Hk 33 U Enigste Troos
SONDAG 33
Die waaragtige bekering
Lees: Romeine 6, vs. 1-23.
Sing: Psalm 25, vs. 2 en 3; Psalm 84, vs. 4; Gesang 75, vs. 1 en 2; Gesang 33, vs. 5.
Rom. 6, vs. 11. „So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewendig is vir God in Christus
Jesus, onse Here.
Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die oue en die opstanding van die nuwe mens.
Vraag 89: Wat is die afsterwing van die oue mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het, sodat ons dit nou hoe langer hoe meer haat en ontvlug.
Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens?
Antwoord: Dit is 'n innige vreugde in God deur Christus en lus en liefde om na die wil van God in alle goeie werke te lewe.
Vraag 91: Maar wat is goeie werke?
Antwoord: Net die wat uit 'n ware geloof, volgens die wet van God, alleen tot sy eer gedoen word, en nie die wat op ons goeddunke of op insettinge van mense gegrond is nie.
Gemeente,
Dit is heeltemal 'n ander mens, hierdie Paulus wat ons tekswoord neergeskryf het, as die Saulus wat eenmaal in Jerusalem aan die voete van Gamaliël gesit het. Saulus van Tarsus was 'n Fariseër onder die Fariseërs, 'n man wat verteer is deur sy ywer vir die huis van die Here. Niks was vir hom uitgeslote solank as hy daarmee die diens van die Here kon bevorder nie. Daarom het hy 'n Christen gehaat . . . die Christene wat 'n man uit Nasaret met die naam van Jesus volg en aanbid. Hy het in hulle niks anders gesien as net nog 'n sekte wat die sinagoge probeer verdeel, die gesag van die wet en die profete ondermyn en 'n verderflike invloed onder sy volk uitoefen nie. Daarom het hy met goedkeuring en welbehae gestaan en kyk hoe een van die nuwe „dwaalleraars" met die naam van Stefanus gestenig word deur die Jode. En later het hy self begin om hierdie „dwaalleer" te help uitroei, totdat sy naam 'n verskrikking vir die Christene geword het.
Ons kan byna nie glo dat dit dieselfde man is wat nou aan die Romeine skryf dat hulle moet reken dat hulle lewendig is vir God in Christus Jesus die Here nie. Dit is duidelik geen hater van Christus en geen vervolger van Christene wat so iets kan skryf nie. En as ons dink wat hy vir die Evangelie van Christus gely het, staan ons nog meer verbaas: In gevaar van sy eie volk sowel as heidene, van woestyn en see, in arbeid en slapelose nagte, in honger en dors, koue en naaktheid het Paulus sy Here, die Jesus van Nasaret, in onvermoeide ywer gedien (2 Kor. 11, vs. 26-33). Wat 'n geweldige verandering! Dit is heeltemal 'n nuwe mens waarvan ons hier lees en hoor spreek.
Hierdie verandering, Broeders en Susters in Christus, het plaasgevind op die pad na Damaskus. Saulus was op pad na Damaskus met volmag van die hoëpriester in Jerusalem om die Christene wat hy in Damaskus mag vind, gevange te neem en geboeid na die gevangenis te sleep. So berug was Saulus reeds dat die Christene gebeef het om te verneem dat hy na Damaskus kom. Maar God het ander gedagtes as die mens. Op die pad omstraal 'n helder lig die groep reisigers en Saulus val op die grond; 'n stem weerklink: „Saul, Saul waarom vervolg jy My ?" En hy sê: „Wie is U, Here ?" En die Here antwoord: „Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop." En die man wat eenmaal vir niks sou stuit nie, bewe en is verbaas; nederig en ootmoedig vra hy: „Here, wat wil U hê moet ek doen?" Saulus is oorwin, sy weerstand gebreek en sonder een woord teë te praat, gehoorsaam hy die bevele van die Here (Hand. 9, vs. 1).
Dit, my Broeder en Suster, noem ons Saulus se bekering, en onwillekeurig styg die vraag op: Wat is bekering, hierdie wonderlike verandering wat 'n vyand van Christus kan verander in sy mees toegewyde dienskneg? Die bekeerde staat word uitgedruk deur ons tekswoord: „So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewendig is vir God in Christus Jesus, onse Here."
