Hk 12 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 24 views
Notes
Transcript

SONDAG 12

Christus, die Gesalfde

Lees: Psalm 45.

Sing: Gesang 3, vs. 1 en 4; Psalm 118, vs. 13; Psalm 72, vs. 1; Gesang 44, vs. 2.

Vraag 31. Waarom word Hy Christus, dit is Gesalfde genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader verordineer en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar wat ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle geopenbaar het; en tot ons enigste Hoëpriester wat ons met die enige offerande van sy liggaam verlos het en vir ons met sy voorbidding gedurig deur by die Vader intree; en tot ons ewige Koning wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verworwe verlossing beskut en bewaar.

Vraag 32: Maar waarom word u 'n Christen genoem?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur

deel het aan sy salwing om sy Naam te bely, myself as 'n lewende

dankoffer aan Hom toe te wy, met 'n vrye en goeie gewete in

hierdie lewe teen die sonde en die duiwel te stry om hiernamaals in

ewigheid saam met Hom oor alle skepsele te regeer.

„U is die Christus, die Seun van die lewende God."

Dit was die heerlike belydenis van Simon Petrus, toe Jesus in die streke van Cesarda-Filippi vir sy dissipels gevra het: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is ?

Die antwoord op hierdie vraag van Jesus was verskillend. Sommige mense het gesê: Hy is Johannes die Doper, ander: Hy is Elia, en weer ander het gemeen: Hy is Jeremia of een van die profete.

Alle mense, wat met Jesus in aanraking gekom het, toe Hy in die dorpe van Galilea en in Judea sy boodskap van die Koninkryk van God gebring het, het besef: Hier spreek 'n besondere mens, hierdie Jesus is anders as al die ander leraars in Israel."

De bewussyn egter dat Hy die Christus, die Messias self is, d.w.s. dat Jesus van Nasaret die bringer is van die Godsryk, het eers later in die harte van sy volgelinge begin groei. En dit was Petrus gewees, wat as eerste openlik bely het: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

En met hierdie geloofsuitspraak van Petrus, het ons die terrein betree van die sentrale leerstuk van die Christelike Kerk, n.l. van die Middelaarskap van Christus.

En so belangrik ag ook Jesus self hierdie belydenis, dat Hy die Christus, die Seun van God, die Bringer van die Godsryk is, dat Hy Simon Petrus om hierdie uitspraak salig spreek, en hierdie belydenis verklaar tot die rots, die fondament, waarop Hy Sy gemeente, Sy Kerk sal bou.

Ons wil probeer nader te besien wat die inhoud is van hierdie belydenis: U is die Christus.

Een ding word dadelik duidelik, n.l. dit: Jesus Christus, ons Saligmaker en Verlosser, is die middelpunt van ons geloof. Terwyl Jesus sy persoonsnaam is, is Christus of Messias sy ampsnaam en dit beteken Gesalfde. 'n Amp kan iemand alleen dra, deurdat hy daartoe geroep en verordineer is. So is dit met 'n predikant, so is dit met 'n ouderling of diaken, so is dit ook met ons Heer en Heiland.

Hy is van voor die grondlegging van die wêreld af deur God self verordineer en met die Heilige Gees gesalf tot ons hoogste Profeet en Leraar, tot ons enigste Hoëpriester en tot ons ewige Koning. Hierdie drie vorm die drie ampte van Christus, wat in sy een amp van Middelaar saamgesnoer is.

Om die middelaarswerk, die verlossingswerk van Christus as 'n geheel te kan verstaan, is dit dan ook baie vrugbaar om die betekenis te probeer deurgrond van elkeen van hierdie drie ampte afsonderlik.

Christus is ons hoogste Profeet en Leraar. Profeteer beteken letterlik openlik verkondig. So is dan ook die werk van 'n profeet om openlik die Woord van God te bring, te verkondig aan die mense. Orals in die Bybel kan ons dit opmerk dat 'n profeet optree in die krag en in Naam van God en tot die mensheid kom met sy gesaghebbende woord van: „So spreek die Heer," om hierdeur aan die mense die belofte of die oordele van God mee te deel. 'n Profeet is dan ook iemand, wat met goddelike gesag beklee is, en as sodanig is hy 'n ampsdraer.

Deur die krag en onder die leiding van die Heilige Gees het die profete van die Ou Verbond reeds veel geopenbaar omtrent die raad en die wil van God, nogtans was alles wat hulle gesê en verkondig het nie voldoende om Gods wil ten volle te openbaar nie.

