Hk 51 U Enigste Troos
SONDAG 51
Die vyfde bede
Lees: Romeine 8, vs. 1-17.
Sing: Psalm 25, vs. 2; Gesang 81, vs. 5 en 7; Gesang 85, vs. 2; Gesang 191, vs. 1.
Mat. 6 vs. 12. „En vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe."
Vraag 126: Wat is die vyfde bede?
Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Wil ons, arme sondaars, al ons misdade, en ook die boosheid wat ons nog altyd aankleef, op grond van die bloed van Christus, nie toereken nie soos ons ook hierdie getuienis van U genade in ons bevind dat ons ganse voorneme is om ons naaste van harte te vergewe.
'n Lewe waaruit die gees van die eerste bedes uitstraal, is eers moontlik wanneer die skuldelas van sonde en ongeregtigheid deur die vergiffenis weggeneem is. Dan sal dit moontlik wees om God reg te ken en Hom in al sy werke te roem en te prys sodat sy Naam geheilig mag word. So sal mens sig gewillig onderwerp aan die regering deur sy Woord en Gees, sodat Hy alles in almal kan wees. Dan word die eie wil van die mens versaak om aan Gods wil, wat alleen goed is, sonder enige teenspraak gehoorsaam te wees, en die bedes „laat U Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied'', word bewaarheid.
Wie so bid en glo voel sy diepe afhanklikheid van die Vader en hy pleit ook om voorsiening in al die nooddrufte van die liggaam, sodat hy daardeur kan weet dat God die enigste oorsprong is van al wat goed is. Waar hy ook nog bid om verlos te word van die Bose, daar sien ons deur die hele gebed die stemming van die mens wat in kinderlike vertroue op die Allerhoogste leef, en sy diepe afhanklikheid van die Almagtige ten seerste wil betuig.
Deurgaans word gebid om die verheerliking van die Here God, en om die volmaakte versorging van die skepsel in sy daaglikse lewe en in sy geestelike lewe, sodat hy kan bydra tot die lofverheffing van ons Hemelse Vader. In die hele gebed word gesoek na 'n vereniging van die siel met die Allerhoogste God, wat ook berus op die vergiffenis van die skulde. So 'n vereniging wek dan die versekering dat die mens na die welbehae van God is; dit openbaar sig in al sy verhoudinge en sy omgang met die naaste. Hy leef dit uit in onvervalste toewyding van die lewe aan die Here God. Daar het vrede in sy hart gekom, 'n vrede wat nie van hierdie wêreld is nie.
Die mens wat geskape is na die beeld van God, in wie die goddelike moes heers, het egter toegegee aan die stem van verleiding en is deur die val van Adam so bedorwe geraak dat hy God en sy naaste nie meer liefhet nie, dat hy op die weg van ongeregtigheid voortgaan en met gedagtes, woorde en werke die las van sy skuld verswaar. Hy merk ook hoe dat hy steeds met nuwe oortredings belas word, dat hy nog altyd meer sonde doen teen God en die naaste, dat hy dit doen met opset of deur versuim en swakheid, ja dat sy oortredings veelsoortig en groot in omvang is.
Vir die nadenkende persoon word dit duidelik dat hy gekneg is, 'n slaaf van die sonde; hy merk hoe verreikend die mag van die kwaad oor hom is en dat in baie opsigte die oortreding al gewoontehandelinge is. Sonde-bedryf het 'n natuurlike bedryf geword, omdat die wortels van die kwaad al te diep in sy lewe ingegroei het.
In werklikheid is dit nie net 'n aantal persone wat so belas is met die kwaad nie; die splinters en die balke kan in almal se oë raakgesien word. Die sonde en die mag daarvan is algemeen. Ons verkeer in die naaste omgewing en in die hele wêreld onder medemense wat net so gebonde aan die kwaad is as onsself. Daarom dat hierdie bede nie net vir die persoon alleen is nie, maar dit sluit die algemene ook in. Christus het die sonde van die wêreld, van elke ander persoon ook bedoel, waar Hy almal geleer het om hierdie bede tot God op te stuur.
In waarheid het niemand dus ook die reg om die benaming „arme sondaars" te ontken nie; in waarheid kan niemand anders nie as om te erken, ja met 'n smartgevoel te erken, van die „boosheid wat ons nog altyd aankleef'', dat die toestand 'n belediging is van die God wat die mens goed en na sy ewebeeld geskape het. Om weg te val van daardie toestand af, waar die mens as sulks al 'n verheerliking van God was, tot die van uiterste verdorwenheid waarin die boosheid heerskappy voer in sy lewe, dit is die rede waarom elke adamskind as diepgesonke beskou moet word, — „arme sondaars", wat deur boosheid aangekleef word. So het daar skeiding tussen hulle en hul Vader in die hemele gekom. Dit is 'n skeiding van die God wat heilig is, en aan elkeen wees heilig; 'n skeiding wat voortduur omdat die menslike ontrouheid lank, ja byna blywend is.
