Hk 43 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 8 views
Notes
Transcript

SONDAG 43

Die negende gebod

Lees: Spreuke 22, vs. 1-16.

Sing: Psalm 138, vs. 1; Psalm 68, vs. 1; Gesang 75, vs. 3; Gesang 12, vs. 4.

Eks. 20, vs. 16. „Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie."

Vraag 112: Wat wil die negende gebod?

Antwoord: Dat ek teen niemand valse getuienis mag aflê nie, niemand se woorde mag verdraai nie, geen kwaadspreker of lasteraar mag wees nie, niemand ligvaardig en onverhoord mag oordeel of help veroordeel nie; maar alle lieg en bedrieg as die eie werke van die Duiwel moet vermy, tensy dat ek die sware toorn van God op my wil laai. Dat ek ook in die gereg en alle ander handelinge die waarheid moet liefhê, opreg spreek en bely; ook my naaste se eer en goeie naam na my vermoë moet verdedig en bevorder.

Vandat die sonde in die wêreld gekom het is die onwaaragtigheid en valsheid, waarin een mens teenoor 'n ander staan, groot. Die mens is daardeur geneig om God en sy naaste te haat en daarom is die gesindheid wat hy openbaar teenoor sy medemens nie altyd een van liefde en hoogagting nie. In die waan van sy hoogmoed en selfsug is sy denke, spreke en optrede in verband met sy naaste nie altyd lofwaardig nie. Sy eie naam en roem wil hy in hoogmoed bestendig en vermeerder al is dit ten koste van die goeie naam van sy naaste. Hy het dit verleer om 'n ander hoër te ag as homself. Sy naam alleen moet eer ontvang en toegebring word; al moet dit ook geskied langs die weg waarin die naam van God en die naam van sy naaste oneer toegebring word en beklad word; al word 'n valse getuienis afgelê.

God, die Skepper, vertrou die naam van ons naaste aan ons toe; sodat ons op hierdie manier getuies kan wees van die waarheid waarin ons staan. Sy Naam het Hy in die derde gebod omtuin. Daarin kom die Here God op vir die eer van sy eie goeie Naam. „Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie." Maar Hy is ook begaan oor die goeie naam van n mens. Daarom kom Hy op vir die eer en goeie naam van die mens wat na sy beeld en gelykenis geskape is. Met die negende gebod beskerm Hy die mens. Hy wil nie dat die eer en goeie naam van sy mens nadelig, onwaaragtelik, valslik aangetas en geskend word deur kwaadsprekers, valse getuies en lasteraars nie, wat so 'n verderflike invloed in die wêreld het nie. Daarom kondig Hy plegtig en dringend aan: „Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie." Wie „jy" ook al mag wees: geen „valse getuienis teen jou naaste nie. Waar dit ook al vereis word; in die regspraak, in die kerkvergadering, of daar buite; op elke gebied, op elke plek: geen „valse" getuienis nie! Hierdie gebod staan waaragtigheid en opregtheid van harte voor in ons optree in verband met en teenoor ander. Dit is gekant teen elke leuen en elke vorm daarvan. Dit dring daarop aan dat elke mens met alle krag die waarheid moet soek en die waarheid moet spreek. „Koop die waarheid en verkoop dit nie." Mens moet die waarheid liefhê.

Die Godsryk is die ryk van die waarheid. Waarheid is die fondament en wese daarvan. Daar sal niemand inkom wat die leuens liefhet en doen nie. Teenoor die koninkryk van God staan die ryk van die leuen en bedrog en valsheid met die duiwel as die stigter daarvan. Hy is die vader van die leuen; en lieg en bedrieg is sy eie werke.

