Hk 42 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 8 views
Notes
Transcript

SONDAG 42

Die agtste gebod

Lees: Johannes 6, vs. 1-15.

Sing: Psalm 23, vs. 1 en 3; Gesang 62, vs. 1, Gesang 75, vs. 3 en 4; Psalm 25, vs. 2.

Deut. 20, vs. 15. „Jy mag nie steel nie."

Vraag 110: Wat verbied God in die agste gebod?

Antwoord: God verbied nie alleen daardie diefstal en roof wat die owerheid straf nie; maar Hy noem ook diewery alle bose dade en listige planne waarmee ons dink om die goed van ons naaste onsself toe te eien met geweld of skyn van reg, soos met valse gewig, el, maat, ware, munt, woeker of deur enige middel wat God verbied; daarby ook alle gierigheid, alle misbruik en verkwisting van sy gawes.

Vraag 111: Maar wat gebied God u in hierdie gebod?

Antwoord: Dat ek die belange van my naaste, waar ek kan en mag, moet bevorder; met hom so moet handel soos ek sou wens dat die mense met my moet handel; daarby ook dat ek getrou moet arbei sodat ek die behoeftiges kan help.

Gemeente van die Here Jesus Christus!

„Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome" (Ps. 24, vs. 1, 2). Die aarde het sy ontstaan in God en ook al die wonderwerke van die aarde. As ons die weelde van die natuur beskou en ons dink aan die rykdom van die grond besef ons nog nie eens naby die grootsheid en wonderbaarlikheid van die skepping nie. God het die aarde die vermoë gegee om die werk van die landman sestig- en honderdvoudig te beloon; God het ruwe rotsmassas opgestapel en daarin rykdomme van erts verberg; riviere laat Hy stroom en die see gedurig spoel en laat hulle die grootste weelde versteek; kaal, onvrugbare vlaktes en dooie massas gruis bevat die skoonste edelgesteentes. God het die mens op aarde gestel met vermoëns om al daardie rykdomme te bemagtig. Omdat God niks sonder 'n doel doen nie, het God die weelde van die aarde bestem om vir die mens tot diens en nut te wees; en aan die gawes van God op sigself kleef daar geen sonde of onreinheid nie. Om die gawes van God te benut, is ook geen sonde vir die mens nie maar heeltemal reg. Waar God ons beveel dat ons nie mag steel nie, daar is dit die vooronderstelling van die gebod dat die mens iets besit en dat dit ook heeltemal reg is dat die mens dit het.

Maar die mens is van nature bedorwe en geneig tot die kwade. By die aanskouing van al die rykdomme van die aarde brand die siel met 'n verterende begeerte; die mens dors na die weelde en skittering met 'n onlesbare dors. Daarom strek die mens dikwels besoedelde hande uit na die gawes van God en omdat die mens dit aanraak, maak die mens ook daardie gawes onrein en sondig. Om hierdie rede het dit ook noodsaaklik geword — Helaas! dat God die gebod aan die mens moes gee: „Jy mag nie steel nie!"

Daar is seker weinig uitsprake in die Heilige Skrif wat sy wydomvattend is en soveel mense, gelowiges en ongelowiges, raak as hierdie gebod. Ons het gesê dat dit vooronderstel dat die mens iets besit en die reg het om daardie besitting te hê. Maar dit vooronderstel ook nie onbeperkte besit en oormatige hoeveelhede nie. Ons dink maar net aan die wette wat God gegee het in verband met die grondbesit in Israel: Die een Israeliet was geregtig om die ander se grond te koop en dit te gebruik; maar elke vyftig jaar was daar 'n jubeljaar (Lev. 25) en in die jubeljaar moes al die vervreemde grond weer teruggaan na die oorspronklike eienaars.

By die oordenking van hierdie gebod moet ons probeer bepaal wat alles daaronder ingesluit word. Die Heidelbergse Kategismus noem dade van geweld en wat strafbaar is deur die owerheid teenoor dade wat met 'n skyn van reg gedoen is.

Die growwe dade wat deur die owerheid gestraf word, ken ons almal. Hoeveel stuitlike dinge soos kinderroof en vroueroof hoor ons nie vandag nie? Die mees geharde gewete protesteer hierteen, die owerheid straf met die hardste strawwe en die bevel van God: „Jy mag nie steel nie" klink asof dit nie hard genoeg gestel is om sulke gevalle aan te dui nie. Maar wat van die growwe misdade wat nie deur die owerheid gestraf word nie en dikwels deur Christene goedgepraat word? Wanneer die een moondheid wat die mag besit, die grondgebied van 'n swakkere roof, is dit nie veel erger en afskuweliker as kinderroof ooit kan wees nie? Die wandade wat ons soms so woedend kan maak, word met landroof oor en oor gepleeg behalwe nog dat die land self geroof word — die owerheid straf soiets nie maar kan die Christelike gewete dit regverdig ? Kan die mens wat eerbied het vir die wet van God soiets duld ?

