Hk 7 U Enigste Troos
SONDAG 7
Die opregte geloof
Lees: Handelinge 8, vs. 26-40.
Sing: Gesang 85, vs. 2 en 4; Gesang 58, vs. 2 ; Gesang 52, vs. 8; Psalm 68 vs. 9.
Vraag 20: Word alle mense dan weer deur Christus salig soos hulle in Adam verdoem is?
Antwoord: Nee maar alleen die wat in Hom deur 'n opregte geloof ingelyf word en al sy weldade aanneem.
Vraag 21: Wat is 'n opregte geloof ?
Antwoord: 'n Opregte geloof is nie alleen 'n gewisse kennis waardeur ek alles vir waaragtig hou wat God aan ons in sy Woord geopenbaar het nie maar ook 'n hartelike vertroue wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my werk dat nie alleen aan andere nie, maar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid deur God geskenk is uit loutere genade, alleen op grond van die verdienste van Christus.
Vraag 22: Wat is dan vir 'n Christen nodig om te glo?
Antwoord: Alles wat in die Evangelie beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons kort saamgevat leer.
Vraag 23: Hoe lui die artikels?
Antwoord: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, onse Heer; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is, en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.
Ek glo in die Heilige Gees; 'n heilige, algemene, Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges; vergewing van sondes; wederopstanding van die vlees, en 'n ewige lewe.
Hand. 8, vs. 37b. Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.
Die te hoogverhewe eiedunk van die mense blyk op elke gebied van die lewe waar ons ons eie wil tot wet verhef en ons eie oordeel as die enigste maatstaf van reg beskou. Ons heg byvoorbeeld soveel waarde aan ons vryheid van denke, spraak en handel dat ons bepaalde grense, soos die tussen Skepper en skepsel, probeer wegdink; dan word ons handelinge losbandig en ons spraak lostongigheid.
Hierdie neiginge van die mense kom op elke terrein van die lewe voor maar nêrens so duidelik en met sulke nadelige uitwerkinge nie as juis op die gebied van die christelike godsdiens.
Menslike eiedunk is nie 'n nuwerwetse kwaal nie. In die vorige eeu het ons vaders graag geroem op „die ontwaakte rede." Hulle wou by uitnemendheid redelik wees ook wat die godsdiens betref. Hulle rede kon die wondere van Jesus nie verklaar nie en bygevolg het hulle dit „onredelik" en daarom ongeloofbaar bevind. Mense wat nog werklik redelik was, d.w.s. mense wat die grense van hul redelik vermoë erken het, sou die wondere van die Here liewer beskou het as bowe-redelik — God's dade en daarom juis waar.
Anders as die van ons vaders, is ons eeu weer so besonder „menslik". Ons beoefen mensliewendheid met ons weidse organisasies, en „menslikheid" maak ons tot die slagkreet van ons politieke sisteme. Op sigself is dit ook nie so verkeerd nie maar die kwaad skuil daarin dat ons alles tot die mens en sy belange herlei, dat ons die eienskappe, insigte en bevindinge van die mens bevorder tot maatstaf van die heelal. Dan onderwerp ons ook God's dade en God's oordele aan die reëlinge van ons menslike regspleging en bevind dit onregverdig „onmenslik". Ons regverdigheidsgevoel is dit byvoorbeeld nie eens met die christelike verlossingsleer nie. Ons kan dan ook nie die standpunt van die Kategismus hieroor billik nie. Op die Twintigste Vraag, of alle mense deur Christus salig word soos hulle in Adam verdoem is, antwoord ons menslikheidsgevoel: „Ongetwyfeld!" Die Kategismus antwoord beslis: „Nee, maar alleen die wat in Hom deur 'n opregte geloof ingelyf word en sy weldade aanneem."
Vir twee sulke teenoormekaarstaande opinies moet daar 'n oorsaak wees. Die oorsaak is dat die Kategismus God's Woord laat spreek: „Hy wat nie glo nie sal veroordeel word." (Mark. 16, vs. 16.) En ons laat ons burgerlike regsgevoel spreek: „Alle mense het deur Adam verlore gegaan, dus moet alle mense in Jesus die saligheid ontvang." Ons menslikheid staan dwars van alle bemoeilikende voorwaardes . . . so 'n voorwaarde as geloof byvoorbeeld: „Doen aan jou naaste goed en wees mensliewend", is te enigertyd net so 'n goeie voorwaarde vir die saligheid as geloof soos deur God's Woord en die Kategismus vereis.
