Hk 52 U Enigste Troos

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 5 views
Notes
Transcript

SONDAG 52

Die sesde bede

Lees: Jesaja 40, vs. 21-31.

Sing: Psalm 103, vs. 7; Psalm 86, vs. ; Gesang 76, vs. 4; Gesang 74, vs. 2.

Vraag 127: Wat is die sesde bede?

Antwoord: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Omdat ons in onsself so swak is dat ons nie een oomblik sou kan stand hou nie, en daarby nog ons doodvyande, die Duiwel, die wêreld en ons eie vlees, nie ophou om ons aan te val nie, wil ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie, maar altyd sterk teenstand kan bied, totdat ons eindelik vergoed die oorhand behou.

Vraag 128: Hoe besluit u u gebed?

Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: dit alles bid ons van U, omdat U as ons Koning en as Almagtige die wil en die vermoë besit om ons alles wat goed is te gee, sodat daardeur nie Ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word.

Vraag 129: Wat beteken die woordjie „Amen" ?

Antwoord: Amen wil sê: dit sal waar en seker wees. Want my gebed is veel sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart gevoel dat ek dit van Hom begeer.

Gemeente van die Here,

So het ons dan gekom aan die einde van die Kategismus, waarin behandel word die slot van die gebed van die Here. Maar hierdie slot is tegelyk 'n slotsom: dit sluit nie maar net af nie, maar vat tegelyk ook saam alles wat die Heidelberger ons wil leer. Want hierdie laaste Sondagsafdeling sê nog 'n keer vir ons, dat die mens, dat ons swakke, sondige wesens is, wat in ons self verlore is, dog tewens, dat ons 'n God het wat in sy liefderyke almag ons sal bewaar tot in die ewige lewe. Kort gesê: die mens is niks, maar ons God wil alles vir ons wees. En daarop mag ons amen sê. Want die geloof is niks anders as om amen te sê op hierdie prediking, dat ons verlore sondaars is, maar deur God gered word. Ek is 'n verlorene: dis die erns van die Christendom. Ek is 'n verloste: dis die blydskap van die Christendom. Oor daardie verlorenheid en die redding van die gelowige handel slot en slotsom van ons leerboek.

Ons werp nog eenmaal 'n blik op ons verlore staat. Die Heiland leer sy dissipels om te bid: Lei ons nie in versoeking nie. Dit is 'n bede wat voorkom uit deemoed. Hy wat met 'n opregte hart so bid, besef dat as hy in versoeking sou kom, hy sekerlik sou val. Let wel, die Here leer ons nie om te bid: sterk ons in die versoeking nie — maar om te smeek: lei ons nie in versoeking nie. Dit is deemoediger. As ons bid: sterk ons in versoeking, dan het ons nog wel hoop om in die versoeking te oorwin — natuurlik dank sy die hulp van God wat ons bystaan — maar as ons vra: lei ons nie in versoeking nie, dan beken ons daarmee dat ons geen moontlikheid sien om deur te kom nie, dat tegelyk met die versoeking ook die val sal kom.

Dis 'n sombere blik op die mens en sy vermoëns! Ongetwyfeld. Dis die Bybelse beskouing: Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Die mens, soos hy is, is 'n sondaar. Wie mens sê, sê sondaar. Ons kan nie oor onsself praat sonder oor ons sondes te praat nie. Ons is so swak dat ons nie een oomblik kan stand hou nie.

Die ervaring leer dat hierdie oordeel oor die mens juis is. Selfs wanneer ons deur die genade van God 'n versoeking kon weerstaan het, selfs dan moet ons, as ons onsself reg ken, bely dat ons in ons gedagte alreeds geval het. Dat ons nie tot daadsonde oorgegaan het nie, dit dank ons aan die bewarende invloed van God wat deur sy Woord en Gees die sonde in ons aangeval en oorwin het; maar voordat dit sover was, het ons in ons sielelewe al ten val gekom. En aangesien dit die hart is, wat God aansien, moet ons, as ons voor die oog van die wêreld seëvierend uit die versoeking te voorskyn kom, tog voor God bely dat ons in ons gedagtes die sonde bekoorlik gevind het en sodoende reeds skuldig voor Hom geword het.

Daarom leer die Heiland ons om te bid: Lei ons nie in versoeking nie: bewaar ons vir omstandighede waarin die verleiding tot ons gaan spreek, want as dit eenmaal spreek, is ons reeds, altans in ons denk lewe, 'n gevalle mens. Die uiterste nederigheid en selfkennis word ons hier geleer. Hierdie bede maak dit vir ons duidelik, dat ons nie moet dink dat daar een sonde is waarvoor ons veilig is nie. Nêrens en nooit is ons veilig nie, want orals kan die verleiding ons vind, en die verleiding vind ons as 'n sondaar, as 'n mens wat onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad.

