Hk 45 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 10 views
Notes
Transcript

SONDAG 45

Die gebed

Lees: Mattheus 6, vs. 1-18.

Sing: Psalm 138, vs. 1; Gesang 67, vs. 4 en 5; Gesang 11, vs. 1 en 2 ; Gesang 76, vs. 1 en 4.

Vraag 116; Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met innige sugte, sonder ophou, daarom bid en daarvoor dank.

Vraag 117: Wat behoort by so 'n gebed wat God welgevallig is en deur Hom verhoor word ?

Antwoord: Ten eerste, dat ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy Woord aan ons geopenbaar het, van harte aanroep vir al die dinge wat Hy ons beveel het om voor te bid.

Ten tweede, dat ons ons nood en ellende reg en grondig moet ken, sodat ons voor die aangesig van sy majesteit ons sal verootmoedig.

Ten derde, dat ons hierdie vaste grond het dat Hy ons gebed, nieteenstaande ons dit onwaardig is, tog om die Here Christus ontwil sekerlik wil verhoor, soos Hy ons dit in sy Woord beloof het.

Vaag 118: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Die voorsiening in alle geestelike en liggaamlike nooddruf wat die Here Christus saamgevat het in die gebed wat Hy ons self geleer het.

Vraag 119: Hoe lui hierdie gebed?

Antwoord: Onse Vader wat in die hemele is,

laat U Naam geheilig word,

laat U koninkryk kom,

laat U wil geskied, soos in die hemel, netso ook op die aarde.

Gee ons vandag ons daaglikse brood

en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.

Daar word meermale gesê dat die gebed die geestelike asem is van die gelowige. Heel tereg. Net soos die aardse, sigbare liggaam alleen nog lewe solank dit asemhaal, en dood is wanneer die asemhaling ophou, netso lewe die geestelike liggaam alleen wanneer die geestelike asemhaling nog daar is en is dit dood wanneer die asemhaling ophou. 'n Mens kan jou 'n gelowige nie voorstel wat nie bid nie. So iemand is ondenkbaar. Hy wat nie meer bid nie, het reeds genader tot die poorte van geestelike dood. (1) ' Dr. J. Koopmans: De Tien geboden (bls. 30).)

Sonder gebed lewe — d.w.s. sonder die aanroeping van die Naam van die Here — is ongehoorsame, eiewillige lewe. Selfs Christus het telkens weer gebid. Ons lees van Hom meermale dat Hy Hom afsonder in gebed. Dink maar aan Getsemane, aan die graf van Lazarus, aan sy Hoëpriesterlike gebed (Joh. 17). En ook waar Hy nou in die hemel sit aan die regterhand van sy Vader, is Hy die een wat gedurig vir ons intree en voorbidding doen by die Vader. Vir ons is dit sekerlik meer noodsaaklik as vir Hom om te bid. Paulus vermaan daarom ook die Tessalonisense om te volhard in die gebed. Die gebed bring die sondige mens in kontak met die hemelse Vader, bring die mens daar waar hy asemhaal in die sfeer van die Heilige. Daarom is die gebed „verkeren-mogen in de tegenwoordigheid Gods. Het is een onbeschrijflijke eere. Het is een zalig mysterie." (2) Dr. M. J. A. de Vrijer: Het geloof en zijn moeilijkheden (bls. 31).)

Hy wat glo, moet bid en hy wat bid, moet glo. Die gebed mag nooit 'n rympie wees, wat opgesê word nie, maar moet altyd wees 'n spreek in heilige eerbied en ontsag van die gelowige kind tot die Vader.

Die Kategismus behandel agtereenvolgens die noodsaaklikheid, die vereistes en die inhoud van die gebed wat vir God welaangenaam is.

Die noodsaaklikheid van die gebed: Op die vraag waarom die gebed vir die Christene nodig is, antwoord die Kategismus: „Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met innige sugte, sonder ophou, daarom bid en daardeur dank." Ons hele lewe behoort te wees 'n dankbare lewe. Dit is 'n eis van die Skrif. Dankbaar behoort ons te wees bo-al vir die onuitspreeklike gawe van God in Christus; vir vergifnis van sonde, die verbreking van die bande en boeie van ongeregtigheid deur sy genade; vir die feit dat ons sy kinders genoem kan word; dankbaar dat ons 'n Vader het wat elke dag sorg en versorg; wat ons elke dag teëkom met milde gawes uit die hemel. En ons dankbaarheid moet sig openbaar in 'n heilige wandel, in stryd teen die sonde, in liefde tot die naaste. Die gebed is egter telkens weer, in lof en stryd, voor- en teëspoed, die Godgegewe genademiddel om al die roersele van ons siel voor Gods aangesig bekend te maak. Want vir die verloste sondaar is dit nie alleen plig nie, maar behoefte en vreugde om gedurig in gemeenskap met God te verkeer. So moet die dankbare lewe van die Christen sig uit die aard van die saak as 'n biddende lewe vertoon. Ja ons gebed moet altyd soos 'n welriekende geur voor sy aangesig swewe. Omdat ons dankbaar is, moet ons altyd die stille, verborge omgang met God soek in die gelowige gebed: dit is salige gemeenskap; dit gee krag en troos. 'n Dankbare lewe, sonder gebed, kan nie bestaan nie.

