Hk 30 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 8 views
Notes
Transcript

SONDAG 30

Die nagmaal en die Roomse Mis

Lees: 2 Timoteus 4.

Sing: Psalm 25, vs. 2; Psalm 73, vs. 13; Gesang 145, vs. 2; Gesang 65, vs. 1

2 Timoteus 4, vs. 3: „Want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie."

Vraag 80: Watter onderskeid is daar tussen die Nagmaal van die Here en die Paapse Mis?

Antwoord: Die Nagmaal van die Here betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, deur die enige offerande van Jesus Christus wat Hy self eenmaal aan die kruis volbring het, en dat ons deur die Heilige Gees Christus ingelyf word wat nou na sy menslike natuur nie op die aarde is nie maar in die hemel aan die regterhand van God sy Vader, en daar deur ons aanbid wil wees. Maar die Mis leer dat die lewende en die dode nie deur die lyde van Christus vergewing van sondes het nie tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die Mispriesters geoffer word en dat Christus liggaamlik onder die gestalte van die brood en wyn is en daarom ook daarin aanbid moet word; en so is die Mis in die grond niks anders nie as 'n verloëning van die enige offerande en lyde van Jesus Christus en 'n vervloekte afgodery.

Vraag 81: Vir wie is die Nagmaal van die Here ingestel?

Antwoord: Vir die wat hulle self vanweë hulle sondes mishaag en tog vertrou dat dit hulle vergewe is om Christus wil en dat ook die oorblywende swakheid met sy lyde en sterwe bedek is; die wat ook begeer om hoe langer hoe meer hulle geloof te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die hipokriete en die wat hulle nie met 'n opregte hart tot God bekeer nie, eet en drink 'n oordeel oor hulleself.

Vraag 82: Moet ook diegene aan hierdie Nagmaal toegelaat word wat hulle met hulle belydenis en lewe as ongelowige en goddelose mense gedra?

Antwoord: Nee want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die ganse gemeente verwek. Daarom is die Christelike Kerk verplig, volgens die verordening van Christus en sy apostels, om sulke mense deur die sleutels van die hemelryk uit te sluit totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

Geliefdes,

Is die Roomse Nagmaalsleer vir ons dan nog 'n brandende kwessie? Die skerp woorde van die Kategismus, n.l. vervloekte afgodery pas nie meer in ons tyd nie, so word gesê! Die inhoud van hierdie Sondagsafdeling is in ons tyd van aktuele belang nie soseer omdat ons so 'n sterk stryd het teen die Roomse opvatting nie maar vanweë die „Apostel geloof" of die „Hersteld Apostoliese Sending."

Mens behoef ook nie eers baie kennis van hierdie rigting te hê om te sien dat dit 'n karikatuur van die Rooms-Katolisisme is nie. Hierdie Sondag van die Kategismus is ook 'n weerlegging van die kerndwaling van die Apostel sekte.

Ons wil die positiewe inhoud hier toelig en ons sodoende verset teen die dwaling waarteen die opstellers van die Kategismus hulle ook verset het. Dit is dieselfde dwaling net in 'n ander vorm. Ons kan die tweede helfte van die antwoord op vraag 80 as volg lees: „Maar die Hersteld Apostoliese leer, dat die lewende en die dode nie deur die lyding van Christus vergewing van die sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle in die vlees verskyn en in die gestalte van die Apostels liggaamlik teenwoordig is, om deur hulle die sonde te vergewe sodat die Apostels, as Christus in die vlees ook aanbid word, en so is die Hersteld Apostoliese leer in die grond niks anders nie as 'n verloëning van die enige offerande van Christus en 'n vervloekte afgodery." Ja ook hierdie laaste uitspraak 'n vervloekte afgodery bly van krag en toepassing.

Elkeen wat met die fanatieke propaganda van hierdie sekte nader kennis gemaak het sien hoe die arme siele verstrik word, kan nie anders as om saam met die Heidelberger te sê dit is niks anders as 'n vervloekte afgodery nie.

Wat is die positiewe inhoud van die Sondagsafdeling ? Dit is die Nagmaal van die Here, in sy wese, sy idee, sy praktyk, en die salige genieting, wat daar vir die geloof in lê, wat behou moet word.

