Hk 10 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 13 views
Notes
Transcript

SONDAG 10

Die Voorsienigheid van God

Lees: Psalm 97.

Sing: Gesang 2, vs. 1; Psalm 100, vs. 1 en 2; Gesang 7, vs. 2; Gesang 12, vs. 6.

Vraag 27: Wat verstaan u onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en alomteenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsele as met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, spys en drank, gesondheid en krankheid, rykdom en armoede en alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons toekom.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles gekape het en nog deur sy Voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teenspoed geduldig, in voorspoed dankbaar moet wees, en in alles wat nog oor ons kan kom, 'n vaste vertroue moet stel op onse getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsele so in sy hand is dat hulle sonder sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

God het die hemel en die aarde en alles wat daarin is uit niks geskape. Op die einde van die skeppingsweek, waarin Hy alles geskape het, het Hy alles gesien wat Hy gemaak het en dit was baie goed.

Hemel en aarde en alles wat daar in die uitspansel is en wat daar op die aarde is, is die werk van sy hande wat Hy nie laat vaar nie.

Geen ding wat in die uitspansel is, of wat op die aarde is, kan in sigself bestaan nie. Hy het alles gemaak en Hy hou dit in stand. As Hy maar net vir 'n oomblik sy hand van sy skepping sou terugtrek sal dit ophou om te bestaan. Dan sal die heelal wegsink in die niks waaruit Hy dit te voorskyn geroep het deur sy skeppingswoord.

Nie een ding kan selfstandig, onafhanklik van God bestaan nie. Hy het dit gemaak en Hy hou dit in stand. Van die eerste oomblik af, nadat dit geskape was, het God dit nog altyd vasgehou. Hy dra die hele skepping nog altyd in sy almagtige hand.

Die skepping is nie 'n daad wat eenmaal afgehandel is nie, sodat God vanaf die aand van die sesde skeppingsdag 'n ewige rustyd van werkloosheid ingegaan het nie. Na die skepping, wat eenmaal plaasgevind het, is Hy nog altyd werksaam aan, en in verband met, wat Hy gemaak het.

Hy het sy geskape dinge nie aan hulleself oorgelaat nie. Hy versorg alles met wat hulle nodig het om te kan bestaan.

Die orde in die skepping, die rykdom en die samewerking wat in die heelal en onder die geskapenes heers, is openbaring van die Voorsienigheid van God — daardie Krag van God waarmee Hy alle dinge onderhou en regeer. Deur hierdie krag regeer en bestuur Hy alles wat daar is. Alles en almal word deur sy hand gelei na die doel wat Hy in sy wyse, ewige Raad daarvoor bepaal het. Deur sy Voorsienigheid, daardie almagtige en alomteenwoordige krag, hou Hy hulle nie net in stand nie, maar daardeur regeer Hy hulle ook en hou elkeen op die regte baan; sodat elkeen volgens sy wette, wat vir hom in die natuur bestem is, kan bestaan.

God ken en sien die node en behoeftes van elke skepsel. Hy voorsien in wat nodig is. Hy hou alles met sy hand in stand. Hy regeer hulle volgens die wette wat Hy daarvoor bepaal het. Hy laat alles in stand en in orde bly deur die krag waardeur Hy alles onderhou en regeer, vir solank as wat Hy wil.

God is onveranderlik, en solank as wat Hy leef sal Hy vir sy geskape dinge sorg sodat hulle Hom kan eer — en sy Naam eervol kan vermeld; en sodat hulle kan saamstem in die lofsang: „Hierdie God is ons God. Hy is ons deel en salige lot."

Die hand wat eenmaal die heelal uit niks te voorskyn laat kom het, swaai die septer in liefde en trou oor alles wat daar bestaan. Hy het die sterre aan die hemeltrans getel en Hy noem Hulle by name. Hy het die baan van son en maan gegee. Sonder sy wil val geen haar van ons hoof af nie, en geen mossie op die aarde nie. Die lewenslot van indiwidue en volke en die bestaan van mense en dinge en plante en diere word deur Hom gered.

Die hemelinge verkondig die wyse bestuur van God. Die son kom op en gaan onder. Die maan ken sy gesette tye en loopbaan. Die weg waarlangs elke ster moet beweeg is so bepaal dat dit nie met ander sterre bots nie. Storm en onweer gaan op sy bevel. Geen gebeurtenis, hoe groot of hoe gering dit ook al is, vind plaas sonder dat Hy dit sien of sonder dat Hy dit toelaat nie. Die geboorte- en sterfuur is in sy mag, Hy bepaal die begin en die einde van alle dinge. Geen oorlog of pes, geen vuur of water, geen honger of dors, geen wind of weer kon al die aardryk ontvolk het nie, of kon die swakke mensdom, vee en plante al uitgeroei het nie. Deur sy Voorsienigheid — die almagtige en alomteenwoordige krag van God — onderhou Hy nog met sy hand hemel en aarde en al die skepsele. Daardeur regeer Hy dit so dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, spys en drank, gesondheid en krankheid, rykdom en armoede en alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons toekom.