Maar daar is ook minder stuitlike misdade waaroor die gereg wel 'n wakende oog hou en wat deur die owerheid gewreek word. Daeliks gebeur dit in ons christelike gemeenskap dat die een mens die ander se goed steel. Gelukkig is dit die uitsondering dat 'n Christen op hierdie wyse misdryf. Maar is dit waar wanneer ons hoor dat beweer word dat Christene hulle nie hieraan skuldig maak nie? Nog voordat daar sonde op aarde was, het die eerste mens planne gemaak om wat hom nie toekom nie, homself toe te eien. Onder die twaalf manne wat deur Jesus geroep is om Hom te volg was 'n dief, naamlik Judas Iskariot (Joh. 12, vs. 6). Onder die lede van die eerste gemeente was daar twee diewe: Ananias en sy vrou Saffira het 'n gedeelte van die geld wat hulle aan die Here sou gegee het, teruggehou en daardeur 'n skielike dood gesterwe (Hand. 5). Helaas ! Die gemeente van Christus Jesus was en is vandag nog nie heeltemal vry van mense wat op hierdie growwe wyse oortree nie!

Gemeente van Christus! Die dinge wat ons tot hiertoe genoem het, sal u waarskynlik heeltemal oorbodig voorkom. Watter Christen is daar wat hierdie dinge nie vanselfsprekend beskou nie? Is daar 'n mens wat homself 'n Christen noem en dit eerlik bedoel wat nog kinderroof of huisbraak sal goedpraat ? Nee, waarskynlik is daar nie. Maar daar is misdade — weliswaar minder afskuwelik en stuitlik omdat dit meer algemeen is wat nie net deur Christene goedgepraat word nie maar daeliks ook gepleeg word. En dit alles dinge wat deur Gods Woord diefstal genoem word.

Ons bedoel hier nie meer dade waar geweld gepleeg word nie; ook nie die gruwele wat onder die skyn van reg bedryf word nie; maar die daaglikse oortredinge wat onder die skyn van reg plaasvind. En hier raak ons meer spesifiek die handelsterrein: alle mense wat tydelik of permanent handel dryf, hulle lewensbestaan daarin vind of net by wyse van uitsondering 'n handelstransaksie aangaan.

Dikwels hoor ons die woorde: Daar bestaan geen eerlike besigheidsman nie; geen besigheidsman kan eerlik wees nie; besigheid is besigheid en waar 'n mens jou slag kan slaan, moet jy dit doen; dit is elke man se slimheid of domheid as hy wen of verloor. Is dit die waarheid? Is dit woorde wat pas by 'n Christen en wat deur Gods Woord goedgekeur word?

Ons spreek nie van die eerlike handelaar nie. Die Skrif leer ons: „Die arbeider is sy loon werd" (Luk. 10, vs. 7, I Tim. 5, vs. 18). Die Heilige Skrif beskou dit as heeltemal reg wanneer die besigheidsman sy eerlike wins wat hom toekom, maak. Ook ons gewete billik so 'n persoon: Die stedeling kan nie sy voedsel self produseer of op die plaas gaan haal nie en daarom is hy gewillig om dit te koop en hy is gewillig om die man wat daardie voedsel by sy huis lewer 'n billike loon vir sy arbeid te betaal. Die boer aan die ander kant, kan nie sy kleding produseer nie; hy is gewillig om die een wat vir hom die kleding lewer 'n regverdige loon te betaal.

Hieroor praat die gebod nie en ook nie die Kategismus nie. Wat die Kategismus na aanleiding van Gods Woord noem is die diefstal wat gepleeg word onder dekmantel van eerlike handel. Dan noem die Skrif en die Kategismus valse gewigte, mate en lengtes. Hierdeur word bedoel dat die medemens op 'n valse manier gedwing word om 'n prys te betaal vir dinge wat hy nie ontvang het nie; 'n deel van die mens se geld word dus geroof en gesteel. Ook die woekerwins word hierby genoem, woekerwins in die ruimste sin van die woord. En hierby is ook die monopolie betrokke: Ons poog om die alleenhandel te kry; sodra ons die alleenhandel het, kan ons die mees buitensporige eise aan ons medemens stel en hy moet maar tevrede wees omdat hy die nodige ware nêrens anders kan kry nie.

