Hk 8 U Enigste Troos
SONDAG 8
Die Heilige Drie-eenheid
Lees: x Kor. 2.
Sing: Gesang 6, vs. 1; Gesang 5, vs. 1 en 2; Gesang 1, vs. 1, 2, 3 en 4; Psalm 33, vs. 11.
Vraag 24: Hoe word hierdie artikels verdeel?
Antwoord: In drie dele:
die eerste handel oor God die Vader en ons skepping;
die tweede, oor God die Seun en ons verlossing;
die derde, oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
Vraag 25: Aangesien daar maar een enige goddelike Wese is, waarom noem u die Vader, die Seun en die Heilige Gees ?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, waaragtig ewige God is.
Gemeente van die Here,
Die Sondagsafdeling wat ons vandag besig hou handel oor die indeling van die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof. Dit is dus wel een van die nugterste, saaklikste en droogste gedeeltes van die hele Kategismus. Want dit spreek nie van die inhoud van daardie artikels nie, dit lê geen getuienis van daardie geloof af nie, dit deel net in, dit grens net af, dit plaas die verskillende onderdele daarvan in verskillende vakkies.
En aan daardie amper geeslose werk word nou gekoppel 'n bespreking van die leer omtrent die Drie-eenheid van God, die sluitstuk in die koepel van die Christelike dogma, die bekroning van alles wat ons kan sê aangaande God. Dit lyk 'n sonderlinge kombinasie: die mees geeslose en die allergeestelikste word vlak langs mekaar geset, sodat ons dit op een dag, in een uur saam moet behandel: die verdeling van 'n aantal paragrawe en die belydenis van Gods Heilige Drievuldigheid!
Die ander belydenisgeskrifte kan ons veel meer vertel oor die leerstuk van die Triniteit, die Drieëenheid van God. Die agste en negende artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis spreek daar uitvoerig van. Graag sou mens baie daaruit wil aanhaal, maar die sinne is so vol sin, dat dit beter sal wees as die gemeente dit vol aandag lees en herlees en oordink. Dis te veel en te diep om net een keer gehoor te word. 'n Uitsondering wil ons egter maak vir die ontroerende woorde waarmee die agste artikel sluit: „Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie; want hulle is al drie een in waarheid, in moondheid, in goedheid en barmhartigheid." En verder vir 'n enkele sin uit die negende: „En alhoewel hierdie leer die menslike verstand ver te bowe gaan, nogtans glo ons dit nou deur die Woord, in die verwagting dat ons die volkome kennis en vrug daarvan in die hemel sal geniet."
Verder verwys hierdie artikel ons ook na die belydenisse, wat duisend jaar ouer is, van die ou Christelike Kerk en na wat deur die ou vaders in ooreenstemming daarmee besluit is. So word ons gebring na die dae van bitter stryd tussen die Kerk en die sektes wat hierdie leer verwerp het; na die algemene kerkvergaderings van Nicea, Chalcedon en Konstantinopel; na die studeervertrek van die groot Christelike denkers van die vierde en vyfde eeu; na die ballingsoord van Athanasius wat gestry en gely het vir die geloofstuk van die Drieëenheid Gods. Ook ons Kerk bely met die geloofsbelydenis wat na Athanasius genoem is, „dat ons die ewige God in die Drievuldigheid en die Drievuldigheid in die Eenheid eer." God is een enige Goddelike Wese en nogtans spreek ons van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.
Dis begryplik, dat hierdie opperste belydenis, die hoogste waartoe ons Christelike Godskennis op aarde kan styg, van die begin af baie bestryders gevind het. Laat ons ons maar net by die eenvoudigste bepaal: dit klink 'n mens al besonder vreemd in die ore, dat van God gesê word, dat Hy tegelyk Een en drie is. Amper al die bestryding, wat in die loop van die eeue teen die leer van. Gods Drie-eenheid gerig is, kom neer op die bewering, dat een nie drie en drie nie een kan wees nie.
