Hk 16 U Enigste Troos
SONDAG 16
Gesterwe, begrawe, neergedaal na die hel
Lees: Psalm 22, vs. 1-20 en/of 1 Petrus 1, vs. 13-25 ; Johannes 19, vs. 28-42.
Sing: Psalm 118, vs. 11, Gesang 117, vs. 9; Gesang 128, vs. 7; Gesang 125, vs. 2.
Vraag 40: Waarom moes Christus Hom tot in die dood verneder?
Antwoord: Omdat weens die geregtigheid en waarheid van God nie anders vir ons sondes betaal kon word as deur die dood van die Seun van God nie.
Vraag 41; Waarom is Hy begrawe?
Antwoord: Om daarmee te betuig dat Hy waarlik gesterf het.
Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, hoe kom dit dat ons ook moet sterwe ?
Antwoord: Ons dood is geen betaling vir ons sondes nie, maar alleen 'n afsterwing van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe.
Vraag 43: Watter nut verkry ons nog meer uit die offerande en die dood van Christus aan die kruis?
Antwoord: Dat deur sy krag ons oue mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe word, sodat die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie, maar ons onsself aan Hom as 'n offerande van dankbaarheid toewy.
Vraag 44: Waarom volg daar: neergedaal na die hel?
Antwoord: Dat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus deur sy onuitspreeklike benoudheid, smarte, verskrikkinge en helse pyn waarin Hy in sy ganse lyde maar veral aan die kruis versink het, my van die helse benoudheid en pyn verlos het.
Onse Here Jesus Christus het in die sakrament van die heilige Nagmaal 'n onwaardeerbare erfenis vir sy gelowiges agtergelaat. En as die Apostel Paulus aan die gemeente van Korinthe skrywe, vermaan hy hulle met nadruk om die dood van die Here te verkondig totdat Hy kom. Nog al die eeue deur word onder die gelowige volk van die Here hierdie voorskrif gehoorsaam, so dikwels op gesette tye Nagmaal gevier word. Die soendood van onse Here Jesus Christus is dan ook die enigste grond en fondament van ons saligheid.
So het die apostels dit ook gesien. In hulle prediking het die opstanding van onse Here Jesus Christus aanvanklik op die voorgrond gestaan, maar mettertyd het hulle steeds meer klem gelê op die kruisdood as ons enigste troos in lewe en in sterwe. Dit verwonder ons nie, want deur sy borgtogtelike lyde en sterwe het onse Here Jesus Christus die oorsaak van ons ewige honger en kommer, naamlik die sonde weggeneem. Dit is dan ook heeltemal natuurlik dat die dood van onse Here Jesus 'n belangrike plek inneem in ons Geloofsbelydenis. In verband hiermee bely ons dat Hy gesterwe het, begrawe is en neergedaal het na die hel.
Laat ons die betekenis hiervan nader ondersoek.
Toe die Here Jesus aan die kruis gehang het en deur die gepeupel bespot en belaster is en Hy oplaas in 'n ontroerende smartkreet uiting aan sy ondeurgrondelike verlatenheid gegee het, was die maat van sy namelose vernedering en lyde nog nie vol nie. Daar moes nog meer bykom eer die volle losprys betaal sou wees. Hy moes as die borg van ons siel ook nog die dood ingaan — nie alleen die liggaamlike dood as skeiding van siel en liggaam nie, maar ook die ewige dood as die loon van die sonde, dis die dood nog met sy angel, die dood as die vonnis van God oor die sonde. Ons stamvader het deur sy ongehoorsaamheid in die paradys die gebod van God oortree en hom en sy nageslag daarmee aan die ewige dood skuldig gemaak. Hy het God tot leuenaar gemaak en aan God die reg ontsê om die wet vir hom daar te stel. Om nou aan die waarheid en geregtigheid van God te voldoen moes onse Here Jesus die straf van die ewige dood ondergaan. Alleen langs hierdie weg kon Hy sy volk daarvan onthef.
Hy het opgetree as ons plaasvervanger en het as sodanig ons sonde op Hom geneem asof Hy alleen daar verantwoordelik voor was, en ons skande gedra asof Hy dit verdien het, en Hy het Homself tot in die allerdiepste versmaadheid en angs van die hel, met liggaam en siel, aan die vloekhout verneder. Die dood het hoegenaamd geen reg op Hom gehad nie, maar omdat Hy getree het in die plek van ons wat die dood verdien het, het die dood Hom as sy regmatige prooi gegryp.