Altyd en op elke gebied moet ons getuienis oor, en ons optrede teenoor die naaste waar en opreg wees. Die maatskaplike lewe en sosiale omgang tussen mense is hoofsaaklik van die gesproke en geskrewe woord afhanklik. Sonder spraak sou die sosiale omgang van mense baie moeilik, so nie onmoontlik, gewees het. Die spraakvermoë is een van die baie uitnemende weldade waarmee die Skepper die mens bevoorreg het. As ons hierdie gawe van God aan die mens reg wil gebruik dan moet dit draagster van die waarheid wees, dan moet dit vertroubaar wees sodat die woorde en getuienis wat dit bring waar en nie vals en onwaar wees nie. As mense hulle naaste se woorde en beloftes en getuienis nie kan aanneem as waar nie kan daar geen vriendskap, geen ordelike sosiale gemeenskap bestaan nie.

Ons kan die mond oopmaak om in welluidende taal die hulde en lof uit te sing en te spreek tot eer van Hom in wie ons leef, beweeg en is. Die spraak is ons gegee om God te prys en ons naaste te seën en nie om te belaster nie. Hoe baie mense misbruik nie hierdie goeie gawe van God aan die mens om God en mens te belaster nie. Wat in die natuur nie gesien word nie, n.l. dat dieselfde fontein bitter en soet water gelyk laat opborrel, word in die mensewêreld verneem. Met dieselfde mond word God, die Vader, se naam geloof, en die mens wat na die beeld van God geskape is belaster. Met dieselfde mond, wat ontsluit word vir aanbidding van God, word dikwels valse getuienis afgelê en gespreek teen die naaste. Maar: „elke boom word geken aan sy vrugte" en „dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie." „Aan die vrugte word die boom geken." Daarom waarsku Jesus: „Uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word." „Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge tevoorskyn." „Uit die oorvloed van die hart spreek sy mond."

Daar is seker min oortredings wat so maklik gedoen word as die oortreding van die negende gebod. Onder al die range en stande, tale en nasies word dit aangetref.

Deur die negende gebod word gebied: „dat ek teen niemand valse getuienis mag aflê nie." Dikwels word dit van 'n mens geëis om in die gereg getuie te wees in 'n saak teen iemand. Dan mag mens nie aan iemand 'n kwaad toedig nie. Valse getuienis word gespreek as iemand van 'n kwaad beskuldig word en as die getuie weet dat hy dit nie gedoen het nie of as die getuie nie seker daarvan is dat hy dit gedoen het nie en tog nog gaan getuig en bevestig dat die aangeklaagde dit wel gedoen het. As 'n mens deur die gereg gedagvaar word om getuienis vir of teen 'n persoon af te lê is hy verplig om niks anders as die waarheid en die hele waarheid te spreek nie.

Daarin word ook gebied: dat ek niemand se woorde mag verdraai nie. Dit is 'n gruwelike kwaad wat gedoen word as mens iemand se woorde anders opvat as wat hy dit bedoel en dit dan so verdraai en 'n ander sin en betekenis weergee as wat die spreker daaraan geheg het. Sy woorde word verdraai deur die regte sin weg te laat en dit met die verkeerde betekenis oor te vertel.

Ek mag „geen kwaadspreker of lasteraar wees nie." Dit vind plaas as van iemand, by voorkeur in sy afwesigheid, gerugte versprei word en dinge vertel word wat nie waar is nie, met die doel om hom veragtelik te maak in die aansien van ander. Daar is seker nie nog 'n euwel wat ons gesellige sosiale lewe so bemoeilik en benadeel nie as die kwaadspreker, lasteraar of skindertong nie. Die wat aan hierdie kwaal ly skroom nie om die woorde en dade en gedrag van ander in die ongunstigste lig te plaas en voor te stel nie. Luister maar op vergaderinge (politieke en selfs kerklike vergaderinge) waar dit daar oor ander gaan. Luister maar op ander byeenkomste waar dit gaan oor 'n afwesige! Die wêreld is vol kwaadsprekers en lasteraars; die christelike wêreld ook. Van mense wat in die openbare lewe optree word soms onregverdiglik kwaad gespreek. Hy word soms valslik belaster.

Niemand is veilig teen hierdie euwel nie. Onder alle klasse en stande word dit aangetref en bedryf. Orals op al die gebiede vind dit vrugbare grond om weelderig te groei en sy verderflike invloed te versprei.

