Hk 25 U Enigste Troos
SONDAG 25
Die Sakramente
Lees: Rom. 10, vs. 13-21.
Sing: Psalm 84, vs. 1; Gesang 75, vs. Gesang 58, vs. 1; Gesang 98, vs. 8 en 9.
Vraag 65: Aangesien alleen die geloof ons Christus en al sy weldade deelagtig maak, waar kom so 'n geloof dan vandaan?
Antwoord: Die Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die verkondiging van die heilige Evangelie en versterk dit deur die gebruik van die Sakramente.
Vraag 66: Wat is Sakramente?
Antwoord: Die Sakramente is heilige, sigbare waartekens en seëls deur God ingestel om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie des te beter te laat verstaan en te verseël; naamlik dat Hy ons op grond van die enige slagoffer van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade skenk.
Vraag 67: Is die Woord en Sakramente altwee dan daarvoor bedoel of daartoe verorden om ons geloof op die offerande van Jesus Christus aan die kruis as op die enigste grond van ons saligheid te wys?
Antwoord: Ja seker; Want die Heilige Gees leer ons in die Evangelie en verseker ons deur die Sakramente dat ons volkome saligheid rus op die enige offerande van Christus, vir ons aan die kruis volbring.
Vraag 68: Hoeveel Sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?
Antwoord: Twee, naamlik die Heilige Doop en die Heilige Nagmaal.
Uit genade word ons gered deur die geloof in Christus. Ons kan die Koninkryk van God nie deur ons goeie werke verdien nie. Ons word alleen deur die geloof geregverdig. Die kerkhervorming het hierdie waarheid weer na vore gebring. Met geloof word nie alleenlik 'n verstandelike erkenning en toestemming bedoel nie. Dis 'n saak van die hart. God lok uit tot vertroue. Die mens kan die geloof egter gee of weier. Die geloof is dus die hoogste sedelike daad. Die geloof skep 'n toestand waarin die mens in volle gemeenskap met God lewe. Deur die geloof vertrou die mens met sy ganse hart en siel op God. Die geloof is die daad van die mens, maar die eerste oorsaak van die vertroue is God self. Die geloof is uit die gehoor en so lok Hy die vertroue uit deur die Evangelie-verkondiging. In Christus het God eenmaal sy genade aan ons betoon en nou vra Hy van ons vertroue in sy genade-gawe, m.a.w. die daad van die geloof. Die Heilige Gees bring die geloof in ons hart — „Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie." (Joh. 6, vers 44).
Die geloof is nie 'n soort leer wat van die aarde na die hemel reik nie en die boonste sport van daardie leer reik bokant die wolke en kan nie deur ons waargeneem word nie. Nee, dit beteken dat God my tegemoet getree het en daardeur het ek Hom ontmoet. Geloof sluit in erkenning van die feit van die Openbaring. God het in Jesus Christus geopenbaar. Hy is die vleesgeworde Woord en geloofsbelydenis kan ook eers gebore word as God tevoorskyn tree en Sig openbaar. Dan kan ons nie anders nie as om as antwoord op sy genadige openbaring te sê: Ek glo.
Die wyse waarop God deur die Heilige Gees die geloof wek, is altyd deur middele. Hierdie middele is die Evangelie-verkondiging, en die gebruikmaking van die Sakramente. Die gebruik van die Woord geskied deur dit te hoor en te lees. Die wyse waarop dit geskied, is van groot belang. Alles hang af van die wyse waarop dit ontvang word. Pas dan op hoe julle hoor. Ons moet dit met eerbied lees en hoor. Verder moet ons dit gereeld doen. Net soos ons liggaam bestand gehou word deur gereeld te eet en te drink, so is daar alleen sprake van geestelike wasdom as ons gereeld Gods Woord aanhoor. Dan moet ons God gedurig bid om sy Woord deur sy Heilige Gees vir ons verstaanbaar te maak. As God ons harte oopmaak, dan sal ons soos Lydia ag slaan op wat gelees of gespreek word. Olevianus het gesê dat daar by die prediking van Gods Woord twee sprekers is en twee stemme en twee ore. Die inwendige prediker is die Heilige Gees. As Hy nie die inwendige ore oopmaak nie, val die saad op die pad of op die rots of tussen die dorings.
