Hk 47 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 13 views
Notes
Transcript

SONDAG 47

Die eerste bede

Lees: 1 Petrus 3, vs. 15 tot 1 Petrus 4, vs. 7.

Sing: Psalm 105, vs. 1 en 2 ; Gesang 3, vs. 1; Gesang 1, vs. 1 en 4; Gesang 76, vs. 1

Mat. 6, vs. 9b. „Laat U Naam geheilig word."

Vraag 122: Wat is die eerste bede?

Antwoord: Laat U Naam geheilig word. Dit is ten eerste: Gee dat ons U reg ken en U in al U werke waarin U almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder skyn, mag heilig, roem en prys.

Ten tweede, dat ons ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke so skik en rig dat U Naam om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geëer en geprys word.

Met reg gee die Kategismus aan hierdie bede 'n afsonderlike behandeling en word dit daar genoem die „eerste bede". Dit is eerste bede, nie net omdat dit die eerste in die volgorde van die bedes is nie, maar omdat dit, soos 'n ou teoloog opgemerk het, van al die gebede in die Onse Vader, die enigste gebed is wat mens ook in die hiernamaals sou kon bid; verlossing van die Bose, bewaring teen versoeking, skuldvergewing, daaglikse brood, het ek daar nie meer nodig nie; „Laat U wil geskied in die hemel'', dit kom daar nie meer te pas nie; en „Laat U koninkryk kom", is daar nie meer nodig nie. Maar die een bede, wanneer al die ander weggeval het, bly nog van pas en nog nodig: „Laat U Naam geheilig word." Tot hierdie bede staan al die ander wat daarop volg, in 'n verhouding van afhanklikheid; dit is as 't ware die sleutelgebed. As ons dit nie bid nie, is dit nie goed denkbaar hoe ons die ander kan bid nie. Gebedsvoorwaarde is die heiliging van die Naam van God. Reeds in Lev. 11, vs. 36 word uitgespreek dat wie tot God wil nader in die gebed, bewus moet wees van sy heerlikheid en heiligheid. Ons gebed is dikwels ons antwoord op die gebod van God; maar nêrens is gebod en gebed so direk verbonde as in hierdie eerste bede nie. Die gebed om die heiliging van die Naam van God is ons duidelike antwoord op die deel van die Tien Gebooie wat ons verbied om die Naam van God ydellik te gebruik. „Laat U Naam geheilig word." Maar is dit per slot van rekening 'n gebed ? Gebed beteken tog dat ek iets vra van iemand anders vir my self; en as ek hierdie bede bid, vra ek tog iets van God vir God self. En dan, die vervulling van die gebed moet tog die bidder van die gebed tot voordeel kom. Hoe kan die bede om die heiliging van die Naam van God my dan ten voordele wees ?

Ja, Broeders en Susters, die eerste bede is 'n gebed en dit beantwoord juis aan elk van daardie definisies van die gebed wat ons so pas genoem het. Die gebed tot God om die heiliging van die Naam van God, is iets wat ons van God vra vir onsself, en die in vervulling gaan daarvan, is ons tot voordeel. Die onmiddellike voordeel is dat dit die kleinlike eie-ek uit die middelpunt van belangstelling druk en in eerbied God daar stel; God, die almagtige Skepper van die hemel en die aarde wie dit my voorreg geword het om deur Jesus Christus te noem, Vader, Onse Vader. Die bede om die heiliging van die Naam van God, bring ons al dadelik daartoe om ons plek te ken teenoor God, dat ons stof is en Hy alles in almal; dit is belydenis van Gods almag . . . U Naam, U koninkryk, U wil.

Maar ons verdere voordeel uit die bede om die heiliging van die Naam van God, is dat dit terselfdertyd 'n bede is om die heiliging van ons self. Verstaan U dit nie? Kyk voordat ek God kan heilig, moet dit met my gaan soos met Moses, toe hy in die teenwoordigheid van God gekom het . . . hy het te staan gekom op heilige grond. Die gebed bring ons in die gehoorsaal van die Koning van die konings en die Heer van die here. In die teenwoordigheid van 'n aardse maghebber sal mens nie vuil en onrein kom nie. Sal ons dan onrein en ongeheilig voor die aangesig van die Here kom ? Die gebed om die heiliging van die Naam van God, veronderstel die bede dat God my eers sal heilig.

