nog bygevoeg „alles wat die mens daartoe kan verlei." Ons dink hier dadelik aan die bioskope, die danssale, die onsedelike lektuur en die vuil grappe wat die sedes van baie, veral jongmense, bedreig. Dis nodig om te waak teen hierdie gevare.
Ons het saam die gebod van die Here oordink. Hoe staan dit met ons ten opsigte van hierdie wetsgedeelte ? Wat is die resultaat na 20 eeue van Evangelieverkondiging ? Ons woon in 'n Christenland en is kinders van Christenouers. Vir geslagte het dit ons nie ontbreek aan vermaning en voorligting ten opsigte van die eise van die wet nie. Kan ons daarop roem dat dit met ons goed gaan? Dis net nodig om maar enkele dinge te noem wat ons kan laat nadink.
Hoe ontsettend het die egskeidings nie vermenigvuldig by ons volk in die laaste jare nie? Wat eenmaal 'n skande was het nou 'n alledaagse gebeurtenis geword. Reeds aan die begin word die egskeiding al in die vooruitsig gestel as 'n uitkoms ingeval daar iets mag verkeerd gaan in die getroude lewe. Die getal ongelukkige huwelike is nie gering by ons volk nie en die oorsaak van dit alles is in byna alle gevalle 'n ontugtige leefwyse. Dronkenskap en owerspel is nie heeltemal onbekende dinge by ons nie. Hoeveel kinders word daar nie jaarliks buite die huwelik gebore nie en dit van mense wat tot die gemeente van Christus behoort.
Die gees van ons tyd gaan in die rigting dat die verskille tussen die twee geslagte al meer en meer uitgewis word. Dinge wat voorheen skaamte gewek het word nou beskou as iets heel natuurlik. Onskuld en skugterheid is nie meer kenmerke van ons jongdogters nie. By ons jongmense word 'n gees van ligsinnigheid opgemerk watdiep te betreur is; wat alleen kan lei tot ongeluk in die latere huwelikslewe. Baie van ons plesierplekke dien geen beter doel nie dan om die ontug in die hand te werk. Daar word so dikwels die vraag gestel of dans dan sonde is. Op hierdie vraag kan met 'n ander vraag geantwoord word. Waar sal die versoeking tot onkuise dade of gedagtes groter wees, in die kerk of in die danssaal ? Sal u die rand van 'n afgrond uitkies as die veiligste plek om gerus te gaan slaap ? „Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?" Baie van ons jongmense gaan verkeerde huwelike aan; om te trou met iemand uit 'n vreemde volk, van 'n vreemde godsdienstige oortuiging belowe weinig goeds. Waar jongmense deur onverstandige ouers tot 'n huwelik gedwing word terwille van geld of stand daar is dit heel begryplik dat dit verkeerd sal loop.
Die oordenking moet ons lei tot 'n eerlike ondersoek van ons eie lewe. Was daar nog niks in u gedagtes, woorde of dade wat u as onkuis sal bestempel nie? Al dadelik voel ons die bede in ons opkom: „Wees my genadig, o God, na U goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van U barmhartighede." Laat ons jongmense hulle lewes mooi en skoon hou, nooit die hand uitsteek na wat deur God hulle verbied word nie en altyd met eerbied vervul wees teenoor die eise van die sedelikheid. Die geskiedenis van die mens begin met 'n bruilof en ook aan die einde is daar 'n bruilof.
Die wat lewe na die Wet van die Here, ook ten opsigte van hierdie sewende gebod, die het eenmaal deel aan die laaste bruilof — die bruilof waar niks sal inkom wat onrein is nie — die bruilof van die Lam.
Amen.
S. P. Viljoen.