Waar 'n persoon by die oordenking van die vyfde bede onder die besef kom van die oorsaak van skeiding tussen hom en sy God, daar weet hy ook dat hy self nie in staat is om die gedane kwaad weer ongedaan te maak nie of om die skuldigheid daarvan weg te neem nie. Dit is 'n werklikheid wat by ernstige nadenking ingesien word, en ook wat dit beteken om deur die neiging tot die kwade maar weer besmet te raak; waar dan aan die ander kant die liefde en die genadeleiding van God weer erken word, daar moet mens sy ontrouheid en ongehoorsaamheid sien as 'n diep skuld. Wil hy dan hierdie bede op die lippe neem, hy kan dit alleen in opregtheid van hart doen, as hy met erkenning van sy skuld, in ware ootmoed en berou tot die troon van genade kom. Dit sal nie help om soos Ananias en Saffira 'n deel te probeer wegsteek nie, om agter verskonings te skuil nie, om versagtende omstandighede te pleit nie. As die skuldgevoel opreg is met die volle erkenning van die werklike diepgesonkenheid deur ontrou en wêreldliefde, dan kan die pleitrede om Gods genade ook des te inniger wees en gekenmerk deur ware boetvaardigheid.
Die omdwalinge in die doolhof van ongeregtigheid was in baie gevalle langdurig. Die terugkeer om te gaan wandel op die spore van geregtigheid is nie so maklik nie, veral omdat iemand wat waarlik die ewigheidslig sien skyn het, vervul word met vrees en bewing. Nou verneem hy weer die woorde wat met nuwe krag spreek: vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie. God kan sy afval en ongehoorsaamheid nie ongestraf laat bly nie, want sy geregtigheid eis dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God begaan is, ook met die hoogste, dit is met die ewige straf aan liggaam en siel gestraf moet word. Onder sulke gedagtes is dit dat mens wil uitroep: „berge val op ons, en heuwels bedek ons." Die las van die toorn van God is te veel om te dra.
Die ewigheidslig wys nie net die diepte van skuld aan nie, maar ook die onmoontlikheid om in eie krag op te klim na die hemel.
Dit laat elkeen rondsoek na hulp. Dit laat elkeen wat die lig gewaar opkyk uit sy sielsbenouinge om die kruis van Christus te sien, om te verneem: „Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." Dan word 'n blik gewerp op die Kruis, waaraan Christus sy geseënde liggaam laat vasspyker het, om die handskrif van ons sondes daaraan vas te nael; dan word die waarheid verneem dat Christus Hom verneder het tot in die allerdiepste versmaadheid en angs van die hel, met liggaam en siel aan die kruishout, sodat ons tot God geneem kan word.
Hierdie dinge word nie net gesien en gehoor nie, dit word nou ook geglo, dit word in die geloof aanvaar. Wat God in Christus Jesus geskenk het word in ontwakende, in alles-oorwinnende geloof aanvaar. Hy wat Christus gevind het, het die Vader gevind, en die genade en skuldvergiffenis.
Maar iemand wat in Christus die genade Gods deelagtig geword het, wie se lewe nou in danksegging uitbreek, die wil die nuwe lewe en seëninge nie alleen besit en smaak nie. My skulde word ons skulde en wat vir my genade is moet vir almal genade wees. Alleen wil hy nie juig en dank nie, ander moet saamsing, sodat almal saam met hom sal erken en bely: „Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid." Daarom: Vader vergeef, maar nie net my skulde nie, nee ons skulde, vergeef dit aan ons, terwille van die soenverdienste van onse Here Jesus Christus.
Hier is nou die pleitgrond waarop elkeen na die Vader kan gaan. Alle verdienste is uitgesluit. Daar is egter mense wat meen dat die vergiffenis van God verkry kan word op grond van die verdienste: „soos ons ons skuldenaars vergewe." Hierdie tweede deel van die bede het geen betrekking op enige verdienste nie, asof die gedagte hierin vervat is dat omdat iemand aan sy medemens vergiffenis skenk, daarom sal God dit ook skenk. Nee, Gods vergiffenis is nie omdat iemand sy medemens vergewe nie.
Helaas die vergiffenis wat aan die medemens geskenk word is soms na lange stryd en sterk oorreding deur ander, of as die nood en dood mens in die aangesig staar. Mens versuim om die honderd penninge aan die medemens kwyt te skeld, terwyl hy tegelyk besig is om God te vra vir kwytskelding van sy eie verskuldigde tienduisend talente.
