Hk 46 U Enigste Troos
SONDAG 46
Onse Vader
Lees: Lukas 11, vs. 1-13.
Sing: Psalm 146, vs. 4; Psalm 103, vs. 7; Gesang 7, vs. 1 en 4; Gesang 2, vs. 2.
Vraag 120: Waarom het Christus ons beveel om God aan te spreek as ONSE VADER?
Antwoord: Om onmiddellik in die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God te wek, wat tesame die grond van ons gebed is, n.1. dat God deur Christus onse Vader geword het, en dat Hy ons veel minder sal weier wat ons Hom in die regte geloof bid, as wat ons vaders aan ons aardse dinge ontsê.
Vraag 121: Waarom word hier bygevoeg: „wat in die hemele is." ?
Antwoord: Om ons van die hemelse majesteit van God nie aards te laat dink nie, en van sy almag alles wat nodig is vir liggaam en siel te laat verwag.
„Onse Vader wat in die hemele is." In hierdie eenvoudige maar diepsinnige woorde leer die Heiland ons om God aan te spreek. Die gebed immers spreek God aan. Om te bid is nie maar net in ons hart te mymer nie, of innerlik te peins nie, is nie opgesluit bly binne die omtuining van ons eie hart nie. In die gebed tree die siel op God toe, en spreek Hom aan. Daarom mag die gebed nog minder ontaard in 'n aanspreek van diegene wat saam met ons bid. Want ook wanneer ons met ander saambid, vertel ons nie iets aan hulle nie, maar dan spreek ons in Naam van God, en saam met die ander tot God, en alleen tot God. En as ons mond God aanspreek, dan moet ook ons hart op Hom gerig wees. Hy wat God vra om te luister, moet ook met sy hele siel aan God dink. Daarom moet ons ook met alle erns waak daarteen om gedagteloos te wees, om nie maar net gebedswoorde te prewel nie, terwyl ons hart met ander dinge besig is. Ag, hoe kan ons gedagtes tog nie swerf nie! En as ons daarop let hoe ons dikwels bid, sal ons ontdek hoe min eerbied daar dikwels teenoor God is ook in ons gebede. Hoe groot is die lankmoedigheid van die Here tog nie, dat Hy ons bidde verdra, en ons wil hoor en verhoor.
Hoe eenvoudig is die aanspraak nie: „Onse Vader." Geen aanroeping van die baie name van God nie, geen uitstalling van die deugde van God nie. Hier word slegs 'n enkele Naam, die Vadernaam, op die lippe geneem.
Nie dat Christus bedoel dat ons God met geen ander Naam mag aanspreek nie, want dit sou die behoeftes van ons hart misken. Immers as ons in duisternis sit, roep ons as vanself die Ewige Lig aan. Word ons deur node benou, styg ons siel tot die Almagtige op. Wanneer ons deur mense misken word, roep ons tot die Alwetende. Moet ons onreg ervaar, beroep ons ons op die Regverdige.
Die geloof beroep hom op daardie sy van God, wat met ons bestaande behoeftes in ooreenstemming is. Maar die onnodige opeenstapeling van name, die vermoeiende aaneenryg van titels verswak maar net ons gebed en lyk te veel na 'n omhaal van woorde.
God word nie groot deur die benaminge waarmee ons tot Hom tree nie, God is groot. Ook in ons gebedsaanhef moet ons sober wees, en alle ydele herhaling van woorde vermy.
Met die woorde „Onse Vader", word ons in 'n baie intieme kring ingelei. Hier tree ons 'n huisgesin binne waar die kinders omgang met hulle Vader het, aardse kinders met hulle hemelse Vader. Daar word 'n gesprek gevoer en die kinders is nou aan die woord, en hulle spreek eenstemmig hulle Vader aan. Ons is dan ook hier getuies van die allerintiemste wat mense kan doen, n.l. om te bid.
En as ons ons nie een kan voel met hierdie intieme kring nie, as ons nie kan saambid nie, dan moet ons ons maar verwyder. Die intimiteit van hierdie gesin is 'n ontroerende krag. Dit vorm 'n eenheid van wonderlike vertrouelikheid en ontsag.