Die volle lig het eers begin skyn en die volle openbaring van God het eers bekend geword deur die woorde van ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus. Daar was nooit tevore en daar sal ook nooit na Hom 'n profeet soos Hy wees nie. In Hom het ons die volle openbaring van God. Daarom ook is Jesus Christus die enigste mens ter wêreld wat kan sê: „Ek is die Lig van die wêreld" 1) en „Wie My gesien het, die het die Vader gesien." 2) En alleen Hy kon met verwysing na Homself tot die Fariseërs sê: „Want kyk, die Koninkryk van God staan midde onder julle." 3). 'n Mens kan menigmaal jaloers voel op hulle wat Jesus se tydgenote was en wat so bevoorreg was om Jesus self te kan hoor spreek.

Toe hy eendag in sy eie dorp Nasaret kom, het Hy, soos Hy gewoond was, op die Sabbatdag in die Sinagoge gegaan en opgestaan om te lees.

Hy lees toe uit die boek van die profeet Jesaja en wel uit die 61 ste hoofstuk, waar die profeet spreek van die genadejaar van die Here. Hy lees: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangene vrylating te verkondig en aan blindes die herstel van gesig; om die, wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Daarna maak Hy die boek toe en sê vir Sy hoorders: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. „En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom."

Inderdaad was hierdie mense van Nasaret baie bevoorreg om Jesus so te kan hoor spreek. Tog was daar baie onder hulle wat aan Sy woorde geen geloof geheg het nie en wat later selfs met woede teen Hom vervul was en geprobeer het om Hom te dood. Ons moet egter ook daarop let dat Jesus sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Die wat horende doof is, is daar nie by gebaat nie, selfs al hoor hulle persoonlik Jesus' se woorde. Slegs die, wat bereid is om te luister, die wat glo , sien in Hom die Profeet, in wie die genadejaar aangebreek en die Godsryk gekom het.

En soos Christus as hoogste Profeet die Woord van God verkondig het aan sy tydgenote, so verkondig Hy dit deur die werking van die Heilige Gees nog steeds aan menseharte. Die vraag is net:  Is ons bereid om te luister, of is ons ook horende doof?

Christus is ook ons enigste Hoëpriester. In Israel was dit die taak van die priester om as middelaar op te tree tussen God en die volk. Die priester, wat tot sy heilige amp gewy is, nader God om aan Hom die dank- en soenoffers te bring van die volk en wederkerig dra hy die seën en bevele van God oor aan die volk. In hierdie sin was ook Christus 'n priester vir sy volk, met die verskil egter dat die offer, wat Christus gebring het tot versoening van die sonde van sy volk sy eie lewe was. Hy het op Golgota sy liggaam laat kruisig en sy bloed gestort tot vergewing van sondes, en daarmee het Hy 'n ewige verlossing teweeggebring. En waar die offers in Israel telkens herhaal moes word vanweë hulle betreklike waarde en ongenoegsaamheid, daar is die selfofferande van Christus van alles oortreffende waarde en genoegsaam vir die sonde van die hele wêreld. 1) En daarom is Hy ons enigste Hoëpriester, omdat geen ander priester ooit so 'n offer gebring het of sal kan bring nie.

Sy hoëpriesterlike amp sluit egter ook nog dit in, dat Hy met sy voorbidding gedurigdeur vir ons intree by die Vader. Christus het eenmaal die offer van sy lewe gebring en dit is vir altyd genoeg. Hierdie offer behoef nie, soos die Rooms Katolieke Kerk leer, elke dag herhaal te word nie, maar op grond van sy offer kan Christus vir ons pleit by die Vader, is Hy ons pleitbesorger, en so kan Hy deur sy voorspraak salig maak hulle, wat deur Hom tot God gaan.

Die werk van Christus as Hoëpriester vind op heerlike wyse uitdrukking in sy hoëpriesterlike gebed. (Joh. 17). Christus bid: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense, wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee. Ek bid vir hulle: Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort (Joh. 17, vers 6 en 9). En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het (vs. 22).

Sy werk as Hoëpriester kom ook op treffende wyse tot uiting, waar Hy in Getsemane en op Golgota sy lewe offer op die altaar van die ondeurgrondelike liefde van God.

Daar is Hy die lam wat geslag word vir die versoening van ons sondes. Daar betaal Hy met sy kosbaar bloed ons skuld.