Daar is baie mense wat hierdie prediking nie graag hoor nie. Dis te vernederend vir 'n mens om te hoor dat hy niks vermag nie. Die mens is van nature hoogmoedig, en die meeste hoogmoed betoon hy wellig juis op die punt van die morele lewe. Dis nie beskamend om te erken dat ons geen berge kan versit nie; maar dis wel beskamend om te moet bely dat ons nie teen versoekings bestand is nie. En daarom wil die hoogmoed van die mens hom altyd weer verlei tot die gedagte, dat hy wel sterk sal wees, dat hy nie soos ander mense ten val sal kom nie, dat hy wel weet hoever hy gaan kan. Wie so spreek of dink staan al en wankel op die rand van die afgrond.

Dieselfde geld ook van wat ons sou kan noem die godsdienstige hoogmoed. Dit verklaar: alles wat tot nou toe gesê is, is waar. So is die mens. Maar die wedergebore mens maak daar 'n uitsondering op. Na die bekering het ons 'n afsku van die kwaad, ons ontvlug dit en ons oorwin dit. Die wedergeborene is nie bevrees in versoekings nie. Ook dit is hoogmoed, ook dit, al is dit oorgiet met 'n sous van vrome woorde, is die giftige spys wat die verleiding ons aanbied. Want Jesus het nie die tollenaars of slegte vroue nie, maar sy eie dissipels geleer om te bid: Lei ons nie in versoeking nie. En dis nie die sondige yweraar Saulus nie, dis die heilige apostel Paulus, die kragdadig bekeerde, die uitverkore werktuig wat van homself verklaar: Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Die Christen is, op homself beskou 'n sondaar; die Christelikheid aan die Christen is Christus, is die genadige beskerming van sy hemelse Here, is dus nie 'n saak wat hy tot sy beskikking het nie, maar 'n gawe wat hy telkens opnuut moet afsmeek. En daarom sal juis die ver gevorderde gelowige daagliks bid: Lei ons nie in versoeking nie.

Want in die versoeking is die mens eensaam. Volgens die opsomming wat die Kategismus ons gee storm daar drie vyande op ons af: die Bose, die wêreld en ons eie vlees. Verlos ons van die Bose! leer Jesus ons om te bid. Daarmee is die groot aanvoerder van die ryk van die duisternis bedoel, maar daarmee is nie gesê dat hy ons enigste vyand is nie. Ons praat nog nie eers daarvan nie dat volgens die Skrif daar 'n menigte van bose geeste is wat almal saamwerk om ons ten val te bring; daarnaas noem die Kategismus tereg ook die wêreld, die terrein en werktuig van die Duiwel.

Wat is die wêreld in die Bybelse spraakgebruik ? Is dit die mensewêreld, is dit ook die natuur ? Is dit — soos baie onder ons dink — die verworde samelewing van die stede? 'n Dogtertjie op 'n katkisasieklas het my eendag op die vraag: Wat is die wêreld? die antwoord gegee: die wêreld is alles, behalwe God. Ek twyfel of sy dit so diepsinnig bedoel het, maar in ieder geval is dit die beste omskrywing van wat die Bybel met die woord wêreld bedoel: die wêreld is alles wat is, wanneer dit losgemaak is of los gedink word van God. Alles wat van God geskei is, is wêreld. Die samelewing van die mense is wêreld, sodra die gebod van God daar nie meer die hoogste wet is nie; die natuur is wêreld, sodra ek vergeet dat dit God se werk is; die stad is wêreld, as ek deur die strate swerf om God te ontloop: die platteland is wêreld, as ek daar die sonde dien; my eie huis is wêreld, as hoogmoed en eiesinnigheid daar die hoogste woord voer; ja selfs die kerk is wêreld, as daar selfverheffing en magsbegeerte 'n rol gaan speel. Alles kan wêreld word, want alles kan deur die Bose gebruik word om aan te sluit by die sonde wat in my eie hart woel.

