Hk 5 U Enigste Troos
SONDAG 5
Die behoefte aan 'n middelaar
Lees: Romeine 7.
Sing: Psalm 130, vs. 1 en 2; Gesang 52, vs. 10; Gesang 14, vs. 4; Gesang 54, vs. 5.
Vraag 12: Aangesien ons dan na die regverdige oordeel van God tydelike en ewige straf verdien het, is daar enige middel waardeur ons van hierdie straf kan vrykom en weer tot genade kom?
Antwoord: God wil dat aan sy geregtigheid voldoen word; daarom moet
ons daaraan of deur onsself of deur 'n ander ten volle betaal.
Vraag 13: Maar kan ons deur onsself betaal?
Antwoord: Nee, hoegenaamd nie, maar ons maak selfs die skuld nog daagliks meer.
Vraag 14: Kan daar ook êrens 'n blote skepsel gevind word om vir ons te betaal ?
Antwoord: Nee; want ten eerste wil God die skuld wat die mens gemaak het, aan geen ander skepsel straf nie; ten tweede kan ook geen blote skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander daarvan verlos nie.
Vraag 15: Hoedanig 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat 'n waaragtige en regverdige mens is, en nogtans ook sterker as alle skepsels, dit is, wat ook tegelyk waaragtige God is.
Gemeente van die Here,
God het die mens, die kroon van die skepping, vir die ewigheid geskape. Maar hy het in sonde geval. Nou rus op hom, na die regverdige oordeel van God, die tydelike en ewige straf. En hy het dit verdien. Dreigend soos 'n swaar bewolkte hemel hang die oordeel van God oor hom.
Hy moes met 'n stralende gelaat deur die lewe gaan, maar sy hoof hang. Hy moes met 'n blye lag sy lewensweg bewandel, maar hy sug en die hele skepping sug saam, want die vloek van die sonde het ook die aardryk getref. Die heerskappy op aarde is hom gegee, maar kyk, hy het 'n slaaf geword, 'n dienskneg van die sonde. Hy is 'n gevalle sondaar, geneig tot die kwaad, afhanklik, ellendig, sterflik. Sy skuld druk hom terneer. Hy het behoefte aan verlossing. Ek, ellendige mens, wie sal my verlos ? Hoe ontkom ek aan die oordeel ? Hoe word ek weer in die regte verhouding tot God gestel ? Is daar nie 'n middel om van die straf vry te kom en weer tot genade te kom nie?
Die Kategismus antwoord: om aan die straf te ontkom, moet aan die geregtigheid van God voldoen word.
Die geregtigheid van God kan nie verbreek word nie. Dis immers 'n goddelike reg, 'n reg wat hom nie voeg na omstandighede nie, wat hom nie skik na die mens nie en die sonde nie deur die vingers kan sien nie. Dit eis voldoening.
Sonde is immers skuld voor God wat betaal moet word. Dis nie maar net swakheid soos sommige voorgee nie. Dis ook nie net gebrek aan ontwikkeling nie. Inteendeel, dis vyandskap, dis opstand teen God. Daarby is die sonde onheilig. Maar God is heilig en sy heiligheid eis dat die sonde gestraf word. As God, die Heilige, die sonde sou oorsien, sou Hy ophou om heilig te wees. En as God, die hoogste Regter, sy reg sou ombuig, sou Hy geen Regter meer wees nie. Daarom, die sonde moet gestraf word.
Maar God is nie alleen regverdig nie. Hy is ook genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid. En daarom wil Hy die sondaar verlos sonder om sy goddelike reg te krenk.
Maar hoe kan dit gedoen word ?
Een van twee: of die mens moet deur volkome gehoorsaamheid aan die wet van God voldoen, of iemand anders moet as plaasvervanger van die mens gevind word om vir hom te boet.
Maar kan die mens aan die eis van God voldoen en die wet van God volkome vervul? Die Kategismus antwoord: nee, hoegenaamd nie. Daar is immers niemand wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Ons het almal gesondig en is geneig tot die kwaad. (Rom. 3, vs. 10, 23.)
Daar is baie wat hulle hierteen verset. Hulle glo nie aan die onmag van die mens ten goede nie, maar dat die mens homself kan verlos of altans kan help in sy verlossing. So staan die Roomse Kerk die sogenaamde helpende genade voor. Die mens sal deur sy goeie werke salig word met die hulp van God. Maar as dit so is, dan is Christus geen volkome Saligmaker nie, wat volkome red die wat deur Hom tot God gaan. (Hebr. 7, vs. 25.) Hierdie leer van die helpende genade kom die eer van Christus te na en dit openbaar die trotsheid van die mens wat deur al die eeue heen homself wou verlos.
