Hk 24 U Enigste Troos
SONDAG 24
Die onverdienstelikheid van goeie werke
Leer: Galasiërs 3.
Sing: Gesang 38, vs. 1; Psalm 130, vs. 2; Gesang 40, vs. 1 en 5; Gesang 39, vs. 2.
Vraag 62: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God, of 'n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die strafgerig van God kan bestaan, heeltemal volkome en in alle dele gelykvormig moet wees aan die wet van God en dat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolkome en met sondes bevlek is.
Vraag 63: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomende lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste gegee nie, maar uit genade.
Vraag 64: Maar maak hierdie leer nie sorglose en goddelose mense nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat iemand wat in Christus deur 'n ware geloof ingeplant is, geen vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie.
Gemeente van die Here,
Die sondige, trotse hart van die natuurlike mens kom in opstand teen hierdie leer, dat die goeie werke van die goeie mens niks voor God verdien nie. Alle eeue deur het die verset geduur. Die mens wil die eer hê dat hy die ewige lewe self verwerf het of tenminste vir 'n deel verwerf het. Hy wil of sy saligheid self uitwerk of in elk geval die medehelper van God daarin wees. Hy wil die hemel verdien Of help verdien. Met sy eie geregtigheid wil hy 'n toring van Babel bou om daarmee die hemel in te gaan..
Die Fariseïsme het ook geleer dat die mens deur sy werkheiligheid, deur sy eie geregtigheid die hemel moet verdien of altans help verdien. Dit kom duidelik uit in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. In hierdie gelykenis gaan dit om die regverdigmaking van die sondaar deur die werke of deur die geloof.
Die Fariseër is in eie oog 'n verdienstelike man. Hy vertrou op homself dat hy regverdig is. Hy steun vir sy saligheid op sy goeie werke. Hy roem op homself, dat hy nie soos ander mense is nie: rowers, onregverdiges, egbrekers, tollenaars. Hy som sy verdienste op. Hy het soveel om aanspraak op te maak voor God, want hy vas nie een keer nie, maar selfs twee keer per week. Hy gee die tiende van alles wat hy kry.
Die tollenaar, daarenteen, staan soos 'n bedelaar voor God. Hy noem homself 'n sondaar. Hy het niks waarop hy hom voor God kan beroep nie en daarom pleit hy om genade.
En wie het geregverdig na sy huis gegaan ? Let op wat Jesus hiervan sê: „Ek sê vir julle, hierdie laaste dae het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een."
In hierdie belangrike vraag wys die Kategismus op drie punte. Eerstens wys dit op die ongenoegsaamheid van die goeie werke. Tweedens dat die loon, waarvan die Bybel spreek, 'n genadeloon is. Derdens dat hierdie leer van die onverdienstelikheid van die goeie werke geen sorgeloosheid in die hand werk nie.
Ten eerste dan leer die Kategismus dat ons nie uit ons goeie werke geregverdig word nie. Die rede waarom nie, word as volg aangegee: om deur ons goeie werke geregverdig te word, moet heeltemal volkome en in alle dele gelykvormig wees aan die wet van God, maar hulle is in werklikheid onvolkome en met sondes bevlek.
Hierdie antwoord is ooreenkomstig die Skrif immers, „uit die werke van die wet sal geen vlees voor Hom geregverdig word nie" (Rom. 3, vs. 20). „Hy wat deur die wet geregverdig wil word, is van die genade verval" (Gal. 5, vs. 4).
In hierdie verband stel die Bybel wetswerke en geloof, wet en genade skerp teenoor mekaar. Dis of die een of die ander, want die een sluit die ander uit. „As dit deur genade is," so leer die apostel in Rom. 11, vs. 6, „dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie." Dus nie genade en werk nie; of genade en verdienste nie; of genade en gehoorsaamheid nie, maar genade alleen.
Die Kategismus keer hom teen hierdie leer van genade en goeie werke. Dis Rooms. Dit kom feitlik daarop neer dat ons Christus moet help om ons salig te maak, Rome leer dan ook dat die smarte van iemand in die sogenaamde vagevuur verkort kan word deur die oortollige goeie werke van iemand anders.
Maar dis nie alleen Rome wat die verdienstelikheid van goeie werke leer nie. Op allerhande maniere dring die eie verdienste na vore, ook in nie-Roomse kringe. So is daar wat leer: genade en wetsvervulling, genade en sabbatonderhouding om geregverdig te word, terwyl ander weer leer: genade en onderdompelingsdoop as voorwaarde tot die saligheid. In hierdie geval word die onderdompellingsdoop as verdienste, as gehoorsaamheid gereken.
