Hk 2 U Enigste Troos
SONDAG 2
Die kennis van die sonde
Lees: Romeine 7, vs. 14-26.
Sing: Ps. 119, vs. 1, Ps. 86, vs. Ges. 40, vs. 3, 6.
Vraag 3: Waaruit ken u u ellende?
Antwoord: Uit die wet van God.
Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons in hoofsaak, Matt. 22 : 37-40:
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.
En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
Vraag 5: Kan u dit alles ten volle onderhou?
Antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.
Gemeente van Christus,
Weet u wat dit beteken om 'n vreemdeling te wees ? Om te moet rondswerf deur 'n vreemde, onbekende land ? Om pyn te voel van verlange na die geliefde vaderland ? Hoe bitter moet dit wees om verteer te word van heimwee! Sal u hart nie dag en nag onrustig in u wees nie? Van hierdie vreemdelingskap spreek die tweede Sondag van die Heidelbergse Kategismus wanneer die vraag gestel word: Waaruit ken u u ellende ?
Want oorspronklik beteken die woord „ellende" vreemdelingskap, ballingskap. Dink maar aan die woord uitlander, vreemdeling.
Tog spreek die Kategismus hier nie van gewone vreemdelingskap nie. Hier word bedoel geestelike ellende, geestelike ballingskap. Ja, vervreemding van God.
Maar, so sal iemand dink, is dit nie 'n verkeerde uitspraak nie? Ek voel my nie 'n vreemdeling op aarde nie. Nou ja, daar is ook die donker kant van die lewe, maar ek voel hier tog heeltemal gelukkig en tuis. Ek maak my die lewe aangenaam en gerieflik en om eerlik te wees, kan ek die ou leerboek hier nie volg nie. Ja, so dink en voel die natuurlike mens.
Maar tot hom is die vraag ook nie gerig nie. Die vraag word gerig tot daardie mens wat in die eerste Sondag bely het dat hy sy enigste troos hier op aarde daarin vind dat hy weet dat hy in lewe en sterwe die eiendom is van Jesus Christus. Hy alleen kan sy ellende voel en sien. Ja, sy ellende is die droefheid van sy lewe.
Die Kategismus vra na u ellende. En met ellende word hier nie bedoel: sosiale ellende, oorlogsellende of selfs die rou, die bitterheid of die donker dae van u lewe nie. Dit alles is wel ellende, maar tog nie die ellende van Sondag II nie. Die ou, wyse leerboek ken die hart van die mens. Dit weet dat dit die grootste, alle ellende oorheersende ellende van die mens is dat hy afkerig, ja meer nog, vyandig, teenoor God, sy Skepper en Maker, staan, dat hy die Evangelie afwys en dat hy in onverskilligheid sy God verbyloop! Hier wil die Kategismus die nadruk op lê. Van nature is die mens in die ellende. Van nature wys die mens God af en is die Evangelie van Christus vir hom 'n ergernis en 'n dwaasheid. Ja, die mens dink God nie nodig te hê nie en wys dit deur sy hele lewenshouding.
Maar, en dit is so wonderlik, die natuurlike mens is blind vir die ellende; hy besef nie dat hy vyandig teenoor God staan nie. Dis ook onnodig om hom daarvan te probeer oortuig, want „kennis van ellende" is geen algemene, aangebore kennis nie. Alleen hy weet en voel hoe vyandig en afkerig hy teenoor sy God gestaan het, wat nie meer vyandig is nie, maar wie se ellende oorwin is deur die allesoorwinnende liefde van die Gekruisigde.
Ken u u ellende? so vra die Kategismus vir ons en laat die nadruk val op die woordjie: ken. Die volle nadruk word gelê dus op die kennis. Ja, dis in die gees van ons tyd. Ons lees net van wetenskap en tegniek wat met groot spronge vooruitgaan, van geleerdes en wetenskaplikes wat die een ontdekking en uitvinding na die ander doen. Ag, hulle ken seker ook hierdie ellende. Nee tog nie! Hierdie kennis is vir die wyse en verstandige mens verborge en geopenbaar aan die kindertjies. Hierdie kennis besit hy wat die stralende lig van Gods genade sien deurbreek het in sy lewe en in die skynsel hiervan het hy gesien hoe groot die donkerheid van vyandskap en vervreemding was waarin hy vroeër rondgedwaal het. Hy, wat gebroke van hart en verslae van gees sy skuld bely, ja, hy sien met skrik en huiwering sy donker skuldverlede.
