Hk 40 U Enigste Troos
SONDAG 40
Die sesde gebod
Lees: Mattheus 5, vs. 21 -27.
Sing: Psalm 119, vs. 1 en 60; Gesang 81, vs. 7; Gesang 59, vs. 1 en 8; Gesang 62, vs. 6.
Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Dat ek my naaste nie met gedagtes, en ook nie met woorde of enige gebaar en nog minder met die daad, deur myself of deur ander mag onteer, haat, seermaak of doodmaak nie; maar dat ek alle wraakgierigheid moet aflê; ook myself nie mag wond of moedswillig in enige gevaar begewe nie; daarom dra die owerheid ook die swaard om die doodslag te weer.
Vraag 106: Maar dit lyk tog of hierdie gebod net van doodslaan spreek?
Antwoord: Deur doodslag te verbied, leer God ons dat Hy die wortel van die doodslag soos nyd, haat, toorn, en wraakgierigheid, haat en dit alles vir 'n doodslag hou.
Vraag 107: Maar is dit genoeg dat ons, soos tevore gesê is, ons naaste nie doodmaak nie?
Antwoord: Nee; want terwyl God nyd, haat en toorn verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself en jeens hom geduld, vrede, sagmoedigheid, barmhartigheid en alle vriendelikheid moet bewys; sy skade, soveel as wat in ons vermoë is, moet afkeer en ook aan ons vyande moet goeddoen.
Gemeente van Christus,
Elke Sondagmore word ons in die kerk die spieël van die Wet voorgehou. God rig Hom dan tot ons met sy vermaninge en gebooie, Hy hef dan streng en vermanend sy wysvinger op. En hierdie gebooie kom tot almal en ons moet almal hoor. Tot ryk en arm, tot vrome en goddelose mense. Aan almal word die spieël van die Wet voorgehou, sodat elkeen op hoogte kan kom hoe dikwels hy elke dag van sy lewe die gebooie van God oortree, en sodat hy leer soek genade en vergewing vir al sy oortredinge.
Die tien gebooie is die eerste keer uitgespreek deur God self op die berg Sinai. Die hele volk Israel het hom versamel rondom die berg en het vol ontsag en met bewing geluister na die stem van Jehova. En luister, daar spreek God die sesde gebod: „jy mag nie doodslaan nie." God spreek hierdie gebod uit vir die hele volk, hierdie gebod moet elkeen ter harte neem. Ook vandag is hierdie gebod bedoel vir die ganse Kerk van Jesus Christus, vir u en vir my. Maar, so kom die vraag, is dit nou werklik noodsaaklik dat hierdie gebod elke Sondag ons altyd weer voorgehou word? Ons is tog nie moordenaars nie. Want wanneer God ons hierdie gebod voorhou, dan sal Hy dit tog doen omdat Hy dink dat ons ons maar al te gemaklik skuldig maak aan oortreding van hierdie gebod. En dit lyk of God 'n heeltemal andere mening oor ons het dan onsself. Ons dink ons het hierdie gebod al dikwels genoeg gehoor. Maar God wil dat ons dit elke Sondag opnuut hoor, want, sê God, julle is moordenaars.
Moordenaars ? Daar skrik ons van. Ons wat hier so rustig en vreedsaam in die kerk sit? Maar dit is tog te erg. Kyk, ons kan so heerlik en so gemaklik sit onder die voorlesing van die Wet. Dit klink ons so vertroud in die ore. Dit klink vir ons soos 'n bekende wysie wat ons al so dikwels gehoor het dat dit 'n stuk van onsself geword het.
Wee daardie predikant wat nie die Wet sou laat lees nie. Hy sou breek met 'n goeie ou gewoonte. Maar as ons ernstig gaan luister na die voorlesing van die Wet en as ons alle gebooie van daardie Wet diep in ons laat deurdring, dan sal ons ons op die Sondagmore, dink ek, nie so behaaglik voel nie. Dan sal die voorlesing van die Wet ons as 'n dreigende aanklag in die ore klink: Jy dief, jy egbreker, jy moordenaar!
Hewig word ons dan verskrik deur die verwronge beeld van onsself wat ons in die spieël van die Wet sien. Is dit waar ? Is ek 'n moordenaar ? Dink God werklik dat ek in staat is om hierdie gebod te oortree?
Ja, want die gebod lui: Jy mag nie doodslaan nie.
Die ganse menslike geslag het in Adam 'n moordenaar geword in die Paradys. Die eerste mens het sy Skepper en Maker ongehoorsaam geword, Adam het hom losgeskeur van sy God. Hy het die lokstem van die Satan gevolg en daardeur het hy hom skuldig gemaak aan doodslag. Adam en ons in Adam, het God gedood. Ons is moordenaars. Dit word ons duidelik uit die lyde en sterwe van Christus. Deur mense word die Seun van God gespyker aan die vloekhout. En ons kruisig Hom ook elke dag deur opstand en ongehoorsaamheid.
