Hk 27 U Enigste Troos
SONDAG 27
Die kinderdoop
Leer: Genesis 17, vs. 1-13.
Sing: Psalm 146, vs. 1; Gesang 93, vs. 1 en 3; Gesang 94, vs. 1 en 3.
Vraag 72: Is die uiterlike waterbad dan die afwassing van die sondes self ?
Antwoord: Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes.
Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die Doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?
Antwoord: God spreek so nie sonder gewigtige redes nie; naamlik nie alleen om ons daardeur te leer dat net soos die onsuiwerheid van die liggaam deur die water, so ook ons sondes deur die bloed en die Gees van Jesus Christus weggeneem word nie, maar veelmeer, omdat Hy ons deur hierdie goddelike pand en waarteken wil verseker dat ons so waaragtig van ons sondes geestelik gewas is as wat ons uitwendig met die water gewas word.
Vraag 74. Moet die kindertjies ook gedoop word?
Antwoord: Ja, want aangesien hulle net so goed as die volwassenes in die verbond van God en in sy gemeente ingesluit is, en aan hulle nie minder as aan die volwassenes nie deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes, en die Heilige Gees wat die geloof werk beloof word, daarom moet hulle ook deur die Doop, as deur die teken van die verbond, in die Christelike Kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word, soos dit gedoen is in die Ou Verbond of Testament deur die Besnydenis, waarvoor in die Nuwe Verbond die Doop ingestel is.
Die eerste vraag wat hier van belang is, is of die uitwendige werk van die Doop die werklike afwassing van die sondes is ? Hierop kan ons net antwoord: Nee. Die doopwater besit geen behoudende krag nie. Die Heilige Skrif leer ons nêrens dat die doopwater 'n geestelike krag tot reiniging bevat nie. By die doop verander die water nie van karakter nie; dit kry nie 'n soort van hemelse krag waardeur die siel dan van sondes gereinig word nie. Die doop op sigself waarborg dan ook nie vir ons die saligheid nie, Omdat nie die water nie, maar alleen die bloed en Gees van Christus ons van sondes kan reinig. As die doop dan genoem word „die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes", dan wil dit nie sê dat die Doop ons van sondes reinig nie, maar alleen dat die reiniging van ons sondes daardeur afgebeeld word. Net soos die vuilheid van die liggaam deur water verwyder word, so word ook die sondes weggeneem deur die bloed en Gees van Christus. Die Doop is vir ons 'n merkteken en onderpand of versekering dat ons van ons sondes geestelik gereinig word, net soos ons uiterlik deur water gereinig word.
Die reiniging van die sondes geskied op 'n geestelike wyse en word alleen vir ons deur die doopwater afgebeeld en ook gewaarborg.
Die tweede en mees belangrike vraag wat hier gestel word, is of die kindertjies ook gedoop moet word? Die vrymoedige en oortuigende antwoord is: Ja, ook die kindertjies moet gedoop word, „aangesien hulle net so goed as die volwassenes in die Verbond van God en in sy gemeente ingesluit is, en aan hulle nie minder as aan die volwassenes nie deur die bloed van Christus die verlossing van sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk beloof word, daarom moet hulle ook deur die Doop, as deur die teken van die Verbond, in die Christelike Kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word, soos dit gedoen is in die Ou Verbond deur die Besnydenis, waarvoor in die Nuwe Verbond die Doop ingestel is."
In hierdie antwoord vind ons die sterke argumente vir die kinderdoop wat ontleen is aan die Heilige Skrif. Al die Christelike Kerke met uitsondering van die Baptiste, handhaaf die kinderdoop terwyl dit deur al die Wederdoperse Sektes verwerp word. Hulle beweer dat klein kindertjies nie gedoop mag word nie omdat hulle nog nie daadwerklik kan glo nie. Verder sê hulle dat die Kinderdoop nie in die Heilige Skrif voorkom nie, en ontken hulle dat die Doop in die plek van die Besnydenis gekom het. Hulle beweer verder dat die Kinderdoop nie van die Apostels afkomstig is nie, maar dat dit eers later deur die Kerk ingestel is.
Laat ons egter sien wat die strekking van die Bybel is, en dan kan ons oordeel of die Kerk wel enige Bybelse gronde het vir die handhawing van die Kinderdoop.
In die eerste plek beweer die Wederdoperse Sektes dan dat klein kindertjies nie gedoop mag word nie omdat hulle nog nie daadwerklik kan glo nie. Hulle sê die Doop is alleen vir die gelowiges. En geloof is by hulle alleen 'n aktiewe daad van die kant van die mens. Dit is wel waar dat daadwerklike geloof nie by klein kindertjies aanwesig is nie; hulle kan nog nie hulle geloof bely nie. Maar sulke kindertjies is daarom nog nie ongelowig nie. Al ken hulle nog nie die beloftes van die Evangelie nie, tog is hulle onder die beloftes van die Evangelie gebore, want die beloftes is nie alleen vir ons nie, maar ook vir ons kinders (Hand. 2:39).
