Hk 6 U Enigste Troos
SONDAG 6
Die algenoegsame middelaar
Lees: Johannes 14.
Sing: Gesang 4, vs. 1; Gesang 120, vs. 2; Gesang 49, vs. 5.
Vraag 16: Waarom moet Hy 'n waaragtige en regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die regverdigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal; en omdat 'n mens wat self sondaar is, nie vir ander kan betaal nie.
Vraag 17: Waarom moet Hy tegelyk waaragtige God wees?
Antwoord: Sodat Hy uit krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid kan dra en vir ons die geregtigheid en die lewe kan verwerf en teruggee.
Vraag 18: Maar wie is hierdie Middelaar wat tegelykertyd waaragtige God en 'n waaragtige regverdige mens is?
Antwoord: Onse Here Jesus Christus, wat deur God aan ons geskenk is tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlossing.
Vraag 19: Waaruit weet u dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie wat God self eers in die Paradys geopenbaar het en daarna deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig het en deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vantevore laat afbeeld het en eindelik deur sy eniggebore Seun vervul het.
Meermale word die vraag gestel of dit goed vir die gelowige is om die Persoon van Christus so te ontleed as wat hierdie Sondagsafdeling doen. Bederf dit nie baie van die bewonderenswaardige in die Christus-verskyning nie? Verloor 'n mens nie daardeur 'n mate van die verskuldigde eerbied vir die Christus-persoon nie ? Doen dit die geloof goed om so diep te wil indring in die verborge dinge van God? Sou dit nie beter wees om slegs in stille bewondering hierdie groot waarheid ten opsigte van die mensheid en die Godheid van Christus in die geloof te aanvaar nie, sonder om dan te vra na die waarom daarvan nie? Nee, dit is goed en bevorderlik vir die geloof om dieper in te gaan op hierdie groot wonder — as mens dit benader met 'n hart van liefde. Hoe groter geloofskennis van Christus, hoe groter die liefde en eerbied vir Hom, want dan word ons telkens gedwing om Sy heerlikheid te sien. Ons sien daagliks die prag van die natuur, die bome, die plante, die blomme rondom ons. Die oningewyde gaan daagliks met geslote oë verby al hierdie prag, en merk sominge daarvan op. Hy kyk met oë wat nie kan sien nie. Ander sien en waardeer die natuur as 'n geheel eenheid. Maar wanneer die plantkundige kom met 'n hart vol liefde vir die skoonheid en hy begin om met eerbiedige versigtigheid en noukeurigheid plant vir plant en blom vir blom onder vergrootglas en ontleedmes te sit, en hy sien hoe fyn en goed die samestelling en werking daarvan is, dan groei sy liefde en bewondering vir die geskape wêreld. Nie alleen groei sy liefde nie, maar sy belangstelling word steeds groter, en hy smag altyd meer en meer na grondiger kennis van die voorwerpe van sy liefde. So word sy bewondering ook groter as hy die groot eenheid van die natuur as geheel voor hom sien.
So is dit ook met die gelowige en Christus. Hoe meer kennis ons van Christus het in die geloof, hoe dieper eerbied en groter liefde dwing Hy af. (Joh. 17, vs. 3.) So kom ons dan ook tot 'n heerliker geloof in onse ewige en enige Middelaar, Jesus Christus.
Volgens die Kategismus moet daar twee vereistes aan die Middelaar gestel word: a. waaragtige mensheid; b. waaragtige Godheid (Antwoord op vraag 5).