Hierdie dinge en al die ander „bose dade en listige planne" wat die mens doen en bedink, word vir ons voorgestel in die gesig van die profeet Sagaria: Die profeet sien die handel voorgestel deur 'n efa; hierdie efa beteken ook die ongeregtigheid van die land op hierdie gebied. In die efa verrys 'n vrou wat die goddeloosheid voorstel. Twee engele wat die wind voorstel, waai hierdie goddeloosheid die land uit en sluit dit op buitekant van die grense (Sag. 5, vs. 5-11). ons glo dit nie dat daar geen eerlike handel kan bestaan nie; ons weier as Christene om aan te neem dat Gods Woord versmaai en die Naam van Christus bespot moet word voordat 'n mens handel kan dryf. Elkeen wat Christus wil bely, moet hierdie goddeloosheid vir die winde werp om dit uit die land te verdrywe .

My Broeder en Suster in die Here! 'n Blik in die tallose gevalle van oortreding van die agste gebod is 'n kyk in 'n bodemlose afgrond, 'n sonde waaraan miskien elke mens op die een of ander tyd skuldig staan. En waaruit word dit gebore? Uit behoefte of nood? Uit dwang van omstandighede? Somtyds miskien wel maar die wortel van hierdie sonde is die bedorwenheid van die mensesiel wat nooit versadig word aan die goud wat hom al die gemak, mag, eer en wellus gee waarna sy siel gedurig dors nie. Die uiterste hiervan sien ons by die gierigaard wat goud terwille van goud versamel; die mens vir wie geld doel op sigself geword het sonder om enige verdere oorweging daarop na te hou. Die gierigaard verbeur sy liggaamlike gemak hier — om lyding te oes in die hiernamaals; hy verkoop sy siel hier vir goud — om daardie goud maar net eindelik hier te laat staan en sy verdoemde siel weer hiernamaals te vind . . . Maar dieselfde geld ook vir 'n groot deel die verkwister. Verkwisting van verdiende sowel as geërfde besittings is 'n gruwel vir God. Hierin is die verkwister en die gierigaard dieselfde: Goud is vir albei die hoofdoel, die een om dit te versamel en die ander om dit te verkwis. En waar ons hier by die grond van die saak staan, kan ons sien waarom dit so 'n verskriklike euwel voor God is: Die Here Jesus leer ons: „Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself" (Luk. 10, vs. 27 ens.). Die geldgier lei ons daartoe om albei hierdie gebooie te verbreek en boonop ons nog voor 'n vreemde God wat die maaksel van mensehande is, te buig. Waarlik, die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor (1 Tim. 6, vs. 10).

Sover het ons stilgestaan by die negatiewe, by wat die agste gebod van ons vertel om nie te doen nie. Maar die Heilige Skrif se grondslag is nie die dinge wat ons moet laat nie, maar die dinge wat ons moet doen. Die leer van Jesus Christus is nie gebou op 'n lys van die dinge wat vir ons verbode is nie, maar op die gesindheid wat in die hart van die mens wat Hom wil volg, moet wees. Daarom is ons ook verplig om te vra: Wat word ons beveel om te doen? Watter gesindheid word deur die agste gebod van ons vereis ? Hierop antwoord die Kategismus (111): „Dat ek die belange van my naaste, waar ek kan en mag, moet bevorder; met hom so moet handel soos ek sou wens dat die mense met my moet handel; daarby ook dat ek getrou moet arbei, sodat ek die behoeftiges kan help."

Die gees van die moderne tyd, veral op die gebied van die handel, is die gees van Kain: 'n koue onverskilligheid oor alles wat met die naaste te doen het, 'n onverskilligheid wat die broer kan doodslaan en daarna gewetenloos verklaar: „Ek weet nie waar my broer is nie. Is ek my broer se wagter ?" (Gen. 4, vs. 9). Op die vraag veronderstel die gees van die wêreld dat die antwoord vanselfsprekend sal wees: „Nee, jy is nie jou broer se wagter nie." Maar die gebod waarby ons stilstaan en die hele Heilige Skrif leer 'n ander antwoord, naamlik dat jy wel jou broer se wagter is. Die wet het as grondtoon nie die negatiewe afsydigheid wat maak dat die lot van die naaste ons nie aangaan nie en dus net van ons vereis dat ons ons naaste met rus moet laat nie, maar die grond waarop die wet gebou is, is die liefde. Daarom stel die Here Jesus Christus die wet nie in terme van wat ons nie moet doen nie maar in die vorm van 'n liefdeseis wat ons moet nakom. Die liefde van Christus het die wet vervul; die liefde is vir ons ook die vervulling van die wet en die nakom van die liefdeseis, beteken vanselfsprekend die uitvoering van die gebod.