Honderd persent tevrede met ons argument is ons darem ook nie; hoe mooi ons bevinding as ideaal daar uitsien vir die mense, juis die mense bewys dit in die praktyk onwaar. Daar kom in die kring van ons kennis tal van mense wat selfs vir ons gemaklike en toegeeflike menslikheid, nie alleen onvolmaak is nie maar beslis ongeskik vir die saligheid. Ons moet erken dat die Skrif en die Kategismus gelyk het: Nie alle mense sal salig word nie. Ons waarneming bevestig dit.
Tot hierdie toegawe is ons as redelike mense bereid want ons moet ons oë en ons ore glo. Minder gemaklik is ons egter te vinde vir daardie voorwaarde vir die redding, naamlik die geloof. As die Kategismus beweer dat alleen die mense salig word wat Jesus met 'n opregte geloof aanneem, opper ons regverdigheidsgevoel, „ek ken baie liewe en goeie mense wat nou nie juis Christen-gelowiges genoem kan word nie en sal hulle dan nou, trots hulle goeie hoedanighede, nie kan salig word nie ?" Die Kategismus, op die gesag van die Woord van God, antwoord: „Nee."
Ook hierdie verskil van opvatting het 'n oorsaak. Die oorsaak is dat ons regskode nie 'n klousule bevat wat die daad van Jesus Christus dek nie. Ons regspleging weet wel van die „loslating" van 'n misdadiger, maar nie van „verlossing" van 'n sondaar nie; ons regsformulering praat wel van „versagtende omstandighede" vir 'n skuldige maar nie van „vrye genade" vir 'n oortreder nie.
Uit nagenoeg dieselfde oorweginge kan ons ook nie die Kategismus begryp nie as dit verder tot voorwaarde van die saligheid stel, die aanneem van die weldade van Christus. Die moeilikheid in hierdie verband is dat ons altyd in terme van verdienste en verdienstelikheid reken. As ons nou Christus se weldade kan verdien en daarmee ook die saligheid, dan kan ons dit verstaan; maar om net sy weldade aan te neem en daarmee, sonder eie inspanning, die saligheid te ontvang . . dit is so anders as wat ons gewoon is. Sien u wat is die oorsaak van die meningsverskil ? God's mensliewendheid is in werklikheid veel groter as ons s'n; soveel groter dat dit ons regs- en redelike begrippe ver te bowe gaan. Net so min kan ons dit begryp dat Jesus 'n misdadiger aan die kruis saligspreek — nie net vryspreek nie — terwyl ons daarop sou staan dat in belang van die publieke veiligheid, die man die straf ontvang wat sy misdade vereis. Dalk sou ons mensliewendheid ook geoordeel het dat dit beter is dat een Man sterf en nie die hele volk omkom nie.
Geloof in Jesus Christus beteken dat ons hierdie onbegryplik grote genade, hierdie verlossing van sondaars, aanvaar want dit is die erfenis wat Hy ons skenk. Soos met enige erfenis egter, as ons dit nie wil glo en daarom ook nie aanvaar nie, kan ons dit vanselfsprekend ook nie benut nie; in weerwil van ons regverdigheidsgevoel het ons dan teen ons self onregverdig gehandel. Wat Hy ons bied, is verlossing uit die sonde-slawerny. As ons, die sonde-slawe, die bevrydings-proklamasie hoor en dit nie glo nie maar ons weg soos voorheen gaan, dan het sy verlossingswerk vir ons geen waarde nie en dan word ons ook nie vry nie; teen ons self het ons dan onmenslik gehandel. Ons het mense-woord teen God's Woord geplaas; ons eiedunk het grense uitgewis die tussen Begenadiger en begenadigde; ons erken die weldade van God in Christus nie en daarmee het ons die saligheid verbeur.
Veel anders as die man van ingebeelde eiewaarde, is die man van ernstige heilsverlange maar onkundig van die heilsweg — iemand soos die Ethiopiese staatsamptenaar wat op weg was van Jerusalem na Gaza. Sy verlange na die verlossing moes inderdaad groot gewees het want om die verlange te stil, het hy nie eers 'n lang, eensame en gevaarlike reis ontsien nie. Ook het hy nog te worstel gehad met duistere probleme oor die geloof. Nie die geloof het hy verwerp nie maar onkunde het hy bely. Toe Filippus hom vra of hy wel verstaan wat hy lees, het hy geantwoord: „Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?" Dis 'n ander houding as die van die moderne ongelowige en die selftevrede skyngelowige.
