Hk 44 U Enigste Troos
SONDAG 44
Die tiende gebod
Lees: Exodus 20, vs. 1-17; Mattheus 22, vs. 37-40.
Sing: Gesang 87, vs. 1; Psalm 25, vs. 2; Gesang 33, vs. 5; Gesang 33, vs. 7.
Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?
Antwoord: Dat ook die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God, nooit in ons hart mag opkom nie, maar dat ons van alle sondes altyd van ganser harte vyande moet wees en in alle geregtigheid behae moet hê.
Gemeente van die Here,
Die Wet van God is die tugmeester tot Christus. Dit laat ons ons sonde en ellende reg ken, ook ons onbekwaamheid om uit onsself die Heer te behaag. Dit geld van die tiende gebod by uitnemendheid. Want al die nege voorafgaande gebooie kan min of meer uitwendig onderhou word, sonder om te let op die diepere betekenis daarvan. Oppervlakkig beskou is die eerste en tweede gebooie uitsluitlik bedoel vir Israel tydens hulle vestiging in Kanaän, wat bewoon was deur heidense nasies, deurdring van afgodediens.
En watter fatsoenlike mens maak homself nou openlik skuldig aan die ydelike gebruik van die Naam van die Here of aan moedswillige Sabbatsontheiliging ?
Wie weet nou nie dat hy sy vader en sy moeder moet eer en nie sy hande met die bloed van sy medemens moet bevlek nie?
Of om die huwelik hoog te ag en homself van daadwerklike diefstal te onthou nie?
En wie ken nie daardie spreuk wat leef in die volksmond nie, naamlik: „Al gaan die leuen ook nog so snel, „Die waarheid agterhaal dit wel!"
Ja, die gebooie van een tot nege kan min of meer uitwendig onderhou word.
Heel anders is dit met die tiende gebod. Dit breek onmiddellik deur daardie harde kors van skynvroomheid en farisese uitwendige wetsvervulling en pyl reëlreg op die hart af. Want dit is die eis van die tiende Wetswoord volgens die Heidelberger: „Dat ook die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie, maar dat ons van alle sondes altyd van ganser harte vyande moet wees en in alle geregtigheid altyd behae moet hê."
Naas die oortredings in dade is daar die fynere oortredings in gedagtes, in begeertes. Hulle bly meeste van die tyd in die hart opgesluit. Maar die Here sien in die verborge. Hy is die „Beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart."
Uit onsself sou ons nie kon oordeel dat begeertes sonde is nie. Selfs Paulus het vanself nie geweet nie, want hy sê in Rom. 7, vs. 7: „Want ook sou ek nie geweet het dat die begeerlikheid sonde was nie, as die Wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie." Die landswette vonnis dan ook net die uiterlike dade. Maar die Wet van God leer ons dat bose begeertes ook sonde is. Waarom ? Om alleenlik te begeer, doen die medemens tog geen leed of skande aan nie! Die rede lê wel hierin opgesluit: deur te begeer sondig ons teen God, en wel omdat ons iets begeer van ons naaste, wat God in sy wysheid kennelik aan ons onthou het, om daarmee ons medemens te begunstig.
Tog is alle begeerte nie sonde nie. Inteendeel, God het die begeerte of drang in die mens self ingeskape, die begeerte na alles wat betaamlik is. Die lewe is 'n strewe en waar geen strewe meer is nie heers die dood. Die jongeling begeer om volwasse te wees en volkome toegerus vir die lewe, en daartoe span hy als sy kragte in. Die volwasse man begeer om sy huisgesin behoorlik te versorg en daarvoor is geen moeite te groot en geen opoffering te veel nie. Die grysaard verlang om ontbonde te wees en met Christus verenig. Inderdaad is al ons gebede niks anders as begeertes nie, want so sê die psalmdigter: „Here, voor U is my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie." Maar sodra die begeerte die hand uitstrek na wat onbetaamlik is, na wat God in sy Wet verbied het, dan is dit verkeerd, dan is dit sonde. Sien Ex. 20, vs. 17: „Jy mag jou naaste se huis nie begeer nie; jy mag jou naaste se vrou nie begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os, of sy esel, of iets wat van jou naaste is nie."