Om hierdie rede het die heidene hulle kinders op die gloeiende arms van die afgod gelê. Deur hierdie wrede offers wou hulle hulself verlos. Om hierdie rede het die Fariseërs die stiptelike vervulling van die wet so aangeprys. In die Middeleeue het die vromes uit die Roomse Christenheid probeer om deur boetedoening en selfkastyding geregverdig te word voor God. Selfs word aflaatbriewe verkoop tot vergewing van sondes.
In ons tyd duur hierdie pogings om self die skuld voor God te betaal nog voort. Meer as een steun vir die ewigheid op sy eerlike lewenswandel of op sy werke van barmhartigheid of op sy Sabbatsviering en wetsvervulling.
Al hierdie dinge is bewyse vir die skuld van die sondaar, maar delg sy skuld nie uit nie. Op al hierdie pogings tot selfverlossing antwoord die Kategismus: dis tevergeefs, hoegenaamd niemand sal daardeur geregverdig word nie.
Nie alleen kan ons die skuld nie self betaal nie, maar ons maak dit nog daagliks meer. Ons sondig immers van dag tot dag in gedagtes, woorde, en werke. Ons tekortkomings, ons struikelinge en afdwalings is baie. Hoe langer ons lewe, hoe meer sonde doen ons.
Onsself verlos ?
Hoegenaamd nie.
Hy wat homself wil verlos, is soos iemand wat in 'n moeras geval het. Sy deugde en goeie werke help net so min om hom te verlos, as wat die graspolle in die moeras die persoon sou help om homself daaraan uit te trek. Hoe meer hy worstel in eie krag hoe dieper werk hy homself in.
Maar as die gevalle sondaar sy skuld voor God nie self kan betaal nie, kan dan die engele dit nie as plaasvervangers vir die mens doen nie?
Ook nie. Eerstens wil God die skuld van die mens nie aan 'n engel straf nie, net so min as wat Hy die skuld van 'n engel aan 'n mens wil straf. Die reg eis dat die straf die een moet tref wat gesondig het. „Die siel wat sondig, die moet sterwe." (Eseg. 18, vs. 4.) Die sonde van duiwels moet deur duiwels geboet word, die sonde van mense deur 'n mens. Tweedens kan ook geen enkele skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie. ..."Niemand kan ooit 'n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie," so getuig die Psalmdigter (49, vs. 8 Waar is mens te vind wat die ewige straf vir homself kan dra en. gestel dis moontlik, om daarna die ewige straf dan weer vir 'n ander te dra! Dit kan nie. Wat staan dan nog dat iemand gevind sou kan word, wat sou kon boet vir die sonde van 'n geslag, van 'n volk, ja, van die hele mensheid!
Wie kan die minste vir 'n ander verdien, waar hyself 'n onverdienstelike slaaf is! Wie sou vir 'n ander kan instaan by God waar sy eie geregtigheid voor God is, soos 'n besoedelde kleed (Jes. 64, vs. 6) ? Vandaar is die klag van die Psalmdigter: „As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie kan bestaan?" (130, vs. 3). Die slotsom is dat geen skepsel in hemel of op aarde te vind is nie.
Is die slotakkoord hiervan wanhoop ? Is die onvermydelike lot van die sondaar nou: vir ewig verlore ?
Ja, tensy 'n middelaar en verlosser gevind kan word, wat 'n waaragtig en regverdig mens is en nogtans ook sterker as alle skepsele, dit is wat ook tegelyk waaragtig God is.
By ons en rondom ons is so iemand nie te vind nie. Daar bly nog net een hoop. En dit is om die blik na bowe te rig en met Petrus uit te roep: Here, na wie toe sal ons gaan? Na wie toe met ons node en ellende ? Na Hom wat kan verlos en uitkoms gee. Na Hom wat die mens rein geskape het en ook weer rein kan herskep. By hom is daar nog redding.
„Bou in kommervolle dae
„al jou hoop op Hom alleen —
„Hy kan help, ja, Hy alleen!"
Hy, onse God, is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. Hy het ons eerste liefgehad. En so liefgehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Hy het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die sondaar hom bekeer en lewe. Vanaf Golgota waar Christus met uitgestrekte arms aan die kruis sterwe, kom sy roepstem tot ons: Kom na My toe.
Hy is die van God gegewe Middelaar. En Hy is die enigste, want daar is net een Middelaar tussen God en mens en dit is die Godmens, Jesus Christus. Sy Naam is die enigste wat onder die hemel gegee is waardeur die mens gered kan word.
Soek Hom.
Soek Hom in u node en ellende.
Soek Hom met u sonde en skuld.
Hy het reeds vir u skuld geboet. Probeer nie om self u skuld voor God te betaal nie. Aanvaar Hom as u Borg en Middelaar. Glo in die Here Jesus Christus en u sal gered word.
Glo net.
Amen.
Joh. Dreyer.