Naas die dankbaarheid is daar dan ook nog die belofte wat verbind is aan die gebed, wat dit vir ons nodig maak om te bid — hierdie belofte naamlik dat God sy genade en sy Gees alleen wil gee aan diegene wat Hom met innige sugte, sonder ophou, daarom bid en daarvoor dank. Hierdie belofte wys op die regstreekse verband tussen soek en vind, bid en ontvang, klop en oopmaak. Sonder vra — geen antwoord; sonder bid — geen verhoring. Alleen waar die mens biddend sy afhanklikheid en sy sonde bely, word hy digter by God gebring. God gee sy genade en sy Gees alleen aan diegene wat daarvoor vra, m.a.w. wat behoefte daaraan het. En elke sondaar het seker daardie behoefte, behalwe as die sondaar oormoedig is en homself bedrieg deur te sê dat hy dit nie nodig het nie. Vir die sondaar is dit nodig om te bid om genade. So het die tollenaar ook gebid: „O God, wees my sondaar genadig" — en op hierdie gebed het hy getroos en geregverdig na sy huis gegaan. Vir die gelowige is dit nodig om te bid om die Heilige Gees want sonder sy lig is ons lewenspad enkel duisternis. Daniël het driemaal op 'n dag op vasgestelde tye gebid. So was en is dit nog altyd die kenmerk van die gelowige dat hy smag na die verborge omgang met God en dit daarom ook soek „met innige sugte, sonder ophou." Gedurig wil hy verkeer met God in die gebed, want daardie onsigbare gemeenskap is die krag, die bron van elke lewe, wat „wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie."

Wat is die vereistes van die gebed wat God wil verhoor? Die Kategismus noem drie vereistes: ten eerste, dat ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy Woord aan ons geopenbaar het, van harte moet aanroep vir al die dinge wat Hy ons beveel het om voor te bid. Ten tweede, dat ons ons nood en ellende reg en grondig moet ken, sodat ons voor die aangesig van sy majesteit ons sal verootmoedig. Ten derde dat ons hierdie vaste grond het dat Hy ons gebed, nieteenstaande ons dit onwaardig is, tog om die Here Christus ontwil sekerlik wil verhoor, soos Hy ons dit in sy Woord beloof het.

In die eerste plek gaan dit om die voorwerp van ons gebed. God alleen mag aanbid word, geen afgode of beelde nie (eerste en tweede gebod). Maar dan moet ons die God aanbid wat Hom in sy Woord geopenbaar het. Dus die God wat Hom bekend gemaak het as 'n Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees. Hy is nie meer die Onbekende nie, maar in Jesus Christus, die Bekende en die Kenbare, vol van genade en waarheid. God in sy neerbuigende liefde, in sy erbarming en ontferming, God in sy majesteit en heerlikheid, God in sy heiligheid en geregtigheid is die voorwerp van ons aanbidding. Voor Hom moet elke knie buig en elke tong moet Hom, en Hom alleen, bely. Naas Hom is daar geen ander God nie. Ons ootmoedige gebed mag alleen na Hom opgestuur word. Maar ons moet Hom van harte aanroep. Dit sê God aan Jeremia: „En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (hfst. 29, vs. 1 3). Op die vraag wat die gebed in waarheid is, kan slegs een antwoord gegee word: dit is dit, wat wesenlik uit die diepste van die siel kom. Die gees van die gebed moet diepe ootmoed wees, want onse God is die Gans Andere; tussen Hom, die Hoorder van die gebed, en ons, die bidders, is daar 'n wesenlike verskil, nie net 'n verskil in graad nie. By die aanroeping en aanbidding sal ons altyd moet onthou: „God is Gees; en die wat Hom aanbid moet dit doen in gees en in waarheid."

In die tweede plek gaan dit oor die gees, die gesindheid waarin ons tot God moet bid. Ons kan nie in die regte gesindheid nader, as ons nie ons nood en ellende reg en grondig ken nie. Wie waarlik die vervulling van sy behoeftes wil sien, moet die behoeftes met 'n heldere oog sien. Hy moet sien tot op die bodem van sy eie sondige hart. Ons moet nie in 'n waan oor onsself verkeer nie en meen dat ons darem nog goed is en verdienstelik voor God kan staan nie. Die een wat sy nood en ellende ken, sal nooit in hoogmoed voor God kom staan nie, maar altyd weer in diepe ootmoed. God weerstaan die hoogmoedige, maar die nederige het hy lief. Wanneer die nietige mens wil spreek met die Hoog-Heilige, dan moet hy sy kleinheid besef en met Esra bely: „My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog" (hfst. 9, vs. 6). Hierdie ootmoed bedenk altyd dat daar 'n onoorbrugbare afstand tussen Skepper en skepsel bestaan. En so alleen sal die mens God in sy gebed nie tot 'n vriend verlaag nie, maar sal hy altyd met heilige skroom en eerbied, in volle kennis van sy eie diepe nood en ellende, nader tot die Hoorder van die gebed.