So swaar was die offer van sy eie lewe, wat Hy gebring het, dat Hy gebid het: Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan, nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

Hoe heerlik het Hy Sy priesterlike werk volbring, toe Hy aan die kruis uitgeroep het: Dit is volbring!

Tenslotte is Christus ook beklee met die amp van Koning.

Die Messiasverwagting, soos die in Israel geleef het, het die Messias, die Christus, allereers verwag as Koning. Hy sou as „Seun van Dawid" vir Israel die Koninkryk weer oprig. En die messiaanse Koninkryk sou die van Koning Dawid selfs oortref. Maar Christus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. En toe die Jode in hulle aardsgesinde messiasverwagting teleurgestel gevoel het in Jesus, het hulle Hom aan die kruis gehang, met die sarkastiese spotskrif by sy hoof: Jesus die Nasarener, die Koning van die Jode. Maar Christus se Koninkryk is daar waar die Koning self is en heers, n.l. in die hemel, op die aarde, in die gemeente, in die gebroke en verslae hart. Die Koninkryk van die hemele behoort aan hulle wat arm is van gees, wat honger en dors na die geregtigheid, aan hulle wat rein van hart is en aan die wat barmhartigheid bewys (Matt. 5, vers 1-12) ja dit behoort aan almal, wat hulle deur die Woord en Gees van Christus laat regeer.

As Koning beskut en bewaar Christus ook sy gelowiges. Daar Hy graf en dood oorwin het, en as triomfator opgevaar het na die hemel, en waar aan Hom gegee is alle mag in hemel en op aarde (Matt. 28, vers 18) daar is die gelowiges in Hom mede-oorwinnaars. Hy lei hulle, hy bewaar en spaar hulle.

Maar behalwe Hoof van sy gemeente en van sy Kerk, is Hy ook Koning van die ganse aarde, want voor Hom moet buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is (Fil. 2, vers. 10).

So is Christus dan tegelykertyd ons Profeet, ons Priester en ons Koning. En soos Christus is, so moet die Christen wees. So Heer, so kneg, sê die spreekwoord, en soos die Meester is, so die leerling.

Elke gelowige word geroep tot profeet, d.w.s. tot getuie van God. Ons ontvang die Woord van God uit die Skrif en deur die Verkondiging en deur Gods Gees leef Gods Woord in ons harte.

En nou moet ons ganse lewe in woord en daad, 'n getuienis wees van Jesus Christus.  Die evangelie-dienaar het meer in die besonder 'n profetiese taak as die gewone lidmaat, want hy is geroep om Gods Woord te verkondig van die kansel, maar elkeen van ons word geroep om ons lig so te laat skyn voor die mense, dat hulle ons goeie werke kan sien en ons Vader, wat in die hemele is, verheerlik (Matt. 5, vers 16). En ons dade spreek menigmaal 'n duideliker taal as ons woorde.

Die Christen is ook priester. Allereers in hierdie sin dat hy self tot God kan gaan in die naam van Jesus Christus en gemeenskap met God kan oefen. Hy het nie, soos dit was tydens die ou bedeling, 'n priester as bemiddelaar nodig nie. Nee, hy is self priester. Maar verder bestaan sy priesterlike roeping hierin dat sy lewe 'n dankoffer moet wees, d.w.s. 'n lewe wat gekenmerk is deur offerandes en selfopofferings, gedoen uit dankbaarheid jeens God vir sy verlossing in Christus Jesus.

Elke dag moet ons lewe 'n dankoffer wees aan God.

En tenslotte moet ons as Christene ook wees konings. Nie om te heers nie, altans nie hier op aarde nie, maar om te stry, soos 'n koning die stryd voer tot 'n oorwinning. Ons moet stry met 'n skoon gewete, met 'n liefde en ywer wat brand vir Gods Koninkryk. Ons moet stry die stryd van die geloof, gewapen met die swaard van die godsvertroue en die borswapen van die geregtigheid.

Ons behoort hier op aarde tot die strydende Kerk, maar eenmaal sal ons, as ons volhard, behoort tot die triomferende Kerk.

En na die koninklike stryd wag vir ons die kroon van die geregtigheid, want Hy help ons stry van wie ons sing:

U het ons met die rang en moed

van konings beweldadig,

gewy tot priesters deur u bloed

en ryklik begenadig.     

Amen. 

W. Van Bergen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more