Die bede sluit ook geen maatstaf in nie, asof daarin die betuiging is dat God die skulde moet vergewe soos wat dit op aarde gedoen word. Menslike skuldvergiffenis is tog so gebrekkig en halfhartig. Dit word gedoen met 'n gevoel van huiwering, en baie keer word daarby nog een of ander voorbehoud gehoor; die gedane leed word maar nie vergeet nie. Daar bly maar altyd 'n wond wat nie wil genees nie; later kom miskien nog weer 'n verwyt. Wanneer God vergiffenis skenk, dan is dit soos verterende vuur, wat al die ongeregtighede uitbrand.
Geen iemand kan ook die houding gaan aanneem asof die kwaad nie bestaan nie, om maar onreg te ly en gevoelloos daarvoor te bly nie. Niemand mag die kwaad probeer wegredeneer nie. Nee, reg en geregtigheid mag nie vertrap of verkrag word nie, maar dit moet gehandhaaf word, sodat die goeie kan seëvier.
Al hierdie gedagtes kan nie in die tweede deel van die bede ingelê word nie. Volgens die inhoud van die hele Skrif pleit mens in sy gebede nooit op eie geregtighede en verdienstes nie, want die is gering, maar op die soenverdienste van Christus en op Gods beloftes.
Dit is reg dat die pleitgrond vir vergiffenis nie in die mens se dade bestaan nie, want in hierdie wêreld is daar tog so baie onaangenaamhede wat vergewe moet word. Die mens struikel in baie dinge, ook teenoor sy medemens. Van nature bestaan die neiging om die naaste, ja selfs God, te haat, en waar dit die grondtoon van die verhouding tot die naaste is, daar spreek dit duidelik dat 'n begeerte tot wraakneming en vergelding altyd eerste sal intree. Wie so wil bly leef sal nie juis na genadebetoninge soek nie, en sal geen genade vir 'n ander ken nie. Daar word so maklik vergeet dat die wraak aan God toekom en dat Hy vergelding sal stuur.
As iemand nie genade van God kry nie sal hy nie altyd geredelik vergewe nie. Maar die wat deur God reeds vergewe is, wat die rykdom van sy barmhartigheid en goedertierenheid reeds besit, die sal graag die broederhand aan sy naaste toereik. Gods genade en vergiffenis bring mens daartoe om vrede te soek en in vrede te leef. Gods vergiffenis is eerste, en as 'n nuwe gesindheid en lewe daarna ontstaan, dan vergeef mens makliker, ja, dan is die gewilligheid om te vergeef baie groter. Eers vergiffenis van God en dan vergiffenis aan die naaste. Hierdeur verkry mens die innerlike krag en die werklike oortuiging wat daartoe lei om welwillend te wees ondanks verontregting, ja om selfs die minste te wees.
Die veranderde en vernude gesindheid is noodsaaklik, hoewel dit nie meteens ontstaan nie; dit word ook nie deur dwang in stand gehou nie, maar dit word bewerk en onderhou deur Gods genade. Dit is geen alleenstaande daad nie, maar duur voort en word sterker ervaar saam met die gang van lewensvernuwing wat ingetree het. Dit is ook die gesindheid waarvan hierdie Sondagsafdeling spreek: „soos ons ook hierdie getuienis van U genade in ons bevind dat ons ganse voorneme is om ons naaste van harte te vergewe."
Tog kan dit wees dat iemand reeds die vrede Gods ervaar het en dat hy nog onseker is oor sy gedragslyn teenoor die naaste, dat hy aan 'n gevoel van onsekerheid nie kan ontkom nie. Maar hier vind ons weer die vervulling van die profetiese woord: „die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien." In die Sondagsafdeling word dit net anders gestel: „soos ons ook hierdie getuienis van U genade in ons bevind." God het die mens gehoor en uit sy benouing gehelp. In die begin kon hy nie goed verstaan nie, maar gaandeweg verdwyn die newels voor die lig totdat hy helder sien, dit is „die getuienis van genade bevind", tot die ontdekking, die ontwaking kom dat juis die God wat hy vrees aan hom genade betoon. Hy vind nou uit welke groot weldade hy so verkry het. Die bevinding van Gods genade is die ontdekking van die nuwe wat reeds in hom begin het. Eers duisternis, maar nou lig; eers sonde, maar nou genade; eers gedoem tot ewige straf, maar nou verhef tot die staat van kindskap. Getuienis in oorvloed, maar daarom ook nuwe voornemens, en waar die liefde eers verstom het, daar gaan hy nou ook heen om te vergewe, alles te vergewe, van harte te vergewe.
Amen.
P. W. Venter.