Nog 'n keer word ons aandag gevra en nog 'n keer vra die Kategismus: Waaruit ken u u ellende? Weer val die nadruk op die kennis. Hieruit sien ons dat by die opstellers van die Kategismus die verstandelike kennis nie onbelangrik geag is nie. Nee, hulle stel hierdie kennis selfs in die middelpunt. Hulle vra ons volle aandag vir hierdie kennis. Maar waarom doen hulle dit? Wel, omdat die Bybel hulle so geleer het. Want ook die apostel Paulus spreek met nadruk van „julle redelike godsdiens" en wat nog meer is: Jesus self sê: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele verstand.
Vandag word, jammer genoeg, dikwels 'n oordrewe nadruk gelê op die gevoel. Allerhande sektes en opwekkingsbeweginge rig hulle tot die gevoel van die mens. Opwekkingspredikers hou opwekkingsdienste en groot ontroering gryp die mense aan. Maar hoe onbetroubaar is die menslike gevoel, hoe onveilig is dit en ook gee die gevoel vir ons geen houvas en geen blywende vertroosting nie. Hierdie gevoelsprediking trek duisende mense, laat die geesdrif hoog oplaai. Hoor hoe heerlik word daar gesing! Hoe vol blydskap in die hande geklap! Wat 'n geestelike oplewing! Maar waarskuwend hef die Kategismus die vinger op. Wees versigtig! Die ontroering gaan verby, die ontnugtering kom. En dan blyk dit dat die ontroering maar net die oppervlakte van die siel aangeraak het. Dit het die mense nie in die diepte van die siel aangegryp nie. Dit het hulle nie tot waaragtige kennis van ellende gebring nie. Dit weet hierdie ou leerboek so goed. Daarom gee dit aan die verstand ook die ereplaas. Daarom spreek die Kerk, die vaste gebou van God, deur alle eeue heen nie tot die gevoel nie, maar tot die verstand.
Gemeente, vind u dit nie 'n baie persoonlik gerigte vraag nie, waaruit ken u u ellende? Ja, so persoonlik is die Kategismus. Sonder onderskeid, sonder aansien van die persoon, aan ryk en arm, aan aansienlik en onaansienlik word die dringende vraag gestel. Ook aan vrome en getroue kerkgangers. Ook aan die geestelike voorgangers. Tot almal, sonder uitsondering, kom die vraag: Waaruit ken u u ellende?
En dan kom die antwoord: Uit die wet van God.
Die wet wat die Heilige God in die weerligte van die Sinai aan sy volk gegee het. Die wet waarin God sy heilige wil aan ons openbaar. Die wet van God word aan ons voorgehou ons hele lewe lank. Die wet van God wil ons begelei op ons lewensweg, wil ons voortlei in die goeie rigting. Die wet van God wat ons so duidelik wys hoe siek ons van sonde is. Streng spreek die wet tot ons: Jy mag nie, jy mag nie.
Hierdie wet word ons soos 'n spieël voorgehou. Hierin kan u uself sien, soos God u sien, soos u werklik is. Kyk daarin! Tot u skrik sal u daar u beeld sien, soos u omgewing dit nooit sal sien nie. U sien, o skrik, 'n mens bedek en misvorm deur duisend sondes. Is dit ek? Ja, sê die Wet, dit is jy, ellendige mens! Jy is verkoop onder die sonde. Jesus vat hierdie wet saam in 'n hoofsaak. Jesus wil ons die wet nog duideliker en skerper voor oë stel. Daarom se Jesus: die eerste gebod is „Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand." Jy moet God liefhê met jou hele wese. God eis jou heeltemal op. U hart waaruit die oorspronge van die lewe is, u wil en u denke en al u kragte.