Dit was egter nog nie die einde van sy namelose vernedering nie, want selfs nadat Hy sy gees in die hande van die Vader oorgegee het, was sy ontsielde liggaam nie vry nie. Omdat Hy as 'n veroordeelde gesterwe het, het sy liggaam aan die staat behoort en moes verlof van die owerheid gevra word om dit van die kruispaal af te haal en te begrawe. Ook hierdie skande moes Hy dra! Geen smart na liggaam en siel en geen smaad en vernedering is Hom bespaar nie.
Nog dieper vernedering moes Hy ondergaan, want ook in die graf moes Hy indaal. Sy begrafnis moes vereers as 'n bewys dien, dat Hy werklik gesterwe het en dat so sy verlossingswerk inderdaad volkome was. Die graf is net soos die dood ook 'n gevolg van die sonde en hoort by die dood. Dis 'n deel van die straf vir die sonde. Ook hierdie smaad en oordeel moes onse Here Jesus dra. Met sy indaling in die graf het Hy die diepste afgrond van sy vernedering bereik. Daar was, soos iemand dit êrens uitdruk, vir Hom geen troos in die graf wat vir Hom gewag het nie en geen enkele ligstraal wat die donkerheid daarvan vir Hom verhelder het nie. In een woord, die graf was vir Hom wat dit vir ons sou gewees het as Hy die boeie daarvan nie verbreek het nie en as ons sonder genade en sonder heilsverwagting sou moes gesterwe het.
Maar nog meer. Deur self in die graf weggelê te word het Hy die smaad van die graf op Hom geneem en daardeur die graf vir sy gelowiges geheilig en die verskrikking daarvan weggeneem. Dood en graf kon Hom as hulle prooi nie hou nie. Hy het dood en graf oorwin en vir sy gelowiges 'n geopende graf agtergelaat. Daarom vrees ons ook die graf nie, want daarin rus nou ons stof onder die eie hoede van God tot die opstandingsmôre toe, wanneer dit op die magwoord van God verheerlik en onverderflik sal opstaan, gelykvormig aan die verheerlikte liggaam van Christus, om met die siel, wat reeds vooruitgegaan het, herenig te word.
As onse Here Jesus vir ons gesterwe het, moes die dood ons dan nie bespaar gebly het nie? Waarom moet ons dan ook sterwe ?
Die Skrif leer ons dat ons dood geen betaling vir ons sondes is nie, maar alleen 'n afsterwing van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe. Die dood as betaling vir die sonde het onse Here Jesus vir ons gesterwe. Hierdie oordeel het Hom in ons plek getref.
Hy het ons daarvan bevry, sodat die dood in eintlike sin nou agter ons lê en ons dood as vrug van die plaasbekledende dood van onse Here Jesus vir ons 'n oorgang in hemelse geluksaligheid is. Deur sy soendood het Hy die straf van die sonde vir ons uit lyding, dood en graf weggeneem. Die lyding van die gelowige kind van God is nou 'n vaderlike kastyding wat dien tot sy heiliging en vorming; die dood van die gelowige is nou vir hom die laaste skakel in die ketting van sy heiligmaking en die ingang in heerlikheid; en die graf is vir die gelowige nou omgeskep tot 'n rusplek vir sy stof tot die jongste dag. Solank as wat ons nog hier op aarde is, moet ons sonder onderbreking teen die satan, die wêreld en ons verdorwe natuur stry, maar wanneer ons sterwe dan breek ons verlossings- en oorwinningsuur aan: dan is die stryd volstry en lê ons alle onvolkomenheid af om volmaak in Christus voor God in Sion te verskyn!
Wanneer ons dink aan die ewige heil wat Christus vir ons verwerf het, kan ons nie anders nie as om onsself uit dankbare liefde aan Hom toe te wy en om die sonde deur sy genade al meer af te sterwe en in 'n nuwe lewe te wandel.
Op nog 'n besonderheid in hierdie verband moet ons let.