Die Heilige Gees gebruik nog 'n middel nl. die Sakramente. Wat is Sakramente? (Vr. 66.) Sakramente is heilige, sigbare waartekens en seëls deur God ingestel om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie des te beter te laat verstaan en te verseël; nl. dat Hy ons op grond van die enige slagoffer van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade skenk.
Dr. Noordmans sê die Sakramente is fakkels in die nag, draers van die barmhartigheid van God na die uiterstes waar die rede beswyk. Die Sakrament tree daar op waar woorde nie voldoende is nie. Die onuitspreeklike kom dan in 'n daad of handeling tot ons.
Oorspronklik is die woord Sakrament nie 'n Bybelse uitdrukking nie. Dit stam uit die Latyn. By die Romeine het dit die betekenis van die eed wat die soldate vir die Keiser sweer. Dit was ook gebruik by die ou Romeine vir die waarborgsom wat twee partye by die reëling van onderlinge geskille in die Tempel gelaat het. Vandaar kry dit die betekenis van die eed. Die eed is die beseëling van die afspraak wat plaasgevind het. Sonder die eed was die afspraak prakties waardeloos. Tenslotte het die betekenis van die Woord Sakrament oorgegaan op die hele handeling.
In die Ou Testament kry ons ook al Sakramentele handelinge in die getuienis van die profete. Ons kry dit by Jeremia met die gordel en die wynkruik (Jer. 13) en met die juk (Jer. 27). Ook by Jesaja wat kaalvoet en sonder mantel loop (Jes. 20). So is daar nog talle voorbeelde. So 'n handeling het 'n besondere oortuigende krag gehad. Dit was nie net 'n suiwer simbool nie. Ons sien nie meer in die dinge wat die Ou Tyd daarin gesien het nie. Toeskouers in vroeëre dae was deur die profetiese handeling baie meer geskok as deur hulle woorde. Die simboliese daad kon die vorm aanneem van die enigste moontlikheid om in 'n bepaalde situasie 'n geestelike gedagte tot uitdrukking te bring. So bv. kon die vrou by die maaltyd van die Fariseër (Luk. 7, vers 36-50) deur die handeling van die salwing die ontroering van haar hart aan Hom openbaar. Sy kan dit op geen ander wyse doen nie.
As ons nadink oor die Sakrament, moet ons die feit dat 'n handeling 'n draer is van 'n idee wat nie in woorde geklee kan word nie, in die oog hou. Die oorspronklike betekenis van die simbool as draer van 'n geestelike waarde het oorgegaan in die Sakrament.
Die Sakrament het meer in sig bewaar as wat ons taalgevoel vandag in die simbool terugvind. Ons verstaan vandag onder 'n simbool eerder 'n toeligting of verfraaiing van die idee as 'n onmisbare konkretisering van wat nie onder woorde gebring kan word nie. Die uiterlike handeling kan baie eenvoudig wees; die innerlike betekenis is des te groter. Die papier van 'n tjek is van geen waarde maar dieselfde tjek is die draer van 'n waarde wat oneindig groter is. Op sigself kan die handeling nie werk nie, maar dit het God behaag om die Sakrament deur sy Heilige Gees te gebruik. Hy gebruik dit vir die hoogste nl. dat vir die gemeente en enkeling werklikheid sal word wat God in Christus gegee het nl. die ontmoeting van God en mens. Wat Christus verwerf het, moet ons eiendom word deur 'n nuwe daad van God in die werking van sy Heilige Gees. En die weg wat die Heilige Gees gaan, is langs Woord en Sakrament.
God weer hoe swak ons mense is, en daarom het Hy Sakramente ingestel om ons geloof te sterk. Deur die prediking wek die Heilige Gees ons geloof; deur die Sakrament versterk Hy ons geloof. Die sien van die tekens kom ons geloof te hulp. Ons sinlike mense is nie sterk genoeg om heeltemal onafhanklik van die sigbare te wees nie. Die prediking is algemeen; die Sakrament is persoonlik. By die Sakrament kry die lidmaat die geleentheid om sy persoonlike geloof uit te spreek as antwoord op die prediking. Dit word in die openbaar gedoen. Woord en Sakrament is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Augustinus het die Sakrament die sigbare Woord genoem. Calvyn sê dat die Sakrament geen ander doel het nie as om Christus vir ons aan te bied, voor te stel, en in Hom die skatte van die hemelse genade.
