Hk 39 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 15 views
Notes
Transcript

SONDAG 39

Die vyfde gebod

Lees: Efesiërs 6.

Sing: Psalm 25, vs. 2 en 3; Psalm 119, vs. 5; Gesang 62, vs. 2; Gesang 125, vs. 5.

Lees: Ex. 20, vs. 12. „Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee."

Vraag 104: Wat wil God in die vyfde gebod?

Antwoord: Dat ek my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou moet bewys en my aan hulle goeie leer en straf met gepaste gehoorsaamheid moet onderwerp en dat ek ook met hulle swakheid en gebreke geduld moet hê, aangesien dit God behaag om ons deur hulle hand te regeer.

Bose geeste is in hierdie wêreld besig om die mense die donker afgrond van die ewige verderf in te slinger.

Die mense is nie langer hulleself nie — hulle het die regte koers kwytgeraak en het hulle ewewig verloor. Allerlei faktore werk daartoe mee om die geordende christelike maatskappy in duie te laat stort. Vir goddelike instellings word daar weinig of geen eerbied geopenbaar nie. Verhoudinge wat deur God bepaal is word steeds minder gerespekteer. Bande deur God self gelê, word byna geen rekening meer mee gehou nie.

Hierdie wêreld is besig om te wankel — aan alles is dit te sien dat die einde van alle dinge naby gekom het.

Die tekens van die tyd is duidelik. Het ons nie reeds by die laaste van die dae gekom wat deur die apostel Paulus voorsien is nie? Ons sien elke dag hoedat die mense liefhebbers van hulleself geword het — oral speel geld die groot rol, kinders is ongehoorsaam aan hulle ouers, die natuurlike liefde is besig om te verdwyn — oral sien ons bandeloosheid en roekeloosheid tot openbaring kom — die mense is liefhebbers van vermaak i.p.v. liefhebbers van God. Die gebooie van God word skaamteloos oortree. Veral ook die vyfde gebod word nie meer deur duisendes gehoorsaam nie.

Die sonde van ongehoorsaamheid neem steeds groter afmetings aan. Die mense wil vry wees van alle bande. Aan niemand wil hulle onderdanig wees nie - selfs aan die gesag van God wil hulle hulle nie langer onderwerp nie.

En in sy gebod stel God aan ons die eis van eerbied — eerbied is hoofsaak, want as ons eerbiedig is dan volg die gehoorsaamheid en liefde vanself.

En eerbied het skaars geword in die verhouding van kinders tot hulle ouers. Menige huisgesin is opgebreek en het diep ongelukkig geword omdat kinders weier om die gesag van hulle ouers te eerbiedig. Wie kan al die trane tel wat daar deur vaders en moeders gestort word omdat hulle seun of dogter hulle niks anders as verdriet en smart aandoen nie?

Soveel ouers word deur hulle kinders met minagting behandel — hulle het geen respek vir die wense en begeertes van hulle ouers nie. Soiets as ouerlike tug bestaan nie langer vir hulle nie. Luister maar na die manier waarop baie kinders van hulle ouers praat: die vader is die „ou kêrel" en die moeder is die „ou vrou". Vader en moeder word aangespreek as „jy" en „jou"! Daarom is dit noodsaaklik om die vyfde gebod gedurig maar weer in te skerp en te wys op die belangrikheid van hierdie goddelike eis.

Die eerste vier gebooie handel oor ons verhouding tot God. Ons word geleer hoe en wanneer ons God moet dien.

In die laaste ses gebooie val die nadruk op die verhouding waarin ons as mense tot mekaar moet staan.

Die eerste tafel van die wet eis vir God die eerste plek in ons hart en in ons lewe. Ons moet Hom liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand.

Die tweede tafel begin met vir ons ouers, die twee persone wat die naaste aan ons staan, die grootste eerbied te verlang. Die vyfde gebod het te doen met die huislike lewe en leer hoe seuns en dogters hulle teenoor hulle ouers moet gedra.