Dit klink platvloers en nugter, maar ons kan van die teenstanders van die Christendom ook platvloerse en nugtere opmerkings verwag. Die aanval is daar seker nie minder gevaarlik om nie. Want dit werk met getalle, dit doen 'n beroep op die grondslae van ons rekenkunde, en die rekenkunde het altyd gegeld as een van die mees betroubare prestaties van die menslike gees. Ons reken die hele dag; antwoord op die eenvoudige vraag, hoe laat dit is, is al 'n rekensom. 'n Mens wat geen verskil sou sien tussen een en drie, sou voortdurend met die lewe in botsing kom en in die menslike samelewing 'n onmoontlike element vorm. Een is nou eenmaal geen drie en drie nie een nie.
Wat moet ons nou antwoord, as die ongeloof dit ook op die leer van Gods Triniteit wil toepas ? In die eerste plek natuurlik, dat wat nie moontlik is in hierdie wêreld en vir die menslike denke nie, daarom nog nie ontmoontlik by God hoef te wees nie. God is so anders as die wêreld, dat die woord „Onmoontlik" by Hom 'n geheel andere inhoud moet kry as by ons. Om in beeldspraak te praat: wat in die water nie moontlik is nie, is dikwels wel moontlik in die lug. Die omgewing het anders geword, as ons van die water na die lug gaan, en daarmee het ook ander dinge moontlik en onmoontlik geword. Netso sal ook alles anders word, as ons van die mens na God toe gaan. Die meeste mense redeneer oor God asof Hy 'n soort mens is, 'n mens met meer mag en kennis as ons, maar tog 'n mens. Die leer van die Drieëenheid kan ons in ieder geval leer, dat ons so oor God nie mag praat nie. Sy wese is volkome anders as ons wese.
Maar daar is meer: Is dit wel so seker, dat drie nie een, en een nie drie kan wees nie? Hoe is dit byvoorbeeld met die mens self ? Die gewone opvatting omtrent die mens leer, dat hy 'n liggaamlike en geestelike kant van bestaan het, kortweg dat die mens bestaan uit liggaam en siel. Is die mens nou 'n liggaam, wat 'n siel het? Of is die mens 'n siel, wat 'n liggaam het? Waarskynlik kan ons nie verder kom nie as om te sê, dat ons tegelyk siel en liggaam is, gees en stof. En dit nie so, dat ek met die een helfte van my wese siel is, met die andere liggaam nie, nee, op een en dieselfde oomblik is ek geheel en al siel en liggaam. 'n Siel sonder liggaam is geen halwe mens nie, en net so min 'n liggaam sonder siel. Die mens is daar, waar die twee-eenheid is van liggaam en siel, van siel en liggaam.
So dwing die werklikheid van ons eie bestaan daartoe, om van onsself te spreek as van 'n twee-eenheid. Wat is ons nou, een of twee? Twee is tog nie een, en een nie twee nie? Dit mag so wees, maar as ons die keuse moet maak tussen die getalle of ons eie bestaan, sal ons tog wel ons eie bestaan kies, en dit getuig duidelik van die wonder, dat in die mens een twee is en twee een.
En as ons nou die geestelike kant van die mens se bestaan nogeens wat nader bekyk, dan tref ons daarin ook nog wat aan wat ons tot nadenke kan stem. Dit is sedert amper twee eeue die gewoonte, om in die geesteslewe van die mens onderskeid te maak tussen verstand, gevoel en wil. Elkeen weet dit, elkeen hou daar rekening mee. Maar daardie onderskeid beteken nie, dat die geesteslewe van 'n mens nou in drie dele gesplits kan word nie. Nee, in die verstand openbaar hom die hele mens, en netso in die wil en in die gevoel. Ek is geheel en al in alles wat ek dink en voel en wil. Mens kan nie die een wegneem en die ander twee oorlaat nie. Die mens is een geheel, is een: en tog onderskei ons in hom daardie drie: verstand, gevoel en wil.
