Hk 49 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 18 views
Notes
Transcript

SONDAG 49

Die derde bede

Lees: Mattheus 6, vs. 5-18; Mattheus 25, vs. 14-30.

Sing: Psalm 89, vs. 3 en 6; Gesang 21, vs. 2 en 4; Gesang 62, vs. 1 en 3; Gesang 75, vs. 1 en 4.

Vraag 124: Wat is die derde bede?

Antwoord: Laat U wil geskied, soos in die hemel netso ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil versaak, om aan U wil, wat alleen goed is, sonder enige teenspraak gehoorsaam te wees; sodat iedereen sy amp en beroep so gewillig en getrou mag beoefen en uitvoer as die engele in die hemel dit doen.

Hoe dieper ons in die skatkamers van die voortreflikste voorskrif, die Onse Vader gaan, hoe hoër klim dit in ons skatting. Ons mag deur Jesus Christus, God aanspreek as Onse Vader. Wat 'n onpeilbare voorreg! Die heiliging van Gods Naam — wat is daar verhewener op aarde ? Wat is saliger te denke as die koms van Gods Koninkryk ?

Nog meer word hierdie denkbeelde verhelder en aangevul deur die inhoud van die derde bede. By die lees van die Onse Vader is dit alreeds duidelik hoe nou die derde bede verbonde is aan die eerste en tweede. Opmerklik vorm dit as 't ware die oorgang van die „U" in die eerste drie bedes tot die herhaalde „Ons" in die volgende bedes.

Dit is immers onmoontlik om op Gode welbehaaglike wyse om ons daaglikse brood, skuldvergewing, verlossing en bewaring te bid sonder onbepaalde onderwerping aan die wil en leiding van Hom wat ons alle tydelike en geestelike gawes verleen. Is dit nodig om terwille van die betekenis en noodsaaklikheid van hierdie bede daaraan te herinner dat Jesus dit self in die laaste en bangste nag van sy vernederde lewe op aarde by herhaling gebid het?

„Laat U wil geskied . . ." Gods wil geskied of ons daarvoor bid of nie. Hy is die Almagtige; sy raad sal bestaan al wankel trotse berge, al vergaan vaste rotse. So beskou, lyk hierdie bede vir ons dus oorbodig. Hier moet egter nie aan die verborge sy van Gods wil, wat ook sy raad of voorneme heet, gedink word nie. Hier is sprake van die geopenbaarde bevele of gebooie wat ons deur die stem van die gewete, die leidinge van ons lot en die onderwys van die Heilige Skrif leer ken. Die ewige raad van God moet en sal bestaan al verset die hele skepping hom daarteen. Die geopenbaarde gebooie van God inteendeel moet en kan vrywillig en blymoedig deur sy dienaars volbring word.

Op aarde word die wil van God dikwels weerstaan sodat Hy dit deur sy mag moet handhaaf. Maar dit is nooit die bedoeling van 'n Vader wat alleen deur vrywillige onderwerping van sy kinders verbly moet word nie. Daarom bid ons hier dat alles wat die wil van God weerstaan, verwyder mag word sodat alle weerstand teen die wil verbreek word en ophou. Dit is die aanwysing van die weg waarlangs Gods Naam geheilig word en sy Koninkryk kom.

Toe Moses die Here versoek het om hom sy heerlikheid te toon, het God hom belowe dat Hy sy heerlikheid by hom verby sal laat gaan. Maar God sou hom met sy hand oordek waar hy in die skeur van 'n rots geplaas is, totdat die heerlikheid van God verby gegaan het. God het daarby gevoeg dat geen mens Hom d.i. die volle openbaring van sy Wese mag sien en bly lewe nie. As 'n blyk van Gods genade oor Moses is hom gegun om, nadat God sy hand oor hom weggeneem het, Hom van agter te sien, d.i. dat hy alleen van agter Gods heerlikheid kon sien (Ex. 33, vs. 23).