En dan is eindelik die gebed om die heiliging van die Naam van God my tot voordeel, omdat dit 'n bede is om as 'n werktuig van heiliging deur God uitverkies te word. Want „Laat U Naam geheilig word" beteken nie slegs dat God self sal sorg dat sy Naam geheilig word nie, maar dat Hy my, in weerwil van my sondigheid en swakheid, sal begenadig en verwerdig, dat ek ook daartoe in staat sal wees.

As dit alles so is, dan vra u tereg wat dan tog die heiliging van Gods Naam beteken. Daarop wil die leerboek van ons vadere, die Heidelbergse Kategismus in die Sewe-en-veertigste Sondagsafdeling maar voordat ons daarna gaan luister, moet ons net eers vasstel wat die uitdrukkinge, „Naam van God" en „heilig" beteken. Om iemand te ken, moet mens minstens sy naam ken; die kennis van sy karakter, geaardheid, gesteldheid, kort-om sy persoonlikheid word vir ons dan uitgedruk deur die naam wat hy het. Vandag is dit nog so. Vroeër was dit veel meer so, toe iemand se naam in werklikheid ook 'n kort en kernagtige bekendstelling van sy karakter, aard en desnoods afkoms was. Die Naam van God, is die wese, die persoon van God soos Hy aan ons openbaar is deur Jesus Christus. Wanneer ons bid om die heiliging van Gods Naam, dan is dit 'n bede om die heiliging van God self.

Wanneer ons probeer vasstel wat dit beteken om iets te heilig, dan moet ons al dadelik oppas vir die afgeleide, die populêre gebruik van die woord: om te heilig beteken nie om te ontsondig nie, net so min as wat „heilig" beteken om sonder sonde te wees. As dit die betekenis was, sou die bede nie tot verering van God gewees het nie, maar tot sy oneer, asof God ontsondig moet word. „Heilig" is om afgesonderd te wees, deur God, vir God.

Met hierdie toeligting kan ons nou aandag gee aan die opvatting wat ons vadere gehad het oor die eerste bede blykens Vraag 122 van die Heidelbergse Kategismus. Die antwoord lui daar dat die bede om die heiliging van die Naam van God in die eerste plek is 'n bede om die regte kennis van God — dat God ons in die vermoë sal stel om Hom te ken soos Hy is. En so 'n kennis is in waarheid 'n heerlike voorwerp vir die gebed; die kennis van God is die troosryke kennis van die inhoud van die Evangelie, namelik dat God nie 'n toornende God is nie, maar dat Hy liefde is en genade en ontferming. Van hierdie kennis van God (die hele Kategismus lê so die nadruk op kennis) hang af die regte erkenning van God. En op die regte erkenning van God kom dit aan, want dan pas sal ons Hom eer soos dit hoort; en dit dat ons Hom eer as die Oppermajesteit, die Skepper en die Onderhouer van die heelal, dit is om die Naam van God te heilig.

Die Kategismus omskryf die bede om hierdie erkenning van God so: Gee dat ons U in al U werke waarin U almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder skyn, mag heilig, roem en prys. Iemand het opgemerk dat hierdie lys van „deugde" van God, deur ons vadere tog 'n bietjie willekeurig en onvolledig gestel is; daarin word byvoorbeeld nie genoem die liefde en die genade van God nie. En tog, as ons dit mooi lees, is hierdie lys nie alleen 'n ware omskrywing van die wese van God nie, maar dit is ook heel volledig. Gods almag en wysheid word hier naas mekaar genoem. So hoort dit inderdaad ook. Selfs in ons kleinlike menslike maatskappy is mag sonder wysheid gevaarlik; iemand wat oor mag beskik maar wysheid mis, die noem ons 'n tiran, 'n verdonkerde despoot. Mag sonder wysheid ontaard al heel gou in ons maatskappy in brutale onderdrukking en veroorsaak onrus en onveiligheid. Maar mag gepaard met wysheid stel ons gerus. Dit waarborg die vrede. Net soos mag sonder wysheid nog altyd die oorsaak van die onheil in die wêreld was, so was die tye waarin die mag hom met wysheid verbind het, tye van vooruitgang in ons menslike maatskappy. As ons God heilig en soos ons vadere daaronder verstaan dat ons sy almag en wysheid roem, dan doen ons dit met dankbaarheid want die heerskappy van God deur sy almag en sy wysheid is die waarborg van ons ewige vrede en veiligheid en saligheid.