Sekerlik wil ons daarmee nie sê, Gemeente, dat die menslike verstand, gevoel en wil as sodanig 'n afbeelding van die drie Persone in die Goddelike Wese sou kan wees nie. Dan sou ons vergeet wat ons netnou gesê het, dat bv. God alles anders is as by ons. Ons wil maak net duidelik maak, dat die skynbaar so redelike bewering dat drie nie een en een nie drie kan wees nie, selfs ten aansien van die mens al geen geldigheid besit nie. En as dit al ten aansien van die menslike wese nie geld nie, hoe sal ons dit dan op die onbegryplike bestaan van God gaan toepas ? Die rekenkunde moet maar ook leer om 'n bietjie minder selversekerd, 'n bietjie beskeiener te praat.
Ons het gepraat van die mens, volgens die Bybel en die natuurwetenskap die jongste van Gods werke. Laat ons nou ook 'n oomblik ons aandag skenk aan wat volgens die Bybel die eerste van Gods skepsels is: die lig.
Wat gebeur eintlik, as ek 'n lig sien ? Daarvoor is drie dinge nodig: in die eerste plek dat daar 'n ligbron is, die son, 'n lamp of wat daar ook mag wees, want elke lig begin êrens. Daar bestaan geen lig, wat nie êrens 'n oorsprong, 'n ligbron het nie. Maar in die tweede plek moet daar ook 'n ligstraal wees. Daar is geen ligbron, of die lig straal daar uit nie. Die ligstraal kan nie sonder die ligbron gedink word nie, en die ligbron nie sonder die ligstraal nie. Hoewel ons miskien kan sê dat die ligbron eerste is in vergelyking met die ligstraal, moet ons tog ook tegelyk erken, dat die ligstraal in die bestaan intree op die oomblik dat die ligbron begin om te wees.
Maar van altwee, ligbron en ligstraal, sou ek niks weet nie, as die gewaarwording van die lig nie deur my opgevang sou word nie. Daar word deur die ligstraal 'n beeld gevorm in my oog. Dis nie my oog wat dit vorm nie; die beeld word nie gevorm nie as die ligstraal nie tot my oog kom nie, en die ligstraal kom nie tot my oog as daar geen ligbron is nie. So kan ons ook van die lig wat ons sien sê dat dit 'n drieëenheid is; want ons kan onderskei tussen die ligbron ,die ligstraal en die ligbeeld wat ek in my oog ontvang, en tog is dit een lig. Ek sê: „Ek sien 'n lig ..." een lig, maar tog is dit drie: ligbron, ligstraal en ligbeeld. Een is drie en drie is een. Dis daarom ook dat die geloofsbelydenis vasgestel in die kerkvergaderings van Nicea en Konstantinopel, wat ook in ons kerkboek opgeneem is, van die Here Jesus Christus bely dat Hy is „die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle eeue; God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God ..." Op die voetspoor van die Bybel self, wat op baie plekke God vergelyk met die eerste van sy werke, met die lig, word hier die verhouding van die Seun tot die Vader geskilder met die beeld van die ligstraal wat uit die ligbron voortkom. Wanneer ons hierdie beeld vashou, sal ons selde dwaal in ons beskouing.
Tot sover die teenwerping van die kant van die rekenkunde. Maar van 'n andere kant kom 'n tweede beswaar. As ons vasstel, dat God Drie-enig is, misken ons daarmee dan nie die feit dat God vir die menslike gees onkenbaar is, dat Hy 'n ontoeganklike lig bewoon, dat geen menslike gedagte ooit sy Wese kan peil nie? Is die leer van die Triniteit nie 'n uiting van die hoogmoed van die menslike verstand wat in sy verblinding meen dat dit ook die dieptes van God kan deurvors nie? Is dit nie deemoediger en daarom ook vromer om te bely dat ons van God se Wese niks kan weet nie?
Gemeente, hierdie beswaar is 'n baie ernstige teenwerping en moet dan ook baie ernstig behandel word. Want die moontlikheid bestaan seer sekerlik, dat die Christelike Kerk, wat uit mense bestaan, sou toegegee het aan die drang van die hoogmoedige hart en met gebruik van vrome woorde 'n goddelose selfverheffing van die menslike verstand sou toegelaat het. Is die leer van die Drievuldigheid nie in teenspraak met alles wat Apostels en Profete ons geleer het omtrent die onkenbaarheid van God nie?