Met opset sê ons: die eie hart. Die Kategismus sê: ons eie vlees. Daardie woord vlees kan gemaklik verkeerd verstaan word, asof dit net 'n aanduiding van ons liggaam sou wees. Maar as die Kategismus of die Bybel die woord vlees gebruik, dan bedoel hulle daarmee nie maar net die liggaamlike kant van ons bestaan nie, maar ook en veral juis ons siel. Die vlees in Bybelse spraakgebruik is die hele aardse mens, soos ons hom ken, sowel na liggaam as ook na siel. En daarom kan ons ook spreek van die sonde in die eie hart: dis nie in die liggaam nie, maar in die siel, in die sondige begeerte, waar die kwaad die eerste hom openbaar. Met ander woorde: die mens soos hy is is die doodsvyand van die mens soos hy behoort te wees. As ons dit so uitdruk, dan sien ons ook onmiddellik, wat menslikerwys die uitslag van die stryd moet wees: die mens soos hy is, die sondige mens, sal triomfeer. Dis wat ons kan verwag, dis die onvermydelike slot.

Alleen 'n wonder kan hierin verandering bring, alleen 'n ingrype van God self. Daarom bid ons dan ook; want die gebed is altyd weer vraag om die ingryping van God. Ons bid God dat Hy ons mag bewaar vir omstandighede waarin die verleiding van buite en die bose neiging van binne die geleentheid kry om met mekaar te verenig en ons ten val te bring. Lei ons nie in versoeking nie: dit beteken: Bewaar ons vir die moontlikheid van sonde, want sodra ons in die moontlikheid staan, maak ons daarvan 'n werklikheid. Maak dit vir ons onmoontlik om te sondig, Heer, want U weet watter maaksel ons is.

Tot daardie gebed behoort dan nog twee dinge, wat daar nie van losgemaak kan word nie. Die eerste is, dat ons as ons bid om bewaar te word teen die verleiding, ons ook nie moedswillig die verleiding mag opsoek nie. Hoe vaak het die arglistige hart van die mens hom, terstond nadat hy die bede gebid het, nie uitgedryf op paaie waar die versoeking hom seker sou ontmoet nie! Hoe gevaarlik is ook hier weer die hoogmoed, wat 'n mens wil wysmaak: jy het nou gebid, en nou sal jy ook die versoeking kan weerstaan, en werp dus maar gerus eenkeer 'n blik in die afgrond — jy sal mos nie wankel nie! Hy wat so praat, sal seker ten val kom.

Die ander ding wat uit die bede voortvloei is dat ons ook gedurig God moet dank dat Hy ons bewaar het. In Engeland word dit van Dr. Johnson vertel, in Nederland van die hoogleraar Boerhaave, elders miskien weer van iemand anders, dat as hy 'n moordenaar na die plek van teregstelling sien lei het, hy vir sy vriende gesê het: As Gods genade my nie sou bewaar het nie, sou ek daar gegaan het.

Wie dit ook mag gewees het, hy het geweet dat tussen ons en die grootste sondes net die genade van God staan. Wie dit weet, is dankbaar jeens God en barmhartig jeens sy naaste. Want sonder die genade van God is ons almal verlore. Die mens is niks nie.

Maar God is alles, God wil alles vir ons wees! Daarvan getuig die slot van die allerheiligste gebed: Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Ons is magtelose mense, maar ons is onderdane van 'n Koning wat alle mag in hemel en op aarde het.

Die Kerk het ons geleer, hierdie lofprysing te voeg agter die gebed wat die Heiland vir sy dissipels gegee het. Die verskillende bedes het Jesus ons geleer, maar aan die slot van die eintlike gebed het die Christenheid alreeds van die eerste eeue af die blye en triomfantlike verheerliking van God ons Koning en Verlosser uitgespreek. Nadat ons ons swakheid nog eenmaal met die diepste erns bely het, juig ons met verheugde sekerheid oor die krag van God.

Aan U behoort die Koninkryk — rus my siel, jou God is Koning! Ons is in onsself slawe van die sonde, maar ons Bevryder is naby. God is Koning: Hy en Hy alleen, het reg op ons. Ander here, buite Hom, die Duiwel, die wêreld, die sonde, heers oor ons, maar God handhaaf sy reg as Koning oor ons, ook as ons dit nie wil erken nie. In Christus het Hy op aarde sy heerskappy, die heerskappy van die liefde, gevestig; deur sy Woord eis Hy die heerskappy oor ons hart op; deur die werking van sy Gees buig Hy ons weerspannige siel tot die gehoorsaamheid aan sy heilige en genadige wil.

Aan U behoort die Koninkryk en die krag — dit wat U as koning wil, dit vermag U te doen as die Almagtige, wie se krag geen mag op die wêreld kan weerstaan nie. Wat God wil doen, kan Hy doen. Gods almag beteken nie, dat Hy alles kan doen nie — die Bybel sê byvoorbeeld met uitdruklike woorde dat die Here nie kan lieg nie — maar dit beteken dat God alles kan volbring wat Hy Hom voorgeneem het kragtens sy heilige en volmaakte wil. Een van die ou gesange, wat helaas in die Afrikaanse vertaling baie van sy skoonheid en diepte verloor het, druk dit so uit:

„Wat zijne liefde wil bewerken, „ontzegt Hem zijn vermogen niet.

Aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid — U wil ons, u onderdane, verdedig en beskerm; U kan dit doen, want alle krag is aan U onderwerp; en dit alles strek tot eer en verheerliking van u Naam. Nie aan ons, o Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. As ons bewaar bly vir versoekings, as ons staan in die allerheiligste geloof, as ons eenmaal die poorte van die ewige stad van God ingaan — dan dank ons dit nie aan onsself en eie kragsinspanning nie, maar net en uitsluitend aan die genade en barmhartigheid van God. Daarom strek dit dan ook nie tot ons eer nie, maar tot God se eer. Alle menslike roem is uitgesluit, sodat alleen God geprys mag word. Die eer van die verlossing kom alleen aan die Verlosser, kom alleen aan die Drie-enige God toe, aan die Vader wat ons geskape het, aan die Seun wat ons sondes gedra het, aan die Gees wat ons lei deur die lewe.

Aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. By God is daar geen verandering of skaduwee van omkering nie. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Wat die toekoms ook kan bring, hoe menigmaal ook in die lewe en in die wêreld lot die onverwagte mag gebeur, van een ding is ons seker: God bly God. Hy wat Hom aan ons geopenbaar het as die barmhartige Heiland, Hy is en bly die ewige God. Alles verander, maar Hy is die onveranderlike. Alles vergaan, maar sy liefde is onverganklik. Alles sal ons eenmaal ontval, maar sy hande sal ons vashou. As die laaste dag aanbreek, sal God nog dieselfde God wees as op die eerste dag van die skepping. En soos Hy toe deur die woord van sy mag die lig in die duister laat skyn het, so sal Hy dan ook deur die woord van sy genade die ligtende blydskap van die hemel uitstort oor ons. En daardie laaste dag van die tyd is die eerste van die ewigheid, van die onveranderlike storelose vreugde wat geen mens kan beskryf nie, maar waarvan ons in Jesus Christus seker is.

Laat ons dit vir alle sekerheid nog eenkeer sê: ons is daarvan seker, nie omdat ons iets is nie, maar omdat God alles vir ons wil wees. Ons mag alle goed en heerlikheid verwag, nie omdat ons dit iets wêrd is nie, maar omdat onse God so ryk is in barmhartigheid oor ons. Daarom rys daar in die hart van die sondige en swakke mensekind, wat bewend bid: Lei ons nie in versoeking nie, 'n loflied tot eer van Hom, aan wie alle heerlikheid en krag en heerskappy behoort tot in alle ewigheid.

Die mens niks, God alles — en die geloof sê, sing, jubel: Amen! Daardie amen beteken nie, dat ons klaar is nie; die lofsang is nooit klaar nie, God is in ewigheid onvolprese. Dit beteken ook nie, soos so baie mense dink: Mag dit so wees! nie; nee dit word tereg deur ons Kategismus vertolk met die woorde: Dit sal waar en seker wees. Die Slotsom van die Christelike geloof is nie 'n weemoedige en magtelose wens nie, maar 'n blye sekerheid. Alles wat ons bid met die woorde en in die gees van die Here, sal waar en seker blyk, sal vervul word. Ja die Kategismus sê selfs, dat dit sekerder is as wat ons ooit kan dink of wens. Ons gebed word veel sekerder deur God verhoor as wat ons self in ons hart daarvan bewus is dat ons dit van Hom begeer. Dit wil sê: God se wens om ons alles te gee is groter as ons wens om dit te ontvang. Ons saligheid is veiliger in Gods hand as in ons verlange.

Vas en seker is die verhoring van ons gebed. Is die krag van die menslike woord dan so sterk ? Seker nie! Maar as ons waarlik bid, dan kom dit voort, nie maar net uit die diepte van ons verlange nie, maar uit die veel diepere diepte van Gods beskikking. Die waaragtige gebed is 'n gawe van Gods Heilige Gees, en daardie God wat ons leer om te bid sal ook sorg dra vir die vervulling.

So bly dit, tot in die laatste woord, tot in die Amen toe: nie ons nie, maar God. Met Jona sê ons: Die heil behoort aan die HERE. En ons is verheug daaroor: want omdat dit aan die HERE behoort, is dit onwankelbaar seker en sal dit ewig ons deel wees.

Amen.

A. van Selms.

Related Media
See more
Related Sermons
See more