Op die manier moet ons dit ook verstaan wanneer ons vadere verder die goedheid en die geregtigheid van God naas mekaar en in volgorde noem as sy self-openbaring in sy werke waarin ons Hom kan ken en heilig. Goedheid sonder geregtigheid is wel denkbaar en onder ons ook wel bekend; ons noem so 'n onbeheerste goedheid egter weekheid. Omgekeerd ken ons ook geregtigheid sonder goedheid in ons maatskappy; maar dan noem ons dit eie-geregtigheid en as die eie-geregtigheid eers aktief begin te word, noem ons dit wreedheid. Waarlik geregtigheid sonder goedheid is wreedheid. Gods goedheid en geregtigheid saam is sy volmaakte liefde. Die liefde van God word dan tog veronderstel al word dit dan nie so direk genoem nie. Die heiliging van sy Naam bestaan daarin dat ons sy goedheid en sy geregtigheid in sy werke sal erken, d.i. dat ons sy liefde sal roem.

En as ons kategismus-gedeelte op hierdie wyse ook die barmhartigheid en die waarheid van God noem, dan word daar meteen ook oor sy genade gespreek. Barmhartigheid en waarheid: Watter leed en onreg is nie al gepleeg in die naam van barmhartigheid, barmhartigheid sonder waarheid nie ? En hoe ken ons ook in ons dae nie daardie koudhartige barmhartigheid, ontbloot van alle waarheid wat vir die ontvanger daarvan eerder 'n belediging as 'n christelike handreiking is nie ? Barmhartigheid gepaard met waarheid is die handeling van die liefde wat nie berekend is op wins of voordeel nie, wat alleen gee sonder om enigiets terug te verwag. Dit is die barmhartigheid waarmee God Hom oor ons erbarm; dit is genade. Voorwaar die Kategismus laat nie na nie om ook hier, soos trouens op elke bladsy, met ons te praat oor die liefde en die genade van God. Om Hom uit al sy werke so te ken en te erken, is om sy Naam te heilig.

Nou moet ons teen een misverstand waak: dat die erkenning van God, die heiliging van sy Naam net 'n saak van gesindheid en woorde is. Die bede om die heiliging van die Naam van God is 'n gebed dat God ons daadkragtig sal maak, instaat tot 'n alles-omvattende, lewenslange daad. Die heiliging eis ons hele persoon, ons hele lewe, ons gedagtes, ons woorde en ons werke op. So stel die Kategismus dit, as dit onder die heiliging van die Naam van God in die tweede plek verstaan dat ons ons hele lewe, ons gedagtes, woord en werke so skik en rig dat Gods Naam om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geëer en geprys word.

Dus bestaan die heiliging enersyds in die werke van God — dat ons sy wese daaruit sal ken en erken; andersyds egter bestaan die heiliging in die werke van die mens, dat ons met gedagtes, woord en daad sy Naam sal eer en prys. Dit is mooi gesien en mooi gesê deur ons vadere wanneer hulle hierdie tweeledigheid van die heiliging opmerk. By die laaste word egter ook die teenkant genoem: ons moet ons lewens en lewensuitinge so inrig en op die doel rig, dat Gods Naam nie om ons ontwil, d.w.s. deur ons toedoen of nalatigheid, gelaster word nie. En dit is 'n sware verantwoordelikheid wat lê op die gelowige, die dissipel van Jesus Christus, wat Hom die Onse Vader