Daarom is daar geen heerliker naam as die wat Christus ons op die lippe lê nie. Ons mag God Vader noem, omdat Hy deur Jesus Christus ons Vader geword het. As ons die Seun in die geloof aangeneem het, dan het God ons mag gegee om kinders van God genoem te word, en die Gees in ons uitgestort waardeur ons roep „Abba Vader.
En as ons God Vader noem, dan word, volgens die Kategismus, al dadelik in ons die kinderlike vrees en kinderlike vertroue gewek, waarsonder dit onmoontlik is om met hartlike smeking tot sy genadetroon te nader. Vrees en vertroue vorm saam die kinders in wat Gode aangenaam is. Deur die sonde word daar ook 'n vrees gewek, maar dit is 'n vrees, wat ons met angs vervul voor Gods majesteit. Maar die Vadernaam wek in ons 'n eerbiedige ontsag, sodat ons tot God opsien, soos kinders tot hulle aardse vader opsien. Die kinders weet dat in die huisgesin die vader alles te sê het, alles beheers, en oor alles beslis.
So erken die gelowige ook met die Vadernaam, dat God alle mag en gesag besit. Maar soos die ontsag wat die kinders vir hulle vader het, hulle nie weerhou om met al hulle node tot hulle vader te gaan nie, omdat hulle weet dat hulle vader nie 'n wrede despoot is nie, maar vol liefde en ontferming, so weet ook die gelowige, waar God hulle Vader is, dat Hy in tere ontferming en liefde hulle op al hulle weë gadeslaan, en dat as hulle Hom om hulp smeek Hy tot hulle hulp gereed staan. As daar maar net vrees was dan sou hulle altyd ver staan, en nie hulle node in sy luisterende oor uitstort nie. Maar omdat daar ook vertroue is, daarom nader hulle Hom vol vrymoedigheid.
So roep die „Onse Vader" ons huistoe. Elke mens tog het behoefte aan 'n tuiste, 'n plek, waar hy homself kan wees, waar hy 'n plek inneem, 'n plek waar daar rus en vrede en veiligheid heers, waar daar openhartigheid en vertroue heers, omdat die Vader daar is wat almal saambind, byeenhou en dra. As ons bid „Onse Vader" dan mag ons by God ons tuis voel. Maar dan is dit nog geen vrypostigheid, wat die grens tussen die vader en die kind uitwis nie.
Die Vader tot wie die kinders hier bid, is nie maar 'n willekeurige vader nie, nie 'n vader soos alle ander vaders nie, selfs nie soos die beste wat ons op aarde ons kan voorstel nie. Dit is onse Vader wat in die hemele is. Maar word hiermee die gesinsband nie verbreek, en die intimiteit versteur nie? „So hoog die hemel is bo die aarde", daar is tog immers geen uitdrukking wat meer die besef van afstand, van anderswees, van onverbindbaarheid, aangee nie. Die Vader in die hemele, gaan alles te bowe en te buite, ook die denke en bidde van sy kinders. Ons mag ons geen aardse, en dus beperkte, voorstelling van God maak nie.
Maar is dit nog kinders, is dit nie maar net wese, uit wie se gesigsveld die Vader verdwyn het nie?
Ons het die voorreg gehad om tuis te kom in 'n gesin waar die kinders met hulle Vader omgegaan het, en deur die vertroulike van liefde en vrede gekoester is, maar nou word meteens alle grense opgehef. „Onse Vader wat in die hemele is. Maar ons mag nie praat asof ons maar net 'n Vader in die hemele het nie, want dit sou 'n vergissing wees, as dit nie sonde is nie. Want hierdie skynbare verarming is juis die grootste verryking wat 'n mensekind te beurt kan val. Deur hierdie verarming moet ons ook altyd gaan as ons met God in aanraking kom. Want al wat menslik is, en geskape, al wat tydelik is, en aards, moet wegval as God naderkom, die Ongeskapene in sy ewige hemelse majesteit. 'n Mensekind kan geen rus in homself vind nie, maar slegs buite homself. Die aardse bestaan ook slegs danksy die hemelse, die aardse kind slegs deur die genade van die hemelse Vader. God is nou maar eenmaal nie soos ons mense is nie. Hy is anders as ons, oneindig hoër. En tog is dit nie al. Hy mag in die hemel wees, maar is tog Vader, onse Vader. En dit nie maar net as 'n voorstelling nie, maar in werklikheid en in volle erns. Dit wat ons as betrekking tussen vader en kind ken, is maar net 'n baie flou afbeelding van die betrekking tussen God en sy mensekind.
