Hk 38 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 4 views
Notes
Transcript

SONDAG 38

Die vierde gebod

Lees: Psalm 119, vs. 17-32.

Sing: Psalm 84, vs. 1; Gesang 52, vs. 7 en 10; Psalm 25, vs. 2; Gesang 22, vs. 3.

Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: Eerstelik, dat die kerkdiens of die predikamp in die skole onderhou moet word, en dat ek, veral op die Sabbat, dit is op die rusdag, met die gemeente van God ywerig moet opkom om die Woord van God te hoor, die Sakramente te gebruik, God die Here openlik aan te roep, en christelike liefdegawes vir die armes te bring;

ten tweede, dat ek al die dae van my lewe my bose werke moet laat staan, die Here deur sy Gees in my moet laat werk en so die ewige Sabbat in hierdie lewe moet begin.

Gemeente van die Here!

Een dag van die week is 'n rusdag. Gewoonlik rus 'n mens aan die einde van 'n werkperiode. Eers na die voltooiing van jou werk, gun jy jou 'n welverdiende rus. As die Sabbat 'n dag sou wees waarop 'n mens alleen liggaamlik rus, sou sy plek aan die einde van die week van werksaamhede eintlik beter gepas het. Nou eindig die week vir die christelike gemeente egter nie met 'n rusdag nie, maar hy begin daarmee. Dit lyk so onlogies. En dit is ook anders as wat ons menslike logika en redenering dit sou stel. Maar ons christelike Sabbat aan die begin van die week is reeds 'n prediking: ons begin die week deur te rus in die werk van God, deur die werk wat Jesus Christus eens vir almal en vir altyd volbring het, te vier. Die Sabbat is 'n dag wat wesensverskillend is van al die ander dae van die week: nie net 'n dag waarop 'n mens van jou gewone alledaagse werk rus nie, maar 'n dag wat God vir Hom uitgesonder het, 'n dag wat aan Hom gewy moet word. As dit geskied, sal elke verdere dag 'n besondere glans van hierdie deurlugtige dag, die dag van grote dinge, ontvang.

Nou is die verleiding groot om onmiddellik oor te gaan tot die skildering van 'n donkere beeld van sabbatsontheiliging wat so kenmerkend van ons tyd geword het. En wat 'n beeld kan daar nie geskilder word nie! Ons sal dan in die eerste plek dink aan die pret en plesier en sport en vermaaklikheid waarmee die dag van die Here ontheilig word.

Veel beter is dit egter om nie 'n negatiewe rigting in te slaan nie, maar om die positiewe weg van die Kategismus te volg om aan te dui hoe hierdie dag aan God gewy moet word; dan sal dit wel duidelik word dat ons almal ver te kort skiet. Volgens die Kategismus is daar maar net een manier om die rusdag reg te vier, en dit is deur die Woord van God in die middelpunt te stel. Die Sabbat is Sabbat deur en vir die Woord van God. Neem die Woord van God daaruit weg, en dit is 'n dag soos alle dae.

Die eerste wat God ons in die vierde gebod gebied, is volgens die Kategismus, die onderhouding van die kerkdiens of die predikamp en die skole. Die skole beteken o.i. die teologiese skole, die opleiding van die bedienaars van die Woord. Want as daar geen Evangeliedienaars is nie, kan die predikamp nie onderhou word nie. Maar wie moet nou die kerkdiens of die predikamp onderhou? Seer seker is dit die plig van die owerheid. Hy mag nie neutraal of onverskillig staan teenoor die hoogste belange van sy onderdane nie. Hy het belang daarby dat sy onderdane nie net liggaamlik gesond sal wees nie, maar ook, ja veral geestelik gesond sal wees. Hy moet sy wêreldlike swaard so hanteer dat die „bose en listige raadslae teen Woord en Kerk" geweer kan word. Wee die owerheid wat so kleurloos geword het dat alles maar goed en reg is en oogluikend geduld word. Verder is dit seer seker die plig van die predikante om die kerkdiens te onderhou. Die predikant moet onthou dat die belangrikste gebeurtenis van die week, die prediking van Sondag is. Dan moet hy alleen sy beste gee. Noodsaaklik is dat hy nie sy studeerkamer sal verwaarloos nie, anders word die kerk met geestelikbloedarmoedige prekies leeggepreek.