So soos Jesus ook dood is vir die sonde, die dood wat Hy eens en vir altyd gesterf het vir die sonde, nie omdat Hy 'n sondaar was nie maar omdat Hy Hom met ons in ons sondige staat vereenselwig het sodat Hy die sonde en die loon van die sonde, die dood, in ons plek kan dra. En die lewe wat Hy leef na sy opstanding uit die dode is 'n lewe vir God en by God, 'n lewe onaantasbaar vir die dood, die dood heers nie meer oor Hom nie. So moet ons ook wees as ons waarlik bekeerde mense wil wees. Solank ons lewe vir die sonde is ons dood vir God; eers as ons dood is vir die sonde kan ons lewendig wees vir God. Die woorde „dood" en „lewe" is hier in die geval van die mens natuurlik geestelik bedoel; maar al is dit 'n geestelike dood en lewe dan behoort dit nie minder werklik te wees as die liggaamlike dood nie. Die gedagte van die Apostel is dat as die mens dood is, kan die sonde geen vat meer op jou hê nie. Daarom moet ons sterf wat die sonde betref. Christus het vir ons sonde gesterwe, daarom sterf ons saam met Christus aan die kruis, en leef saam met Christus vir God. Net so min as wat die sonde 'n mens kan aanraak wat werklik liggaamlik gesterwe het, net so min behoort die sonde ons aan te raak in geestelike sin as ons saam met Christus gesterwe het. Dit is die ware bekering wat deur die Kategismus ook in twee dele gedeel word, n.l. die afsterwe van die ou — d.i. die sondige — mens en die opstanding van die nuwe — d.i. die in Christus geregverdigde en geheiligde — mens.
Maar om hierdie staat te bereik, is nie iets wat in een oomblik gedoen kan word nie. Die bekeringsweg is 'n lang weg. Dit is ook 'n weg wat vervals kan word en waar ons veel huigelary kan aantref. Daarom is dit nodig dat ons eers onderskei tussen 'n ware bekering en 'n onware bekering. Elke Christen weet van mense wat ons goed noem, wat 'n onbesproke lewe lei en tog weinig of niks met die kerk of met godsdiens te doen het of te doen wil hê nie. Dit is ook moontlik vir 'n mens wat 'n roekelose lewe gelei het om sy bose weë te verlaat en „homself te verbeter", soos ons dit gewoonlik noem. Is dit nou bekering? In 'n sekere sin is dit bekering, bekering van 'n slegte lewenswandel na 'n goeie. Maar dit is nie bekering wat die Bybel en elke gelowige daaronder verstaan nie, dit is sedelike verbetering. Hierdie sedelike verbetering is wel nuttig vir ons samelewing maar voor God is dit van geen waarde nie, want dit is mensewerk en hoe kan 'n mens wat in sy wese bedorwe is, iets goeds voor die alvermoënde God doen? Kan daar soet water uit 'n bitter bron vloei? Of kan ons skoon water skep uit 'n vuil put? Sedelike verbetering beteken dat die mens wat innerlik vuil en sondig is, uiterlik skoongemaak en gepoleer word. Die ware bekering het sy bron nie in die mens nie maar in God. Die diepste grond van die bekering is die wedergeboorte van die mens wat deur die Gees van God in ons harte bewerkstellig word. God gebied sy Gees en sonder dat dit merkbaar is vir ons kom die Heilige Gees en plant die nuwe lewe en die nuwe mens in ons harte. Soos die begin van die vleeslike geboorte is hierdie geestelike geboorte vir ons gehul in 'n sluier wat ons nie kan deurdring nie en wat gebeur is iets heiligs waarin ons nie kan indring nie. Maar die wedergebore hart openbaar hom na buite as die soek na die waaragtige God en die wegvlug vir die sonde. Die eerste openbaring van die wedergebore hart is verskillend by verskillende mense: by die Apostel Paulus sien ons dit kom soos 'n weerligstraal uit die bloue hemel, skielik en onverwags. Maar meesal kom dit sag sonder veel uiterlike merktekens — om bekeer te word is nie nodig om die geweldige wedervarings van die Apostel te hê met gesigte wat ons sien en 'n verandering van die mens in een oomblik nie; nee, die weerligstraal behoort aan die Here, maar ook die sagte en byna onmerkbare lig van die vroeë oggend, die donderstorm sowel as die dou kom van die Here. So kom die bekering van die een mens skielik en onverwags, maar meesal kom dit sag en onmerkbaar soos die oggendlig of die dou. Maar dis 'n gawe van God waarvoor ons biddend moet pleit en wag. — Maar bekering beteken ook nie dat God met sy almag ons neem en met dwang verander nie; nee, God werk deur sy Gees in op ons gees: Hy verhelder ons denke sodat ons kan sien wat is sondig en verkeerd en wat is reg en Gode welbehaaglik; ons wil wat deur die sonde ondermyn, verswak en verslap is, versterk en verstyf die Here sodat ons die wil kan inspan vir die goeie en Gode welbehaaglike weg. Maar, my Broeder en Suster, ons moet daardie verhelderde denke gebruik en die versterkte wil inspan. God laat ons wedergebore word en lei ons tot die bekering, maar ons moet ons ook bekeer. Soos die profeet Jeremia bid: „Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God" (Jer. 31, vs. 18). Hierdie waaragtige bekering betref die hele mens. Die Apostel sê: „So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is"; die Kategismus sê: „Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?" Om net 'n deel van die mens te verander is nog geen bekering nie. As ons ons sinlikheid laat vaar maar nog altyd hoogmoedig is, is ons nog nie bekeer nie; of as ons na lange en bittere worsteling ons boesemsonde oorwin het maar nog altyd wraaksugtig is, is ons nog geensins een van die ware bekeerdes nie. Nee, bekering is die verandering van die hele gedragslyn, die hele gedagtewêreld en die hele gesindheid van die mens.