As mens vra wat die teenoorgestelde van heilig is, dan dink ons al dadelik aan die werkwoorde: „ontheilig" of „ontwy"; en waar tref nie wanneer dit gaan oor God nie. Die teenoorgestelde van die heiliging van God is „laster". En die feit dat die Kategismus na die heiliging dadelik die teenoorgestelde van die heiliging van die Naam van God, namelik die lastering noem, wys daarop dat daar vir ons vadere eintlik nie 'n middeweg, 'n neutrale houding teenoor God was nie. As ons God nie heilig nie, dan is reeds hierdie nalatigheid 'n lasterlike daad; dit gee ook aanleiding daartoe dat andere wat ons onverskillige houding navolg, ewe-eens die Naam van God laster.

Dit wat betref ons nalatigheid om Gods Naam te eer; maar ons lastering van die Naam van God is dikwels ook positief. Ons het reeds daarop gewys dat gebod en gebed nou verwant is; as ons Gods Naam ydellik gebruik, dan is ons skuldig nie omdat ons net 'n gebod oortree nie, maar omdat ons die teenoorgestelde doen van die heiliging van die Naam van God, dit is, omdat ons dan die Naam van God laster. Hierdie vorm van lastering deur die ydellike gebruik van die Naam van die Here in ons ontspanninge en in ons oorspanninge, in ons onnadenkende ede en in ons oppervlakkige woorde, word helaas ook al by ons volk gewoonte.

Maar die Kategismus leer ons dat al sou ons ook self nie die Naam van God laster nie, dan moet ons nog daarvoor waak dat ons woorde en ons werke en selfs ons gedagtes nie vir andere die aanleiding word om Gods Naam oneer aan te doen nie; so sou ons dan nie die Here heilig nie en nie in staat wees tot die bid van die eerste bede van die Onse Vader nie. Ons verantwoordelikheid as Christene word deur hierdie kennis nog swaarder. 'n Gebaar, 'n woord en "n daad, wat nou nie juis 'n positiewe stuk kwaad is nie, maar tog genoeg is om kwade reaksies uit te lok by 'n ander, sodat dan deur die Christene die Naam van Christus oneer aangedoen word, is vir ons rekening en dit is laster; dit gaan lynreg in teen die gebod en die gebed om heiliging. Ja, die verantwoordelikheid word des te swaarder as ons Calvyn gelyk moet gee dat die sin van ons lewe is om te leef tot die eer van God, as ons sing met die psalmis:

„Sy Naam, bo alle naam verhewe, sy uit eerbiedenis die volle roem gegewe solank daar wêreld is!"

Ons gedagtes, ons woorde en ons werke, as ons die eerste bede met erns bid, moet so geskik en so gerig wees, dat dit 'n positiewe getuienis van ons geloof in die Here Jesus Christus is; dat dit die bewys lewer van ons wil om die Naam van God te heilig; dat dit ook andere tot 'n aanleiding sal dien om onse God in hulle gedagtes, woorde en werke te verheerlik en te prys.

Op die oog-af lyk die eerste bede nie so belangrik as die daaropvolgendes nie. Die bedes dat die wil van God geskied, die koms van sy koninkryk, die vergiffenis van ons sondes, die gee van ons daaglikse brood spreek meer direk tot ons. Maar na gelang die volle omvang van ons verantwoordelikheid as Christen-gelowiges tot ons deurdring, na die mate groei ook by ons die besef dat hierdie bede sleutel-bede is. Sonder die heiliging van die Naam van God bestaan daar geen betrekking tussen God en ons nie; veral mag ons Hom dan nie aanspreek as „Onse Vader" nie.

Maar hierdie bede, wanneer ons tot die besef van die volle inhoud daarvan kom, wek ons op tot waaksaamheid. Die teenoorgestelde van die heiliging van die Naam van God, is die lastering van sy Naam. Teenoor die Naam van God kan mens ook nie neutraal staan nie; dit is Of heiliging Of lastering deur ons ongeloof en ons onverskilligheid. Die wete maan ons om te waak en te bid tot ons Vader wat in die hemele is te bid: „Laat U Naam geheilig word!" Amen.

A. S. Geyser.

Related Media
See more
Related Sermons
See more