Hk 50 U Enigste Troos
SONDAG 150
Die vierde bede
Leer: Matteus 6, vs. 19-34.
Sing: Gesang 12, vs. 1; Gesang 7, vs. 2; Gesang 29, vs. 1 en 4; Gesang 28, vs. 4 en 6.
Matt. 6, vs. 11. „Gee ons vandag ons daaglikse brood."
Vraag 125: Wat is die vierde bede ?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Wil in al die nooddruf van ons liggaam voorsien, sodat ons daardeur erken dat U die enigste oorsprong is van al wat goed is,
en dat sonder U seën ons sorg en arbeid sowel as U gawes ons nie tot voordeel kan strek nie,
en dat ons dus ons vertroue van alle skepsele moet aftrek en op U alleen stel.
In die wêreld wat deur die sondeval vir die mens dorings en distels oplewer, en waarin die mens met moeitevolle arbeid sy brood moet eet, leer Jesus ons bid tot God: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Die brood as die vernaamste voedsel word hier genoem. Hiermee word bedoel alles wat mens nodig het, om in die liggaamlike behoeftes in hierdie tydelike lewe te voorsien. Die daaglikse brood is dus nie net voedsel nie, maar ook kleding en woning, lewe, gesondheid en kragte en alle middele wat nodig is om in ons liggaamlike behoeftes te voorsien. Jesus wil ons leer om ook ons tydelike behoeftes in betrekking tot God te stel. Ons moet leer om God te erken as die enigste bron van alles wat goed is; daarom moet ons ook ons tydelike node en behoeftes in die gebed voor God bring. Jesus wil dat ons daarvoor moet bid, soos die Psalmdigter: „Die oë van almal wag op U, en U gee vir hulle spyse op die regte tyd. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae" (Ps. 145, vs. 15 en 16).
Ons moet opmerk in watter verband hierdie bede om ons daaglikse brood voorkom in die „Onse Vader". Dit is die vierde bede. Daar gaan drie bedes vooraf. Eers moet gebid word om die heiliging van Gods Naam, die koms van sy Koninkryk, en die doen van sy wil, en eers daarna kom die gebed om die daaglikse brood.
Hierdie gebed kan dus nie gebid word deur mense wat alleen die spyse wat vergaan soek nie. Die gelowige wat soek na die eer en die wil van God, en die koms van sy Koninkryk, die mag ook as kind vra om die daaglikse brood. Ons kan nie met 'n aardsgesinde hart hierdie bede uitspreek nie. Want baie begeer net Gods gawes, maar wil verder niks met Hom te doen hê nie. God laat Homself nie as 'n noodshulp misbruik deur aardsgesinde mense wat net God se tydelike gawes verlang nie. God self is die hoogste goed. Sy eer en sy koninkryk moet voor eiebelang gestel word. Jesus stel die dinge in die regte verhouding as Hy sê: „Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word" (Mat. 6, vs. 33). Wie die hemelse dinge eers gesoek het, wie God self as die hoogste goed begeer het, die kom met vrymoedigheid soos 'n kind na sy Vader, en begeer van God ook die aardse spyse. Hy begeer nie in die eerste plek die spyse wat vergaan nie, maar die spyse wat bly tot in die ewige lewe.