Die Heilige Skrif leer ons duidelik dat die kinders aan die sonde van Adam deel het, dat hulle in sonde ontvang en in ongeregtigheid gebore word (Rom. 5, vs. 12 en 18; Ps. 25, vs. 7; Ps. 51, vs. 7; Job 14, vs. 4; Gen. 8, vs. 21).
Verder leer die Skrif ons dat die kinders net soos die volwassenes, ook alleen deur genade salig kan word en alleen deur wedergeboorte en geloof kan ingaan in die Koninkryk van die hemele (Joh. 3, vs. 3 en 5). Opmerklik is dan ook dat die Heilige Gees reeds in die harte van heel klein kindertjies kan inwerk. God kan die wedergeboorte ook in die harte van die kinders bewerk, selfs in die prilste jeug. In Luk. 1, vs. 15 word daar van Johannes die Doper die volgende getuig: „Hy sal met die Heilige Gees vervul word alreeds van die skoot van sy moeder af."
In 1 Kon. 18, vs. 12 word daar van Obadja gesê dat hy die Here vrees van sy jeug af aan. En van Jeremia word gesê dat hy deur God geheilig was tot profeet nog eerdat hy gebore was (Jer. 1, vs. 15). Van ander voorbeelde lees ons nog in Ps. 22 en 71. En die Apostels het die kinders van die gelowiges dan ook tot die gemeente gereken soos blyk uit Ef. 5, vs. 22-6, vs. 3. Op grond waarvan kan ons hulle dan uitsluit? En terwyl Christus die Koninkryk van God aan hulle toesê, mag ons dan die Doop aan hulle onthou ? Die regsgrond vir die Doop is ook nie die persoonlike, daadwerklike geloof nie, maar die Verbond van genade. Kinders wat uit gelowige ouers gebore word, val ook onder die genade, en het dus reg op die teken van die genadeverbond. Omdat God aan die kinders van die Verbond meestal eers op gevorderde leeftyd lewensvernuwing, wedergeboorte en bekering skenk, mag die kinders daarom nog nie van die Doop uit gesluit word nie. Want nie die wedergeboorte en bekering is die grond van die Doop nie, maar wel die Verbond van God. En God self reken die kinders van die gelowiges saam met die volk van die Verbond (Mat. 18, vs. 2-5; 19, vs. 13 en 14; 21, vs. 15 en 16; Mark. 10, vs. 13; Luk. 9, vs. 48; 18, vs. 15). Kinders word nie gedoop sodat hulle erfgename van die belofte sou word nie, maar omdat hulle erfgenaam is, daarom word hulle ook gedoop. Hulle kom nie deur die Doop in die Verbond nie, maar omdat hulle in die Verbond is, moet hulle ook die teken en seël of bewys van die Verbond ontvang.
'n Ander beswaar wat die Wederdoperse Sektes teen die Kinderdoop het, is dat die Kinderdoop nie in die Heilige Skrif voorgeskryf word nie. Maar al word die Kinderdoop in die Bybel nie letterlik voorgeskryf nie, dan vind ons tog die grondbeginsels vir die Kinderdoop baie duidelik in die Heilige Skrif. Die reg van die Kinderdoop hang net daarvan af hoe die Bybel die kinders van die gelowiges beskou. Omdat die Skrif ons leer dat die kinders van die gelowiges onder die genadeverbond ingesluit is, daarom is dit ook nie nodig dat die Skrif die Kinderdoop moet voorskryf nie. En op hierdie punt is die Bybel baie duidelik. God het die saligheid en die genade nie alleen aan die volwassenes toegesê nie, maar ook aan die kindertjies (Gen. 17, vs. 7 en Hand. 2, vs. 39).
By die instelling van die Ou Verbond is nie alleen die volwassenes nie, maar ook hulle kinders besny. En hierdie Verbond met Abraham was 'n ewige Verbond; van tyd tot tyd is dit vernuut en daardeur bevestig tot 'n ewige Verbond (Deut. 7, vs. 8 en 9; 29, vs. 10-15 e.a.). Van die Nuwe Verbond het ook die profete geprofeteer (Jer. 31, vs. 31-34; Esegiël 36, vs. 25 vv.).
Met die stigting van die Christelike Gemeente wat in die plek van die Oue Israel gekom het, is die Doop dan ook aanvanklik toegedien aan volwassenes. Maar die volwasse bekeerlinge het met hulle kinders oorgekom tot die Gemeente. Hele gesinne is deur die Doop by die Christendom ingelyf, soos bv. die huisgesin van Cornelius (Hand. 10, vs. 2 en 47), Lydia (Hand. 16, vs. 14 en 15), die Sipier (Hand. 16, vs. 30-34), Crispus (Hand. 18, vs. 8), Stephanus (1 Kor. 1, vs. 16). Al word dit nie uitdruklik gesê dat hier kinders by was nie, dan word dit ewe min gesê dat daar geen kinders was nie.
Wat egter van veel belang is, is dat Christus die kinders onder die Verbond insluit. Christus roep hulle na Hom toe, lê die hande op hulle en seën hulle, en sê die Koninkryk van God aan hulle toe (Mark. 10, vs. 14 e.a.). Waar Christus hulle dan onder die genade insluit, mag ons dan die teken van die Genadeverbond aan hulle onthou ?