„Hy moes vir al my sonde die bittere kruisweg gaan."
Want, so sê die Kategismus, ons mense kan op twee maniere doodmaak: ons kan die liggaam vermoor, maar ook kan ons die siel vernietig. In die eerste plek verbied die sesde gebod die uitwendige doodslag. Wat dit betref, dink ek, hou hierdie gebod vir ons 'n bevrydende boodskap in. Ons leef tog in 'n tyd waarin 'n menselewe nie meer getel word nie. Vandag samel die dood nog in baie lande van die wêreld die grootste en rykste oeste in. Ja, ons tyd is 'n tyd van geweld, met die lewe van een mens word nie rekening gehou nie. Maar dit gaan dwars teen die wil van God in. God bedroef Hom daaroor. Daarom is hierdie gebod gerig teen die ganse wêreld: jy mag nie doodslaan nie.
Maar, so sal u vra, is hierdie gebod dan gerig teen oorlog ? Nee, want die gebod ontneem die owerheid nie die mag om die lewe te ontneem nie. Dit kan noodsaaklik en gebiedend wees om die lewe te neem. Die owerheid kan verplig wees om oorlog te voer, om wanorde op die wêreld te voorkom. Dit kan vir 'n volk gebiedend wees om die wapens op te neem, maar dit beteken natuurlik nie dat die gebod oorlog nie verbied nie. Oorlog is altyd die uiterste, die laatste middel wat aangewend moet word. Wanneer maar om enige rede 'n oorlog gevoer word, dan is dit oortreding van die sesde gebod: jy mag nie doodslaan nie.
Ook verbied die sesde gebod ons om die lewe van ons naaste te neem. Die lewe is tog 'n geskenk, 'n heerlike gawe van God self. Ons mag en ons kan dit aan onsself en ons naaste nie ontneem nie. Dit is die wil van God oor ons: dat ons leef. Die Bybel sien die dood altyd as 'n vyand, 'n vyand wat die Skepping van God dreig te vernietig. Teen daardie vyand moet ons die stryd aanbind, teen die dood moet ons ons met ons uiterste kragte verdedig. Daarom is dit so goed dat 'n dokter saam met sy sterwende pasiënt stry teen die laaste vyand solank as hy kan. Daarom is dit so vreeslik en teen die ordeninge van God dat daar vandag voorstelle gedoen word, ook selfs deur Christene, om mense wat altyd gebrekkig en hulpbehoewend sal bly, mense wat ly aan 'n ongeneeslike siekte, die lewe te ontneem. Daardie mense wil barmhartiger wees as God self. Ons kan tog nie na ons eie insig en wysheid beslis oor lewe en dood nie. Ons lewe rus in die hand van God. En sy gebod sê gebiedend vir ons: jy mag nie doodslaan nie!
Want die lewe is goed, die doodslag is kwaad.
En nou spreek die Kategismus van die wortel van die doodslag. Die oorsaak van die doodslag kan wees nyd, haat, toorn en wraakgierigheid. Dit alles haat God, Hy hou dit vir doodslag. En ek dink dat dit nou vir ons duideliker word waarom elke Sondag so waarskuwend vir ons gesê word: jy mag nie doodslaan nie. Sal daar iemand onder ons wees wat durf te sê dat daar een dag in sy lewe is waarin hy hierdie gebod nie oortree nie? Moet ons nie bely dat ons elke dag van ons lewe ons skuldig maak aan doodslag nie.
Hoe dikwels is ons nie nydig en afgunstig nie? Hoe dikwels gebeur dit nie dat voor ons dit kan verhinder, die gedagte by ons opkom: ek wou dat hy dood was. Nyd en afguns kan ons tot moordenaars maak. Die Bybel gee ons 'n pragtige voorbeeld: Koning Saul het afgunstig geword op Dawid. Hy hoor hoe die oorwinnings wat Dawid behaal het, besing word, hy sien hoe die invloed van die jonge Dawid onder die volk van dag tot dag toeneem. En dan sluip die nyd en die afguns in die hart van die koning. Een dag hef Saul die van woede bewende vuis op en hy slinger sy spies na Dawid, trillend bly die spies in die muur staan. Nyd en afguns vergiftig die hart van die koning en dreig om hom tot 'n moordenaar te maak. Ook die haat, toorn en wraakgierigheid maak ons tot skenders van die Wet.
Wanneer ons hart vervul is met bose gedagtes teen die naaste, wanneer daar vyandskap tussen twee mense heers, dan kry die Satan gemaklik 'n kans om ons te verlei, om ons tot moordenaars te maak.
