Hk 9 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 14 views
Notes
Transcript

SONDAG 9

God die Vader en ons skepping

Leer: Lukas 15, vs. 11-24.

Sing: Psalm 33, vs. 11; Psalm 146, vs. 3; Psalm 103, vs. 5 en 7.

Vraag 26: Wat glo u met hierdie woorde: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde.

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van onse Here Jesus Christus wat hemel en aarde, met alles wat daarin is, uit niks geskape het, wat dit ook deur Sy ewige raad en voorsienigheid onderhou en regeer terwille van sy Seun Christus my God en my Vader is; op wie ek so vertrou dat ek nie twyfel nie of Hy sal my met alles wat nodig is vir liggaam en siel versorg en ook al die kwaad wat Hy oor my in hierdie jammerdal beskik, my ten beste keer, omdat Hy dit kan doen as 'n almagtige God en ook wil doen as 'n getroue Vader.

Gemeente van Jesus Christus,

Wat 'n pragtige antwoord word hier gegee op die ses-en-twintigste vraag; dit klink ons in die ore soos gewyde musiek, soos 'n plegtige psalm waarin die digter sing van 'n groot geloof en 'n sterk vertroue. Hier word gespreek van die ewige Vader, die Skepper van hemel en aarde, die Bestuurder en Bewaarder van sy skepping, wat my, nietige mens ook bewaar, wat my lewe in sy hand hou en wat een doel met my het, nl. om my terug te bring in sy ewige Vaderhuis. Maar nou vergeet ons eintlik nog die belangrikste. Die tema van hierdie geloofslied. Die belangrikste wat in hierdie antwoord gesê word is dat die ewige Vader van onse Here Jesus Christus my God en my Vader is terwille van sy geliefde Seun. Ja, hier word die geloofslied gesing van die vaderskap van God, my God en my Vader; van my, sondige, skuldige mensekind. Hierdie Sondag van die Kategismus lê die volle nadruk op en stel as die belangrikste, die vaderskap van God. Dan volg God die Skepper en Onderhouder van alle dinge. Die Heidelbergse Kategismus wil sê: God is ewig Vader, Vader van sy ewige Seun Jesus Christus, en dan volg dat God die Oorsprong en Vader is van alle dinge en dat hy die Vader is van sy kinders. Wat voel en wat dink die moderne mens wanneer daar gespreek word van God die Vader ? Vir die meeste het dit 'n dooie begrip geword. Die vadernaam word so dikwels gebruik dat dit nie meer ontroer nie. Dit het geword soos 'n geldstuk, wat afgeslyt is deur die gebruik, sodat die afbeelding daarop nie meer onderskei kan word nie. Waaraan dink u, wanneer die vadernaam uitgespreek word?

Aan 'n God in mensegestalte, wat sit op 'n troon, wat van daaruit heers en regeer ?

Of behoort u tot daardie mense waarvan Ibsen sê dat hulle hul God voorstel as 'n waardige, edele goedige mens? En nie 'n God, wat is soos 'n verterende vuur nie.

By die meeste van ons is dit so, dat die uitspreek van die vadernaam 'n beroep doen op ons religieuse gevoel. Dit gee ons 'n ligte ontroering omdat ons gevoel vir ons sê dat daar tog so iets moet wees. Maar laat ons dit nie vergeet nie: 'n religieuse mens is nog nie 'n Christen nie. Die Kategismus vra hier: wat glo U? Hierdie is die Christen wat bely het dat hy die eiendom van sy Saligmaker Jesus Christus is. Die Christen glo dat die ewige Vader van onse Here Jesus Christus, sy God en sy Vader is. Uit die antwoord word dit vir ons duidelik dat God nie eers by die skepping van die eerste mens Vader geword het nie. God is ewig Vader, sy vaderskap het geen begin en geen einde nie. Ek sou dit so wil stel: God is God omdat hy Vader is. Sou God geen Vader wees, dan sou hy geen God meer wees nie. Wat 'n groot wonder is dit dat ons God, Vader mag noem.

Begrypliker sou dit wees wanneer God die opstandige en ongehoorsame mensheid sou uitwerp in ewige duisternis. Maar nee, God wil nog onse Vader wees.