Hierdie gebod het veral ook vir Israel groot betekenis gehad, omdat by hierdie volk die grootste gesag uitgeoefen is deur die hoofde van die gesinne. Die gesag van die vader was besonder groot; solank as hy geleef het, het die kinders gestaan onder sy vaderlike tug. Sonder sy toestemming kon die kinders nie 'n huwelik sluit en selfs al het die seuns selfstandig geword dan was hulle nog verplig om vir hulle ouers te sorg.

Wee in Israel die kind wat dit gewaag het om sy hand teen sy ouers op te tel, of wat sy ouers gevloek het, of hom oneerbiedig en onbetaamlik teenoor sy ouers gedra het.

Dit het vir elke kind vanself gespreek dat hy sy vader en moeder met hoogagting, eerbied en gehoorsaamheid moet bejeën.

As kinders hulle vader en moeder eer dan geld vir hulle die belofte dat hulle dae verleng sal word in die land wat die Here aan hulle beloof het.

Die Tien Gebooie is in die woestyn gegee en daarom was dit vir die Israeliet 'n heerlike vooruitsig om die woestyn met al sy ontberings en lyding te verlaat en erfgenaam te word van die land wat oorvloei van melk en heuning.

Vir die Godvresende Israeliet was dit 'n besondere groot voorreg om tot in die jare van sy gryse ouderdom te mag sit elkeen onder sy eie wynstok en vyeboom.

Maar al het hierdie belofte meer bepaald betrekking op die volk van goddelike uitverkiesing, tog is die beginsel wat hier neergelê is nog altyd van krag. Nog altyd is en bly dit waar dat as die huislike lewe gesond is, dan alleen kan 'n kragtige volk opgebou word en kan die kerk groei en bloei. Die huisgesin is die kerk en staat in die klein. Daarom as die wortel gesond is, dan spreek dit vanself dat ook die boom en vrugte gesond sal wees. Die huisgesin is die fondament waarop die volksgebou rus; indien die gesinslewe versondig is, indien die huislike lewe opgebreek word, dan staan die toekoms van die volk in groter gevaar.

Eerbied, waaruit gehoorsaamheid vanself volg is die sement waarmee die samelewing saamgebind word. As die kinders geen eerbied openbaar in die huis van hulle ouers nie, dan spreek dit vanself dat hulle nie deugsame burgers en burgeresse van die land sal word nie. En word ons volksbestaan nie ernstig bedreig omdat die eerbied in ons huisgesinne gedurig skaarser word nie? Die huislike lewe van ons volk is nie meer wat dit was en wat dit behoort te wees nie.

Daar is soveel ongelukkige huise; daar is soveel ouers wat hulle trane het tot hulle spyse, dag en nag, trane waarvan hulle kinders die oorsaak is. Daar is soveel gevalle waar ouers en kinders vreemdelinge vir mekaar geword het; kinders het hulle ouerhuis verlaat, hulle het vertrek na die vreemde land van die sonde, hulle het hulle vader en moeder vergeer. Natuurlik moet die fout nie altyd alleen by die kinders gesoek word nie. Dikwels is ouers self die oorsaak dat die bande verslap en dat die eerbied by hulle kinders verdwyn. Daar is soveel vaders en moeders wat hulle plig teenoor hulle kinders versuim; daar is soveel ouers wat hulle kinders tot toorn verwek.

Die voorbeeld wat deur ouers gestel word, hulle optrede, hulle handel en wandel is van so 'n aard dat die eerbied en liefde en respek en agting van hulle kinders vir hulle moet verdwyn. Vir baie ouers sou dit miskien beter gewees het as hulle glad nie kinders gehad het nie omdat hulle as ouers die oorsaak is dat die siel van hulle kinders die donker verderf ingeslinger word; i.p.v. dat hulle vir hulle kinders wegwysers na Jesus Christus is gaan hulle hulle voor op die breë pad van sonde en ongeregtigheid. Nooit dink hulle aan hulle doopbelofte om hulle kind op te voed in die lig van Gods Woord nie.