As die liefde teenoor God en die naaste die grond van die wet is, is dit duidelik dat veelmeer van ons deur die agste gebod geëis word as net om ons naaste se besittings te laat. Dit eis veel meer: Dit eis dat ons die belange van ons naaste in die oog moet hou en ook daarvoor moet sorg. Dan lag ons nie miskien selftevrede — oor die domheid of onervarenheid of hulpeloosheid van ons naaste nie maar ons waarsku hom, help en beskerm hom teen die wolwe van die gemeenskap. Ons tree teenoor hom op soos ons verwag dat andere ook teenoor ons sal optree in ooreenstemming met die woord: „Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen ... net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die Wet en die profete" (Mat. 7, vs. 12).

Maar, my Broeder en Suster, die gebod geïnterpreteer in die gees van liefde gaan nog veel verder. As dit dan die wyse is waarop ons ons naaste moet behandel, is dit vir ons onmoontlik om nog op sondige maniere ons bestaan te soek. Ons kan nie meer ons naaste uitbuit en eksploiteer nie en ons dink ook daaraan dat dit die bevel van God is dat ons in die sweet van ons aangesig ons brood moet eet (Gen. 3, vs. 19) en „as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie" (2 Tes. 3, vs. 10). Dit is dan nie alleen ons plig nie maar ook 'n goddelike vereiste dat elkeen getrou en ywerig in die werk wat die Here hom hier op aarde gegee het om te doen, arbei. Daardie taak wat ons in die alwyse raad van God opgelê is, is nie net bedoel om ons onderhoud in hierdie lewe te verskaf nie maar ook om deur ons getrouheid en blymoedige toegewydheid die naam van die Allerhoogste te vereer. En dan strek die liefdeseis van die wet nog verder: Wanneer word die naam van die Here skoner en beter vereer as wanneer ons deur die getrouheid van ons arbeid ook in staat gestel word om die armes wat altyd by ons is, te help? Of wanneer ons die waarheid van die woorde: dit is saliger om te gee as om te neem ... werklik belewe ? Of dat ons deur ons vrygewigheid aan die behoeftiges veel aan die Here geleen het? en dat Hy ons weldade sal vergelde? (Spr. 19, vs. 17).

Maar hoe anders is ons samelewing nie? Hoe ver is ons nie verwyder van die toestand wat Gods Woord van ons vereis nie! Is dit moontlik dat 'n samelewing so kan wees soos die Heilige Skrif dit eis? Is dit nie maar 'n onbereikbare ideaal wat selfs nie die moeite wêrd is om na te strewe omdat dit so onbereikbaar is nie? Ja, onbereikbaar en onmoontlik is dit wanneer ons probeer om dit met eie krag en wysheid te bewerkstellig. Maar onbereikbaar en onmoontlik is dit geensins wanneer ons dit aanpak soos dit gedoen behoort te word nie.

Die genesing van die euwel by die enkeling sowel as in die gemeenskap is alleen te vinde by die kruis van Hom wat ons die liefde leer ken het. Aanskou Hom aan die kruis: Is daar een wat anne: en meer behoeftig is ? Selfs klere besit Hy nie meer nie want dit is verdeel onder die soldate. Was daar iemand op aarde so arm soos Hy? Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie" (Mat. 8, vs. 20). En tog, wie se rykdom oortref syne? Die heerlikheid van God in die hemel behoort aan Hom; die heerlikheid is sy erfdeel en wag vir Hom. Hierdie armoede het Hy aanvaar alleen omdat Hy ons liefgehad het en ons salig wou maak. Voorwaar, hard is die hart wat nie vervul word met beskaming wanneer hy daardie kruis aanskou nie! Dood is die wil en die siel wat nie uit grypsug en gierigheid tot milddadigheid en eerlike arbeid opgewek word nie: Dit kan nie anders nie: beskou daardie gekruisigde Heiland in die liefde waarmee Hy ons beskou het en wat bly nog van hierdie wêreld oor? Die siel word los van die skatte van hierdie aarde; dit word maar net middels om te gebruik; die werklike skat waarvoor gearbei en opgeoffer moet word en wat alleen waardig is om voor gierig te wees, is die skat wat in die hemel is. Beskou daardie gekruisigde en die rykdom van hierdie wêreld verloor sy mag oor ons ... ja, dit skyn selfs asof hierdie skatte nie meer wêrd is om te besit nie omdat agter daardie kruis vir ons 'n nuwe wêreld oopgaan. Die poorte van die hiernamaals sien ons die verskiet en selfs al sou ons nie weet hoe daardie hiernamaals is nie, dan weet ons dat ons bekroon word daar met 'n rykdom van heerlikheid soos al die skatte van die aarde ons nie kan gee nie. Die gemeenskap en die enkeling wat hierdie skat van die hiernamaals eers gewaar en dit begeerlik vind, is vervul met die liefde wat die vervulling van die wet is, die liefde wat maar net streef daarna om tot in ewigheid die lof en die eer aan die God van liefde te bring deur Hom en mekaar te dien.

Amen.

P. S. Dreyer.

Related Media
See more
Related Sermons
See more