Hk 18 U Enigste Troos
SONDAG 18
Die hemelvaart van Christus
Leer: Handelinge 1, vs. 1-14
Sing: Psalm 68, vs. 9; Gesang 144, vs. 1; Gesang 148, vs. 1 en 4.
Vraag 46: Wat verstaan u onder: wat opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Dat Christus voor die oë van sy dissipels van die aarde na die hemel opgevaar het, en dat Hy ons ten goede daar is, totdat Hy weerkom om te oordeel die lewende en die dode.
Vraag 47: Is Christus dan nie by ons tot aan die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie?
Antwoord: Christus is waaragtige mens en waaragtige God. Na sy menslike natuur is Hy nou nie meer op aarde nie; maar na sy Godheid, majesteit, genade en Gees wyk Hy nooit meer van ons nie.
Vraag 48: Maar as die mensheid nie orals is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?
Antwoord: Stellig nie; want aangesien die Godheid deur niks begrens kan word nie, en oral teenwoordig is, moet daaruit volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid is, en ewenwel tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.
Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel voor die aangesig van sy Vader ons Voorspraak is.
Ten tweede dat ons, ons vlees in die hemel as 'n gewisse pand het, dat Hy as die Hoof, ons sy lede ook tot Hom sal neem.
Ten derde dat Hy ons sy Gees as 'n teenpand stuur, deur wie se krag ons soek wat daarbo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie wat op aarde is nie.
Die hemelvaart van Christus maak op ons gemoed die indruk van sagte aandwolke, waaragter die volle maan die skynsel deurlaat.
In een van die ou christelike kerkliedere word gesing: „Ag wat beproef u die liefde van u bruid!"
Dit was seker ook die gemoedsgesteldheid van die dissipels daar op die top van die Olyfberg, toe 'n wolk die opgestane Christus so meteens voor hulle oë weggeneem het. Die wolk was waarlik soos 'n sagte aandwolk wat die „heerlike skynsel deurlaat." Hierdie Jesus wat van julle opgeneem „is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het" (Hand. 1, vs. 1).
Wat 'n heerlike onderwerp van prediking, die hemelvaart van onse Here Jesus Christus. Veertig dae verskyn die Here Jesus na sy opstanding aan sy dissipels en gelowiges.
Jesus het nie meer gepreek nie, geen krankes genees nie. Die tyd het aangebreek dat Hy sou weggaan van hierdie aarde, waarop sy Heilandsvoete 33 jaar gewandel het.
Maar daar was 'n belofte. Hulle moes wag op sy belofte, die belofte van die Vader, wat hulle van Hom gehoor het. Die belofte sou bestaan in die krag van die Heilige Gees, wat hulle sou ontvang. Daarna moet hulle uitgaan as getuies in Jerusalem, die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.
Eenmaal het 'n Elia met 'n vurige blinkende wa en perde na die hemel gevaar. Jesus wat meer was dan Elia, gaan na sy Vader op 'n wolkewa omring van hemelse heerlikheid.
Die hemelvaart van Christus was sy verhoging na sy vernedering. Dit was die rus na die stryd. Hier is veral drie groot gedagtes wat ons by die hemelvaart van Christus moet oordink:
Wat moet ons daaronder verstaan?
Die woord wat Christus tot Maria Magdalena gespreek het word nou vervul: „Ek vaar op tot my Vader en u Vader, tot my God en u God." En nou staan Hy gereed. Profeties het Hy van die dinge van die toekoms gespreek. Priesterlik hef Hy sy hande seënend op om hulle sy laaste seën te skenk. Koninklik staan Hy gereed om die vir Hom wagtende troon te bestyg.
Jesus styg op, eers langsaam maar al sneller en sneller daardie oord tegemoet waar enkel lig en heerlikheid Hom sal omgewe. Maar voordat Hy as 'n onmerkbare stippeltjie in hoër sfere verdwyn, word 'n wolk voorsien, waarop Hy uit die gesig verdwyn.
Nou moet die dissipels straks sonder Hom die Olyfberg verlaat. Jesus Christus se sigbare hemelvaart is 'n feit wat nie geloën kan word nie. Die hemelvaart is die natuurlike gevolg van die Opstanding van Christus.