Die Heidelbergse Kategismus bring vir ons die tiende gebod in 'n wyer perspektief en betrek dit op al tien die gebooie: die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God. Is dit nou te regverdig? Jawel! Sondes word wel in verskillende soorte oortredings onderskei, soos die tien gebooie aandui. Sondes kan ook in drie ander groepe verdeel word, naamlik: verkeerde gedagtes, verkeerde woorde en verkeerde dade. Maar in werklikheid het sondes maar net een oorsprong en dit is ons sondige hart, ons sondige begeertes. Of dit nou al is die besittings van ons medemens wat ons begeer, of die huweliksgeluk van ons eggenote wat ons verbeur, of die eer van God wat ons beroof, of watter sonde of oortreding daar ookal te bedink is, dit begin in die oorlegging, in die begeertes van ons hart. Dink maar aan die begeerlikheid van Gehasi. Dit het by hom 'n sameknoping geword van ongeregtigheid en die gevolg was dat Gehasi lieg en bedrieg, hy is slu en vals, en misbruik Gods Naam. Tereg leer die Nuwe Testament ons dat die begeerlikheid die wortel van alle kwaad is.
Op dieselfde lyn gee die Heidelbergse Kategismus sy uitleg van die tiende gebod: „Dat ook die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God, nooit in ons hart mag opkom nie, maar dat ons van alle sondes, altyd van ganser harte vyande moet wees, en in alle geregtigheid behae moet hê."
Ons bemerk in hierdie uitleg 'n negatiewe en 'n positiewe deel.
Eerstens, die negatiewe deel: Wat verbied word volgens die Kategismus: Geen lus of gedagte ten aansien van wat kwaad is in die oog van die Heer nie. Nee meer nog, geen die geringste lus of gedagte nie. Geen heimlike begeerte teen die gebod van God nie, nee meer nog, teen enige gebod van God nie. En dan nie dat ons daarvan dae, weke, of jare vry bly nie, maar dat daar nooit 'n onheilige verlange in ons opkom nie. Ja, sterker nog: Ons moet van die sondes, van al die sondes, van ganser harte van al die sondes, altyd vyande wees.
Dan volg die tweede gedeelte, die positiewe gedeelte, waardeur die maat volgemaak word: Ons moet besit 'n netso hartlike, volkome en opregte lus tot geregtigheid, ja tot alle geregtigheid.
My broeder en suster, elkeen wat sy eie hart ken, voel in sigself en uit sigself die onmoontlikheid om die Wet van God so te volbring. Die tiende gebod wys ons onteenseglik op die diepere betekenis van die Wet, en ook op ons volkome onbekwaamheid om die eise daarvan na te kom. Dit laat ons nou eers reg verstaan die betekenis van die Skrifwoord wat sê: „Dat ook ons beste werke voor Gods aangesig is soos 'n besoedelde kleed."
Maar dit is ook die bedoeling van die Wet, naamlik om tugmeester te wees — tugmeester tot Christus.
Sien ons in die negatiewe gedeelte van die Wet van God, die verbod van ook „die geringste gedagte of lus teen enige gebod van God — in die positiewe gedeelte „die behae in alle geregtigheid." Beluister ons die samevatting van die Wet deur Jesus Christus in: „die liefde tot God en die liefde tot die medemens," want die liefde is die vervulling van die Wet.
Ja, by alles wat in die tiende gebod vir ons verbied word, nou ook nog die gebod van liefde — vir ons met 'n liefdelose hart! Voorwaar ons staan met leë hande, verleë voor Gods heilige aangesig. Gelukkig, wanneer ons op die punt staan om te versink in die golwe van moedeloosheid, hoe heerlik klink dan nie die ryke beloftes van God in Jesus Christus, in ons ore nie! Ons besef met 'n bewoë hart dat die mens se verleentheid God se geleentheid is! En soos 'n Petrus van ouds, by die besef van eie hulpeloosheid, strek ons ons hand uit na die sterke regterhand van ons Meester met die wete, dat Hy ons wil en kan en sal help; want Hy is die vervulling van die Wet.
Dan leef ons met 'n teer gewete na aan Christus, in die besef van ons eie swakheid, en word sy krag in ons swakheid volbring.
Dan lê ons ons lewe, ons handel en wandel vir Hom op die altaar: Ons wil, met al die kragte wat daar in handel en wandel van uitgaan — vir Hom op die altaar; Ons hart, met al die gemeenthede wat daar in brand — vir Hom op die altaar; Ons siel, met al die talente wat daar in sluimer — vir Hom op die altaar. Ons alles op die altaar, alles soos 'n wierook opstygend na die woonplek van sy heiligheid om sy grote Naam te verheerlik.
Dan leef die bede in ons hart:
„Verbreek in my voortdurend, Heer,
„Die neiging tot die sonde.
„Help my dat ek hier altyd weer,
„Oorwinnaar word bevonde.
„Versterk my krag tot alle goed.
„Dat ek, opreg in my gemoed,
„Godvrugtig voor U wandel.
Amen.
P. van Wyk.