Hierdie bede is 'n boeteprediking vir so baie duisendes wat hulle aardse bestaan, hulle daaglikse arbeid en lewensstryd heeltemal van God losgemaak het, en nie meer met Hom reken nie. Sonder om ooit meer tot God op te sien, en van Hom hulp te verwag, het hulle soos die heidene geword, wat troosteloos, onseker en vol vrees worstel met die vrae: Wat sal ons eet ? Wat sal ons drink ? Wat sal ons aantrek ? Hulle het vergeet dat hulle 'n getroue hemelse Vader het, wat die voëls van die hemel voed, en die gras van die veld met heerlikheid beklee, en wat nog veel meer hulle wil versorg. Is die lewe dan nie meer as die voedsel en die liggaam meer as die klere nie? (Mat. 6, vs. 25). D.w.s. as God dan die meerdere aan ons gegee het, die lewe en die liggaam, sal Hy dan ook nie die mindere, die voedsel en die klere gee nie ? Hierdie bede om ons daaglikse brood wil ons ons volkome afhanklikheid van God laat gevoel. Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. Aan Hom behoort die goud en die silwer en die vee op duisend berge. Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal neer van bo af, van die Vader van die ligte (Jak. 1, vs. 17). Hy maak sy hand oop, en versadig al wat lewe na sy welbehae. Tot hierdie God van wonderlike rykdom bid ons met volle afhanklikheid: „Onse hemelse Vader, gee! Gee ons na ons behoeftes!" So leer ons en erken ons dat God die enigste oorsprong is van al wat goed is.
Hierdie bede leer ons ook om vergenoegd te wees. Hoe dikwels is ons hart nie vol bittere ontevredenheid, omdat ons begeerlikheid geen perke ken nie? Ons begeer oortollige dinge, ons verlang om weelde te hê. Christus vergun ons om te bid vir ons daaglikse brood, vir die vervulling van ons werklike behoeftes. Om vir meer te bid het ons nie reg nie. Daarom sê Paulus ook in sy brief aan Timotheüs: „As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoegd wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede, wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang" (i Tim. 6, vs. 8 en 9).
Christus wil met hierdie bede ook ons vertroue op God laat vestig, deur ons te laat bid om ons daaglikse brood; dit wil sê ons genoegsame brood vir elke dag van die lewe, ja elke dag opnuut ons vertroue op God stel, elke dag weer ons weg op die Here wentel, en op Hom vertrou; dag na dag as 't ware uit sy hand gevoed word, en daarom ook leer, om dag na dag met biddende vertroue tot Hom op te sien.
Hierdie gebed is ook die beste wapen teen die onnodige besorgdheid. Want deur hierdie bede stel ons ons tydelike lewe heeltemal in Gods hande. Wie dit met 'n gelowige hart doen, verstaan wat Paulus sê: „Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God" (Fil. 4, vs. 6).
Dis hierdie vrolike onbesorgdheid wat ons laat bid: Gee vandag, of soos Lukas Evangelie dit weergee: „Gee ons elke dag ons daaglikse brood", dus elke dag by vernuwing moet ons bid om wat ons nodig het. „Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?" Want ons hemelse Vader weet wat ons nodig het, voordat ons Hom vra.
„Wie maar den goeden God laat zorgen,
En op Hem hoopt in 't bangst gevaar,
Is bij Hem veilig en geborgen,
Dien redt Hy godd'lijk, wonderbaar.
Wie op den hoogen God vertrouwt,
Heeft zeker op geen zand gebouwd."
Ges. 17, vs.
Die christelike onbesorgdheid leer ons om „ons vertroue van alle skepsele af te trek, en op God alleen te stel."
Hierdie bede leer ons ook om te arbei, nie net te bid nie, maar om ook te werk. Want hoewel alles aan God behoort, en ons alle goeie gawes uit sy hand ontvang, leer Hy ons tog bid om ons brood. Al is dit Gods brood, wat ons elke dag verkwik, tog leer Christus ons bid om ons brood. Dit is die brood waarvoor ons eerlik gewerk het. Sal iemand wat deur luiheid en ledigheid gebrek ly, die vrymoedigheid hê, om te bid vir brood? Sal die regte antwoord op so 'n gebed nie wees, iets soos die woorde van Paulus in Tessalonisense: „As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." Wie die brood van die luiheid eet, eet nie sy eie brood nie, maar 'n ander s'n. Wie op oneerlike manier, deur diefstal en deur verdrukking van die armes sy brood eet, eet nie sy eie brood nie, maar 'n ander s'n. As ons God bid om ons eie brood, dan bid ons ook om bewaar te bly van alle traagheid en oneerlikheid in ons arbeid vir ons daaglikse brood.