Ons sing: .,Selfs u kan nie ons God deurgrond nie, „o geeste van die hemelhof; „u kan sy grootheid nie omvat nie, „veel minder nog die mens van stof."
Maar as ons vervolgens van God sê dat Hy een in wese, drie in Persone is, ontken ons dan nie wat ons netnou singende bely het nie? Tot antwoord op hierdie vraag kan ons die beste nog 'n slag die antwoord van ons Sondagsafdeling uit die Kategismus lees: „omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, waaragtig ewige God is. "Hoor ons dit ? Ons bely die Drieëenheid van God, nie omdat ons deur ons redelike denke tot daardie gevolgtrekking gekom het nie, maar omdat God self in sy Woord, in die Heilige Skrif, as die Driebenige tot ons kom. Dis nie die hoogmoed van die eensame, uitvorsende verstand nie, maar dis die gehoorsaamheid aan die Woord van God wat die Kerk tot die formulering van die leerstuk van die Triniteit gebring het.
Die Skrif verkondig dat God een is. Hier sou ons tientalle tekste kan opsom, maar ons bepaal ons net tot een, Deuteronomium 6, vs. 4, wat mens die geloofsbelydenis van die gemeente van die Ou Verbond sou kan noem en wat tot op die dag van vandag die grondteks van die Jodedom is: Hoor, Israel, Die HERE onse God is 'n enige HERE.
Die Skrif verkondig egter ook, dat Jesus Christus, die Seun van God, self God is. „My Here en my God" roep Thomas uit as die verrese Heiland hom tot Hom roep, en Jesus aanvaar daardie belydenis. In dieselfde Heilige Skrif is ook telkens sprake van die Gees van God, en netsoos die gees van die mens die mens self is, is ook die Gees van God, die Heilige Gees, God self. Dis die Skrif, dis God self wat ons leer om die Seun en die Heilige Gees te eer en te aanbid as God. En as dit vir ons onbegryplik is dat God een is en tog drie, dan bewys dit juis ook die onbegryplikheid van God se Wese. Die leer van die Drieëenheid van God doen dus geen afbreuk aan die ondeurgrondelikheid van die Here nie; want dit is veeleer die uitdrukking van ons onvermoë om God te deurgrond en boonop is dit nie deur ons uitgevind nie, maar aan ons deur die Woord van God self gegee.
Daarby kom dat die Kerk, altans in die Westerse wêreld, gewoonlik die nadruk daarop gelê het dat die leer van die Drievuldigheid nie handel oor wat God in sy eie diepste Wese is nie, maar alleen aangee wie en wat God in sy betrekking tot ons is. In sover as ons gemeenskap met God het, kan ons praat van die Drieëenheid van God, weet ons van God die Skepper bo ons, God die Verlosser met ons, God die Heiligmaker in ons. In sy betrekking tot ons openbaar God Homself deur sy Woord as die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons spreek dus eintlik nie oor wat God op Homself is nie, maar oor wat God vir ons is in sy moondheid, sy goedheid en sy barmhartigheid.
Nog 'n keer wil ons die woord verleen aan hulle wat besware het teen hierdie leerstuk. Wanneer erken word dat die menslike rede geen reg of kans het om dit te loën nie, wanneer ingesien word dat dit ook nie strydig is met die onkenbaarheid van God nie, dan kan tenslotte nog gevra word, watter rede die Kerk mag hê om met so 'n moeilike dogma voor die dag te kom. Is dit nodig, dat die gewetens van die kerklede gebind word aan hierdie ingewikkelde leerstuk ? Selfs al sou dit die waarheid wees, so redeneer party mense, dan is dit tog nog nie nodig om dit te verkondig nie? Mens kan tog wel salig word deur eenvoudig vas te hou aan die belydenis dat Jesus die Seun van God is, sonder dat elkeen noukeurig weet hoe nou presies die verhouding tussen die Vader en die Seun is ?