Waarom moet Hy 'n waaragtige en regverdige mens wees ? (Vraag 16). Omdat die regverdigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal, en omdat 'n mens wat self sondaar is, nie vir ander kan betaal nie. In hierdie antwoord is geen sprake van 'n middelaar wat eenvoudig 'n tussenpersoon is tussen God en die mens nie, om aan God die mens se nood bekend te maak en om dan weer aan die mens Gods antwoord te gee nie. Moses was in hierdie sin middelaar. Hy was die mond van die volk by God en die mond van God by die volk. Hier is sprake van 'n middelaar van versoening. Die verwydering wat daar tussen God en mens gekom het vanweë die sonde, moes weggeneem word, en in die plek daarvan moes versoening kom. Christus moes aan die een kant die toorn van God teen die sonde stil, en aan die ander kant moes Hy die menslike vyandigheid teen God wegneem en sy onwilligheid in gewilligheid verander. Om dit te kon doen, moes Hy in die eerste plek waaragtig mens wees. Volgens die eis van geregtigheid moet die oortreder, die sondaar gestraf word. Die natuur wat sondig moes gestraf word. Terwyl die mens die sondaar is, moes 'n mens die straf van die sonde dra. Daarom moet 'n waaragtige mens middelaar wees: 'n mens gebore uit ons eie geslag, van ons vlees en bloed. Nie 'n skynmens nie, iemand wat maar in skyn bestaan het nie, soos die drie manne wat by die eikebos van Mamre aan Abraham verskyn het nie, wat soos mense gelyk het, maar tog nie van menslike natuur was nie. Om ons plek in te neem, moes Hy nie 'n Paradysmens wees nie, of 'n skynmens nie, maar Een wat uit ons opgebou is, ten nouste verwant aan ons menslike natuur, uitgesonder die sondige daarvan. Hy moes volstrek sondeloos wees. Maar Hy moes ook volkome regverdige mens wees. As Hyself nie sonder sonde was nie, kon Hy tog nie as borg vir ander optree nie, dan sou Hyself 'n borg nodig gehad het. Die hoëpriester in die Ou Testament moes eers, voor hy vir die sondes van die volk kon offer, vir sy eie sondes offer. Die Middelaar van die versoening, egter, moes in waarheid so heilig onskuldig en onbesmet wees, dat Hy nie eers vir sy eie sondes moes betaal nie, maar dat Hy direk vir Sy volk kon betaal, anders sou Hyself 'n verlosser nodig gehad het.
Waarom moes hy tegelykertyd waaragtig God wees? (Vraag 17.) Om uit krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan Sy mensheid te kan dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee.
Die gewone mens sou nooit die las van Gods toorn teen die sonde enduit kon dra nie, hy is daarvoor te swak van kragte. As die middelaar net mens was, kon daar geen oorwinning van die dood, geen opstanding wees nie. Daarom moet Hy ook God wees, iemand met bomenslike kragte. As God is Hy oneindig. Daarom kan die dood Hom nie hou nie. Daarom ontvang alles wat Hy doen die stempel van oneindigheid en ewigheid. Daarom is en bly Christus vir alle eeue die enige Middelaar en Verlosser. Daarom kry die straf wat Hy enduit gedra het, oneindigheidswaarde. Vir alle tye is die straf gedra en die skuld betaal deur ons Middelaar, daar hoef nie weer iemand te kom om dieselfde te doen nie. As Hy nie ook God was nie, sou dit onmoontlik wees.
Geregtigheid ontvang alleen die een wat die straf ten volle uitgedien het, sodat die wet nie meer 'n vat op Hom het nie. Waar Christus dan in ons plek staan, het Hy vir ons die kleed van geregtigheid verkry. Maar ook die geregtigheid en die lewe kom alleen van God. As die Middelaar geen God is nie, mag Hy miskien ons bewondering afdwing vir alles wat Hy gedoen en gesê het, maar Hy sou vir ons nie die geregtigheid en die lewe kon teruggee nie. Nee, Hy is mens en God in een Persoon verenig — dit is die Middelaar wat ons nodig het. So kan ons Hom aanbid, want Hy is God; maar so is Hy ook naby ons, want Hy is mens. As Hy net God was, sou hy nie kon sterwe nie, want God kan nie sterwe nie; was Hy alleen mens, sou Hy nie kon opstaan nie, want 'n mens kan nie oor die graf triomfeer nie. Maar nou — Hy was mens om te sterf; God om op te staan; Hy was Immanuel: God met ons.