Daar is soveel moeders wat die moedernaam nie verdien nie en nie wêrd is nie; aan hulle roeping as moeders is hulle ontrou, hulle moederlike pligte word deur hulle skromelik verwaarloos.

Hulle gee vir hulle kinders nie die liefde en raad en voorligting wat hulle nodig het nie. Hulle het vreemd geword vir hulle kinders omdat die plesier en ydel genot van die wêreld vir hulle groter aantrekkingskrag het as hulle huis en kinders. Daar is helaas soveel ontaarde moeders, moeders wat die eerbied van haar kinders vir haar vermoor.

Vra uself af: as 'n moeder geen respek vir haarself het nie en halfnakend, onbehoorlik aangetrek in die geselskap verskyn, as 'n moeder geen skaamte het nie; hoe kan sy dan verwag dat haar kinders haar met eerbied moet bejeën? As 'n moeder haar liggaam, die tempel van God, skend, hoe kan sy dan verwag dat haar kinders haar moet hoogag?

'n Goeie, reggeaarde moeder dwing die eerbied en respek en agting van haar kinders af. Dit is vir kinders vanselfsprekend om 'n moeder wat die moedernaam wêrd is te eer, gehoorsaam te wees en lief te hê. En dieselfde is waar wat die vader betref; nog meer misken as die moeder maak hulle hulle skuldig aan pligsversuim en aan die verwaarlosing van hulle roeping.

Soveel, of moet ek sê die meeste vaders vergeet hulle roeping om priesters te wees in hulle huis. Hulle is die oorsaak dat die huisaltaar in hulle huis afgebreek word. Hulle dra die blaam dat die Bybel nie langer 'n ereplek inneem in hulle huisgesinne nie. Baie kinders weet nie dat God 'n gebod gegee het dat hulle hulle vader en moeder moet eer nie. En omdat die godsdiens uit die meeste lewens verdwyn het, daarom raak veral die jong mense al hoe meer los van die Kerk. Hulle het geen godsdienstige fondament om op te bou nie, omdat hierdie fondament nie in die ouerlike huise gelê is nie. Omdat hulle vreemdelinge in hulle Bybel is, daarom word hulle ook vreemdelinge in hulle kerk. Die gebrek aan Bybelkennis is nie in die eerste plek te wyte aan die Dag- en Sondagskool of Katkisasie nie, nee, die fout lê by die ouers wat nie voldoende aandag gee aan die Godsdienstige opvoeding van hulle kinders nie.

Daar is soveel vaders wat nie verdien om vaders te wees nie; hulle maak hulleself bespotlik en belaglik in die oë van hulle kinders.

Kan 'n kind eerbied en respek koester vir 'n vader wat hulle moeder slaan en aanstote gee en met disrespek behandel ? Dit is tog onmoontlik om 'n buffel en tiran met eerbied te behandel ? Kan 'n vader verwag om deur sy kinders geëer te word as hy dronk by die huis kom en hom as gevolg van sy dronkenskap onbehoorlik en selfs skandalig gedra ? As hy nie selfrespek het nie, hoe kan hy verwag om die respek van sy kinders af te dwing?

Woorde wek, voorbeelde trek; en slegte voorbeelde vind miskien nog eerder navolging as goeie voorbeelde. Daarom moet ouers naarstig toesien om vir hulle kinders 'n waardige, opbouende voorbeeld te stel.

En tog wie verdien meer ons liefde en respek as ons vader en moeder ? Aan wie is kinders meer verskuldig as aan hulle ouers ? Welke liefde is daar wat groter aanspraak het op ons wederliefde as die liefde van ons vader en moeder. Dink slegs daaraan wat u ouers gewillig is om alles vir u te doen en vir u op te offer. Het hulle u nie versorg en vertroetel met die grootste liefde nie? Geen moeite was vir hulle te veel in belang van hulle kind nie. Hulle is gewillig om self gebrek te ly solank hulle maar in die behoeftes van hulle kind kan voorsien. Hoeveel geduld het ons ouers nie met ons gehad nie? Hulle het aan ons getrou gebly onder alle omstandighede, selfs toe al die ander mense ons verstoot het. Die reggeaarde ouers vergete hulle kinders nooit nie, selfs al dwaal hulle kinders af in die vreemde lande van die sonde.