Dit gaan hier om die enige offerande van Christus wat eenmaal aan die kruis volbring is, en ook genoegsaam volbring is. Die Christendom bring ons onmiddellik in aanraking met 'n geskiedsbeskouing, waarin 'n brandpunt te vinde is: „Die verlossingswerk van Christus, soos dit aan die heilsfeite en besonderlik aan die kruis gebind is."

Die ware christelike geloof predik vir ons 'n volheid van die tyd, 'n ontwikkeling wat op Christus uitloop, op sy vleeswording, sy lewe, sy lyde, sy sterwe, sy opstanding en hemelvaart. Eenmaal is dit alles geskied, en uit die „eenmalige" word alles gesien en waardeer. Die Christendom sonder die heilsgeskiedenis maak die lewe baie arm, God het in Christus die wêreld met Homself versoen, m.a.w. die kruis is die middelpunt van die hele wêreldgeskiedenis.

Ons moet deurdring tot die werklike inhoud van daardie heilsgeskiedenis, en dit vereis naarstige ondersoek en volharding in die gebed; want die teenstanders het klaar 'n beswaar: die geloof wys dus terug na 'n ver verlede sodat dit vir die mens onbegryplik is.

Arme siele wat die woord van die lewe wil sien, en betas, want dan wyk hulle geloof elke jaar steeds verder weg.

Ook die „Hersteld Apostoliese" kom met die beswaar. Kom na ons toe sê hulle want ons het Christus in die hede. By ons kan julle tas en sien en hoor want Hy is nou nog by ons in die vlees aanwesig.

Dit is asof die Kategismus die dinge vooruit geweet het daarom staan daar „dat ons deur die Heilige Gees Christus ingelyf word, wat nou na sy menslike natuur nie op die aarde is nie, maar na sy goddelike natuur op die innigste met ons gemeenskap kan hê." Hierdeur word Christus in die hede van die geloof gebring. Salig is hulle wat nie gesien het nie en nogtans geloof. Ons moet om saam met die Nagmaalsformulier te spreek ons harte opwaarts in die hemel verhef.

Vir hulle wie se wandel in die hemel is, is Christus baie naby, ook op die aarde, want met sy goddelike genade, majesteit, en Gees wyk Hy nooit van ons nie. Salige Evangelie! Sê u siel ook daar amen op ?

Die Hersteld Apostoliese mense het aan hierdie Christus van die Skrifte nie genoeg nie. Hulle verwag Hom want hulle sê dis 'n Jesus in die lug. Hulle wil Jesus waarneem met die sintuie. Daarom verskyn Jesus nog daagliks in die vlees, in die gestalte van die een of ander Apostel. Hulle het die Evangelie van nie sien nie en nogtans glo verwerp, hulle moet 'n Christus in die vlees hê. Die sintuie het dan ook volop aksie in hulle godsverering (as ons dit so mag noem) maar hulle kan nie saam met Paulus die dinge sien wat met die natuurlike oog nie bemerk word nie. Tot geestelike geloofskennis kan dit dus nie kom nie en die magtige verborgenhede van die Godsaligheid kan hulle ook nie tel nie, want wat geen oog ooit gesien het, en geen oor ooit gehoor het, en wat nooit in die hart van 'n mens opgekom het nie.

Hulle het geen eerbied vir die een offer van Christus en die een reeks heilsfeite nie. Hulle preek 'n herhaling van die vleeswording, 'n herhaling van die versoeningswerk deur die Apostels wie se middelaarskap onmisbaar is. Hulle gesang tog is getuie daarvan.

„Apostel in wien Christus woont

„Gy arm van God, Gy 's Heren kracht „In u ligt Gods genade macht

„Die het boetvaardig harte loont. „Dat u genade ons immer dek

„Zy zyn ons hoog vertrek

„Ja Gy alleen kunt helpen anders geen

„Want in u komt ons nader God zelf

„Hy onze Vader, door Zynen Zoon."

Is dit anders as vervloekte afgodery. Die Heiland word die kroon ontneem, die Apostel vergeef die sonde, die is Middelaar, watter selfmisleiding.

Vir die hoogmoedige mensehart is dit strelend om so bewierook te word, en woorde van Jesus op die lippe te neem en op sigself toepaslik te maak. Die woorde word eers lewend op die lippe van die Apostels. Die geskrewe woorde van God in die Bybel beteken niks, die word eers lewend deur die Apostel. Die Skrifwoord is dan alleen welkome aanleiding vir die predikers om die hoorders met afgodiese ontsag vir hierdie antikriste te vervul. Ons dink dadelik aan die woord van Paulus aan die Galasiërs. O, uitsinnige Galate! Dit kan niks anders as duiwelswerk wees nie. Waak en bid dat u nie in versoeking kom nie. Hier is geen rus en vrede te vind, ook nie by die „Hersteldes" nie. Daar moet eers 'n wedergeboorte plaasvind voordat die Koninkryk van God beërwe word. Sorg dat u die wapen van die kennis van Gods Woord het om u te verdedig teen die aanslae van die vyand.