In elke Sakrament is daar twee dinge wat ons vanmekaar moet onderskei — die teken en die betekende saak. Die teken is die uitwendige wat ons kan sien; die betekende saak is Christus met sy weldade. Ons mag dan ook nooit aan die tekens die mag toeskryf van die genade waarvan hulle alleen getuig nie. Die Sakramente bevestig wat hulle afbeeld nl. die genade van God in Christus. God skenk ons as gevolg van die enigste offer wat Christus aan die kruis volbring het, vergewing van sonde en die ewige lewe.
Is die Woord en die Sakramente altwee dan daarvoor bedoel of daartoe verorden om ons geloof op die offerande van Jesus Christus aan die kruis as op die enigste grond van ons saligheid te wys ? (Vr. 67.) Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die Evangelie en verseker ons deur die Sakramente dat ons volkome saligheid rus op die enige offerande van Christus, vir ons aan die kruis volbring. Die doel van beide Woord en Sakrament is om ons heen te wys na die enigste grond van ons saligheid nl. die offerande van Christus aan die kruis. Daarom is ook alleen daardie instellinge van God Sakramente wat ons geloof en vertroue wys op die offer van Christus aan die kruis as die enigste oorsaak van ons behoud. Die huwelik is ook 'n instelling van God maar nie 'n Sakrament nie.
Die doel van die Sakrament is die bevestiging van die hoofinhoud van die Evangelie-Woord nl. die vergewing van sonde en die ewige lewe as gevolg van die soenverdienste van Christus. Die Woord is vir almal. Die Sakramente alleen vir die gelowiges. Alleen in die gelowiges werk die Heilige Gees deur die Sakrament. Vir hulle wat nie die Woord glo nie, het die Sakrament nie waarde nie.
Hoeveel Sakramente het Christus in die Nuwe Verbond ingestel ? (Vr. 68.) Twee nl. die Heilige Doop en die Heilige Nagmaal. Die Roomse kerk het sewe Sakramente nl. die Doop, die Vormsel, die Nagmaal, die Bieg, die Priester-wyding, en die laaste oliesel. Die vormsel is die aanneming tot lidmate en dit geskied by hulle reeds op sewejarige leeftyd. Die Biskop bevestig die persoon deur met olie 'n kruis op die voorhoof te maak en 'n sagte tik op die wang te gee. In die Heilige Skrif vind ons geen grond hiervoor. Met die Bieg word eenmaal per jaar belydenis van sonde voor die Priester afgelê. Alhoewel Rome hier misbruik maak, tog word Jak. 5, vs. 16 „bely mekaar julle misdade" — deur die Protestante te veel vergeet. Wat die huwelik betref, is dit eienaardig dat die ongehude staat vir die geestelikes as besonder heilig voorgestel word — en nogtans word die huwelik 'n heilige Sakrament genoem. Die priester-wyding word Sakrament as gevolg van die besondere plek wat die Priester inneem. Hy is naamlik middelaar tussen God en die mens. Hy word instaat verklaar om sondes te vergewe. Met die laaste oliesel word bedoel dat die Priester 'n sterwende, selfs een wat sy bewussyn verloor het, se oë, ore, neus, lippe en hande salf met die olie wat op witte Donderdag gewy is. Dan sê hy: deur hierdie heilige salwing vergewe God u wat u gesondig het deur oë, ore ens.
Die Hervorming het die aantal Sakramente tot twee teruggebring omdat Christus net twee ingestel het. Die bediening van die Sakramente moet alleen deur geordende bedienaars van die Woord plaasvind. Mense wat soms die Sakramente buite die gemeente wil bedien hê, moet dink aan die Woord van Augustinus: Nie die gemis nie, maar die veragting van die Sakrament, veroordeel iemand. As aan 'n kranke Nagmaal bedien word, moet dit nie geskei word van die Woord-verkondiging nie. Verder, moet nog andere saam met die kranke daaraan deelneem, sodat dit werklik communie (gemeenskap) kan wees.
Amen.
L.M. le Roux