Hk 13 U Enigste Troos
SONDAG 13
Gods eniggebore Seun, onse Heer
Lees: Johannes 20, vs. 19-31.
Sing: Psalm 89, vs. 1 en 7; Gesang 52, vs. 2; Gesang 2 vs. 3; Gesang 83, vs. 3 en 4.
Vraag 33: Waarom word Hy die eniggebore Seun van God genoem daar ons tog ook kinders van God is?
Antwoord: Omdat Christus alleen die ewige, natuurlike Seun van God is, terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is.
Vraag 34: Waarom noem u Hom onse Here?
Antwoord: Omdat Hy ons met liggaam en siel van die sondes en uit alle mag van die Duiwel, nie met goud of silwer nie, maar met sy dierbare bloed vir Hom tot 'n eiendom verlos en gekoop het.
Vraag 33 handel oor die Godheid van Jesus Christus. Op die bespreking van die persoons- en die ampsnaam volg die van die waaragtig goddelike en die waaragtig menslike natuur van die Verlosser. Die eerste benaming wys op die betrekking van Jesus Christus tot God, sy Vader; die ander op sy betrekking tot ons, sy duurgekoopte gemeente. As ons van goddelike dinge spreek, dan moet ons al tyd bedenk, dat ons dit slegs kan doen in benaderende vergelyking met menslike verhoudinge, omdat dit die menslike taal ontbreek aan uitdrukkinge, wat aan die aard van die goddelike beantwoord en dit algemeen verstaanbaar kan maak. Die seun van 'n mens is weer 'n mens, het die wese van die vader, van wie hy afstam. So wil ook die aanduiding „Seun van God" sê dat Jesus Christus die wese of die natuur van God het en dus God self is. Die goddelike verborgenheid, wat ook in die openbaring op hierdie punt vir ons oorbly, sal ons met ons denke nooit deurgrond of in woorde duidelik kan uitdruk nie. Ook daarvan kan ons sê, net soos van Gods alwetendheid: „Die kennis is vir my te wonderbaar, dit is te hoog, ek kan daar nie by nie." (Ps. 139, vs. 6.)
Die uitdrukking Gods Seun of kinders van God word in die Skrif gebruik van die engele (Job 1 vs. 6, 2 vs. 1), van Israel (Hosea 11, vs. 1), van die gelowiges, die gemeente (Joh. 1, vs. 12), van die regters of owerheidspersone onder Israel (Ps. 82, vs. 6), van die koning onder Israel, as 'n ampsnaam (Ps. 2, vs. 7, 2 Sam. 7, vs. 14), van die koning by uitnemendheid, die verwagte Messias (Joh. , vs. 50).
Christus word genoem die Seun van God deur Christus self. (Joh. 10. vs. 36.) Hy spreek van God as sy Vader deur sy dissipels (Matt. 16, vs. 16.) „ U is die Christus, die Seun van die lewende God ..." deur die Evangeliste. Vergelyk ook Luk. 1, vs. 35, Matt. 17, vs. 5. Christus word genoem Gods eniggebore Seun, en dit onderskei Hom van alle ander, wat Gods kinders heet. Hy is as Seun van God gebore, nie geskape, nog gemaak nie. Hy is dit kragtens sy wese, en as sodanig die enige (Joh. 1, vs. 14, Joh. 3, vs. 16). Christus word genoem die natuurlike Seun van God, d.w.s. dat Hy nie tot Seun van God gemaak of aangeneem is nie, maar dit is na sy wese. Paulus noem dit Gods eie Seun (Rom. 8, vs. 32, Kol. 2, vs. 9). Die geheel-enige betekenis van hierdie Seunskap word dus duidelik op die voorgrond gestel. Christus onderskei tussen sy verhouding tot God en die van die gelowiges. As Hy spreek met sy dissipels oor God dan sê Hy, My Vader of u Vader (Joh. 15, vs. Matt. 6, vs. 32), nooit „ons Vader" nie (Joh. 20, vs. 17). Afgewys moet dus word die voorstelling, asof volgens die Skrif Christus die Seun van God is of deur die aanneming deur God (adopsie) of kragtens sy voortreflike liefde tot God en die liefde van God tot Hom, of weens die bonatuurlike geboorte as mens, of alleen omdat Hy die Messias is. Maar Hy is dit van nature en daarom ook van ewigheid. Christus word genoem die ewige Seun van God (Joh. 8, vs. 58, Joh. 17, vs. 5). Die Godheid van Christus word duidelik in die Skrif geleer. Hy word God genoem (Joh. 20, vs. 28, Rom. 9, vs. 5). Hy spreek en handel uit die bewussyn van sy Godheid. Hy sê: „Ek is die lig van die wêreld (Joh. 8, vs. .12), die brood van die lewe (Joh. 6, vs. 48), die goeie Herder (10, vs. 2), die deur van die skape (10, vs. 7), die ware wynstok (15, vs. 1), die weg, en die waarheid en die lewe (14, vs. 6). „Wie My gesien het, het die Vader gesien" (Joh. 14, vs. 9). „Ek en die Vader is een" (Joh. 10, vs. 30). Hy verrig wonders; ook wek Hy dooies op; Hy vergewe die sondes, ken Nathanael voordat Hy hom ontmoet het (Joh. 1, vs. 49), beloof na sy verheerliking sy alomteenwoordigheid (Matt. 28 ,vs. 20), doen versekering van sy almag (Matt. 28, vs. 18), skryf Homself heerlikheid toe by die Vader, eer die wêreld was (Joh. 17, vs. 5), eis vir Hom dieselfde eer as vir die Vader (Joh. 5, vs. 23) en het Hom laat veroordeel ter dood, omdat Hy Hom aan God gelyk gemaak het na die oordeel van sy regters.