Gedurig bring hulle hulle kinders in die gebed voor die aangesig van God, en smeek Hom om hulle kind te bewaar vir alle gevare en tog maar weer terug te bring op die spore van geregtigheid. En as die verlore seun en dogter terugkeer na die ouerhuis dan word hulle nie met verwyte oorlaai nie; nee hulle word met oop arms verwelkom en ontvang; al hulle sonde word hulle met liefde vergewe.

Ouers is gewillig om as hulle kind siek is slapelose nagte by sy krankbed deur te bring. Geen onkoste is vir hulle te groot, geen opoffering te veel nie, solank as hulle maar die gesondheid van hulle kind kan terugwin.

Daarom waardeer kinders hulle ouers te min; meestal besef hulle nie hoeveel ouerliefde vir hulle beteken voordat hulle hierdie liefde moet mis en ontbeer nie. Eers wanneer ons gestaan het by die sterfbed van ons vader dan eers besef ons hoeveel sy ontferminge vir ons beteken het. As die vaderhande vir altyd stil geword het, dan is daar niemand meer om vir ons te sorg nie en in ons behoeftes te voorsien nie. Toe hy nog gelewe het, het hy sy hande eelte gewerk, maar nou is daardie sorgende, werksame hande deur die dood saamgevou.

Groot is die gemis vir die kinders wat hulle vader verloor en sonder sy raad en hulp en bystand hulle weg deur die wêreld moet vind. En eers wanneer kinders hulle moeder na haar laaste rusplek gedra het, eers wanneer hulle moeder dood is, besef hulle wat sy vir hulle was, en beteken het.

Daar is niemand in die wêreld wat ons beter verstaan as ons moeder nie; nêrens voel ons meer tuis en meer op ons gemak as in die huis van ons moeder nie. Moederliefde is van onskatbare betekenis in die lewe van elke kind; hierdie liefde vind hy nêrens en by niemand anders nie. Onuitspreeklik groot is die verlies wat kinders ly as hulle moeder deur die dood van hulle weggeneem word; hulle het soveel armer geword; hulle het 'n skat van groot waarde verloor. Waar ons ook al gaan en hoe gunstig ons nuwe lewensomstandighede in hierdie wêreld mag wees, nêrens en nooit vind ons die huis van ons ouers terug nie. Die geluk wat ons as kind in die huis van ons ouers ons in verbly het kan deur geen ander geluk volledig vergoed word nie.

As die huis van ons ouers vir altyd gesluit is, dan het daar 'n plek in ons lewe verdwyn wat deur geen ander plek kan ingeneem word nie.

En tog ontvang ouers so selde van hulle kinders die behandeling, eerbied, respek en wederliefde wat hulle toekom. Hoeveel ouers is daar nie wat gebrek en armoede ly nie, nieteenstaande hulle kinders instaat is om vir hulle te sorg. Vir baie kinders is dit tot hulle skande dat hulle afgeleefde vader en moeder deur liefdadigheidsinstellings moet versorg, geklee en gevoed word. Hulle het kinders grootgemaak maar hierdie kinders het niks vir hulle oor nie.

Indien die kinders self behoeftig is, dan is dit natuurlik 'n ander saak; maar tog is dit helaas die geval dat daar vandag duisende ouers moet leef van die geringe ouerdomspensioen nieteenstaande hulle kinders goed instaat is om vir hulle te sorg en hulle te versorg.

Kinders kan dikwels so uiters ondankbaar wees. Hulle bejeën die liefde van hulle ouers met die grootste ondankbaarheid. Hulle weier om 'n helpende hand na hulle moeder en vader uit te steek, wie se hand nooit vir hulle toegehou is nie.

En in hierdie opsig is skoonkinders dikwels die skuldige persone; die skoonseun wil niks met die skoonouers te doen hê nie; die skoondogter wil alles vir haarself hê en laat nie haar man toe om aan sy behoeftige ouers iets te doen nie. Skoonkinders vertoon helaas so dikwels die beeld van stiefkinders en is die oorsaak dat eie kinders ook stief word.