Word dit ons gegun om hierdie gebeurtenis op die wil van God toe te pas, dan lê daar die aanwysing in dat die wil van God wat ons betref, slegs ten dele geopenbaar word. Wie kan vantevore sê wat God oor ons bepaal het? Wie was sy raadsman toe Hy in die stilte van die ewigheid die loop van gebeurtenisse vasgestel het? Wie het 'n blik in sy raadsbesluite gewerp waarvan ons slegs weet dat dit wys en goed is sonder om die inhoud daarvan te ken ? Die Here gaan in die lotgevalle van ons lewe voortdurend by ons verby. Hy doen dit sowel in die skokkende voorvalle — in die slae wat ons tref as in die lieflike ervaringe wat ons ten deel val. Alles wat ons oorkom is 'n uitvloeisel van sy wil. Geen haar val van ons hoof af sonder hierdie wil nie. Van voor gesien is die beskikkinge van sy wil egter vir ons verborge. Ons leer dit eers van agter ken. Gods wil is vir ons 'n wonder wat eers vir ons onthul word as dit by ons verbygegaan het. Ons ontdek dit eers deur die uitkoms.

Die verborge sy van Gods wil kan dus nooit die rigsnoer van ons lewe wees nie. Ons kan ons daaglikse wandel onmoontlik daarna reël. Ons kan wel bid dat ons ons daaraan in stille berusting mag onderwerp — iets wat Jesus in Getsemane gedoen het maar ons kan nie bid dat hierdie sy van Gods wil deur ons op aarde volbring word nie. Die derde bede inteendeel, is 'n bede om 'n ywerige hand en vaardige hart sodat ons ons lewe mag inrig na wat God in sy Woord van ons eis. Soos die hemelliggame 'n verborge kant het wat van ons afgewend is, maar ook 'n sigbare kant wat ons toeskyn so is daar aan Gods wil 'n verborge kant, naamlik dit wat God besluit het om te doen en 'n geopenbaarde kant wat behels wat ons moet doen (Deut. 29, vs. 29).

Dit is 'n veel-omvattende bede dat Gods wil op aarde soos in die hemel geskied. Die Kategismus peil die diepte daarvan deur te sê dat „ons en alle mense" op aarde hierin aan die engele gelyk moet wees. Eers wanneer „ons en alle mense” so gesind is, is daar volkome harmonie tussen hemel en aarde. Dan golf die lewe van die onsigbare en die van die sigbare wêreld voort na die ritmiese gang van die wil van God. Dan is daar geen wanklank wat die harmonie van die twee dele van Gods magtige skepping kan verstoor nie. Dan is die deur sonde verbroke eenheid van lewensbeweging herstel: mense en engele volvoer saam die gebooie van die Here (Ef. 1 vs. 10).

Wat die aardse lewe kon en moes wees word duidelik deur 'n blik op die hemelbewoners na wie die bede verwys, m.n. die engele, gesien. Die sinnelike mens dink en spreek so dikwels asof daar geen ander wêreld bestaan as die stoflike en waarneembare nie. Hier word met een enkele woord die bekrompenheid van so 'n sienswyse geloonstraf. Hier word die sluier wat 'n heel ander orde as die sigbare en gebrekkige orde van sake bedek, weggeskuiwe. Hy wat uit die hemel is verklaar nie, maar veronderstel in die derde bede die bestaan van die hemel as die mees onbetwisbare saak in die wêreld.

In die hemelse wêreld woon die rein geeste wat op allerlei wyse op die mensewêreld inwerk: die engele van God. Dit is nie toevallig dat die Skrif hulle meermale voorstel in reie en kore nie. Hierin vind ons die aanwysing dat daar 'n volmaakte harmonie onder hulle heers wat 'n aanklag teen die verdeeldheid en verskeuring onder die mense op die aarde is. Die skoonheid van die engele wêreld bestaan seker hierin dat almal wat daar saam woon ook saamstem, saamwerk, saamsing, saambid, omdat hulle, hoe hulle ook al in aanleg mag verskil, die een groot doel n.l. die verheerliking van God beoog.