Die opgestane Christus is die verheerlikte Christus. En hierdie gebeurtenis is nie die einde, maar slegs die oorgang van Hom, wat wel heengegaan het maar heengegaan om voort te lewe en te werk, maar ook om terug te kom.
Hierdie wonder gebeurtenis was maar net die vervulling van die Here se eie woord tot die dissipels, tot die Jode, en tot sy hoorders. Verdien Hy wat Hom so diep verneder het, nie dat Hy netso uitermate verhoog, en bo alle Godsgesante, voor en na Hom, onderskei word nie?
Hoe baie gedagtes vermenigvuldig in ons binneste. Ons dink aan die plek waarvandaan Jesus opvaar. Die Olyfberg met Getsemane aan sy voet, Betanië in sy nabyheid, Jerusalem in die verskiet. Wat 'n herinnering, maar ook wat 'n vergoeding, beloning op sy werk!
Ons dink aan die omstandighede so in volle harmonie met sy lewe. Elia is in 'n onweer weggeneem, Jesus asof in die gesuis van 'n sagte stilte.
Ons dink aan die plek waarheen die Christus oorgebring word. Uit die hemelse heerlikheid het Hy gegaan, op aarde gebore, gelewe, gewerk, gesterwe in nederige dienskneggestalte. Drie-en-dertig jare was Hy vreemdeling op die wêreld. Soos 'n held het Hy gestry; soos 'n wurm het Hy in Getsemane gekruip; soos 'n lam is Hy geslag, maar nou is net triomf, triomf, die leeu uit Juda se stam het oorwin.
Die Bybel spreek van 'n hemelse paradys, van 'n Vaderhuis met vele woninge, van 'n bruilofsmaaltyd van die Lam, van 'n nuwe Jerusalem, van 'n heilige tempel waar goue harpe die lied van Skepping en Verlossing laat weerklink.
Daar het die Verlosser by en deur sy hemelvaart binnegegaan. Daar bly Hy as koning van die Godsryk, verhoog, verheerlik, totdat die voleinding van die eeue Hom wenk om as Regter sigbaar op die wolke van die hemel te kom.
Wat 'n glans en bo-aardse luister omstraal Hom. En ons bring hulde aan die verheerlikte Heer, want wat geen oog gesien het, geen oor gehoor het, en nog nooit in 'n mensehart opgeklim het nie, dit het die Vader berei aan die verhoogde Seun van sy ewige liefde!
Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Vraag 47 en vraag 48 wil 'n heerlike troosantwoord gee, hoe Jesus heengegaan het om altyd by die synes te bly. Hoor die vraag: „Is Christus dan nie by ons tot aan die voleinding van die wêreld soos Hy ons beloof het nie ?"
Na sy mensheid is Christus nie meer by ons op aarde nie. Na sy Godheid, majesteit, genade en Gees wyk Hy nooit meer van ons nie.
Jesus Christus het na sy opstanding eiemondig sy belofte gegee: „En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld."
Hoor sy beloftes: „Waar twee of drie in My Naam vergader is, daar is Ek in die midde van hulle." En weer sê Hy: „Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe."
Die skeidende Heiland is die blywende Heiland. Nou dat Hy aan die beperkte grense van tyd en ruimte onthef is, nou kan Hy alle plekke van sy onmeetlike Ryk tegelyk oorsien, ja in een punt van die tyd ontelbare noodkrete hoor. Nou is Hy die Son van Geregtigheid wat die gehele wêreld kan beskyn, en sy koesterende warmte kan laat deurdring tot in die diepste bergklowe en die donkerste dale van die aarde.
As Jesus liggaamlik hier sou moes bly, sou dit juis Hom belet het as 'n voorhangsel om met al die synes waaragtige gemeenskap te hê.
Daardie voorhangsel het nou weggeval, waar Hy die hemelse heiligdom daarbo ingegaan het, en nou is dit eers volkome waar geword. Na sy godheid, na sy majesteit, genade en Gees wyk Hy nooit van ons nie.
Nou is sy majesteit en heerlikheid groter. Hoe het dit geskitter as Hy aan Paulus op weg na Damaskus verskyn, aan Stefanus, die eerste martelaar en aan Johannes op Patmos.
