Hk 19 U Enigste Troos
SONDAG 19
Aan die regterhand van God
Leer: Ef. 1
Sing: Psalm 118, vs. 8; Gesang 147, vs. 3; Gesang 49, vs. 4; Gesang 3, vs. 5.
Teks: Psalm 110, vs. I.
Vraag 50: Waarom word daarby gevoeg „En sit aan die regterhand van God" ?
Antwoord: Omdat Christus daarom na die hemel opgevaar het, dat Hy Hom daar sou betoon as die Hoof van sy Christelike Kerk, deur wie die Vader alle dinge regeer.
Vraag 51: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?
Antwoord: Eerstelik, dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitgiet. Daarna, dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskut en bewaar.
Vraag 52: Hoe word u getroos deur die wederkoms van Christus om te oordeel die lewende en die dode?
Antwoord: Dat ek in alle droefenis en vervolging met 'n opgerigte hoof dieselfde Saligmaker wat Hom tevore om my ontwil voor die strafgerig van God gestel en die vloek geheel-en-al van my weggeneem het, as 'n Regter uit die hemel verwag, wat al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my met al die uitverkorenes tot Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem.
Ons staan hier aanbiddend by die „uitermate verhoging van die Heer van die heerlikheid en die Hoof van die Kerk." Hy het by een van sy verskynings (Mat. 28, vs. 18) aan sy dissipels gesê dat aan Hom alle mag in hemel en op aarde gegee is. Hierdie magsposisie word uitgedruk en geopenbaar deur die sit van Christus aan die Regterhand van God. Dit volg uit die verband van sy opstanding en hemelvaart. Ons lees in die Heilige Skrif van mense wat uit die dood opgestaan het, maar nie dat hulle opgevaar het na die hemel en daar 'n ereplek ingeneem het nie; so lees ons van mense (Henog en Elia) wat opgevaar het sonder om die dood te sien, maar ook nie dat hulle in die hemel mag ontvang het nie. Om dan die ere- en magsposisie van Christus net aan Hom, onderskei van en verhewe bo alle skepsels aan te dui, is by die belydenis van sy hemelvaart „toegevoeg", dat Hy sit aan die Regterhand van God sodat Hy Hom daar sou betoon as die Hoof van sy Kerk en dat die Vader deur Hom alle dinge regeer. Hy is dus verhewe met 'n bepaalde doel, wat Hy alleen kon ten uitvoer bring.
Die plek aan die regterhand is die ere-plek. *) So lees ons dat toe Salomo op sy troon gesit het en deur sy moeder Batseba besoek is, hy haar aan sy regterhand laat plek inneem het. Die Vader in die hemel het sy Seun verheerlik en dit geopenbaar deur Hom aan sy Regterhand te plaas. En omdat die onderskeiding nie deur nietige mense nie, maar deur die Almagtige God van hemel en aarde aan die Seun van sy welbehae gegee is, daarom het dit vir die gelowige Kerk 'n allesbeheersende betekenis en ewigblywende krag en lê ten grondslag van ons vaste hoop en salige verwagting.
Die regterhand is die beeld van mag, die teken van regering.
Omdat Christus aan die regterhand sit, die Skrif sê daarvan: aan die regterhand van die krag van God, is Hy aangewys as die Hoof en is alle dinge in hemel en op aarde aan sy voete onderworpe en die Gemeente van die Nuwe Testament aanbid Hom met blye onderwerping. Vir die Kerk is daar 'n groter Koning nie, want deur Hom regeer die Vader alle dinge. Hy het die plek van eer by die Vader gekry en alle mag is aan Hom oorgedra. Daarom beklee Hy ook die eerste plek van aanbidding en gehoorsaamheid in die harte van sy gelowige kinders. Hy is die Hoof van sy Kerk en die lidmate van die Kerk, die heilige algemene Christelike Kerk, is sy afgesant en getuie, wat sy boodskap die wêreld indra deur die Evangelie, om alle mense tot sy dissipels te maak.
*) Ons as mense gee aan die persoon, wat ons die hoogste ag, 'n besondere sitplek.
