Hk 11 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 4 views
Notes
Transcript

SONDAG 11

Jesus, die Saligmaker

Leer: Efesiërs 2 vs. 1-21.

Sing: Psalm 116, vs. 1 en 2; Gesang 39 vs. 3 en 4; Psalm 68, vs. 9.

Teks: Handelinge 4 : 12. „Die verlossing is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Vraag 29: Waarom word die Seun van God Jesus, dit is Saligmaker, genoem?

Antwoord: Omdat Hy ons salig maak en van al ons sonde verlos; en dat by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie.

Vraag 30: Glo hulle dan ook aan die enige Saligmaker Jesus, wat hulle saligheid en welvaart by die heiliges, by hulleself, of êrens anders soek?

Antwoord: Nee; maar hulle verloën met die daad die enige Heiland, Jesus, ofskoon hulle met die mond in Hom roem; want een van die twee: of Jesus moet geen volkome Saligmaker wees, of die wat hierdie Saligmaker met ware geloof aanneem, moet alles in Hom hê wat vir hulle saligheid nodig is.

Dikwels hoor ons van ons mense sê: „Elkeen moet deur sy eie geloof salig word." Dit gebruik hulle dan as 'n soort van verskoning dat hulle hulleself nie hoef te bekommer oor wat 'n ander glo nie; tewens glo die meeste mense, dat dit beteken dat enigeen dan maar kan glo wat hy wil en dan sal hy op grond van daardie geloof salig word. Dit is seker nie korrek nie. As daar gesê word: „elkeen moet op sy eie geloof salig word, beteken dit dat niemand mag reken op die geloof van 'n ander nie; elkeen wat gered wil word moet self glo, maar dan moet dit die regte geloof wees, die geloof in die regte Saligmaker. Die vyf dwase jongmeisies in die gelykenis kon nie olie leen by die vyf wyses nie!

Dit is ook die standpunt van die Skrif: elkeen moet deur sy eie geloof gered word, maar dan is dit gebiedend noodsaaklik dat die geloof in die Regte, die Enigste Saligmaker sal wees. Die apostel Paulus skrywe aan. Timoteus: „Daar is een Middelaar tussen God en die mense, n.l. die mens Christus Jesus." En as Petrus voor die Joodse Raad tereg staan dan sê hy in sy verweer onomwonde dat daar maar een naam onder die mense gegee is, waardeur ons gered kan word, n.l. die Naam van Jesus Christus, die Seun van God.

Ook die Heidelbergse Kategismus, een van die Formuliere van Enigheid van ons Kerk, staan op hierdie Skrifgetroue standpunt. In die elfde Sondagsafdeling word hierdie saak van die enigste Middelaar tussen God en mense behandel. Vraag 29 handel oor die naam, Jesus, wat Saligmaker beteken en toon aan, dat Hy ons Saligmaker is omdat Hy ons verlos van sonde. Vraag 30 behandel die vraag of daar enige ander weg tot saligheid is buite Jesus om.

As Jesus ons Saligmaker is, beteken dit gelyktydig dat ons toestand onsalig is. As ons dus vra na 'n Saligmaker, en as ons Jesus wil aanneem as ons enigste Saligmaker, is dit absoluut noodsaaklik dat ons eers ons eie onsaligheid sal besef, m.a.w. dat ons sal erken dat ons sondaars is.

Alleen 'n sondaar het 'n Saligmaker nodig, en alleen 'n skuldige wat sy skuld erken sal uitsien na 'n verlosser. Daarom dat die Evangelieprediking ook altyd met groot nadruk die sondige verlorenheid van die geslag van hierdie eeu beklemtoon; maar daarnaas moet tegelyk ook gewys word op die weg van behoud wat daar deur die genade van ons Here Jesus Christus is. Aan die siel wat sy eie onwaardigheid ontdek het, word die evangelie van Gods reddende liefde wat daar in Christus Jesus is nie tevergeefs verkondig nie.

Die beste prediking van die groot skuld en doemwaardigheid wat die mens vind is seker in die vleeswording van Jesus Christus, in sy lewe, lyde en sterwe. Immers so groot is die sondige verlating van de HERE deur die mense, dat daar hoegenaamd geen ander weg tot sy redding was nie, as net dit, dat God sy enigste Seun daarvoor sou offer. As dit noodsaaklik was dat God sy Seun moes offer terwille van ons redding, dan moet ons toestand werklik haglik wees.