Die heilige Skrif leer ons dat God die sonde nie alleen met die tydelike, liggaamlike, maar ook met die ewige dood straf. Om ons hiervan te verlos moes onse Here Jesus, wat in ons plek opgetree en ons sonde vir sy rekening geneem het, ook hierdie straf, wat ons verdien het, dra. Hy moes alles ondergaan wat anders ons ontsettende lot sou gewees het. Hy moes al meer in die grondelose diepte van ons ewige verlorenheid indaal, totdat Hy daarin so diep weggesink het, dat Hy as 'n verlorene die helse verskrikkinge, benoudhede en pyne wesenlik gesmaak het, veral toe uit hierdie bodemlose afgrond die ontroerende roep opgeklink het: „My God! My God! Waarom het U My verlaat?"
Daarom staan daar ook in ons Belydenis dat Jesus neergedaal het na die hel. Dit wil nie sê, soos ons Kategismus dit trouens ook duidelik maak, dat Jesus na sy dood in die hel was nie, maar beteken dat Hy die onuitspreeklike hellesmart gedurende sy lewe reeds gely het, insonderheid dan in Getsemane en aan die kruis en gedurende die skriklike ure toe die duisternis die offerheuwel omhul het.
Hierdie smarte, angste en benoudhede het Hy gely om ons daar van te bevry. Hy het ons vlees en bloed aangeneem en die toorn van God, waaronder ons ewig moes versink het, van die begin van sy menswording af tot aan die einde van sy lewe op aarde vir ons gedra en alle gehoorsaamheid aan die goddelike wet en alle geregtigheid vir ons vervul. Hy het Hom laat bind om ons te ontbind en het ontelbare smaadhede gely, sodat ons nimmermeer tot skande sou word nie. Hy is onskuldig tot die dood veroordeel, sodat ons voor die gerig van God vrygespreek sou word en het ons vervloeking op Hom geneem om ons met sy seëninge te vervul. Hy is deur God verlaat, sodat ons tot God geneem en nimmermeer deur Hom verlaat sou word nie.
Die ewige dood in die hel is, soos iemand dit uitdruk, die volstrekte afsnyding van alle gemeenskap met God; dan word daar niks meer van die genade van God gesmaak nie. Hoe roekeloos die mens owerigens ook mag wees, hy is hier op aarde dan tog nog deur die algemene genade van God altyd 'n voorwerp van die goedheid van God, maar in die hel is dit vergoed gedaan. Daar heers geen genade nie. Hierdie verlatenheid het Jesus aan die kruis deurworstel en deurly, waar Hy, wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak is en daarom van alle genade afgesny is! En omdat onse Here Jesus ook hierdie straf vir ons gedra het, kan die apostel dit dankbaar uitjubel: „Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie."
Met die hel word daar soms gespot en die bestaan daarvan word ook nog soms ontken. Veral in die eeu waarin ons lewe en wat in sonde geen skuld sien nie word die hel graag as verouderde begrip weggeredeneer. Dat die toorn van God so groot is dat Hy dit, eerder as om dit ongestraf te laat bly, aan sy liewe Seun Jesus Christus met die bittere en smadelike dood van die kruis gestraf het, word eenvoudig veronagsaam. Intussen is dit wel opmerklik, dat hoe meer die vrees vir die hel afneem en die geloof aan die hellestraf verswak, hoe meer ook die Godvergetenheid en skuldige onboetvaardigheid toeneem.
Ons staan as gelowiges voortdurend bloot aan die felle en listige aanvegtinge van die satan, wat met die inspanning van al sy kragte op ons ondergang mik en in sy stryd teen ons geen genade ken nie. Wie egter die volle wapenrusting van God in hierdie worstelstryd opneem, hoef nie aan die uitslag te twyfel nie. Ons mag die stryd teen die magtige en sluwe sielevyand aanbind, met die besielende en vertroostende oortuiging, dat niemand ons uit die hand van onse Here Christus sal ruk nie; vir ons is daar geen veroordeling nie, want ons Plaasvervanger het die oordeel vir ons reeds gedra. Daarom getuig ons dan ook dankbaar en ootmoedig, dat ons deur Hom wat ons liefgehad het, wat vir ons gesterwe het en ook opgewek is, wat aan die regterhand van God is en vir ons intree, meer as oorwinnaars is. Aan Hom kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
Amen.
D. F. Erasmus.