Maar vir wie is die Nagmaal ingestel ? Vir diegenes wat hulle vanweë die sonde mishaag.

By Samuel al kry ons die kinderlike geloof, maar dit gaan deur dieptes van sondekennis heen om so te kom tot die berge van genadelewe. Dit is onmoontlik vir kinders om die mishae oor die sonde te ken, daarom spreek dit vanself dat die Nagmaal nie ingestel is vir die kinders nie.

Hoe kan daar by die kinders selfbeproewing wees, kennis van sonde, verlossing en dankbaarheid soos ons Nagmaalsformulier ook sê? Dit beteken nie dat die jonger lidmate moet wegbly van die Nagmaal nie, want hulle moet ook uit genade lewe en moet ook aan die tafel verseker word van die hartelike liefde en trou van Jesus Christus. Die tyd van die geloofsbelydenis is so gestel dat ons kan aanneem dat die gawe van onderskeiding dan al aanwesig is. Waarom hieroor gepraat?

By die „Hersteldes" neem die kinders ook deel aan die Nagmaal. Wat bly dan oor van die wese van die Nagmaal ? Word die Sakrament dan nie gewoonweg 'n toormiddel nie? Kan die Nagmaal nog 'n hoogtyd wees ?

Dit is geen wonder nie dat hierdie sekte nou baie belang gaan stel in die verseëling, d.w.s. 'n plegtige handoplegging, waardeur die Apostels dan die gelowiges deel laat kry aan die Heilige Gees. Ofskoon hier geen skriftuurlike grond voor bestaan nie maak hulle die saligheid hiervan afhanklik. 'n Verseëlde het dan nie deur lange stryd die vrede gevind nie, maar die afgodies vereerde Apostel het aan die persoon die Heilige Gees gegee deur die handoplegging.

Alleen die verseëldes sal duisend jaar saam met Christus regeer en hierdie ridderslag kan alleen die Apostel gee.

Die weerinstelling van die apostelamp soos by hierdie sekte is eiewillige godsdiens. Gods Woord leer dat die apostelamp beperk is tot die tyd van die stigting van die Christelike kerk, let op Ef. 2, vs. 20, 1 Kor. 3, vs. 10 en 11, Openb. 21, vs. 14. Die Apostels moes ooggetuies van Christus in sy werk wees (Joh. 15, vs. 27). Christus het persoonlik aan Paulus verskyn voordat hy geroep is as Apostel. Telkens beroep die Apostels hulle daarop dat hulle gesien het en hulle laat nergens verstaan dat daar na hulle weer apostels sal wees nie. Waar die „Hersteld Apostoliese" mense aan die belydenis kom, n.l. „Ek glo dat die Here Jesus sy kerk deur lewende Apostels regeer tot aan sy wederkoms" weet ek nie.

Die bedenkinge van die mense is vleeslik en daarom moet ons bid dat God die oë van die dwalendes open sodat hulle sien hoe hulle Christus verraad aandoen en die Sakrament onteer.

Laat ons nou nie soos die Fariseërs God dank dat ons nie is soos die „Hersteld Apostoliese Sending" nie. Die bieg word in vraag 82 behandel. Die plig van die kerk is om die tafel van die Here heilig te hou. Wat kom daarvan tereg? Die Kerkraad is nie nougeset genoeg nie word gesê! Maar hoe baie keer sê ons soos Kain, is ek my broer se oppasser ? Daar is so baie klagte en griewe teen die Kerk maar ons moet onsself ondersoek.

Elke sektariër is 'n propagandis vir sy sekte, en 'n organiseerder. Hoe staan dit by ons ? Ons moet eers sover kom dat ons die Nagmaalsformulier beoefen elke dag van ons lewe dan sal die regte geesdrif daar wees, dan sal die wêreld erken dat Jesus leef en dat Hy vanaf die regterhand van die Vader sy gemeente regeer.

Amen

W. J. Kemp.

Related Media
See more
Related Sermons
See more