Goddelike werke word aan Hom toegeskrywe of skryf Christus Homself toe (Joh. 1, vs. 3, Hebr. 1, vs. 3). Die aanbidding word aan Hom gebring, wat uitsluitend aan God toekom maar deur Jesus op aarde, nie afgewys word nie en ook na sy verheerliking aan Hom toegebring word (Joh. 20 vs. 28, Openb. 5, vs. 12). As Seun is Hy aan die Vader onderworpe, omdat Hy die Seun is en nie die Vader nie, en dit nie alleen gedurende sy lewe van vernedering nie, maar ook na sy verhoging (Joh. 14, vs. 28, I Kor. 15, vs. 28).
Die betekenis van die belydenis van die Godheid van Christus. Met hierdie belydenis staan en val die christelike geloof. By haar ontkenning verloor die Christendom sy absolute karakter (I Joh. 2, vs. 22). Met die Godheid gaan dan ook verlore die openbaring van God in Christus (I. Joh 2, vs. 2), wat die feitlike grondslag is van die christelike geloof. Feit en leer is hier nie te skei nie. Die Godheid van Christus is geen leer nie, maar die Evangelie self. As sodanig het die Christelike Kerk hierdie belydenis altyd beskou en bely. Die bestryding lewer veral in ons dae groot moeilikheid op, sodat ons die regte standpunt daarteenoor moet soek om in te neem. Mens spreek van en soek die historiese Jesus. Daarom moet dit ook die gelowige Christen te doen wees. In die laatste eeu was daar verskillende Christusbeskouinge in verband met die historiese Jesus en die dogmatiese Jesus. Die kwessies word nou geheel anders gestel as vroeër. Mens vra nie meer: Wat sê Jesus tot ons tyd nie? Dit gaan tog nie, so sê mens, dat eenmaal vir alle tye die absolute waarheid sou gegee wees nie. Ons dink en voel en leef so geheel anders dan in Jesus se dae. Dit het die vraag geword: Wat sê ons tyd van Jesus ? Dit mag ons verbly, dat mens soveel met Hom besig is. Ook mag die Christen nooit anders dan met historiese sin die verlede besien nie. Dit is hom ten laaste nie om 'n dogma te doen nie. Maar wat het daar van die historiese Jesus geword ? Elkeen het nou sy eie Christusbeskouing, wat op die naam wetenskaplik aanspraak maak. Daarmee het die wetenskap haar onmag bewys. Sy bring dit nie aan ons nie. Teenoor dit behoef die gemeente haar geloof nog nie prys te gee nie, al sal sy dit miskien op andere wyse uitspreek as vroeër. En die verklaring daarvan vind die Christen in sy belydenis: God geopenbaar in die vlees.