Watter majesteit gaan nou van Hom uit? Ons sien steeds 'n ligtende spoor agter Hom, ook as Hy sy vyande ontmoet. Watter majesteit openbaar Hy as Hy in die loop van die eeue sy teëstanders so dikwels laat hoor: „Tot hiertoe en nie verder nie."
Sien sy wysheid waarmee Hy die woel van die mense diensbaar maak aan die volvoering van sy hoe planne. Hy tree so dikwels tussenbei en skep lig uit die duisternis.
Ja die majesteit van die opgevare en verheerlikte Christus word nie alleen in die hemel gehuldig nie, maar ook op die aarde.
Hy vergader die gemeente, louter, bewaar en red haar so wonderbaar. Elke sondaar wat deur sy Woord en Gees aangegryp word, is opnuut die bewys van die voortdurende lewende openbaring van die verhoogde Heer in die hemel.
En so as dit is met sy majesteit so is dit met sy genade. Vanuit die hoë hemel herhaal Hy nog so menige vriendelike woord tot vermoeides en bedroefdes: „Vrou, wat ween jy, wie soek jy ?" En dan weer: „Ek wil, word gesond" tot die kranke. En dan weer: „Swyg, wees stil" tot die storm.
Ja ook met sy heerlike genade wyk Hy nooit van ons nie. Hy skenk genade wat verlig, genade wat vertroos, genade wat heilig, genade wat ons bybly, ondanks alles wat ons ontval.
Christene, wat het ons meer nodig, waar Hy liggaamlik nie meer by ons is nie? Maar hoor dan die laaste: „Met sy Gees wyk Hy nooit meer van ons nie." Die Heilige Gees, die trooster bly tot in ewigheid. Met sy genade bly Christus by ons, maar met sy Gees woon hy in ons.
Ja soos die oorwinnaars in ou tye as hulle na die stryd hulle seëvierende intog gehou het, 'n aantal geboeide gevangenes aan hulle oorwinningswa meevoer, so voer hierdie koning sy doodsvyande gevange mee, die wêreld, die duiwel, die dood.
Ja Hy is koning van alle konings, Heer van alle Here. Nooit sal Hy toelaat dat een skaap van sy duurgekoopte kudde Hom ontroof word nie. Ja na sy menslike natuur is Hy nie meer op aarde nie, maar na sy godheid, majesteit, genade en Gees wyk Hy nooit meer van ons nie. Die Gees wat van die grote Christus uitgaan dring deur. Die Gees blaas oor valleie van dorre doodsbeendere, oor akkers met dorings en distels besaai. Die Gees herskep woonstede van die satan in tempels van die lewende God. Christene wat is sy hemelvaart heerlik as Hy verklaar: „Ek kom weer na julle toe, Ek bly!"
Die geloofsoog moet die Christus wat skei, maar tog bly, sien.
Jesus Christus is ons voorspreker by God die Vader. Dit stel ons gerus, verlewendig ons hoop. Paulus skrywe aan die Romeine dat Christus vir ons intree en bid aan die regterhand van God. Johannes noem Jesus die Regverdige, ons voorspraak by die Vader. Die Hebreërsbrief herhaal hierdie troosryke woorde as daar staan dat Hy altyd leef om vir die gelowiges in te tree. Nie alleen Christus se aardse lewe, maar ook sy hemelse lewe maak Hy diensbaar aan die saligheid van al die synes. Op Golgota is alles volbring. Die Paasmôre het bewys dat God die offer van sy Seun aangeneem het. Maar sy tussenkoms en voorspraak in die hemel is 'n onophoudelike heenwysing na die vleklose offer, wat die swakheid van die synes voor God moet bedek. Jesus dra as meelydende en barmhartige Hoëpriester ons belange op die hart. Hy begeer waarlik ons persoonlike en volle saligheid. Hy begeer van die Vader dat ons in die volkome genot van Sy vergewende liefde mag deel.
So bly en werk Christus ook daarbo as die Middelaar. Hy is die tussenpersoon deur wie die Vader aan ons sy geestelike gawes toedeel.
As hemelse Hoëpriester bring Hy die wierook van ons gebede voor God, en gedurig doen Hy versoening oor alles wat daarin onrein en gebrekkig is. Hy bid vir ons dat ons geloof nie mag ophou nie.
