Hk 48 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 9 views
Notes
Transcript

SONDAG 48

Die tweede bede

Vraag 123: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat U Koninkryk kom. Dit is: Regeer ons deur U Woord en U Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp; bewaar en vermeerder u Kerk; vernietig die werke van die duiwel en alle mag wat hom, teen U verhef, en verder ook alle bose planne wat teen U heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van U ryk kom waarin U alles in almal sal wees.

Aangesien God die Koning van alle konings is, omvat sy Koninkryk gevolglik ook, soos ons dit van die een kant af besien, alles en almal. Alles staan onder sy magsgebied. Alles word deur Hom beheers. Alles is aan sy opperbewind onderworpe. Niks kan buite sy wil om leef en beweeg nie. Niks kan iets teen sy heerskappy vermag nie.

Hier het ons dus te doen met die Koninkryk van God wat so oud is as die skepping en wat gegrond is op sy Almag. In sy hand is immers „die diepste plekke van die aarde en ook die toppe van die berge is syne. Aan Hom behoort die see wat Hyself gemaak het en die droë land wat sy hand formeer het." Dit sal daarom ook geen betekenis hê om in die sin te bid: „Laat U Koninkryk kom" nie want hierdie dinge was van die begin af so, is dit nou nog en sal altyd so bly.

Die tweede bede van die Onse Vader sien dus op iets anders, op 'n ander Koninkryk, op 'n sedelike Koninkryk wat suiwer geestelik van aard is en dui op die heerskappy van God wat Hy wil voer in die hart van die mens. En hier geld nie 'n dringende oormag nie, maar 'n vrywillige onderwerping word gevra, want liefde en genade is die grondslag daarvan.

Reeds in die paradyslewe het hierdie geestelike Koninkryk bestaan maar met die sondeval is die harmonie verstoor en die heerskappy van God in die hart van die mens is afgewys. Nogtans het Hy weer gekom om vanaf die paradysbelofte, daardie Koninkryk weer op te rig wat deur die sonde verstoor en verbreek is. En veral met die koms van Jesus Christus, Hy wat die kop van die slang sou vermorsel, het die Koninkryk van die hemele naby gekom. Dit is die Koninkryk wat uit die hemel op aarde gedaal het om weer heilige orde te bring waar wanorde gekom en geheers het.

Daarom is dit ook met die oog hierop dat Christus 'n plek vra in die gebed van die syne, deur ons so te leer bid: „Onse Vader wat in die hemele is . Laat U Koninkryk kom."

En hierdie bede sien dan op die volkome wording van wat reeds bestaan, op die uitbreiding van die ryk wat reeds gevestig is. Die Godsryk wat in werking is moet toeneem en die mensdom en wêreld moet steeds meer van sy werking deurdring word. Hier kom ons eie hart en lewe eers aan die beurt en daarom betaam dit ons om by die bede, volgens die Heidelbergse Kategismus eers aan onsself te dink en wel met die smeking: „Regeer ons so deur U Woord en U Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp."

Allereers moet dit dus gaan om die heerskappy van God in onsself. In ons roep om die koms van sy Koninkryk moet ons weet om ons te stel onder Hom. Gehoorsaam moet ons neerbuk op die voetbank van sy voete en alleen soek en vra na sy reg en eer. Ons moet regeer word, nie deur eie wil en wysheid nie, maar deur Gods Woord en Gees. En moet ons tog na alles ervaar dat daar nog soveel in ons geneig bly tot die kwaad; moet ons bewus wees hoe menigkeer die vlees begeer teen die gees — laat ons dan nie die goeie moed opgee nie, maar laat ons weet dat hierdie innerlike verdeeldheid van ons hart slegs te oorwin is deur die steeds voller en ryker koms van Gods Koninkryk daarbinne. Daarom moet ons maar altyd weer ons knieë buig en bid teen die heerskappy van ons eie wil en ek: „Laat U Koninkryk kom — d.i.: Regeer ons deur U Woord en Gees sodat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp. Tevergeefs sal hierdie versugting dan sekerlik nie wees nie en eindelik sal ons word, in waarheid, beelddraers van God, wat sy Koninkryk in ons harte dra. Dan sal ons i.p.v. slawe van die sonde, kinders van die Vader wees onder sy heerskappy en onder sy heerskappy sal ons salig wees en vry.

Hiermee is die bedoeling van die tweede bede van die Onse Vader egter nog nie uitgeput nie, want nadat ons so aan onsself gedink het ontwikkel die Heidelbergse Kategismus die antwoord nog verder in hierdie woorde: „Bewaar en vermeerder U Kerk." Immers, die Kerk wat deur die Here daargestel is, het 'n belangrike taak tot uitbreiding van Gods Koninkryk in die wêreld, en daarom die bede ter bewaring en vermeerdering. Aan die Kerk is daardie genademiddele van Woord en Sakramente toevertrou. Die Kerk moet ten alle tye die Swaard van die Gees hanteer teen die vyand om die stryd van haar Hoof te volstry. Solank die velde dan nog wit lê van die oes wat ryp geword het, mag die Kerk sy doel nie verby sien nie, nie rus nie, maar moet voortgaan met sy opgelegde taak om die genade van God in Christus te verkondig oor geheel die wêreld totdat die geklank van die Koningsnaam oral gehoor word.