Veral is die mens, die kroon van sy skepping, voorwerp van die voorsienigheid van God. Nog voor sy geboorte, ja, by die geboorte, en op die lewensweg is dit sy liefdevolle vaderarms wat hom dra; en sy troue vadersorg wat die mens omring. Elke more is sy goedertierenheid weer nuut oor ons en sy trou hemelhoog. Wat ons ook al mag geniet, het sy Voorsienigheid vir ons berei: Waar ons bitter ly, daar is dit Hy wat vir ons die beker vol gemaak het en wat dit aan die lippe druk.

Waar ons gaan daar rig Hy ons wankelende treë. Waar ons rus daar waak Hy by ons rusplek.

Ondeurgrondelik is die Godsregering wat ons gange bestuur, wat oor ons hele lewenslot beskik, en wat ons toemeet wat ons nodig het of dit vreugde is dan of dit leed is. Hy versadig die mond van alles wat daar leef. Alles wissel ook op sy wenke maar Hyself verander nie.

Dit is 'n gedagte wat ons tot groot kalmte kan stem in hierdie wisselende lewe waar ons voorspoed en teenspoed ondervind: dat alles onder Gods wyse bestuur staan sodat niks buite sy wil geskied of oor ons kom nie. Alles word deur Hom aan ons toebedeel. Niks kom toevallig oor ons nie maar Hy deel dit ons toe uit sy vaderhand in sy Voorsienigheid.

Met gras beklee Hy die dale. Lower en gras spruit uit op sy bevel. Hy beskik reën en droogte; vrugbare en onvrugbare jare. Hy gee spys en drank, gesondheid en krankheid. Hy maak dood en Hy maak en Hy maak ryk en Hy maak arm. Hy verhoog die lewens vreugde wat die rykdom meebring, maar Hy dink ook aan die armes in hulle ellende.

Alles kom ons toe uit sy hand en nie per toeval nie. Die God en Vader van ons Here Jesus Christus bewerk vir ons heil deur alles wat ons uit sy hand ontvang; want vir die wat in Christus is werk alle dinge mee tot die goeie. Daarom moet ons in alle teenspoed geduldig en in alle voorspoed dankbaar wees teenoor ons Vader wat in die hemele is, sodat ons onder teenspoed ons nie teen God verset deur te murmureer nie; en sodat ons in voorspoed nie God, die gewer van alles wat goed is, vergeet nie.

Hoog in die hemele klop 'n Vaderhart wat oor ons gedagtes van vrede gehad het voordat ons nog daar was. Die gelowige roem daarin dat God 'n Vader is vir die maaksel van sy hande: as Hy hom blydskap en voorspoed laat ondervind; maar dat Hy ook sy hemelse Vader is as Hy hom kasty en tugtig en teenspoed laat ondervind. Dit is hartverheffend vir die klein, nietige mens om deur die geloof te weet dat hy nie alleen is nie, maar dat die Vader met hom is. Daarom moet ons in alle teenspoed geduldig wees, en selfs in die nag psalms sing. Ons moet leer om saam met Job die naam van die Here eervol te vermeld as Hy gee; maar ook as Hy neem. Want vir die wat God liefhet werk alle dinge mee tot die goeie, en niks kan oor ons kom sonder dat God dit toelaat nie. In alles wat oor ons kom moet ons 'n vaste vertroue stel op ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsele so in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of nie.

Net as Hy dit toelaat kan hulle iets kwaads aan ons doen.

God leef ! Hy sorg vir elke skepsel. Hy onderhou en regeer dit deur sy Voorsienigheid — daardie almagtige en alomteenwoordige krag van God.

Elke more staan ons in pelgrimskleed met die blik in die onbekende toekoms ingeslaan. Daagliks word ons 'n onbekende weg ingestuur Maar oor die voortreisende pelgrim na die ewigheid waak die God wat die woonplek van die mense bepaal, en wat deur sy Voorsienigheid alles wat daar is regeer en onderhou, en deur sy almagtige en alomteenwoordige krag behoed en bewaar en in stand hou. In kalme vertroue op God gaan ons ons pad deur die aardse lewe heen met die oog gevestig op Jesus Christus, die voleinder van ons geloof. In Hom het God ons uit genade alles gegee wat ons nodig het om getroos salig te leef en te sterwe. In Hom besit ons deur die geloof die geregtigheid en die ewige lewe.

Aardse koninkryke mag wankel; wette wat deur mense gemaak is mag verouder en verander; maar die wette waarmee God, die Skepper, alles onderhou en regeer verouder en verander nie. Sy trou sal nooit beswyk nie. Hy bly dieselfde gister en vandag en in alle ewigheid. Die Here regeer, laat die aarde bly wees. Hy laat die werk van sy hande nie vaar nie. Sy heerskappy duur tot in ewigheid en is van geslag tot geslag. Die Here is Koning, laat die aarde juig.

„'n Son en skild is onse Heer;

„Hy sal genade gee en eer,

„want Hy word nooit sy Woord ontrou nie:

„Hy sal aan almal wat opreg

„Hom dien en wandel in sy weg,

„die goeie nimmermeer onthou nie.

„Welsalig, Heer wie op U bou,

„aan U geheel hom toevertrou."

Amen.

W. H. Grey.

Related Media
See more
Related Sermons
See more