O! Die kwaadsprekery en laster. Bedwelmend is sy asem. Giftig is sy dolk. Onnaspeurbaar is sy spoor. Sy bron is die onpeilbare dieptes van die mensehart. In die donkerheid volbring hy sy onheilige werk. Hy is soos „die pes wat in die donker wandel" en soos „die siekte wat op die middag verwoes."

Baie mense wat die prooi geword het van die kwaadsprekers en lasteraars kan soos die psalmdigter bid: „O Here, red my siel van die valse lippe, van die bedrieglike tong" (Ps. 120, vs. 2).

Daarom dring die negende gebod volgens die Kategismus ook daarop aan dat ek „niemand ligvaardig en onverhoord mag oordeel of help veroordeel nie." Ons mag wel 'n selfstandige opinie oor 'n ander vorm. Maar ons mag hulle nie ligvaardig en onverhoord oordeel of help veroordeel nie. Nooit mag 'n valse getuienis gespreek word nie. Die waarheid mag nooit versaak word nie. Die oordeel wat ons vorm moet na deeglike ondersoek en kennis van die saak gedoen word. Die persoon waaroor dit gaan moet eers verhoor word voordat 'n oordeel oor homself uitgespreek word. 'n Mens mag niemand op hoor-sê oordeel of help veroordeel nie.

Daar is so baie wat hulleself tot regter oor ander verhef. So baie is daar wat ander ligvaardig en onverhoord oordeel of help veroordeel. Die tyd is nog lank nie verby nie dat dit luid van die dakke af verkondig moet word nie: „Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel mag word nie: Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word" (Mat. 7, vs. 1 en 2).

Ons moet die waarheid liefhê en „alle lieg en bedrieg as die eie werke van die Duiwel vermy." Hoe is dit moontlik dat 'n mens wat Gods mooi aarde vir mekaar tot 'n aangename woonplek kan maak, dit vir mekaar deur te lieg en te bedrieg tot 'n poel van getwis en geween kan omskep! Lieg en bedrieg is eie werke van die Duiwel. Hy doen dit in sy eie persoon. Hy is die aartsleuenaar en sy ryk is die ryk van leuen en bedrog. Ons moet dit vermy. Een wat lieg en bedrieg lyk soos die Duiwel. Hy vertoon die beeld van satan. Daarom mishaag ons God as 'n mens wat na sy beeld en gelykenis geskape is die werke van die satan doen en daarmee die ewebeeld van die duiwel vertoon. Deur hierdie werke van die duiwel nie te vermy nie benadeel ons die medemens; beledig ons God en laai die sware toorn van God op ons.

In die gereg en in alle ander handelinge moet mens die waarheid liefhê, opreg spreek en bely. In alles en orals op elke gebied en teen elke ander persoon moet die waarheid seëvier. Die goeie mens moet uit die goeie skat van sy hart die goeie dinge tevoorskyn bring.

Die heilige God wat lus het in waarheid kan geen valsheid duld nie. Hy haat alle leuens en bedrog maar het waarheid en opregtheid lief. „Valse lippe is vir die Here 'n gruwel" (Spr. 12, vs. 22). „'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuen verstrooi sal nie vrykom nie" (Spr. 19, vs. 5). „'n Leuenagtige getuie kom om" (Spr. 21, vs. 28). Daar is geen gemeenskap tussen die koninkryk van God en die ryk van satan nie. God het die waarheid lief. Maar die duiwel „was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan" (Joh. 8, vs. 44).

God is gesteld op sy Naam maar ook op die naam van die mens daarom beskerm Hy dit in die negende gebod teen 'n leuenagtige getuie. Word daar diefstal van aardse besittings in die algemeen verbied word hier deur die negende gebod eerroof en diefstal van 'n ander se goeie naam verbied. Deur 'n valse getuienis te verbied teen jou naaste word sy eer, karakter, en goeienaam beskerm.