En in die derde instansie moet die gemeentelede die kerkdiens onderhou. Dis die skuldige plig van elke gemeentelid om Sondag in die kerk te wees. En die wat nie kan nie, moet tuis rondom die huisaltaar vergader. Maar nou kom die besware: dis te koud of te nat of te ver. Die boerdery of die besigheid of die huislike omstandighede laat dit nie toe nie. Elke dag van die week sal ons presies op tyd ons kantoor of werkplek binnestap; elke dag van vroeg tot laat in die boerdery besig wees. Dan sal wind of weer ons nie keer nie. Ons kan ook nie anders nie, want waar sal die voedsel en die klere van die liggaam vandaan kom as ons nie werk nie ? Sondag is dit die dag vir die behoeftes van die siel. Dan moet hy gevoed en gelaaf word vir die ewigheidslewe. Maar omdat ons die kosbare siel nie sien nie, bekommer ons ons nie oor hom nie. Watter uitgeteerde en ondervoede siele sal daar nie eendag voor God staan nie! Uitgehonger en doodgehonger vlakby die voedsel!

Maar vir die onderhouding van die kerkdiens is nog iets nodig. Ook die kerk kan nie sonder die stoflike dinge bestaan nie. Die kerkdiens moet ook deur ons geld onderhou word. In ons kerklike lewe het ons 'n soort van fyngevoeligheid ontwikkel t.o.v. die geldelike sy: daaroor moet nie in die kerk gepraat word nie. En tog is die offervaardigheid 'n deel van ons godsdiens. Hoe dikwels sit gierigheid en hebsug nie op die troon nie. Dis werklik pynlik hoe Kerkrade dikwels moet worstel om die nodige geld te kry vir een of ander verbetering, en dit in ryk gemeentes. Predikante het dikwels soveel geldelike sorge, dat hulle werk noodwendig daaronder moet ly. Ons is so geneig om noukeurig uit te werk met hoe min 'n gemeente kan deurkom, in plaas van te bereken hoeveel ons uit dankbaarheid vir die diens van die Evangelie, nie moet, maar kan bydra nie. Ook ten opsigte van die beursie sal ons ons nog moet bekeer.

Die Kategismus sê verder dat ons veral op die rusdag met die gemeente van God ywerig moet opkom, om die Woord van God te hoor. Dit is die doel van ons kerkgang: om die Woord van God te hoor. Ons gaan nie kerk-toe net uit gewoonte nie — hoewel dit nog altyd 'n beter gewoonte is as die andereen om nie kerk-toe te gaan nie — maar ons gaan om te hoor wat God ons te sê het. Wat God ons te sê het is altyd die belangrikste wat elke mens moet hoor. Nie wat ons sê of dink van God is belangrik nie, maar wat God tot ons spreek is van belang. Want sy Woord is 'n krag wat ons in ons bestaan tref; waar ons sy Woord hoor, daar gebeur iets met ons: sy Woord verander ons en maak van ons nuwe mense. Dis 'n krag wat ons hoogmoed omruk en ons nederige mense maak. 'n Krag wat ons eiegeregtigheid afbreek, al ons menslike bouwerke wat ons met soveel selfversekerdheid vervul, vernietig, sodat daar alleen nog oorbly die geloofsgryp na God waarin ons dan ook staande bly, waarin ons hoop en troos en blydskap geleë is, sodat ons nie sonder God kan lewe nie, omdat Hy nie sonder ons wil wees nie. Daardie Woord sal die regte lig vir ons op die Sakramente werp, sodat ons sal loof by die doop, omdat God ons as sy kinders aanneem, ons soek en uitkies, lank voordat ons nog 'n standpunt of 'n houding teenoor Hom kan inneem. Dit sal ons die beker van verlossing met danksegging laat opneem en vir die sondedraende genade van God in Jesus Christus sal ons die verantwoordelikheid aanvaar om ons dankbare diens aan God te wy. Die Woord sal ons die nood van ons medegelowige ook reg laat sien, sodat ons liefdegawes nie net die tradisionele sente sal wees nie.

Die Woord sal ons onder die vergewing van sondes deur die genade van ons Here Jesus Christus laat lewe. En waar ons onder die vergewing lewe, kan ons geen vrede met die sonde meer hê nie. Die Woord sal ons in die groot onrus bring, sodat ons die bose werke sal laat staan, en die een goeie werk doen: n.l. om te glo. En om te glo beteken om self niks te doen nie, maar God alles te laat doen, omdat Hy alles reeds gedoen het. So sal sy Gees in ons hart werk. So vind ons rus in die onrus, en so begin die ewige Sabbat vir ons reeds in hierdie lewe, omdat ons lewe 'n lewe van verwagting van die toekoms word, waaraan Jesus werk.

Amen.

F. J. van Zyl.

Related Media
See more
Related Sermons
See more