As ons toestand so doemwaardig was dat daar, menslikerwys gesproke, by God geen ander raad was om ons te red nie behalwe dat Hy sy enigste Seun in ons plek sou oorgee, dan is daar vir ons nog soveel meer rede om te besef dat ons toestand hopeloos is. As God die grootste offer wat ooit te bedink is moes bring vir ons redding, dan moet dit vir elkeen van ons duidelik wees dat daar niks is waardeur ons ons eie redding sal kan uitwerk nie.

Die vleeswording van Jesus Christus verkondig dan aan ons met hierdie daad ons diepe verlorenheid en onmag om onsself te red. Maar tewens spreek hierdie selfde verskyning van Jesus Christus ook van Gods ewige allesoorwinnende en allesvergewende liefde. Al was ons toestand hopeloos, Gods liefde het nog raad geweet daarmee. Liefde vind altyd 'n uitweg. Die offer van Gods Seun is die uitweg, waarlangs ons gered kan word. Vir geen ander rede het God sy Seun in die wêreld gestuur, as net dit dat ons Hom in sy ewige liefde kan leer ken nie. Vir geen ander rede het God sy Seun oorgegee aan die kruis van Golgota nie as net vir hierdie rede, dat daar redding vir sondaars kon kom. Volgens die eis van sy ewige liefde wil God die mensekinders, die maaksel van sy hande, behou en nie verdelg nie.

Van hierdie ewige reddende liefde spreek ook die naam waaronder ons die Seun van God ken, n.l. Jesus. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Jozua, wat beteken: die HERE red. Maar dit is nie in hierdie sin asof die HERE maar net by magte is om te red nie. Dit beteken nie: die HERE kan red nie, maar: die HERE sal red. Dit is gewis en seker. Daar is geen twyfel aan nie. Dit is nie maar miskien nie. Nee, die HERE sal gewisselik red.

Op hierdie punte van die gewisse redding deur Christus Jesus laat die Skrif by ons nie die minste twyfel nie. Reeds by die aankondiging van sy geboorte sê die engel dat sy naam Jesus sal wees, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. Ook die Here Jesus het by sy hoorders hieroor geen twyfel gelaat nie. Hy sê dit onomwonde: „Ek is die brood van die lewe. Wie My eet sal nooit sterwe nie." En aan die Samaritaanse vrou sê Hy, dat Hy die water van die lewe is, en as iemand daarvan drink sal hy nooit meer dors kry nie. Ook die wat Hom gehoor het is ewe beslis in hulle getuienis oor sy betekenis as Saligmaker. As Petrus, op die vraag van Jesus of hulle nie ook wil weggaan nie, namens al die dissipels antwoord gee dan sê hy: „Na wie sal ons gaan, Here ? U het die woorde van die ewige lewe." En ook in ons teksvers is dit sy besliste oortuiging: die verlossing is in niemand anders nie; daar is geen ander naam waardeur ons gered kan word nie.

Die vraag is nou of ons hierdie eenstemmige getuienis van die Heilige Skrif glo; of ons glo, wat die Heilige God self aan ons voorhou as die weg na saligheid, en of ons nie langs eie weë soek na saligheid nie. Dit is waar, as lede van die kerk het ons almal die belydenis afgelê, dat ons glo in Jesus as die enigste Saligmaker, maar die groot vraag is of ons dit ook met die kerk glo en aanneem.

Die Kategismus gaan ook op hierdie sy van die saak in. In vraag 30 vra hy of hulle wat hulle saligheid soek by Heiliges of by hulleself of êrens anders ook glo in die enigste Saligmaker, Jesus. Hierdie vraag staan in die Kategismus om te dien as waarskuwing teen die Roomse dwaling, dat mens ook heiliges moet aanroep, soos bv. die Heilige moeder Maria. Die Kategismus is al opgestel in die dae van die Kerkhervorming, en die gevaar was baie groot, dat die lidmate ook van die Roomse dwalinge in die Hervormde kerke kon indra. Daarom moes dit beklemtoon word dat daar maar een Saligmaker is: ook die Heiliges wat die Roomse aanroep is nie anders as deur die ewige Middelaar Jesus Christus gered nie. Dit is mensevergoding en tewens 'n ontering van die Naam van God as ons gestorwe skepsele aanroep. Dit is niks anders as dat ons meen dat ons beter weet as God self nie; immers die weg wat deur Hom voorgehou word, word verwerp en die mens se eie weg word in die plek daarvan gestel as ons die saligheid deur middel van Heiliges soek.