'n Derde groep gaan nog verder. Hulle meen om sonder Christus en sy verdienste aan die kruis klaar te kom, want hulle eie inspanning om die hemel te beërwe is voldoende. Hulle beroep hulleself op die skoon, eerlike lewe wat hulle gelei het. Hulle sê dan ook: ons het nooit iemand ongelyk aangedoen nie; ons het nooit 'n vyand gehad nie; ons het ons beste gedoen om eerlik en opreg deur die lewe te gaan en daarom gaan ons sonder angs die dood tegemoet. Hier word die volbragte werk op Golgota verby gesien en op eie voortreflikheid gebou, net asof die mens die wet van God volkome sou kan hou en in eie geregtigheid voor die gerig van God sou kan bestaan.
Maar om die wet in al sy dele volkome te kan vervul beteken dat geen tittel of jota aan ons wetsvervulling mag ontbreek nie. Ons lewe moet dan onberispelik wees in alle opsigte, in gedagte, woorde en werke, want as ons een punt van die wet oortree, dan is ons skuldig aan almal (Jak. 2, vs. 10).
Maar wat leer die ervaring? Kan ons bly in alles wat geskryf is in die wet ? Die lewe van elke mens laat sien, hoedat elkeen van ons daagliks struikel in baie en dat ons God nie lief het met ons hele hart nie en ook nie ons naaste soos onsself is.
En wat leer die Bybel ? Dat daar niemand is wat regverdig is nie (Rom. 3, vs. 10), dat ons almal gesondig het (vers 23), dat ons almal geword het soos 'n onreine en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed (Jes. 64, vs. 6). Let op: nie ons ongeregtighede nie maar ons geregtighede is soos 'n besoedelde kleed, onvolkome, met sonde besmet. Nie deur ons goeie werke sal ons geregverdig word voor God nie, maar alleen deur die goeie werk wat Christus vir sondaars aan die kruis volbring het. Sy werk alleen is volkome, volmaak, heilig.
Op die vraag van die sipier (Hand. 16, vs. 30): „Wat moet ek doen om gered te word?" is geen ander antwoord moontlik nie, as die van die apostel: „Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word." Ons geregtigheid is nie uit die werke van die wet nie, maar uit die geloof.
Ten tweede leer die Kategismus ons dat die beloning hiernamaals, waarvan die Bybel spreek, geen verdienste nie, maar 'n genadebeloning sal wees. Ons word immers deur sy genade verniet geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is (Rom. 3, vs. 24).
Die Kategismus ontken nie dat die Bybel leer van 'n beloning hiernamaals ooreenkomstig ons werke hier op aarde nie. Die Skrif handel dikwels oor die loon. In Prediker 8, vs. 12 lees ons dat dit goed sal gaan met die wat God vrees. Dit is tog beloning. „As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang'', so leer die apostel in 1 Kor. 3, vs. 14 en in Openb. 22, vs. 12 lees ons: „En kyk Ek kom gou en my loon is by My om elkeen te vergeld na sy werk", terwyl die Here Jesus self leer van 'n loon wat groot is in die hemele (Mat. 5, vs. 12).
Is dit dan tog waar dat ons die hemel kan verdien? Is die saligheid dan tog die loon op ons goeie werke ?
Ver daarvandaan! Hierdie beloning waarvan ons in die Skrif lees, is nie die regverdigmaking van die sondaar, dis nie die ewige lewe nie. Hierdie dinge is die loon wat nie ons nie, maar Christus, as ons plaasvervanger, vir ons verkry het aan die kruis. Hy alleen het die losprys vir ons skuld betaal en Hy alleen kon dit doen. Daarom kan Hy alleen toegang tot die hemel verleen en sy geregtigheid alleen laat ons op redding hoop. Almal wat op Hom bou, hulle saligheid buite hulleself in Hom soek, gaan die hemel in afgesien van hoeveel goeie werke hulle gedoen het. Daarom sê Jesus vir die moordenaar aan die kruis, wat sy lewe verkwansel het in die diens van die sonde, maar sterwende glo: „Vandag sal jy met My in die Paradys wees", al kan hy hom nie beroep op goeie werke nie.
Maar as ons die hemel sal beërwe nie as loon op ons goeie werke nie, wat van die loon dan wat die Bybel ons tog voorhou ? Wat beteken dit dan? Dit beteken dat, al word alle gelowiges salig, tog sal daar onderskeid in die heerlikheid wees. Daar is immers 'n nou verband tussen heiligmaking en heerlikmaking, tussen wat hier gesaai en hiernamaals gemaai word. Almal wat salig word ontvang dieselfde geluksaligheid, beërf dieselfde nuwe Jerusalem, geniet dieselfde gemeenskap met God en tog leer die Skrif dit baie duidelik dat daar 'n groot verskeidenheid hiernamaals sal wees. Daar sal verskil wees in glans en heerlikheid. (Dan. 12, vs. 3, I Kor. 15, vs. 41). Hierdie verskil sal gradueel wees. Dit sal in verband staan met en eweredig wees aan die werke.