Wat 'n geweldige gebod! Hoe sou ons ooit so 'n volmaakte liefde tot God kan hê? Ons wat in sonde ontvang en gebore en daarom kinders van die toorn is? O God, hoe skuldig staan ons voor u heilig gerig!
En dan kom die tweede gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Jou naaste. Wie is dit? Wel, dit is hy wat u op u lewensweg ontmoet. Dit kan u broeder en u vriend wees, maar wat meer waarskynlik is, dit kan ook u vyand wees, dit kan hy wees wat u benadeel, belaster of besteel, wat u lewe vergiftig. Ja, sê Jesus, daardie naaste moet u liefhê soos uself. U moet hom nie net verdra, of „tog maar" groet nie, nee, u moet hom liefhê met dieselfde taaie liefde waarmee u uself liefhet. Is dit dan moontlik? Ja, dit is alleen moontlik wanneer u God liefhet met 'n volmaakte liefde.
Maar dit is onmoontlik. Dit kan ek nie.
Ook die Apostel Paulus het dit gevoel en roep vol smart uit „Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie. Want ek vind hierdie wet, as ek die goeie wil doen, dat die kwaad by my aanwesig is."
Hoe meer ons ons stel teenoor Gods Heilige wet, hoe dieper ons dit voel. „Onbekwaam tot enig goed en geneig tot alle kwaad".
Hoe gemaklik sou dit wees wanneer die wet net vir u sou sê: dit moet u doen en dit moet u nie doen nie. Christus sê duidelik dat dit die groot gebod is: Jy moet liefhê. Die dryfkrag van al jou doen en handel moet liefde wees. Wat 'n geweldige gebod! Kan u dit alles ten volle hou?
En dan kom die antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.
Kan u dit hou, word gevra, en nie: hou u dit, nie. Die Kategismus wil ons maar net wys hoe onmagtig ons is. Al wil ons die wet hou, ons kan nie „want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek".
Wanneer 'n mens in 'n trein ingestap het en later tydens die rit ontdek dat hy in die verkeerde rigting ry, dan kan hy, al wil hy ook, nie die rigting van die trein verander nie. Hy moet saamgaan. So is dit ook met ons mense. Ook al wil ons die wet hou, ons kan nie. Daar is 'n wet in ons wat ons oorheers, wat ons dryf tot die kwaad. Daar kom nog by dat die Kategismus ons nie vriendelik op ons skouer klop en sê: probeer nou maar, of streef in elk geval daarna. Nee, die eis lui: Hou dit ten volle. Ja, ten volle, want God eis die volkome vervulling van sy gebod.
Gemeente, ek sien voor my 'n Man wat vir ander 'n Vreemdeling, 'n Ellendige geword het. Hy het tot in die diepste van sy siel gevoel dat Hy moes deurtrek deur 'n vyandige land. Ons afkerigheid, ons onverskilligheid, het sy tere siel deurwond met skrynende pyn. Wat u en ek nie meer voel nie, dit het Hom smartlik getref. Sy liefde was egter so onbegryplik groot dat Hy wou lewe as 'n balling in die vreemde land. En hier op die deur sonde en dood verduisterde aarde het Hy soos 'n reine ligtende gestalte rondgewandel. Want wat vir ons onmoontlik is, was vir Hom moontlik. Hy, die Seun van God, het Hom gebuig in die stof onder die vloek van die wet en dit gedra. En Hy het die wet volbring. Tot die laaste toe, toe Hy aan die kruis uitgeroep het: Vader, vergeef hulle.
Wanneer ons ons oë ophef na die kruis dan, ja dan kan ons sien hoe groot, hoe oneindig groot ons ellende is. Ja, so het Hy die vloek wat oor ons uitgespreek is op Hom geneem. So het Hy tot ellende geword om ons van ons ellende te bevry.
Ja, Jesus het ons verlos. O, goddelik evangelie!
Dit sing en dit juig in ons hart. Sy wonde, sy smart en sy lyde verlos ons van die vloek wat op ons rus, spreek ons vry, sodat ons kan ingaan, geregverdig, in sy ewige Koninkryk.
Amen.
F. van Oosten.