Die "histories" Jesus is tot vandag toe nog slegs 'n willekeurige Jesus. Wetenskaplik laat Hy Hom nie vind nie. Ons ontleen, wat ons van Jesus weet, uitsluitend aan die Evangelies. Daarin lê tog ook volgens die nuutste ondersoek die oorlewering aangaande Hom bewaar van voor die verwoesting van Jerusalem (70 n. C.). Ons moet aan die Evangelies reg laat wedervaar. Geskiedenis in die strikte sin van die woord is dit nie, maar as getuienis aangaande Christus moet dit aangeneem word. Daarom is dit alleen te verstaan deur hulle, wat nie slegs die morele of godsdienstige of sosiale Christus soek nie, maar Hom, in wie die apostels hul Saligmaker gevind het. En Hom sal ons alleen vind langs dieselfde weg wat hulle gegaan het. Die dogma van die Godheid van Christus was by hulle nie die eerste gewees nie, maar deur die kennis van die Christus het hulle tot die belydenis van sy Godheid gekom. Hul geloof is nie los te maak van die historiese grondslag van die persoonlikheid van Christus nie. Die grondslag is vir ons neergelê in die Evangelies, daarby voeg sig die ervaring van vele eeue. Christus is vir die gelowiges die openbaring van die liefde van God (Joh. 3, vs. 16), en so bly Hy die voorwerp van die ondersoek en die aanskouing van die geloof, wat in elke tyd die Christus weer anders besien en bely, omdat in Hom die volheid van die Godheid woon wat nooit uitgeput word nie.
Waarom word ons kinders van God genoem? Terwyl Jesus Gods eie Seun is, word die gelowiges tot Gods kinders aangeneem (Joh. 1, vs. 12, Ef. 1, vs. 5, Gal. 3, vs. 26, 27, Rom. 8, vs. 16, Markus 3, vs. 34). Ook word die gelowiges tot kinders van God aangeneem uit genade (Luk. 15, vs. 19, 2 Kor. 6, vs. 17, 28). Die kindsheid geld in die wêreld vir die gelukkigste tyd en vir die lieflikste verhouding van die lewe. Die saligste toestand op aarde is om deur die geloof in Jesus, Gods Seun, 'n kind van God te wees, want dit bly mens tot in ewigheid. Hierdie kindskap sluit in sig die kinderlike sin (Matt. 5, vs. 9); die kinderlike reg om met alles tot die Vader te gaan (Rom. 8, vs. 15); die kinderlike tug (Hebr. 12, vs. 6, 7); die kinderlike liefde (I Joh. 4, vs. 19, I Joh. 4, vs. 7); die kinderlike erfenis, die ewige saligheid en heerlikheid (Rom. 8, vs. 17). As kinders van God het ons dus God tot 'n Vader, Christus tot 'n Broeder, die engele tot dienaars, die hemel tot ons vaderhuis en die ewige heerlikheid tot ons erfenis.
Christus word ons Here genoem, omdat Hy ons met liggaam en siel tot sy eiendom gemaak het (vraag 34). Waarvan het Christus ons verlos ? Van die sonde en van alle heerskappy van die Duiwel. Waardeur het Christus ons verlos ? Nie met goud of silwer nie, maar met sy dierbare bloed. Waartoe het Christus ons verlos ? Sodat ons met liggaam en siel sy eiendom sou wees.
Waarvan het Christus ons verlos ?
Verlos is losmaak, bevry, in die besonder loskoop. Hy het ons van die sonde losgekoop, nie omdat ons aan onsself sou behoort of aan iemand anders nie, maar omdat Hy ons daarmee tegelyk aan Homself tot 'n eiendom sou maak. Volgens die wet van Moses kon 'n verarmde Israeliet hom aan 'n vreemde, wat in Kanana gewoon het, as kneg (slaaf) verkoop. Hy kon dan reeds voor die jubeljaar of vrylatingsjaar, waarin alle slawe sonder losgeld vry word, losgekoop word, en sy broers of naaste verwante was verplig om dit te doen, as hy vir homself nie soveel verwerf het, dat hy hom nie kon loskoop nie (Lev. 25, vs. 47-54). Van nature is ons almal verarm en skuldig deur die sonde (Rom. 3, vs. 23). Ons is dan ook verkoop onder die sonde en het in die mag van die bewerker van die sonde gekom, die Duiwel, die vreemde (Rom. 7, vs. 14). „Ek is verkoop onder die sonde." Vergelyk verder Rom. 6, vs. 17, Rom. 3, vs. 12, Ps. 49, vs. 8, 9, I Tim. 2, vs. 5, 6 — Christus het ons van die sonde verlos en vrygekoop, van die skuld van die sonde (Kol. 1, vs. 14); van die mag van die sonde (Rom. 8, vs. 10); van die straf van die sonde, d.i. van die dood; van die vrees vir die dood (Hebr. 2, vs. I 5) ; van die geestelike dood (I Joh. 3, vs. 14); van die ewige dood (Joh. 8, vs. 51). Christus het ons verlos en vrygekoop van die mag van die Duiwel. Deur die sonde het ons nie die eiendom van die Duiwel geword nie, maar onder sy mag gekom. God bly die enige eienaar van die gehele aarde, dus ook van alle mense. Daarom het Christus geen losgeld te betaal aan die Duiwel nie, maar wel het Hy Hom oorgegee aan die mag van die duisternis as 'n getuienis tot sy tyd (I Tim. 2, vs. 6) en tot alle tye, dat Hy waarlik die Verlosser is (Luk. 22, vs. 53, Joh. 14, vs. 30, Hebr. 2, vs. 14).