Nooit het hierdie grote Christus soos 'n Moses die antwoord gekry: „Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie." (Deut. 3, vs. 26.)
Ons het nie 'n Heiland wat daarbo in die hemel die broeders vergeet wat Hy hier in die strydperk agtergelaat het nie. Daar is 'n voorspraak wat nooit weier om vir sondaars in te tree nie.
As ons nie weet wat om te bid nie, Hy leef en bid vir ons. As ons alleen staan, verlate op die aarde, kinders van die diepste ellende, geen hoop meer het nie, Jesus bid vir die synes, en sy meelye gaan hulle lyding ver te bowe.
Wat 'n hoop ? Ons het ons vlees in die hemel as 'n gewisse pand. Hy die hoof, ons sy lede, sal Hy tot Hom neem. Die anker van ons hoop lê in die verheerlikte Christus. Die Hoof sal die lede ook tot Hom trek. Die Kerk is die liggaam van Christus. Hy sal die liggaam omhoog voer en red en bewaar. „God het ons opgewek, en met Christus in die hemel gesit," so juig die apostel Paulus.
Noudat Hy daar is, nou is dit seker dat sy gelowiges ook reeds daar is. Sy voorgaan is 'n gewisse pand dat al sy gelowiges Hom gewis sal volg.
Die Oorwinnaar het die poorte van die hemel nie agter Hom toegesluit nie. Sy eie hemelvreugde sou dan eers volmaak wees, as sy
Hoëpriesterlike gebed: „Vader, Ek wil dat waar Ek is hulle wat U my gegee het, ook saam met My sal wees" (Joh. 17, vs. 24), tenvolle bewaarheid sal wees.
Heerlik is dit om sê die hemelvaart van Christus te oordink. Hulle wil dat al sy belyers sy heerlikheid mag aanskou, dat hulle mag asemhaal in die lug, waarin Hy, die Verheerlikte leef. Dan is hulle onthef van sonde, swakheid, van moeite en dood. Dan is dit volmaak te ken, volmaak lief te hê, volmaak te loof, volmaak te lewe.
Christene — verbly u, daardie toekoms staan so vas soos die Olyfberg vanwaar Jesus na die hemel opgevaar het.
U erfenis sal bly. Wat ons hier lewe is 'n skynlewe, 'n droombeeld, 'n damp. U ware lewe is nou nog met Christus verborge by God. Maar om daardie erfenis te ontvang moet ons geheilig word. Hy skenk ons sy Gees as 'n teëpand, deur wie se krag ons soek wat daarbo is. Die gawe van die Heilige Gees is 'n genadeblyk. Die vrugte van die Gees in hart en lewe is maar die eerstelinge van die oes, wat vooruit wys op die volle oes van hemelse vreugde. Die wandel in die Gees laat ons ryp word vir die onbevlekte omgang met God en die Heer, met die engele en verlostes rondom Gods heilige troon. Die werking van die Heilige Gees trek ons met sterke bande na die hemel op, sodat ons soek wat daarbo is, waar Christus is, aan die regterhand van God, en nie wat op die aarde is nie.
Maar die vraag is: Het u reeds die Gees ontvang, wat die Opgevare en Verhoogde Heer beloof het?
Die kenteken is baie duidelik. Soek u die dinge wat daarbo is, waar Christus is aan die regterhand van God ? Verkoop u kostelike hart nie aan die wêreld nie, maar soek die skat in die hemel. Laat Christus u meer en meer dierbaar word. Herdenk sy hemelvaart, sy verhoging nie alleen eenmaal in die jaar nie, maar gedurig.
Sien sy hemelvaart altyd as waarborg en begin van u eie hemelvaart. Doof die verlange na die hemel nie uit nie. Laat al u gedagtes na die hemel uitgaan. Laat al u dade die hemel ten doel hê. Laat u geloofsblik op die hemel gerig wees. Is daar trane wat u oog benewel in die lyding van die teenwoordige tyd, ons ligte verdrukking wat gou verbygaan, kan nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.
So dan, met die apostel Paulus: „Ons burgerskap is in die hemele, vanwaar ons ook as Verlosser verwag, die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam." (Filip. 3, vs. 20 en 21)."
Amen.
F. J. Z. Booysen.