Wanneer een engel met die Heilig, Heilig, Heilig is die Here van die leërskare begin, dan doen die ander mee en is dit uit die duisende geeste een stem soos van baie waters. Wanneer daar een engel in aanbidding van die Allerhoogste voor gaan, dan gaan dit oor in 'n eenparige lofverheffing van die Here.

Die punt van ooreenkoms tussen hemel en aarde waarop die „Onse Vader" heenwys, lê in die arbeid waartoe hemel- en aardbewoners beide geroepe is. Elkeen in die hemel het sy roeping. Daar ook is 'n verskeidenheid van talente en gawes. Onder ons het die een die talent van die wetenskap, die ander een van die praktiese werksaamheid, 'n derde die talent van die kuns, 'n vierde weer 'n besondere aanleg vir die handel, die vyfde is vir hande-arbeid in die wieg gelê. So is dit ook in die hemel. Daar is groepe wat in begaafdheid grootliks verskil, maar elkeen vind die werkkring waarvoor die Skepper hom met sy besondere talente toeberei het. Elkeen volbring Gods wil deur die vrywillige en getroue vervulling van die roeping waarvoor Hy hom bekwaam gemaak het. Die Heilige Skrif is ten opsigte van die engele en hulle werksaamhede ryk aan gegewens. Daar is Gerubs wat as wagters voor die heiligdom van die Here moet waak, Serafs wat as gevleuelde boodskappers van die Allerhoogste optree, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte (Kol. 1, vs. 16).

Hoeveel verskil in werking daar ookal onder hulle mag wees, Gods wil word volbring in die roeping vir elkeen van hulle toeberei.

Die „Laat U wil geskied" is die dryfveer vir al hulle arbeid.

Juis so behoort dit ook onder die mense te wees. Op die aarde is daar net so 'n groot verskeidenheid van amp en beroep. Ook hier is daar geen matte eenvormigheid nie maar 'n rykdom van gawes en daardeur 'n rykdom van werksaamhede. Elkeen ontvang die werk waarvoor hy geskik is. Die heer van die huis uit die gelykenis van die talente, deel die talente nie in blinde willekeur uit nie maar gee aan die een vyf, aan die andereen twee en aan die derde een. Elkeen ontvang na sy vermoë, d.i. na sy enger of ryker begrensde aanleg.

Elkeen van ons is toegerus vir die taak wat in besonder vir hom weggelê is. Ons kan nie almal staatsamptenare wees nie, daar is ook ambagsmanne nodig. Nie almal kan die kansel betree nie, daar moet ook vir voedsel en kleding gesorg word. Nie almal kan geneeshere en verpleegsters wees nie, die eenvoudigste diensbode vervul ook 'n kostelike roeping. Wie hierdie dinge verstaan, verstaan ook die bede: „Laat U wil geskied soos in die hemel, so ook op die aarde." Dit is 'n gebed om genade en wysheid sodat ons ons amp mag vervul soos die engele in die hemel: tevrede met die plek wat ons daarvoor deur die wyse raad van God aangewys is. Dit is juis die praktiese kant van die Evangelie van saligheid. Die Evangelie is nie 'n loutere bespiegeling wat die mens ongeskik vir die moeitevolle arbeid wil maak en hom alles uit die hande wil ruk nie. Die gelowige bring in die derde bede die gewone dagtaak voor God sodat daar hoër lig op val. Hierdeur ontvang ons beroep die hoëre wyding van 'n oefenskool vir die ewigheid. Ons self word daardeur tot voller kragsinspanning aangespoor. Hierdie gebed maak nie swak nie maar sterk. Dit verlam die veerkrag nie maar versterk dit.

In die derde bede lê nog meer opgesluit. Ons vra daarin verder dat ons ons aardse roeping op die wyse van die engele mag vervul, d.i. gewillig en getrou. Gewillig — dit is die kenmerk van die engelediens. Hierdie ryke dienende geeste verlustig hulle in die taak wat hulle opgelê is en onderneem dit met die volle toewyding van hulle wese. Die Gerub beny die Seraf sy diens nie. Die legioene is nie afgunstig op Gabriël wat met 'n salige boodskap na Maria gestuur word nie. Die verderfengel wat slaande deur Egipte moet gaan is ewe volvaardig in die uitvoering van sy bange taak as die hemelse heirleërs wat die herders op die vlakte van Efratha lowend omswewe.