"Waardeur het Christus ons verlos ?
By die loskoping van 'n slaaf het die losgeld in silwer of goud bestaan. Daarby het dit gegaan om 'n tydelike vryheid en uitwendige diensbaarheid. By die verlossing van die sonde gaan dit daarom, dat liggaam en siel verlos word van die inwendige gebondenheid aan die sonde en dit vir ewig, wat met verganklike silwer en goud nie kan gebeur nie. Ook is die waarde van 'n mensesiel so groot, dat dit die van al die goud en silwer van die gehele wêreld ver te bowe gaan (Matt. 16, vs. 26). Volgens die barmhartige liefde van God moes en kon die losgeld slegs bestaan in die bloed van sy Seun, d.i. in die volkome oorgawe van sy lewe tot in die geweldige bloedige dood. Die bloed van Christus is dierbaar d.i. duur, omdat dit as die bloed van die Seun van God van so groot waarde is (Matt. 20, vs. 28, Matt. 26, vs. 28, Ef. 1, vs. 7, 1 Petr. 1, vs. 18, 19, Openb. 5, vs. 9).
Waartoe het Christus ons verlos ?
Almal, wat weet dat hulle deur Christus verlos is, weet ook daarmee dat hulle deur Hom gekoop is, sodat hulle sy eiendom is en Hy hul Heer geword het (Tit. 2, vs. 14). Die eiendom van Christus is dus die gelowiges, en as ons deur die Heilige Gees wedergebore is, sal ons Hom ons Heer noem (Joh. 20, vs. 28,
Ef. 1, vs. 13, 14). Alle gelowiges, die gemeente deur alle tye, het Hom dan ook as hul Heer bely. Christus is Heer oor almal en oor alles, ook oor die ongelowiges en sy vyande, hoewel hulle Hom as die Heer nie ken en hulle nie aan Hom onderwerp nie, en Hy sal eenmaal oor die hele wêreld seëvier (Luk. 19, vs. 14, Ef. 1, vs. 22, Hebr. 1, vs. 2, I Kor. 15, vs. 25, Hand. 2, vs. 36, Fil. 2, vs. 10).
Maar nou dat ons weet, dat in Christus God self vir ons is, wat kan daar teen ons wees ? Kom dan, laat ons in die felle stryd van die eeu die banier moedig hef, waarin die leuse geskrywe staan: „Jesus Christus, Gods Eniggebore Seun, ons Heer!" Verbly u, gelowiges, dat hierdie waarheid, hoe dikwels ook skynbaar gestorwe en begrawe, telkens uit haar graf weer opstaan, en op die troon geplaas word! Verbly u dubbel, as u waardig geag word om die smaadheid van Christus te ly. Bestry die dwalendes in die gees van sagmoedigheid en sien toe, dat u nie self uit u vastigheid uitgeruk word nie. Laat die roem van u geloof ook die krag van u lewe en die stof van u vreugde, u prikkel tot heiliging wees. Bou onvoorwaardelik op die Woord van u Heer. Laat u geheel vernu deur die Gees van die Heer; Hy, die Eniggebore Seun, moet ook die eersgeborene onder vele broeders word. Kom vrymoedig uit vir die Heer; dit is die eervolste en beste van alle dienste op aarde. Is Gods eie Seun u Heer, word dan ook geen dienskneg van mense nie, en verag selfs die kleinste nie wat Hy met sy bloed gekoop het nie. Is u Heer Gods Seun, gee dan ook alles, wat u hart beswaar, aan Hom oor. Wat ook ontbreek of wegval, Hy sal seën as 'n God, troos as 'n God, sterk as 'n God, saligmaak as 'n God. Eenmaal sal elke knie sig voor Hom buig en elke tong sal Hom bely. Christene, u wat deur die geloof in Gods Eniggebore Seun, onse Heer, leef, mag ons hele lewe hier 'n voorbereiding vir die belydenis en daardie loflied daarbo wees! Daarom is ook die woorde van die gesangdigter ons belydenis:
„Ek geloof in Jesus Christus,
„eengebore Seun van God,
„deur wie alles is geskape,
„Woord by God, en self ook God;
„Ek vereer Hom soos die Vader,
„buig my dankbaar voor Hom neer,
„wat my vrygekoop, verlos het —
„Hom erken ek as my Heer."
Ges. 52, vs. 2.
Amen.
P. J. Booysen.