Dit is hierdie verandering van gedragslyn, gedagtewêreld en gesindheid wat die Kategismus noem die „afsterwing van die oue mens." Hierdie afsterwing begin by 'n „hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het." Berou is 'n droefheid oor iets wat ons gedoen het wat verkeerd is. Hierdie berou is nie 'n tydelike emosie of gevoel wat by die mens opkom, die oog vir een oomblik met trane vul en die volgende oomblik al weer weg is en ons dieselfde laat as wat ons was nie; nee, die droefheid bly: soms is dit sterker en soms weer swakker, maar die feit van ons sondes teen God bly altyd die bron van die bitterste droefheid van die hart. Elke keer wat ons teen God oortree en selfs net die gedagte aan die sonde wat ons in die verlede gedoen het, is genoeg om ons te vervul met diep en pynigende selfverwyt. Maar dit bly nie by droefheid en selfverwyt nie — ons neem ons toevlug tot God met die belydenis van koning Dawid op ons lippe: „Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë" (Ps. 51, vs. 6). En omdat ons droefheid oor ons sonde so groot is, vervul die sonde ons met weersin en afsku. Ons begin om die sonde te haat en te vermy; ons stry daarteen om die sonde na te laat en dit nooit weer aan te raak nie.
Maar gemeente, die haat wat in ons groei teen die sonde gaan gepaard met 'n ander heerlike feit: ons jaag nie net daarna om van die sonde af weg te kom nie; ons is nie net negatief nie; nee, tegelyk met ons stryd om van die sonde af weg te kom is daar nog in ons harte die begeerte om nader aan God te kom. Hoe groter ons haat in die sonde is, hoe meer verlang ons na die suiwere weg van God; hoe groter ons afsku in die sonde, hoe meer verlang ons na die gemeenskap van God en sy gelowiges. Dit is wat die Kategismus noem die „opstanding van die nuwe mens." Die ou mens met sy gehegtheid aan die sonde verdwyn en in dieselfde mate tree die nuwe mens met sy welbehae in die weg van die Here te voorskyn. Dit is verkeerd om te dink dat die ou mens eers heeltemal verdwyn en die nuwe dan skielik in al sy heiligheid te voorskyn tree. Die afsterwe van die oue en die opstanding van die nuwe mens is prosesse wat tegelyk plaasvind.