Maar terwyl ons hier 'n waarskuwing teen 'n Roomse dwaling het, meen dit nog glad nie dat ons, lede van die Hervormende Kerk, hierin geen waarskuwing vir onsself moet sien nie.

Ons vind ook by ons mense dikwels so 'n vorm van heilige-verering en -aanbidding. Daar is baie mense wat meen dat hulle op grond van jarelange troue lidmaatskap of diens as kerkraadslid deur hulle ouers of grootouers die reg het om 'n soort bevoorregte posisie in die kerk te beklee. Veral wanneer daar soms rusies tussen lidmate uitgemaak moet word, vind ons dat die mense so maklik sê: „My pa of my oupa was soveel jare in die kerkraad, ons is troue lede van die kerk, en nou kom hierdie mense en maak met ons rusie."

Dit is asof hulle wil sê ons het darem tog al iets gedoen, en niemand mag met ons rusie maak nie, tenminste, ander moet altyd toegee aan ons.

Ons is so maklik selfingenome. Ons is so maklik selftevrede, menende dat ons deur eie verdienste of deur die verdienste van ons voorgeslagte reeds iets verdien het van die saligheid en dat ons daarom aanspraak kan maak daarop om 'n soort van bevoorregte posisie in die gemeente te beklee.

Hierdie gedagte mag in die hart van 'n gelowige vir geen enkele oomblik ook maar die kleinste hoekie inneem nie. In die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende ure gehuur is, lees ons, dat die wat maar een uur gewerk het ook die volle dagloon ontvang het.

By God is daar van mensekant geen verdienste wat kan tel nie. Die apostel Johannes nooi in die Openbaringe in naam van Jesus uit: Laat hom wat wil kom, en neem van die water van die lewe, verniet. Alles ontvang ons van God verniet. Hy vra geen betaling nie; ons kan ook nie betaal nie. Hy gee genadig.

Ons is nie in staat om ook maar die minste van ons kant te doen teneinde die redding vir die ewigheid vir ons te verseker nie. Vanaf die val in die paradys is ons hart afkerig van die Here, en doen ons gedurig dit wat Hy nie wil nie. So erg is ons sondige toestand, dat die Psalmis sê: „In sonde is ek gebore, en in ongeregtigheid het my moeder my ontvang."

Die hele verloop van die geskiedenis van Gods volk onder die Ou Verbond is een ry van sondige afdwalinge van God. En ons eie persoonlike lewe lewer oorvloedige bewys van die sondigheid van ons hart. Maar teenoor hierdie diepe ongeregtigheid waarin ons gebore word en as natuurlike mense voortlewe, staan daar die feit van Gods ewige reddende liefde in Jesus, onse Saligmaker.

Hy is dit was ons kan red. „Hy kan en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gewe."

Dit waarvan ons verlos moet word is die bande van die sonde. Dit wat ons lewe onsalig maak is die sonde wat in ons woon, wat ons telkens op dwaalpaaie voer.

Dit is juis hiervan wat Jesus verlos. Daarvoor het Hy sy lewe gegee. Die skuld wat ons verwyder het van God, het Hy betaal deur sy eie bloed te stort as rantsoen. Deur sy dood is daar 'n gebaande pad na die versoende Vaderhart.

Waarlik Hy het ons verlos van die verskrikking van die ewige oordeel voor Gods Regterstoel. Hy het vir ons nie alleen die ewige Saligheid beloof nie. Hy het vir ons die waaragtigheid van hierdie belofte bevestig deur dit te verseël met sy bloed. Hy is waarlik Jesus, onse Saligmaker. By Hom is daar veiligheid vir tyd en vir ewigheid.

Amen.

Andries J. Nolte.

Related Media
See more
Related Sermons
See more