Soveel kinders is daar wat te lig bevind sal word as hulle teen die vyfde gebod geweeg sal word op die skale van Gods heilige reg.

Natuurlik sal niemand beweer dat ouers volmaakte wesens is nie; ook hulle is vol foute, gebreke en tekortkominge en veral as hulle oud word ontwikkel hulle allerlei eienaardighede wat soms prikkelend is en ons geduld op die proef stel.

Maar hoeveel het hulle nie van ons verdra nie? Hoeveel geduld het hulle nie met ons beoefen nie?

Daarom betaam dit ons om maar hulle eienaardighede met die mantel van die liefde te bedek en op 'n mooi manier probeer om hulle tot beter insig te beweeg.

Vreeslik moet dit wees as 'n kind by die sterfbed van sy ouers moet staan en hy moet homself verwyt dat hy deur sy gebrek aan eerbied hulle lewenseinde verhaas het. Onstellend moet dit wees as 'n kind by die graf van sy ouer deur 'n knaende gewete beskuldig word dat hy of sy die oorsaak is dat hulle moeder en vader met grys hare van  verdriet in hulle graf gedaal het. Ondraaglik moet die gedagte vir elke kind wees dat hy deur sy ongehoorsaamheid aan die vyfde gebod die hart van sy ouers deur droefheid en verdriet gebreek het.

Solank as ons ouers nog lewe moet ons hulle eer en alles doen om hulle hart bly te maak; as hulle oë vir altyd deur die dood gesluit is; as hulle stem vir ewig stil geword het, dan is dit te laat om al die leed en smart te vergoed wat ons hulle aangedoen het.

Daar is seker niemand van ons wat ons nie in mindere of meerdere mate skuldig gemaak het aan die oortreding van die vyfde gebod nie. Daar is vir elkeen van ons rede om saam met die digter met berou in ons hart te bid:

„Sla de zonden nimmer ga,

Die mijn jongheid heeft bedreven,

Denk aan my tog in gena,

Om Uw goedheid eer te geven.

Indien u ongehoorsaam aan hierdie gebod was, en u ouers het reeds heengegaan, bid God om genadiglik u sonde te vergewe.

Indien u ouers nog lewe en die moontlikheid daarvan nog bestaan om hulle verskoning te vra, besluit dan saam met die verlore seun om onmiddellik op te staan en terug te gaan met die belydenis: Vader, moeder, ek het gesondig teen die Hemel en voor u en is nie meer werd om u kind genoem te word nie.

Afgedwaalde, ongehoorsame seun en dogter, u ouers wag met angstige hart dat u moet terugkom. Met oë vol trane kyk hulle uit na u koms. Hulle wag om u alles te vergewe en u weer op te neem in hulle harte vol liefde vir hulle kind.

En as u ouers reeds in die Hemel is, weet dan dat hulle saam met die engele sal bly wees oor hulle kind wat tot bekering kom en besluit om die pad van ongehoorsaamheid te verlaat en te wandel op die pad wat deur die Woord van God hulle aangewys word.

Moet nooit u ouers vergeet nie. Al is hulle reeds dood, eer dan hulle nagedagtenis.

Moenie hulle goeie naam deur die modder sleep nie. Hou hulle steeds in hoë agting. Waardeer u ouers as God hulle nog vir u in die lewe spaar; onthou die liefde is die vervulling van die wet.

As uself reeds ouers is, wandel dan waardig die roeping waarmee God u geroep het, God het ons geseën deur aan ons 'n kind of kinders te gee en daarom moet ons vir hulle tot 'n seën wees. Ons kind is deur God as 'n kosbare pand ter bewaring toevertrou; laat ons God bid om ons getrou te maak aan ons doopbelofte.

Die wat oor weinig getrou was, sal oor baie gestel word en ingaan in die vreugde van hulle Here.

Amen.

J. J. Prinsloo

Related Media
See more
Related Sermons
See more