Hierdie gewilligheid vra God ook van ons: gewilligheid in die eenvoudigste arbeid sowel as in die hoogste roeping. Ewe gewillig om soos Simon van Cirene na die akker te gaan as om wanneer die Voorsienigheid wink die kruis agter Jesus aan te dra. Hierin lê die hoëre wyding van ons taak dat ons altyd met brandende liefde vir ons werk vervul moet wees. Altyd gretig te gryp na die dagtaak om die grote in die kleine te vind. Ons moet arbei met 'n wilskrag van staal en met 'n wakker gees. Nooit skoorvoetend en aarselend die werk begin nie maar met 'n hart wat God daarvoor loof. Nooit klaend dat ons eintlik tog vir groter dinge bestemd is nie; as dit so is sal God ons daartoe op sy tyd roep. Nooit by die pakke gaan sit met die gedagte dat ons taak veel te swaar is vir ons kragte nie. God ken ons krag beter as ons self. 'n Stamelende Moses is vir Hom 'n werktuig om sy volk uit die slawehuis van Egipte te lei. Gewilligheid — dit moet ons wagwoord wees. Gewillig soos Abraham wanneer ons plig op Moria lê. Gewillig soos Paulus wat bereid was om te lewe en ook bereid om as drankoffer geoffer te word soos dit die Here mag behaag. Gewillig met die gewilligheid van Jesus Christus wat ook hierin ons Hoof is.

Ons vra in hierdie bede ook dat ons ons roeping net so getrou as die engele mag vervul — getrou in die werk, getrou ook in die onderdele van die werk, getrou in die agterkant van die werk vir die oë van die mense wel verborge maar waaroorheen God sy blik ondersoekend laat gaan.

Menigeen begin met gloeiende ywer sy taak; hy onderneem dit met bergeversettende krag maar wanneer besware hulle voordoen, word die ywer uitgedoof. Eindelik bly daar dan weinig meer oor as net 'n koue ashoop op die eens vlammende altaar van die hart. Waar bly die standvastige trou wat vir geen moeilikhede terugdeins nie? Menigeen wat 'n selfstandige posisie beklee en met niemand anders te doen het as met God en sy gewete nie, versuim of verwaarloos so dikwels die minder aangename van sy taak. Is dit sorgvuldige trou? Trou kom veral uit in die kleine, in die verborge werk wat die wêreld nie sien maar wat des te hoër eise aan ons toewyding stel omdat ons daarin nie deur toejuigende skares ondersteun word nie. Niks wat ons moet verrig is doelloos nie. Die engele is getrou ook in die kleinste. Hulle weier nie om na die slapende Jakob af te daal nie: iets wat skynbaar vir die mens doelloos lyk. Christus is getrou en Hy is nie alleen bereid om in sy majesteit op die golwe te wandel nie of die berg van verheerliking te beklim nie maar net so om as dienskneg die voete van die apostels te was. God is trou en die grote God wat die ganse heelal te versorg het, merk selfs 'n traan in ons wenende oog op.