Wie is nie gesteld op 'n goeie naam nie? Wie streef nie daarna om sy naam hoog te hou nie? Wie werk nie met al die krag van liggaam en siel om sy naam onbevlek te bewaar nie? Wie is nie gesteld op sy eer nie? Wie sal nie alles wil betaal om sy karakter nie te beklad nie? „'n Goeie naam is beter as olie." „'n Naam is verkiesliker as groot rykdom" (Spr. 22, vs. 1). Oorlaai 'n mens met die skatte van die aarde, met mag en plesier; maar so gou as wat sy goeie naam bevlek is, is sy goeie invloed en agting verlore. Neem die armste en ellendigste mens die brood uit sy mond en sy broodwinning uit sy hande; maar solank as wat hy sy goeie naam onbevlek hou, het hy nie alles verloor nie en kan hy nog onder prinse getel word en beweeg. 'n Goeie naam bevorder ons lewensvreugde, die heil van ons huisgesin en ons goeie invloed op ander. Dit is 'n kosbare erfenis wat op nageslagte oorgaan. Nageslagte sal hier dankbaar wees oor die erfenis van 'n goeie naam as wanneer hulle groot aardse skatte sal erf saam met 'n slegte naam wat aan die familie kleef.

Verlore goedere kan mens moontlik weer terugvind; maar 'n verlore naam wat beklad is kan nooit weer ten volle herstel word nie. Geen aardse skatte kan 'n familienaam weer herstel en die vlekke wat daaraan kleef uitwis nie. Daarom moet ons ook ons naaste „se eer en goeie naam na ons vermoë verdedig en bevorder" en dit nie benadeel deur 'n valse getuienis teen hulle te spreek nie.

Die onderlinge verhouding en omgang van mense is vol leuen en bedrog, valsheid en geveinsdheid. Groot is die onwaaragtigheid waarmee mense oor hulle medemense dink, praat en handel om sy naaste verdag te maak by en te verkleineer voor ander. Dit heers oor die hele wêreld. Dit sweep volkere teen mekaar op. Op elke gebied dring dit in. Dit het die gebied van die christelike huisgesin en van die kerk nie ontsien nie. Ook daar doen die oortreding van die negende gebod, die spreek van valse getuienis, sy vernietigende, ontbindende, onheilige, sataniese werk.

As die heilige God met ons in die gerig sou wil tree oor die oortreding van hierdie gebod kan niemand bestaan nie. Een leuen wat die aartsvader Jakob teenoor sy gryse, blinde vader, Isak, volgehou het en waarmee hy sy broer, Esau, uit sy eersgeboortereg bedrieg het daarvoor moes hy jare aaneen boet.

Die veragting wat reeds in hierdie aardse lewe die ontmaskerde leuenaar tref; die vloek wat die man van bedrog tot selfs na sy dood agtervolg; die skandvlek wat op sy nageslag rus — omdat die misdade van die vaders besoek word aan die kinders van die derde en vierde geslag van die wat God haat — dit is 'n godsgerig wat hom tref. Selfs die regverdige word op aarde vergeld hoeveel te meer nie die goddelose nie! Hoe sal elke valse getuienis, wat hier op aarde sy leuenaarslippe ontvloei het, hom daar voor die heilige vierskaar nie aankla nie. Hoe sal die God van die waarheid nie die leuenaar en kwaadspreker van voor sy aangesig laat wegdoen nie; Want: „Salig is die wat sy gebooie doen" (Openb. 22, vs. 14a); „maar buite is elkeen wat leuens liefhet en doen" (Openb. 22, vs. 15).

„Here, wie mag vertoef in U tent? Wie mag woon op U heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie" (Ps. 15, vs. 1-3).

Gelukkig is die gemoed wat die stille sekerheid mag hê dat hy medewerker is aan ander se lewensvreugde, deur saam te werk om die naaste se eer en goeie naam te verdedig en te bevorder.

„Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul" (Rom. 13, vs. 8). Laat ons mekaar nie meer oordeel nie maar laat ons liewers najaag wat tot mekaar se voordeel en vrede en stigting dien.

„Here, sit 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe" (Ps. 141, vs. 3).

Amen.

W. H. Grey.

Related Media
See more
Related Sermons
See more