„Onse Vader wat in die hemele is." Watter wêreld van gedagtes lê daarin nie opgesluit nie, en tog hoe gedagteloos spreek ons dit nie alte dikwels uit nie, sonder die besef van Gods verhewe majesteit. Die hemele is die brandpunt van Gods heerlikheid. Seker God is alomteenwoordig, en vervul die hele aarde met sy heerlikheid, maar soos die rykste openbaring van sy majesteit in die heilige der Heilige geskitter het, en nie in die voorhof en Heilige nie, hoewel die hele tempel sy woning was, so is slegs in die hemele sy majesteit onbedek, al is die hele aarde vol van sy heerlikheid.
Ons Vader is orals, en is orals met sy guns en vrede, lig en vertroosting, met sy mag en trou, maar die rykste en die volste in die hemele, waar Hy die verlostes, wat geklee is in wit klere van heil en die engele oorskadu. Op aarde is daar geen benoudheid so drukkend, geen stryd so fel, geen pad so steil of afgrond so diep nie, of God is daar. Geen kruis is so swaar of geen smart is so bitter, of God is daar. En dit juis moet ons tot diep ontsag stem.
In die Vadernaam beluister ons die neerbuigende liefde van God, maar die byvoeging „in die hemele" bring die besef van sy verhewe majesteit. Daarom kan en mag ons geen aardse gedagtes van God vorm nie. Net so wyd as die hemel is, net so ruim is die Vaderhart van God.
Hoog is die hemele, so hoog dat die vlug van ons gedagtes daar nie kan bykom nie. Net so hoog is Gods gedagtes bo ons gedagtes.
Maar as ons God Vader noem, dan lê daarin ook die belydenis van sy almag, wat ons in al ons behoeftes na liggaam en siel, kan en sal versorg. Alles in Hom is hemelhoog: sy genade, sy wysheid, sy trou, sy almag. As ons Vader wil Hy ons bystaan, as ons Vader in die hemele kan Hy ons bystaan. Soos die hemel oor ons welf, so is Gods almag orals ons beskutting. Altyd welf die hemel oor ons hoof, so is die Ontfermer ons altyd en oral naby. Maar ag, hoe dikwels meet ons nie Gods hart na ons hart nie; sy mag na ons mag nie, sy ewige liefde volgens die selfsugtige liefde van ons menslike hart nie.
Laat ons tog altyd na omhoog kyk, met ons oog en met ons hart.
Hoe ruim en vry, hoe hoog en wyd is dit alles nie daar nie! As ons dit doen dan sal ons bekrompe harte ook ruim en vry, vatbaar vir die ewigheid word. Dan sal ons in verrukking bely: God is groot, en die God is onse Vader.
As ons diep deurdring was van die besef van Gods almag, wie se helpende mag nooit tekort skiet nie, en vir wie niks te wonderlik is nie, sou ons bid soveel rustiger wees. Dan sou daar geen angs meer wees, of God wel raad weet nie. Dan sou ons nie meer weifelend vra nie, maar sekerlik verwag dat God hulp en uitkoms in alle nooddruf sal skenk. Die gebed word kragtig wanneer die geloof daarin die Almagtige aangryp. Die gebed van die gelowige vermag nie alles nie, maar dit vermag veel, want dit verlaat sig op Hom, wat alles vermag.
Maar as ons bid „Onse Vader" dan bly ons nie alleen nie, maar kom daar ook die eenheid met ons naaste. Want hierin lê ook uitgedruk broedersin en gemeenskapssin. Ons word verenig met almal wat God aanroep, soos kinders van een huisgesin. Jesus immers, wat ons geleer het om te bid „Onse Vader" is dit wat ons saamverbind tot een huisgesin. Hy is die lewende, persoonlike Woord van God. Hy is dit wat ons inlei in die huis waar die vertrouelikheid van die lewe gevind word, en waar God is: „Onse Vader, wat in die hemele is."
Amen.
J. D. Storm.