Wanneer ons hierop ag slaan voel ons ons beskaamd maar hierdie self-ontdekking dryf ons des te sterker tot die gebed: „Laat U wil geskied soos in die hemel so ook op die aarde." Die bede dat Gods wil in ons daaglikse werk volbring mag word, soos die engele hulle roeping in die hemel vervul, sluit eintlik ook die bede in dat God ons mag gee om ons eie wil te versaak en sy wil wat alleen goed is sonder enige teenspraak gehoorsaam te wees. In die paradys was daar van so 'n wilsversaking sprake. Die wil van die mens was oorspronklik 'n uitvloeisel van Gods wil en het daarmee geheel en al ooreengestem. Daar was nie die minste stryd tussen die twee wille nie, maar hulle het albei in volmaakte rigting gewerk. Die sonde wat alles verderf het, het ons wil egter omgebuig. Van daardie oomblik af druis ons gevalle wil lynreg teen Gods wil in. Dit is daarteen gekant, bots daarteen en weier om hom na Gods weë te skik. Nou is dit die arbeid van die genade om ons weer eenswillend met die Here onse God te maak sodat ons ons brose en ten kwade geneë wil prys gee en ons deur die goddelike wil laat beheers en lei. Natuurlik is hierdie genade-arbeid nie in een oomblik voltooi nie. Waar Gods hand ons met krag in die suiwere lyn buig, spring dit tog weer telkens in die verkeerde rigting terug sodat daar 'n voortdurende worsteling in ons binneste plaasvind, tussen wat God in sy Woord van ons wil en wat ons self wil.

Dit is hierdie innerlike stryd wat ons daagliks die bede op die lippe lê: „Laat U wil geskied ." d.i. mag U wil deur ons volbring word. Mag U wil die dryfkrag van ons lewe wees. Bemoedigend in hoë mate is die gedagte dat ons ons wilsversaking van God mag afbid soos die Kategismus dit uitdruk: „Gee dat ons ons eie wil mag versaak."

Ons het 'n God tot wie ons mag sê: „Gee." 'n God wat ons nie alleen van sonde nie maar ook van ons self wil verlos, wat ons die heerlikheid van sy wil duidelik laat sien deur aan ons verligte oë te skenk. Hy wil deur ons gebid word nie alleen dat ons sy wil moet gehoorsaam nie, maar dat ons sonder enige teëspraak daaraan gehoorsaam moet wees.

Sonder enige teëspraak: Nee, die uitnemendste onder die mense is nog nie sover gevorder nie. Gods wil wys ons soms sulke duistere weë. Die lewenstaak wat Hy ons opgelê het is soms een van enkel ledigheid terwyl ons daarna hunker om met 'n ywerige hand die ploegstert te gryp en diep vore oor die akker te trek. Maar in die skynbare ledigheid waartoe so baie krankes geroep is, dien hulle God deur hulle rustige wag nie minder getrou as die ander nie. Ja daar is ook diegene wie se lewensroeping haas uitsluitend in die heldhaftige dra van kruise en in die drink van bittere bekers bestaan. En dat daar dan geen teëspraak op die lippe en selfs geen teëspraak in ons harte sou wees nie — wie het vrymoedigheid om dit van homself te bely ? Op effe paaie val dit nie so swaar om dit te erken dat dit alleen goed is nie. Maar hierdie grote belydenis verstom nie selde nie wanneer die Here met ons deur diep waters gaan nie. En tog hou ons vas aan die „alleen goed" van ons leerboek al skyn die wil van die Here vir ons kortsigtige blik dikwels alleen kwaad.

Toe Christus na Gods wil die lydingsbeker moes drink, het hierdie wil alleen kwaad geskyn maar dit was alleen goed soos die uitkoms bewys het. Hy het daarmee die verlossing van die wêreld bedoel. In die lig van Golgota leer ons fluister dat die wil van die Here alleen goed is. Alleen goed wanneer Hy ons 'n nederige lewensarbeid beskik en ons 'n plek voor die voetlig ontsê. Alleen goed wanneer Hy ons naas prinse en wêreldgrotes plaas hoewel ons veel liewer 'n meer beskeie deel sou wou hê. Alleen goed wanneer hy ons geen ander lewenstaak oplê nie as om met 'n gefolterde liggaam aan 'n krankbed gekluister te bly nie om also lof vir Hom op ons lippe te berei. Alleen goed ten slotte wanneer Hy ons ontydig uit ons werkkring wegneem om ons tot hoër arbeid te roep en ons te vergader tot die volwaardige engelskare wat almal saam blymoedig Gods wil volbring waarmee hulle getuig dat die wil alleen goed is .. . ja, alleen goed is.

Amen.

J. A. Smit.

Related Media
See more
Related Sermons
See more