Inderdaad is dit waar dat mens salig kan word sonder dat hy 'n heldere kennis van die Triniteitsleer het. Die hofdienaar van die koningin van die Ethiopiërs is gedoop op die korte belydenis: „Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is'', en aangesien Filippus terstond nadat hy hom gedoop het van hom weggevoer is, kan ons veilig aanneem dat die kamerling sonder enige kennis van die leer van die Drieëenheid sy weg voortgesit het. Die geloof kan, ons sien dit ook by die sipier van Filippi, met 'n uiterste minimum van kennis tog toereikend wees tot saligheid.
Maar waar God die tyd gee om tot verdere kennis te kom, en waar die verdere kennis kan strek tot versterking van die geloof, daar het ons die plig om met dankbaarheid die lig wat Gods Woord ons gee te ontvang. Daarom wil ons daar in die derde plek op wys, dat die leer van die Drievuldigheid van God kan strek tot ons bevestiging in die geloof en tot troos van die verontruste gemoed.
Daartoe kan ons die beste terugkeer tot die vrae van die Kategismus. Daar word gevra, hoe die twaalf artikels verdeel word, en die antwoord sê, dat die eerste afdeling handel oor God die Vader, die tweede oor God die Seun, die derde oor God die Heilige Gees. Die volgorde is begryplik, maar tog is die nie die volgorde wat ons persoonlike geloof ons sou voorskrywe nie. Die persoonlike weg tot die geloof is eerder die teenoorgestelde: eers kom 'n mens deur die prediking van die Kerk en die lees van die Heilige Skrif tot belangstelling in die dinge van Gods koninkryk: dis die werk van die Heilige Gees. Deur die Heilige Gees word ons tot Jesus gelei, soos die apostel ook sê: „Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees." En Jesus is dit wat ons dan bring tot die Vader, soos Hy self ook verklaar het: „Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie." Die persoonlike geloofsweg is dus: deur die Heilige Gees tot Jesus, deur Jesus tot die Vader.
Maar nou doen hom 'n moeilikheid voor: hoe weet ons as ons deur die werk van die Heilige Gees in prediking en Skrif tot Jesus gebring word, dat daardie Jesus nie 'n droombeeld nie, maar die werklike Jesus, die verrese Heiland is ? En as daardie Jesus dan ook tot my die verlossende woord spreek: Jou sondes is jou vergewe, — hoe weet ek dan dat dit werklik so is ? Is die Jesus van die prediking en Skrif die werklike Jesus, is die Heiland van sondaars werklik Gods definitiewe woord? Die Heilige Gees sê in my hart, dat ek my Heiland gevind het — maar is dit wel waar ? Die Heiland sê in die Evangelie dat God ook my Vader wil wees — maar heg God self die seël wel aan daardie uitspraak? Is die ewige Skepper dit eens met die liefderyke Heiland ? Is die Heiland wat tot die dissipels spreek wel dieselfde as die Heiland wat vir my verkondig is ?
Op hierdie vrae, wat die mens kan martel, wat die beginnende geloof in sy wasdom dreig om te verstik, gee die leer van die heilige Drievuldigheid antwoord: Hy wat spreek in my hart is een God saam met Hom wat sy bloed aan die kruis vergiet het; Hy wat sy bloed aan die kruis vergiet het is een God saam met die Skepper en Regter van die aarde. My heil, my verlossing en saligheid lê veranker in die diepte van die ewige Wese van God self. Die uiteindelike sin van die prediking van God Drie-enig is om die angstige hart te vertroos met die sekerheid, dat die barmhartigheid waarin my sondaarsgewete sy redding soek, voortkom uit die innerlikste Wese van God. Agter die Heiland staan nie die een of ander onbekende God waarvan ek nog moet afwag of Hy ook wel genadig sal wees nie, nee Jesus is God, die genadewoord van die Evangelie is die wil van die Allerhoogste self, die vertroosting van die Heilige Gees is die onwrikbare en reddende magswoord van die Ewige.
Daarom word ons by die aanvang van ons lewe gedoop in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Daarom ontvang ons aan die einde van elke Evangelieprediking die trinitariese seën: „Die genade van onse Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees." Daarom sal ons eenmaal van aangesig tot aangesig God loof met die drievoudige lofsang van sy engele: Heilig, Heilig, Heilig is die HERE van die leërskare!
Amen.
A. van Selms.