Almal sal daar volkome gelukkig wees, maar die geluk van elkeen sal aanpas by die innerlike gesteldheid van sy siel. Die behoefte van 'n man met lewensrypheid is immers anders as die van 'n kind en tog is elkeen volkome gelukkig met sy eie. So is die geestelike behoefte van een wat gevorder is op die geloofsweg en wat, na die woord van die apostel, met vaste spyse gevoed is, anders as een wat aan die begin van die geloofsweg staan en nog met melk gevoed moet word. Hy wat geen barmhartigheid betoon nie, is arm aan liefde. Daarenteen, hy wat barmhartigheid beoefen het, wat baie goed gedoen het in die Naam van die Here, sy hart het al meer vatbaar vir die barmhartigheid van God en vir die saligheid geword. Almal wat deur Christus gered is, is dus salig, volkome salig, maar die liefde van God ruis in voller stroom in die hart waar meer vatbaarheid is, as in die ondiepe hart en dit is wat die Skrif bedoel met die vergelding van die loon na ons werke.
Maar laat ons nie vergeet nie, dat ook al hierdie goeie werke louter genade van God is. Dit is immers die genade van God wat ons daartoe bekwaam maak en dit is die liefde van Christus wat ons daartoe dring. Hy werk in ons om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Filip. 2, vs. 13).
Hierdie genadeloon ontvang ons reeds in hierdie lewe. Elke goeie werk wat uit die geloof is, gee ons hier reeds innerlike vrede en blydskap. Die goeie werke van liefde gaan Gods oog nie verby nie; die beker kou water, die woorde van troos, die handdruk van meegevoel en bemoediging ken Hy. En dit bring nie alleen seën aan die wat dit ontvang nie, maar ook aan onsself. Dit verruim ons harte. Dit vorm ons om ruimskoots die saligheid deelagtig te word. Hier reeds ontvang ons vergelding van die loon, maar hiernamaals eers ten volle.
Maar as die Kategismus ons ten derde leer dat ons goeie werke niks verdien nie, en ons alleen uit genade gered word, sal hierdie leer dan nie die mense sorgeloos en goddeloos maak nie? Sal dan nie gesê word: dit help tog nie om God na die beste van my kragte te dien nie, ek verdien tog niks daarmee nie?
Hierop antwoord die Kategismus: „Nee, want dit is onmoontlik dat iemand wat in Christus deur 'n ware geloof ingeplant is, geen vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie."
Daar skyn wel rede vir hierdie vraag te wees, want in die dae van die apostel Paulus is reeds gevra: „Sal ons nie maar in die sonde bly nie, dat die genade meer kan word ?" Paulus wys dit egter af. Verre daarvandaan. „Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?" (Rom. 6, vs. 1 en 2).
Die regverdigmaking uit die geloof sonder die werke van die wet maak geen slappe Christene nie. Inteendeel. Daarvan getuig die geheiligde, toegewyde lewe van die begenadigdes van alle eeue. As iemand deur 'n ware geloof Christus ingeplant is, dan bring hy vanself goeie vrugte voort, netsoos die loot wat op die goeie wynstok ingeënt is vanself goeie vrugte voortbring. Gods Gees maak hom, wat in Christus geregverdig is, bekwaam om goeie vrugte van dankbaarheid voort te bring en dwing hom daartoe.
Hierdie vrugte is ootmoed en liefde, verdraagsaamheid en sagmoedigheid, vergewensgesindheid en blymoedigheid, en verder vrugte van innerlike vrede en vreugde, vrugte van vertroostinge en bereidheid om te dien.
Die regverdigmaking uit die geloof alleen kweek geen onverskilligheid nie, maar vorm die uitgangspunt van 'n godverheerlikende wandel.
Kan die gedagte dat ons uit onsself die dood skuldig is, dat ons geen verdienste het om ons op te beroep nie, maar alleen uit genade gered word, kan hierdie gedagte anders doen as om die hart van die in Christus geregverdigde aan te vuur om God te dien met toegewydheid en dankbaarheid? Soos die loot uit homself sonder die wynstok geen vrug kan dra nie, so ook die Christen, uit homself nutteloos, in Christus nuttig. Maar in Christus moet hy dan ook orals nuttig wees, orals van sy Heer getuig, orals sy lig laat skyn tot verheerliking van sy God, op skool en in die kantoor, op reis en tuis, op die plaas en in die fabriek, op die krankbed en in die openbare lewe.
Hy wat in Christus geregverdig is, het 'n voorreg en 'n verpligting: 'n Voorreg! Hy is geregverdig en het daardeur in die regte verhouding tot God te staan gekom. 'n Verpligting! Voortaan rus die plig op hom om te wandel waardig die Evangelie van Christus en om die deugde van Hom te verkondig wat ons geroep het uit die duisternis tot sy wonderbare lig.
Amen.
Joh. Dreyer.