Ten derde: Hierdie ootmoed verhinder ons nie om 'n vaste grond te hê n.l. dat God, al is ons onwaardig, om Christus ontwil ons gebed wil verhoor nie, soos Hy in sy Woord beloof het.

In onsself is daar geen waardigheid of verdienste waarom God ons gebed sou verhoor nie. In Christus alleen is daardie waardigheid en verdienste. Waar ons bid as sondaars en sondaresse, wat altyd weer voor God moet staan met leë hande, daar weet ons dat ons gebed alleen op grond van die soenverdienste van Christus aan die kruis verhoor word. Dit is die vaste grond waarop ons staan as ons in die gebed tot God nader. Christus Jesus alleen. Het Hy dan nie gesê nie: „Al wat julle die Vader sal bid in my Naam, sal Hy vir julle gee?" (Joh. 16, vs. 23). Christus maak ons waardig om in die gebed tot God te nader. In Hom is al die beloftes van God Ja en Amen. In Hom alleen het ons vrymoedigheid om te bid. Hy maak die geboeide en stamelende tong los om altyd weer te bid:

„Ja, dit gee my nuwe moed

by die grootheid van my sonde;

daar is heil in Jesus bloed

en 'n losprys deur sy wonde!

Nou kan ek daar vas op gaan —

Jesus neem die sondaars aan

Ges. 39, vs. 5)

Wat moet die inhoud wees van die Godewelgevallige gebed? Antwoord 118: „Die voorsiening in alle geestelike en liggaamlike nooddruf wat die Here Christus saamgevat het in die gebed wat Hy ons self geleer het." Hierdie gebed is die Onse Vader, die volmaakte gebed, waarin so kort en so duidelik die geestelike en die liggaamlike nooddruf deur Christus saamgevat is.

Dit is 'n groot troos om te weet dat ook ons stoflike nood onder die heerskappy van God is; dat Hy ook daaroor na sy wil en welbehae beskik. Ons liggaamlike behoeftes kan soms ook bitter benouend wees. Die boer dink aan sy oes op die land, die werksman oor liggaamlike gesondheid, die moeder oor die kleding en voeding van die kind. Dit is genade dat elke stoflike behoefte voor sy aangesig gebring mag word; maar dan moet dit wesenlike behoeftes wees, nie ingebeelde of onmatige behoeftes nie; nie alles wat ons verbeelding wenslik ag nie, of wat 'n hoogmoedige hart as onmisbaar beskou nie, of wat 'n verduisterde verstand as noodsaaklike besittinge reken nie. Ons moet beskeie wees. Alles wat ons vra, moet in geloof gevra word. Maar by alles waarvoor ons bid moet daar ook altyd die gesindheid van onderworpenheid wees: „Nie soos ons wil nie, maar laat U wil geskied." Die Onse Vader leer ons om beskeie te wees: Van die ses bedes gaan een oor die stoflike nooddruf; die ander vyf gaan oor geestelike sake. Ook in die gebed moet ons eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek in die vertroue dat al die ander dinge ons geskenk sal word. In sy gebed leer Jesus ons eers aan God dink, dan aan onsself. Gods eer staan voorop. God is eerste in die gebed, maar ook die laaste. In alle dinge is Hy die begin en die einde. Hoe dikwels is ons gebed net 'n gebed vir onsself, vir ons eie nooddruf, terwyl God en sy saak vergeet word! Die gebed moet in die hemel begin, vervolgens neerdaal op die aarde, om ten slotte in die lofverheffing weer na die hemel op te klim, — 'n hangende brug, waarvan die beide kante in die hemel der hemele hang en wat in die middel die aarde met haar tydelike en geestelike nood raak. (1) Dr. J. J. Knap: De Heidelbergse Kategismus (bls. 469).)

Veral moet ons bid vir ons geestelike nood. En wie is daar wat hierdie nood nie het nie en nie ken nie? Waar sonde is, is diepe nood — altyd. En daarom het elke mens geestelike nood. Die hele wêreld verkeer in geestelike nood. As ons dit maar besef het, as ons maar ons nood geken het, o, hoe sou die bedehuise nie vol geword het nie, ja hoe sou die hele gelowige wêreld nie geword het 'n bedehuis nie! Die nood van elke mensehart, van die wêreld is die sonde, die ongeregtigheid, die geestelike louheid, die lewe van God vervreemd. Maar, helaas, ons sien dit nie meer as sonde, as nood nie!

Die Onse Vader is kort — vir ons almal is dit 'n beskamende voorbeeld: Ons gebede is so dikwels lank en vaag; ons weet nie presies waarvoor ons bid nie. Laat ons altyd weer bid: „Here, leer ons bid." Laat ons ons eie gebede altyd weer sien in die lig van die volmaakte gebed, die Onse Vader, dan is ons gebed welaangenaam voor God.

Amen.

G. J. J. Roos.

Related Media
See more
Related Sermons
See more