Maar waarom kan ons God die Vader ook onse Vader noem? In die vraag word tog maar net gespreek van die Vader en die antwoord spreek van God die Vader van onse Here Jesus Christus.

Die vraag is nou: hoe is God my God en my Vader ?

Kyk, God is van ewigheid die Vader van Een, van Jesus Christus. Ons kan ons God nie dink sonder die vaderskap nie, maar by 'n mens is dit anders, want elke man is tog nie vader nie, 'n mens word vader, God is van ewigheid Vader. Christus het 'n Vader. Die vaderskap van die mens is maar 'n swak afskaduwing van die vaderskap van God. Want tussen die Vader en die Seun bestaan die innigste en heiligste verhouding. Alles is hier volmaak. Daar is een Vader en een Seun en daar is nie 'n verlange na 'n persoon of saak buite hulle nie. Ons weet dat die vaderskap van die mens vol sonde en gebreke is, maar die vaderskap van God is volmaak. Die band wat die Vader en die Seun verbind is volmaakte

Hoe anders is dit by ons mense. Die vaderliefde word aangevul deur die moederliefde, en vader en moeder moet hul liefde verdeel onder die kinders. Maar hier sien ons een Vader en een Seun. Die Seun het nie net bepaalde eienskappe van sy Vader geërf nie, nee, Jesus Christus is die uitgedrukte beeld van sy almagtige Vader.

Hy het alles van sy Vader, is een met die Vader. Dus die Vader het een Seun ? Hoe kan ons dan broeders van Christus wees en seuns van een Vader ? Wel, omdat God die Vader van Christus my Heer en my Heiland is, omdat Christus ook gesê het: „Ek vaar op tot my Vader en julle Vader, tot my God en julle God," en omdat Jesus gesê het dat ek sy broer of sy suster is, daarom is sy Vader ook my Vader.

Die Vader van Jesus Christus is 'n koninklike, ryk Vader. Hy het die ganse heelal uit niks geskape, Hy is magtig, ja, Hy is die Almagtige. Hy is die Oorsprong van alle dinge. Nie een ding is daar wat sy wil begrens nie, „want daar is niemand wat is soos die Here onse God". Buite Hom is daar die wêreld, die natuur en al die kreature, waaronder ons mense. En ons is nie die grens van die almag van God nie omdat Hy ons self geskape het. Deurdat Hy ons 'n vrye wil gegee het, die vermoë om 'n beslissing te neem, ja selfs die moontlikheid om vir God nee te sê, het Hy ons 'n bepaalde vrye ruimte gegee waarin ons ons kan beweeg. Soos 'n aardse vader wat vir sy kinders 'n klein ruimte van sy werkplek afsonder waar hulle mag werk en probeer sodat hulle leer om selfstandig te word en eie verantwoording te dra. In hierdie klein ruimte kan die kinders doen wat hulle ook maar wil. Hier laat die vader hulle werk, hier laat die vader hulle foute maak sodat hulle sal leer wat die gevolge van die foute is. Kyk, so handel God ook met ons mense, sy kinders.

God laat ons self beslis en dus moet ons ook die gevolge van ons besluite dra. En nou is daar vandag baie wat geskok is deur al die leed en ellende wat daar op die wêreld is, en dit word vir hulle so moeilik om te glo in God, die Almagtige Vader. Maar dan vergeet hulle tog hoeveel skuld, hoeveel dwaasheid daar is onder die mense, hoeveel ongehoorsaamheid daar is teen die heilige wet van God. God is tog nie die oorsprong van skuld en dwaasheid en ellende nie.

Hy het die wêreld immers so geskape dat die sonde, die ongeregtigheid en die opstand teen God die grootste ellende met hom meebring. Die Bybel sê: die gevolg van die sonde is die ewige dood.

Maar tog bly die hoë en heilige God, onse Vader, die Almagtige Vader, want sou ons mense soveel ellende moes deurmaak, wat ons volgens reg sou moes dra, dan sou ons vernietig word deur die toorn van God.