Die kinders word ook tot die gemeente gereken, en die beloftes van die genade en die weldade van die Heilige Gees is ook vir die kleintjies. Op grond van die feit dat waar die wortel heilig is, ook die takke heilig is (Rom. n, vs. 16), word die kinders van gelowige ouers heilig genoem, selfs waar daar maar net een van die ouers gelowig is (1 Kor. 7, vs. 14).
In die Ou Testament was die Besnydenis die teken van die genadeverbond, en dit was ook vir die kindertjies. In die Nuwe Verbond het die Doop in die plek van die Besnydenis gekom (Kol. 2:11 en 12). Dis geheel in die gees van die Heilige Skrif dat die kindertjies gedoop moet word. Omdat die Skrif die Kinderdoop nie beveel nie, beteken dit nog nie dat die Kinderdoop belet is nie. As kinders nie gedoop mag word omdat dit nie spesiaal in die Bybel genoem word nie, dan moet dit tog in alle opsigte geld, ook wat 2 Tes. 3, vs. 10 betref: Wie nie werk nie, moenie eet nie. Dit sal dan beteken dat klein kindertjies nie mag eet nie — en van honger sal moet omkom. Maar hulle kan nog nie werk nie, net soos hulle ook nog nie daadwerklik kan glo nie. Wat dan by wettige gevolgtrekking uit die Heilige Skrif afgelei word, is ewe bondig en wettig as wat in die Bybel geskryf word. Dus kan ons ook nie voorstel dat Christus die Doop sou instel en die kindertjies daarvan sou uitsluit nie.
Die Wederdoperse Sektes beweer verder dat die Doop nie in die plek van die Besnydenis gekom het nie. Die Skrif leer ons egter duidelik dat die Besnydenis beslis afgeskaf is (Gal. 5, vs. 1-6 en Hand. 15), en dit is vervang deur die Doop. Net soos die Pasga van die Jode vervang is deur die Nagmaal van die Christene (I Kor. 5, vs. 7), so is die Besnydenis vervang deur die Doop. Paulus sê dit uitdruklik in Kol. 2, vs. 9-12. „Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik . . . in wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê deur die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het."
Hieruit volg dan dat die bloedige teken van die Besnydenis vervang is deur die onbloedige teken van die Doop. Die Doop is ook baie ryker aan beloftes as die Besnydenis. Die gedooptes is dan geestelik in Christus besny. In Christus loop die Besnydenis ook ten einde en die Doop neem in beginsel 'n aanvang. En omdat die Doop in die plek van die Besnydenis gekom het, moet die klein kindertjies net soos in die Ou Verbond ook die verbondsteken ontvang. En hierdie teken is ook nie vir die manlike kinders alleen nie, maar ook vir die vroulike, omdat in Christus alle onderskeid verval soos blyk uit Gal. 3, vs. 27 en 28.
Dan word ook nog beweer dat die Kinderdoop nie van die Apostels afkomstig is nie, maar dat dit eers in later eeue deur die Kerk ingestel is. Hierdie bewering is natuurlik die gevolg van gebrek aan kennis. Volgens die getuienisse van die Kerkvaders is die doop van klein kindertjies afkomstig van die Apostels. Origenes wat in ±185 gebore is, is as kind gedoop, en hy het getuig dat die Kerk die tradisie om klein kindertjies te doop, van die Apostels ontvang het. Dit was dus van die begin af volgens die reëls van die Kerk dat die klein kindertjies gedoop word. En Origenes beskou die Kinderdoop ook as noodsaaklik, nie vanweë die daadwerklike sonde nie, maar vanweë die erfsonde. Omdat 'n pasgebore kind reeds in Adam skuldig is, d.i. aan die erfsonde onderworpe is, en vir die verlossing daarvan ook genade nodig het, is dit noodsaaklik dat hulle ook die teken en seël van die genade sal ontvang.
Augustinus wat in 354 gebore is, verklaar uitdruklik dat die Kinderdoop nie deur 'n kerklike vergadering ingestel is nie, maar dat dit van die Apostels afkomstig is.
Ten slotte wil ons net daarop wys wat Calvyn van die Kinderdoop sê. Hy sê nl. dat die bestryding van die Kinderdoop, die egte werke van die Satan is. As die dwaalleraars onder die eenvoudige mense die nuus uitstrooi dat die Kinderdoop lange jare na die opstanding van Christus nog onbekend was, dan sê Calvyn dat hulle op 'n skandelike wyse lieg! Daar is dan ook geen geskiedskrywer wat die Kinderdoop nie kan terugvoer tot die dae van die Apostels nie. Die Doop is ook dieselfde vir die Christene as wat die Besnydenis vir Israel was, en daarom moet dit ook vir die kindertjies wees. Die Doop van klein kindertjies, sê Calvyn, steun op die grote goedkeuring van die Heilige Skrif.
Amen.
C. S. v. H. Steenkamp.