Om tot die geloof in Christus te kom, om die erfenis te aanvaar, aan die verlossing deel te hê, vereis kennis. As die geloof in Jesus ons erns is, dan moet ons kennis dra van daardie geloof. As ons werklik die verlossingsweg wil betree, moet die vraag van die Ethiopiese staatsamptenaar ook ons s'n wees „hoe kan ek as niemand my die weg wys nie ?" Die weg wat Filippus aan die heilbegerige reisiger getoon het, word ons aangewys deur die antwoord op die Een-en-twintigste Vraag van die Kategismus: „'n Opregte geloof is 'n gewisse kennis waardeur ek alles vir waaragtig hou wat God aan ons in sy Woord geopenbaar het; dis 'n hartlike vertroue wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my werk dat aan andere en aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid deur God geskenk is uit loutere genade, alleen op grond van die verdienste van Christus."
Vernaamste vrug van die Kerkhervorming, waarvan die Kategismus lewende monument is, is die feit dat dit die weg, deur Filippus aan die hofamptenaar getoon, ook vir ons geopen het. Die bron waaruit God en sy beloftes geken kan word, sy Woord, is vir die Rooms Katoliek vandag nog 'n geslote boek. Die Pous ontmoedig die kennis van die Weg, vra ook nie 'n hartlike vertroue in Christus nie, maar 'n slaafse gehoorsaamheid aan die pouslike onfeilbaarheid en 'n blinde geloof in sy voorligting. God's Woord, die Kategismus en die Kerkhervorming eis kennis en skenk kennis. „Ondersoek die Skrifte, dit is die wat van My getuig," is die bevel van Jesus in Joh. 5, vs. 39. Om hierdie raad te volg, die so lang geslote weg weer te betree, was 'n daad van kloeke moed by ons vadere van die Hervorming. Met lewensgevaar het hulle God's Woord geopen; ten koste van ons lewens hou ons dit gesluit. 'n Groot deel van ons Christene van die Reformasie dra nie meer kennis van die Woord van God nie of hul ken dit slegs ten dele en eensydig. Die wat die Protestantisme veroordeel, hou die Hervorming verantwoordelik vir die bonte menigte van godsdienstige strominge; dis nie te ontken nie dat die vryheid wat deur die Hervorming aangebring is, met die kudde ook die wolf vryheid van beweging gegee het; gunstige klimaat bevorder die groei, nie alleen van die graan nie, maar ook van die onkruid. Grond-oorsaak egter vir die ontstaan van die tal van sektes is nie die vryheid en die kennis wat die Hervorming meegebring het nie, maar ons nalatigheid om daardie vryheid met vrug te gebruik en daardie kennis met ywer te vergaar. So 'n nalatigheid is te minder begryplik gesien dat ons die mense is van die ontwaakte rede en die suiwere regsgevoel.
Wie aan die eerste vereiste van die geloof, naamlik 'n gewisse kennis van die Woord van God nie voldoen nie, sal ook tot die tweede nie in staat wees nie, naamlik 'n hartlike vertroue dat God my uit loutere genade vergewing van sondes en ewige geregtigheid en saligheid skenk. Eers 'n gewisse kennis van God's beloftes, gepaard met 'n vaste vertroue dat ek daarin deel, gee my die geloofsversekering wat in staat is om my heilsverlange te stil en my kommervolle hart tot rus te bring. Die kennis van die saligheid alleen, sonder die vertroue dat ons daarin deel, sal ons net wanhopig stem; wanhopig soos die man wat weet waar die deur uit die brandende kamer is, maar hy kan dit nie bereik nie. Omgekeerd is 'n blinde vertroue sonder die kennis onredelik en onmoontlik. Vertroue rus op kennis; vertroue sonder kennis is nie geloof nie maar dobbel. Halwe kennis en 'n selfvervaardigde vertroue voldoen ook nie. Dit is die vernaamste oorsaak vir die bestaan van die sektes. Wat nodig is, is 'n gewisse kennis van God's beloftes; wat nodig is, is 'n vaste vertroue in die gawes van God om Christus ontwil.
Dis juis halwe kennis, juis 'n menslik vervormde vertroue wat die hoofsaaklike aanleiding uitmaak van die ongeloof en die bygeloof. 'n Mens is waagsaam. Hy probeer steeds te sien hoe ver hy dit kan bring met sy eie vermoëns. Van die verlossing in Christus het hy verneem; langs die weg van eie kennis, met verbygaan van God's kennis soos in die Evangelie geopenbaar, probeer hy om daardie verlossing te bereik. Onvermydelik volg dan dat hy die verlossing nie kan vind nie. Hy betree dan tallose weë behalwe die enigste Weg waardeur ons tot die Vader kan kom. Dan bevind hy dat menslike rede en Godsgeloof nie te rym is nie; dis twee andersoortige dinge. Dan verwerp hy nie die rede as ongelowig nie maar die geloof as onredelik.