Die heerlikheid van ons Hoof Christus hou 'n groot voordeel of nut vir die Kerk in. Omdat Hy mag het oor alle dinge, kan Hy ook alle dinge doen en gee en vloei daar van Hom 'n onskatbare rykdom uit na sy Kerk. Teenoor die nietige, verganklike, neerbuigende geskenke en rykdomme wat 'n aardse Koning aan sy onderdane gee soos wetgewing, regspleging, beskerming en orde in die samelewing, gee Christus hemelse gawes. Hy lê die verband tussen hemel en aarde. Hy verhef die lewe bo die stof. Hy maak die hart tevrede in verdrukkings. Hy gee hoop onder die kruis. Hy gee troos in vervolgings. Sedert die sondeval is Hy die eerste, verheerlikte mens in die hemel en bring so 'n hemelse gesindheid in die mensheid, wat in Hom glo. Deur sy verhoging is dit ook alleen moontlik geword, dat die Heilige Gees weer onder die mensekinders woon. Die Heilige Gees leer al die waarheid omtrent Christus, laat sy woorde beter verstaan en leer ons om Hom Here te noem. Die Heilige Gees maak die mens ook vatbaar vir al die heilsgoed wat God om Christus ontwil aan die wêreld wil skenk.
Christus in sy verhewe magsstaat beskerm sy onderdane teen alle vyande. Die Kerk het baie vyande. Daar is die Duiwel, die wêreld en eie menslike vlees. Daar is vyandskap van binne en van buite, magte wat altyd aanstorm teen die Kerk, omdat hulle magteloos staan teenoor die verhoogde Koning en hulle haat op die Gesalfde wil koel aan sy onderdane. In die stryd gee Hy sy Woord as 'n swaard; die Woord is ook die helm van verlossing; Hy omgord die lendene met die waarheid en die geregtigheid word borswapen; die geloof in Hom vorm 'n skild waarmee die vurige pyle van die Bose kragteloos gemaak, uitgeblus word (Ef. 6, vs. 14). En Hy bewaar, hou sy Kerk in stand, dat dit nie uitgeroei word nie.
Die sit van Christus aan die regterhand van sy hemelse Vader bring ook 'n stellige verwagting mee, n.l. dat Hy eenmaal sal kom om te oordeel die lewende en die dode. Omdat Hy in heerlikheid sit, is sy vonnis ook onbesproke. Hy sit en wag in lankmoedigheid, soos die landman op die komende oes. Die oes, wat sal plaasvind by die voleinding van die wêreld, word ryp gemaak onder die benatting van die Evangelie en deur die werking van die Heilige Gees.
By die oestyd sal die koring en kaf regverdiglik geskei word, al staan hulle saam en deurmekaar op die akker van die wêreld. Die uitspraak sal op goddelike reg berus. Al wie Christus nie wou aanneem nie en vyandig teenoor die Evangelie en daarmee teenoor Homself gestaan het, sal die verdoemenis tegemoet gaan; die uitverkorenes, wat soos graan tussen die onkruid en kaf behoue gebly het deur die mag van Christus, sal in ewige heerlikheid en hemelse blydskap tot Hom geneem word. Die Kerk lewe en die gelowiges sterwe op die belofte van die magtige Christus, dat niemand en niks sy eiendom uit sy hand sal ruk nie. Geen ongeregtigheid teenoor Hom bedrewe of onreg sy kinders en Kerk aangedaan sal ook sy aandag ontgaan nie, maar regverdiglik, volgens wat elkeen gedoen het na die vlees, vergeld word. Vergelding is 'n vreeslike woord; strafgerig is 'n ontsettende waarheid, maar hulle is verbind aan die verhoging, regering van Christus en sy sit aan die regterhand van die Vader. Beloning is 'n heerlike trooswoord, wat gewaarborg is deur sy lyding, waardeur Hy die vloek van God weggeneem het van die wat Hom in die geloof aangeneem het. Soos Hy om die sondaar ontwil voor die strafgerig van God gestaan het, so sal alle mense eenmaal voor Hom staan en in daardie onafwendbare moment sal die regverdigste, maar ook die vreeslikste vonnis uitgespreek word, wat menseore ooit gehoor het. Maar dit sal ook die laaste regspraak en die laaste vonnis en die laaste vryspraak oor mense wees. Dan word die voet finaal op die nek van die vyande gesit; dan word alle vyandskap vir goed uit die skepping verban en word alle verdrukking vir goed opgehef; dan gaan die verwerpers van Christus in ewige bande en sy gelowiges in ewige vryheid. Daarna sal g'n vyandige hand meer opgetel, g'n kwetsende woord meer gespreek word oor die Kerk van Christus nie; sal daar nooit weer droefheid kom en vervolging en versoeking aanstorm oor die martelaars onder die gelowiges nie. Vir so 'n Koning pas 'n nuwe lied, wat dan vir die eerste keer gesing sal word, en voor Hom alleen is dit wêrd om krone neer te werp (Openb. 5, vs. 9-12), omdat Hy alleen wêrd is om te ontvang: krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof . Amen, ja, amen.
P. J. J. Venter.