Die haat regeer as 'n koning bo die volke, die haat regeer oor elke mens. Ons is maar al te dikwels sy gehoorsame, volgsame dienaar. Die haat verdeel volke, die haat kan 'n volk teen homself verdeel. Nou sien ons dat hierdie gebod 'n spesiale boodskap inhou vir ons volk, wat so verdeel en geskeur is deur partye en twiste. Wat is daar 'n haat van die een jeëns die ander. Wat is die partypolitiek dikwels 'n pragtige middel die hand van die Satan om die verhoudinge tussen burgers van dieselfde land te vergiftig, om haat te saai, om die gemoedere teen mekaar op te sweep! Haat maak ons tot moordenaars. Laat ons hierdie waarskuwing van die sesde gebod tog nie veronagsaam nie. Laat ons die ernstige woord wat Johannes ons toeroep ter harte neem: Elkeen wat sy broeder haat is 'n moordenaar.
En, so vervolg die Kategismus: die twee broers van die haat is die toorn en die wraakgierigheid. Ons kan doodslaan met ons woorde, woorde wat ons spreek in toorn, in onbeheerste drif. Woorde wat ons so diep kan wond, so diep dat dit 'n kanker bly in ons siel. Onbeheerste drif kan ons bring tot doodslag. Laat ons dit onthou dat toorn en wraakgierigheid twee slegte reisgenote is op die lewenspad. Hulle maak ons tot oortreders van die sesde gebod.
Maar nou sê die sesde gebod nie net wat ons moet nalaat nie, nee, dit bevat ook 'n gebiedende eis. Die eis dat ons ons naaste sal liefhê. Ons moet jeens ons naaste geduld, vrede, sagmoedigheid, barmhartigheid en alle vriendelikheid bewys, ons moet sy skade afkeer en ook aan ons vyande goeddoen. Dit gebied God ons. Maar so voel tog elkeen van ons, hierdie eise is tog te hoog gestel vir 'n gewone mensekind, aan hierdie eise kan ons nooit voldoen nie. God vra nou die onmoontlike van ons. Ons voel nou hoe swak van moed en hoe klein ons is van kragte. Ons weet dat ons aan hierdie eise van God nooit kan voldoen nie. En tog moet ons die sesde gebod ernstig ter harte neem. Ons moet ernstig probeer of ons ons vyand nie kan oorwin deur hom 'n weldaad te bewys nie. Dit is goed wanneer ons gaan besef dat ons magteloos staan en hulpeloos teenoor die eis wat God aan ons stel. Die gebod dwing ons om onsself te veroordeel, om vir onsself en voor God te bely: O God, ek is 'n moordenaar. Maar tog, Christus en die Apostels vra ons om barmhartig te wees, sagmoedig, vredeliewend, en om die vrede te bewaar. Ondanks ons magteloosheid moet ons tog nie die vermaninge van die Apostels vergeet nie, want die Wet is nie dood nie. Jesus sê Elkeen wat een van die minste van hierdie gebooie breek, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele.
Teenoor al ons hopeloosheid staan Jesus Christus wat ook hierdie gebod wat ons nie kan vervul nie, vir ons vervul. Dit is ons grote troos dat Hy sy hande uitstrek na sy vyande. Deur ons het Hy Hom laat doodslaan, vir ons. Hy het gesê: Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Christus het, God sy dank, die sesde gebod vir ons vervul op Golgota. Hy word gekruisig tussen twee kwaaddoeners, Hy moet boet vir al die sondes wat ons begaan het teen die sesde gebod, en nog begaan. Hy word vir ons gereken onder moordenaars en kwaaddoeners. En dit gebeur omdat ons die sesde gebod oortree het. Jesus neem ons vervloeking op Hom. Ons, met ons verkeerde gedagtes, nyd, haat, twis, haatlike woorde, het ons naaste doodgemaak en maak hom nog voortdurend dood.
Ons staan skuldig voor die heilige aangesig van God. Maar Jesus het met woorde en met die daad al ons sonde op sy skouers geneem, al ons swakheid gedra en die Wet in ons plek vervul.
Ons haat en nyd en toorn en wraakgierigheid het Hom neergedruk in Getsemane. Ons oortredinge van die sesde gebod het Hom die bloedige sweet in Getsemane ontpers. Alles het Hy op Hom geneem, Hy boet daarvoor. Hy sê: Vader, vergeef hulle. En dit vertroos ons in ons hulpeloosheid.
In die krag van die Heilige Gees kom ons uit die dood in die lewe. Van moordenaars word ons dan mense wat ons naaste liefhet.
Laat ons God dan bid om een ding: Toon my U genade. Toon my U genade so geweldig dat ek self genadig word jeens my naaste, sodat ek in U krag 'n vervuller word van die sesde gebod.
Amen.
F. van Oosten.