Die opstanding van die nuwe mens wat daartoe lei dat ons kan sê soos die Apostel dat ons kan reken ons lewe vir God in Christus Jesus onse Here, is in vele opsigte feitlik die direkte teenoorgestelde van die afsterwing van die oue mens. Die afsterwing van die oue mens begin met 'n mishae in onsself oor ons sonde; die opstanding van die nuwe mens begin met 'n soek na die Here. In ootmoed en nederigheid soek ons die Here, bewus daarvan dat ons nie werd is om deur die Here aangesien te word nie. Ons gaan soos die verlore seun (Luk. 15, vs. ) : Ons wil voor die Vader bely dat ons nie werd is om as een van sy kinders gereken te word nie want ons het ver afgedwaal en die Vader diep gekrenk met ons sondige lewe; maar ons begeer tog so om ook in sy huis te wees, daarom sal ons Hom maar net vra of ons 'n nederige dienskneg in sy huis kan wees. En, my Broeder en Suster, hoe groot is die vreugde nie wanneer ons Christus Jesus gevind het nie! Hierdie vreugde ontbrand in ons harte omdat die rede van ons droefheid, die sonde, deur Jesus vergewe is. Ons is geregverdig deur die geloof wat ons gehad het in die Here. Maar soms kan dit so lank neem voordat ons daardie vreugde oor die vergifnis van ons sonde kan smaak. Naaman moes sewe keer in die Jordaan bad voordat die ou melaatse vlees van hom weggegaan het en die nuwe vlees tevoorskyn gekom het; en hierdie nuwe vlees van Naaman was soos die vlees van 'n kindjie. So is ons ook: Keer op keer moet ons soek, en as ons die dag belewe waarin die ou melaatsheid van die sonde van ons wyk, is ons nuwe vlees nog swak soos 'n kindjie s'n. Dan begin die beproewingsweg vir die gelowige, die weg waarop hy gelouter word en sy swak geloof versterk en gehard moet word: Die een dag is jy verheug in God omdat jy die Here gevind het, en die volgende dag roep jy in wroeging en smart uit die dieptes van jou ellende dat God jou sondigheid moet vergewe en jou weer in genade aanneem; die een dag juig jy oor jou oorwinning oor die sonde, die volgende dag moet jy weer beskaamd staan oor jou swakheid en lafhartigheid in die geloofsstryd. Hierdie vreugde en droefheid sluit mekaar nie uit nie, maar gaan hand aan hand die lewe hier op aarde deur — as daar geen droefheid in die hart van die opregte gelowige was nie, sou dit beteken daar is ook geen sonde nie, dus dat die gelowige volmaak sou wees en dit is hier op aarde onmoontlik. Droefheid alleen voer die mens weer tot wanhoop. Maar die droefheid en vreugde saam in die hart bring die kalme vrede van God; as ons na onsself kyk moet ons weeklaag en rou, maar wanneer ons na Christus kyk, styg lofpsalms en dankliedere na ons lippe; ons klaag en ons loof, ons ween en ons dank, ons gaan in rou en in feesgewaad. Dit is die spanning in die Christen se lewe; dit is die feit wat die Christen onverstaanbaar maak vir die wêreldling; dit is die paradoks van die geloofslewe: ons is sondaars, en tog geheilig deur Christus.
So, my Broeder en Suster, gaan die gelowige sy lewe deur. Op grond van die feit dat ons in Christus Jesus geregverdig is van ons sonde en ons ongeregtigheid, gaan ons op die lange weg van die heiligmaking. En omdat ons deur Christus geregverdig is, moet ons ons beskou as dood vir die sonde maar lewendig vir God deur Christus. Hoe bitter die stryd ook al mag wees, hoe geweldig die worsteling en menigvuldig die teenslae, word ons tog in staat om die sonde te weerstaan en vind ons lus en vreugde in alle goeie werke.
Hierdie goeie werke wat ons liefde en blydskap word in die geloofstryd het nie die bedoeling dat ons daarmee ons saligheid verdien nie; dit is ook nie net hulp aan armes, besoek van krankes, weduwees en wese nie; dit is nie net die gee van offers aan die kerk nie; nee, dit is alle dade wat gedoen word uit geloof volgens die wet van God en tot eer van God. Uit geloof tree ons op omdat ons weet dat die dinge wat uit die natuurlike hart kom miskien nuttig kan wees vir die mens, maar dit is onbestaanbaar voor God en ons lewe en ons lewensroeping kom uit die hand van God en ons tree op bewus van ons afhanklikheid van God en gehoorsaam aan sy goddelike wil. Volgens die wet van God handel ons omdat ons as mense sondig is en nie kan bepaal wat altyd goed en reg is nie; die wet van God moet vir ons die maatstaf wees waaraan ons al ons handelinge, gedagtes en woorde toets. En tot eer van God handel ons, werk ons, ja lewe ons. Ons is geskape om die lof van die Here te verkondig; ons is deur die liefde van God vir die sondaar gered uit 'n ewige verdoemenis; ons word deur die offerande van Christus geskenk die ewige saligheid — kan ons anders as om ons hele lewe lank die lof van God te verkondig ? Ons harte is vol van dankbaarheid vir alles wat ons uit die hand van die Here ontvang het en 'n deel van daardie dankbaarheid vloei uit ons as 'n stroom van werke aan God gewy en bedoel vir die grootmaking van sy Naam. En met elke daad waarmee ons sy Naam kan grootmaak, styg 'n danklied tot ons lippe. So gaan ons die lewe deur; en al verstom die danklied en die lofpsalm soms, en al styg daar ook partymaal 'n klaaglied omhoog, dan weet ons tog daar kom eenmaal 'n tyd waarin ons in alle volmaaktheid bevry van stryd en droefheid, die Naam van God en sy Seun sal loof tot in ewigheid.
Amen. P. S. Dreyer.