Die Heidelbergse Kategismus sê, dat die troue sorg van God ons ook leer dat al ons sorg en arbeid en sy gawes sonder sy seën ons nie tot voordeel kan strek nie. Selfs 'n oorvloed van lewensmiddele sonder die seën van God kan ons niks baat nie. Aan die seën van God is alles geleë. Hy gee lewe en gesondheid; Hy gee werkkrag en lewensvreugde. Sonder hierdie seëninge ly 'n mens gebrek by 'n oorvloed van lewensmiddele. Waarlik, iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie (Luk. 12, vs. 15). „Die seën van die Here — dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie" (Spr. 10, vs. 22). Al staan dan ook reeds die spyse gereed op ons tafel, dan nog moet ons bid om die sorg en seën van God.
Maar die bede leer ons ook 'n liefde verstaan, wat nie tevrede is om te bid: gee my my daaglikse brood nie; 'n liefde wat nie net om eie behoeftes dink nie, maar ook bid om die node van andere. En dit bly nie by bid nie: As die ryke van harte die ons bid, sal hy die arme Lasarus nie hulpeloos aan die deur van sy woning laat lê nie, maar hom aanneem en versorg uit die gawes wat so ruimskoots uit Gods hand aan hom vergun is. En die arme wat van harte bid: Gee ons ons daaglikse brood, sal weet dat God die rykes, maar ook die armes versorg. Hy beny die ryke nie, maar dink daaraan dat dieselfde Vader wat vir hom die tranebrood afgeweeg het, ook aan die ryke die oorvloeiende beker van vreugde in die hand gegee het; hy is daaroor nie nydig nie, maar is rustig in die geloof dat God vir hom ook sal sorg.
Hierdie bede moet dus gebid word deur rykes en armes: „Gee ons vandag ons daaglikse brood." Daar is armes wat in gebrek verkeer deur sorgeloosheid en losbandigheid, of deur luiheid en traagheid, of omdat hulle juis hierdie gebed nie bid met 'n waaragtige hart nie. Maar daar is ook opregtes voor God, wat arm is. Aan hulle word 'n Evangelie verkondig, wat eenmaal ook eers aan die armes gebring is. Tot hulle kom die bemoediging: „Werp julle bekommernisse op die Here, en Hy sal julle onderhou." Die gelowige armes moet hierdie blye boodskap hoor, dat die Seun van God, wat so ryk was, arm geword het, om hulle ontwil. Wie Hom aanneem as armes van gees, word ryk in die geloof en burgers van die hemel. En as die ryke bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood, laat hy besef dat hy dan ook vir die arme gebid het. En as hy vir die arme gebid het, dan is die ryke met sy oorvloed en die arme met sy gebrek voor Gods oog gebring. Laat die ryke dan die saligheid van te kan gee geniet, waar andere gedwing word om te ontvang. Laat die ryke homself die saligheid gun, wat God alleen kan waardeer, n.l. van weldoener in die verborge te wees. En vrees die lot van die mens wat vir homself skatte vergader, en nie ryk is in God nie.
Laat ons nie so om ons daaglikse brood bid, dat ons daarby die ewige brood vergeet nie. Ja daar is nog 'n ander spyse as die waarvoor ons met hierdie bede vra: „Ek is die brood van die lewe, wie na My toe kom, sal nooit meer honger kry nie, en wie in My glo sal nooit meer dors kry nie." Hulle wat om hierdie ewige brood vra, sal ook die tydelike brood ontvang.
Selfs op aarde sal hulle brood gewis en hulle water seker wees, want die Vader wat die voëltjies voed, sal sy kinders nie tevergeefs laat roep om spyse nie.
En eenmaal word hulle ingelei in die Vaderhuis, waar hierdie gebed om die daaglikse brood nie meer nodig is nie. Dan sal hulle nie meer honger kry en nie meer dors hê nie; hulle sal eet van die boom van die lewe, en van die manna wat by God verborge is.
Amen.
S. P. J. J. van Rensburg.