Waar die Kerk dus 'n van God verkore middel is ter verbreiding van sy heil, moet ons, wanneer ons bid, ook vir die Kerk, daardie instrument wat die Here verorden en toeberei het, voorbidding doen.

Nooit mag ons die Kerk verontagsaam nie. Nooit mag ons meen dat ons daarsonder kan lewe nie. Nooit mag ons dink dat dit onbruikbaar is vir Gods Koninkryk nie. Nee, want die wat so doen sal slegs op die afgrond afstuur en hulle verontagsaam die saligheid wat God aan die mensdom wil bewerk.

Die feit dat die Here self die Kerk in die lewe geroep het, moet ons, as ranke van die wynstok, as lede van die Hoof, dus roep tot getrouheid en ywer, want Hy het dit so en nie anders gewil nie. En al bly ons in onsself nog so swak, behou die opregte gebed nog sy krag en daarom moet ons aanhou oorgaan tot die bede: „Laat U Koninkryk kom" — ja „bewaar en vermeerder U Kerk! Bewaar hom van vyande wat miskien binne of buite is; van geestelike agteruitgang en verdorring, van sedelike insinking, van allerlei ontaarding en dwaling. Maar vermeerder hom ook. Gee U self die wasdom en groeikrag na binne en buite, sodat die hele wêreld vervul mag word met U saligmakende kennis en al die nasies U heil kan sien ."

Ons kom nou tot die verdere verklaring van die tweede bede waarin die Heidelbergse Kategismus as volg spreek: „Vernietig die werke van die duiwel en alle mag wat hom teen U verhef, en verder ook alle bose planne wat teen U heilige wil bedink word totdat die volkomenheid van U ryk kom, waarin U alles in almal sal wees."

Hier bedink ons dus die geweldige teenstand wat die hemelse Koninkryk wedervaar, want die mag van die bose, daardie gevreesde vyand, trag altyd om sy bestaan te handhaaf en uit te brei ten koste van die ryk van die Lig. Oral word die harmonie wreed verstoor. Aanhoudend word verderf gesaai. Steeds keer die mag van die duisternis sig teen almal wat die Naam van die Here bely en fel is soms die aanslae wat gemaak word teen Gods Woord en die Kerk in daardie poging van satan om duisternis te bring in die plek van die Lig.

Gelukkig egter, daar is niks wat die Woord van sy heersende hoogte kan neerhaal nie en geen geweld sal die Kerk uit die fondamente kan ruk nie. In Jesus Christus het God immers sy almag openbaar, om die mag van die duiwel te verbreek en die ryk van die duisternis tot niet te maak en op grond van hierdie geloofsekerheid weet ons ook om te sing:

„Die leërskaar se Heer

Waak vir sy Woord en eer."

en verder:

„Hou Christus self sy Kerk in stand,

Vergeefs die hel se woede!

Gesete aan Gods regterhand,

Hou Hy haar in sy hoede."

Daarom bid ons van bo wat ons self nie kan doen nie; daarom verwag ons van God wat ons self nie kan bewerk nie as ons smeek: „Laat U Koninkryk kom" — ja „Vernietig die werk van die duiwel en alle heerskappy wat hom teen U verhef en verder ook alle bose planne wat teen U heilige Woord bedink word."

Dit wil egter nie sê dat ons ons nou buitekant die worsteling gaan stel nie; dat ons alles slegs as toeskouers gaan besien nie; dat ons self nie die hand aan die ploeg gaan slaan nie nee, want die gebed is nie bedoel om ons van werk te onthef nie.

Laat ons daarom nie alleen bid vir die koms van Gods Koninkryk nie, maar laat ons ook werk aan die taak wat op ons skouers gelê is, want bid en werk hoort altyd onafskeidbaar saam. En moet die teenstand na alles nog so onoorkomelik lyk, moet die vyandskap so heftig wees en u alle hoop op oorwinning wil laat vaar, wees ook dan nog nie bang nie. Immers die Koninkryk kom doelbewus om eenmaal alle teenstand en haat vir goed tot niet te maak.

Ja die Koninkryk kom omdat die Koning kom, kom op die wolke van die hemel om in daardie finale stryd die ryk van die duisternis vir ewig te laat swig voor die ryk van die Lig.

Nog 'n klein tydjie en die Seun van die mens sal verskyn om as Regter almal te oordeel en te vergeld na sy werk; dan sal die hoopvolle toekomsverwagting, die ryke belofte aan 'n herwonne paradys vir elke gelowige in vervulling gaan.

Die magtige verlossingswerk van Christus, die Triomfator, sal dan sy einddoel bereik hê en terwyl die oue verby sal wees en alles nuut sal word, sal die ryk van genade oorgaan tot die ryk van volkomenheid, waarin die Drie-enige God wat leef en regeer sal wees alles in almal. Hy uit wie, deur wie en tot wie alle dinge is; aan wie alleen toekom die eer en heerlikheid, die glorie en mag, nou reeds en tot in ewigheid.

Amen.  W. J. Roos.

Related Media
See more
Related Sermons
See more