Uit hierdie oorweging, uit 'n noukeurige waarneming van die mense op hul soektog na die saligheid, vra die Kategismus in die Twee-en-twintigste Vraag: „Wat is dan vir 'n Christen nodig om te glo ?" En met die meeste stelligheid lui die antwoord: „Alles; alles wat ons in die Evangelie beloof word."
Die geloof is nie 'n saak ten dele nie net so min as wat dit deeltyds is en net so min as wat God sy genade ten dele gee. God gee algehele genade en hy vra algehele geloof. Halwe kennis is misleidend; 'n halwe geloof is gevaarlik. Daarmee gaan 'n mens in sy gemaksug kort paaie kies en as hy ten opsigte van die geloof eenmaal begin het om 'n keuse te maak van wat volgens sy opinie nou werklik geloofwaardig is, m.a.w. as hy alweer sy eie rede tot maatstaf gemaak het, dan vermink hy weldra die Evangelie en verwerp hy Gods gesag en daarmee ook die saligheid. Om hierdie rede eis die Bybel, en op grond van die Bybel die Kategismus, „alles". Let op dat die „alles" nader omskryf word: „alles wat ons in die Evangelie beloof word." Dis tekenend van die halwe geloof, die geloof na vrye keuse, dat 'n mens nie die volheid van die beloftes van God kan glo nie. Dan meen hy dat hy God's genade — want dit is die beloftes van God — so 'n bietjie te hulp moet kom met sy eie goeie werke en sy verdienste. Sien u dat die halwe geloof 'n betwyfeling van die almag van God word? En begryp u waarom die Kategismus met soveel stelligheid „alles" eis ?
Om die goeie stryd te stry en die geloof te behou, is geen gemaklike taak nie; om staande te bly in die menigte van teenstrome is beslis moeilik en as die bodem waarop ons staan dan nog skuifsand is, wag die ondergang ons seker. 'n Hegte grondslag van die kennis van die waarhede van God's Woord, 'n vaste vertroue in sy beloftes, vorm die eerste en vernaamste toerusting van die Christenreisiger op die eensame pad.
„Verstaan jy wel wat jy lees ?"As hierdie vraag aan ons gestel word, sal menigeen moet antwoord: „Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?" Die hofamptenaar het by Filippus in die lering gegaan en met goeie gevolg. U moet ook in die lering gaan. God's Woord word reg verkondig en die heilsweg word aangewys in God's huis. Daar moet ook u, soos Jesus, besig wees met die dinge van u Vader. Leë kerke, 'n verwarde wêreld en 'n dolende mensdom verskyn steeds gelyktydig.
Soek u die weg uit die wildernis ? Wil u weet van wie die profeet hierdie dinge gesê het? Gaan dan in die lering! Begin met die a.b.c. van die Evangelie. Luister met aandag as God's gemeente Sondag in sy huis bely: „Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, Onse Heer; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gesterwe en begrawe is, en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewendes en die dode. Ek glo in die Heilige Gees; 'n heilige, algemene, Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges; vergewing van sondes; wederopstanding van die vlees, en 'n ewige lewe."
Dit is die Twaalf Artikels van ons algemene christelike geloof. Dit is nie 'n tydgeheiligde tradisie of 'n versteende formaliteit in die Kerk nie, 'n stukkie oorlewering wat toevallig ook in die antwoord op de Drie-en-twintigste Vraag van die Kategismus opgeneem is nie; dit beklee sy plek daar met ere; dit is die bondigste en die oudste en die volledigste samevatting van die kennis van God en sy beloftes aan ons, soos in die Evangelie geopenbaar. In die besonder is dit, weens sy oorsigtelikheid, geskik vir beginners in die leerskool van God's liefde... en is ons nie altyd maar weer beginners in die kennis en die geloof van God's beloftes nie? Die Twaalf Artikels, uitdrukking van ons algemene ongetwyfelde christelike geloof, is in die eensaamheid 'n duidelike wyser op die weg wat na die lewe lei. Gaan daarby in die lering; laat dit u voer tot nadere ondersoek en aandagtiger aanhoor van Hom wat die weg, die waarheid en die lewe is. Met die staatsamptenaar van Ethiopië kan ons dan alleen tot een einduitslag kom: „Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is."
Amen.
A. S. Geyser.