Danksy die vaderliefde en grote genade van God leef ons nog en word ons nie verpletter onder sy toorn nie. En God wat alle dinge geskape het, Hy verwaarloos sy skepping nie, nee Hy onderhou en regeer sy skepping met mag en met grote trou. Deur sy ewige raad. Dit is: na sy ewige verbond en ontferming, soos Hy gesweer het. Dus bo alle onrus en verwarring, bo alle waansin in hierdie wêreld staan daar as 'n ewige ruspunt die raad van God. Kyk, dit gee 'n angstige mens wat maar net sien op die dreigende gebeurtenisse van ons tyd 'n wonderlike rus. Dis nie die magtigste volk met die sterkste wapens en die sterkste leërs wat regeer nie. God regeer deur sy ewige raad. Dit moet alles so gaan soos God dit bepaal het en in sy wonderlike raad het Hy ondanks onrustige, angstige tye al lank vantevore vir elkeen van ons gesorg. In sy grote liefde het Hy lank vantevore aan ons gedink. God lei die wêreld, God lei elke mensekind. Deur sy Almag hou Hy die wêreld in stand.

Nou kan elke gelowige tog gerus wees, nou kan elke gelowige in 'n sterk vertroue lewe, want deur die duisterste en donkerste nag van angste en vertwyfeling wil Hy ons tog voer na sy ewig lig, na sy ewig Vaderhuis.

„Dus twyfel ek nie, of Hy sal my met alles wat nodig is aan liggaam en siel versorg."

Dit word hier so pragtig gesê dat God as 'n Vader vir elkeen van sy kinders wil sorg. Op God die Vader moet ons vertrou. En ons kan nie twyfel nie as ons sien hoe die hemelse Vader sorg vir ons liggaam, hoe Hy sorg dat daar voedsel en rus is vir ons stoflike welsyn. En sou God wat vir ons liggaam sorg nie vir ons siel sorg nie?

„Kyk na die voëls van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie, hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle."

Moenie twyfel nie, die Vader sal sorg. Hou sy hand vas, ook al word dit dikwels donker rondom u, ook al moet u lank wag, God sal u tog eenmaal vervul met al sy heerlike gawes. Hy sorg vir u.

Maar nou beteken dit nie dat dit in ons lewe net altyd geluk en voorspoed sal wees nie. God beskik ook die kwaad oor ons. Ons sal ook die vuur van die beproewing moet deurgaan; Hy kan ons met donkerheid en duisternis omring. Hy kan ons slaan met sware slae. Hy kan ons diep laat buig onder leed en smart. Ja, in hierdie jammerdal kan Hy al die kwaad van die wêreld oor ons beskik. En tog een ding glo ons, een ding weet ons, dat dit die wonderlike geheim van die wêreldregering van God is, dat ook die kwaad, dat leed en smart, ja selfs die werke van die Satan moet dien tot verheerliking van God. En ons weet dat ook al dreig daar leed, al ontmoet ons smart, God die dag van verlossing en bevryding vir ons sal laat aanbreek. Dan sal dit jubel in ons siel, dan sal ons God prys en dank vir al die ongeluk en leed en verdriet, ja vir al die kwaad wat Hy oor ons beskik het. Want daardie kwaad het ons ryp gemaak vir soveel vreugde, vir hoogste blydskap.

„Omdat Hy dit kan doen as 'n Almagtige God en ook wil doen as 'n getroue Vader".

God kan dit doen omdat Hy 'n almagtige God is. God wil dit doen omdat Hy onse getroue Vader is. Kyk, in daardie vertroue moet ons leef. Ons mense is dikwels so magteloos. Ons wil wel, maar ons kan nie. Wanneer ons in grote nood is voel ons dat ons vriende en verwante ons wil help, maar hulle kan nie. Maar God kan en, o wonder, Hy wil. Hy is die Almagtige, die getroue Vader. Ons wat in Christus sy kinders is, ons kan op daardie Vader steun in nood en dood. Ook in hierdie jammerdal, in die verdrukkinge op hierdie aarde weet ons dat God onse Vader is in Christus Jesus. Weet ons dat ons deelgenote is van daardie heerlike Koninkryk van God wat in al sy heerlikheid sal deurbreek.

Amen.

F. van Oosten.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.