Maar wie is hierdie middelaar wat tegelykertyd waaragtig God en 'n waaragtige, regverdige mens is ? (Vraag 18.)
Onse Here Jesus Christus, wat deur God aan ons geskenk is tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en verlossing.
Byna op elke bladsy van die Evangelie kom ons die mensheid en die Godheid van Christus teë. Na sy mensheid slaap Hy terwyl op die see 'n geweldige storm loei. Na sy Godheid staan Hy op en met 'n enkele woord maak Hy die storm stil. In menslike bewoënheid ween Hy, maar in goddelike majesteit spreek Hy: „Lazarus kom uit." In menslike swakheid roep Hy: „Ek is dors", maar met goddelike beskikkingsreg beloof Hy die paradys aan die moordenaar. So gaan sy mensheid en sy Godheid hand aan hand. Maar hierdie antwoord wys ons veral op die algenoegsaamheid van ons Middelaar. In Hom is alles wat ons nodig het: wysheid, regverdigheid, heiligmaking, verlossing.
Wysheid in ons geestelike blindheid. Deur ons sondige toestand weet ons uit onsself nie wat die dinge is wat tot ons vrede dien nie. Wie God is, wat onsself is, wat sonde is, wat genade is, wat ewige lewe is, weet ons alleen deur Christus. Daarom is Hy ons enigste wysheid, want deur Hom kan ons ook die dinge wat bo is, bedink, terwyl ons uit onsself altyd die aardse dinge bedink.
Regverdigheid in ons skuld: Wie Hom as wysheid ontvang, word van sy dwaasheid genees, van die dwaasheid van die sonde, en word geregverdig deur sy bloed, sodat ons uit die diepte van ons ellende na bo kyk en stamelend uitroep: Die Here Onse Geregtigheid.
Al is ons dan nog deur die sonde besmet, dan heilig Hy ons. Hy is ons heiligmaking, die bron van die nuwe lewe tot eer van God. Die heiligmaking word ons deelagtig deur die werking van sy Heilige Gees, sodat ons in verrukking saam met Paulus sê: Ek leef, dog nie meer ek nie, maar Christus leef in my.
Maar hierdie drieledige seën sou niks gebaat het nie, as Hy ons nie ook met sy verlossing kroon nie. Die verlossing maak die hoop van die Christen lewendig en gee krag om die wedloop te voleindig. As daar geen verlossing was van sonde en dood nie, sou ons godsdiens ydel gewees het. Christus is ook die Verlosser; in Hom alleen is ons verlossing.
Waaruit weet jy dit? (Vraag 19.)
Uit die heilige evangelie wat God self eers in die Paradys geopenbaar het en daarna deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig het en deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vooraf laat afbeeld het en eindelik deur sy eniggebore Seun vervul het.
Uit die wet is die kennis van sonde. Maar uit die Evangelie is die kennis van verlossing. Reeds terstond na die val in die Paradys kom die blye boodskap dat tussen die duisternis en die lig stryd sal wees. ( Gen. 5. vs. 15.) Langs die weg van smarte sou die saad van die vrou die duisternis oorwin. Daarna profeteer die aartsvaders van 'n vredegebiedende Silo. Die profete sien Hom as 'n wortel wat opskiet uit 'n dorre aarde, as Leeu uit die stam van Juda, as Man van Smarte, wat langs die weg van smarte verlossing bring. En eindelik kom die vervulling in die volheid van die tyd: En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid. (Joh. 1, vs. 14.)
So kom die Evangelie ons ruisend tegemoet. Dit moet nie net met die oor nie, maar ook met die hart gehoor word. En diegenes wat die Evangelie ontvang in hul hart, ontvang Christus met al sy genadegawes nl. geregtigheid, heiligmaking, verlossing en die ewige lewe. Amen.
G. J. J. Roos.