1 Kor 3=1-15 Kerkbode 1981
PINKSTER EN REPUBLIEKFEES: GEEN BOTSING NODIG NIE
LEES: 1 Kon. 3:1-15
TEKS: 1 Kon. 5 en 9: Begeer wat Ek jou moet gee . . .
SING: Gess. 34:1-6; 36:1,4, 6.
BOODSKAP:
HIERDIE weke is vir ons 'n tyd van feesvieringe. Republiekfees en Pinksterfees. Dit hoef nie te bots nie. Inteendeel: As ons nie Republiekfees kon vier in die lig van Pinkster nie, sou dit 'n baie droewe dag wees. Die kerk, die gelowiges, moet deel hê aan ons volksfees. Ons doen dit nie as volkskerk vir wie die volk in die middelpunt staan nie, maar as mense wat 'n kleurlose internasionalisme verwerp. Wie sy eie gesin gering ag kan tog nie die breër gemeenskap werklik liefhê en dien nie. Ons wil dan as gelowiges, as gemeente juis fees vier in die lig van die Woord van die Here. Ons wil ons stel in die lig van die teksvers om in waarheid te bid om wysheid vir volk en owerheid.
God het aan Salomo gesê: "Begeer wat Ek jou moet gee." Nadat hy gekies het, noem God in vers 11 sekere dinge wat hy kon begeer as hy nie wysheid begeer nie. Hy kon 'n lang lewe kies. Hy kon rykdom kies. Hy kon eer kies (vers 13). Hy kon die lewe van sy vyande kies. Ook ons mag kies en vra.
Jesus sê op die vooraand van sy sterwe: "Alles wat julle die Vader sal vra in My Naam, sal Hy julle gee" (Joh. 16:23). In Fil. 4:6 vertroos Paulus die gemeente deur te sê dat hulle nie al broeiende op hul probleme, besorg moet wees nie, maar juis die besorgdheid moet aflê in die lig van hul groot voorreg om met hul begeertes na God te gaan. "Laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God."
Met watter begeertes sal ons na God gaan?
Wat sal ons vra in krisistye?
Wat gaan ons grondliggende begeerte wees? 'n Lang lewe - oorlewing? Rykdom 'n bloeiende ekonomie? Eer - kulturele en nasionale roem? Die lewe van ons vyande konfrontasie en uitwissing ons doelwit?
Hy kies wysheid - Waarom? Ja, hy kies wysheid - soos God self dit noem in (vers 12). Hy kies dit nie in 'n oomblik van oorhaas en ondeurdagtheid nie, maar in die nagtelike droom waarin God aan hom verskyn het. Dis 'n begeerte diep uit sy bewussyn.
Voordat hy sy begeerte noem dink hy spontaan aan 'n wonderlike volksverlede wat hy dan ook bind aan die lewenswyse van sy vader as regeerder - 'n Vader wat voor Gods aangesig gewandel het en wel in trou en in geregtigheid en in opregtheid van hart met God.
Hy dink daaraan dat sy vader se regering deur God's guns gedra is. "U het aan my vader groot guns bewys." (vers 6)
Vanuit hierdie kennis groei Salomo se besef van sy diepste behoefte as't ware. Hy is in die plek van sy vader, maar hy is nog 'n jong seun. Hy kan nie en wil nie put uit sy ervaring en dit daarmee waag nie. Sy verantwoordelikheid is so duiselingwekkend groot. "U kneg is midde onder U volk wat U verkies het, 'n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie Wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer? Groot was die verantwoordelikheid van die jong koning. Is ons verantwoordelikheid ligter? Lê die pad vorentoe vir ons oop? Watter weë gaan ons volg? Ons dink hier aan drie moontlikhede: Eerstens, die weg van selfsugtige eie reg wat moet uitloop op chaos. Tweedens, die weg van slappe toegeeflikheid wat moet uitloop op chaos van oorheersing deur duistere magte. Derdens, die weg van geregtigheid en orde, "sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid". (1. Tim. 2:2) Hiertoe werk Paulus die gemeente op om te bid vir konings en almal wat hooggeplaas is.
Onder die druk van so 'n verantwoordelikheid leer ons begryp waarom Salomo juis om wysheid gevra het. Ja, hy vra inderdaad om 'n opmerksame hart. 'n Selfsugtige eiewyse hart kan nie waarlik opmerksaam wees nie. Hy vra hierdie opmerksame hart, om te kan regspreek oor die volk. Hy vra ook hierdie hart om tussen goed en kwaad te onderskei. Hy vra hier in werklikheid om die wysheid wat van bo is. Kan ons daarsonder? Kan ons Eerste Minister daarsonder? Kan die Leier van die Opposisie daarsonder? Weet u miskien van iemand anders in ons vaderland?
God gee hom wat hy vra - en meer. Hier het u God se antwoord: "Kyk, Ek gee jou 'n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy voor jou nie gewees het en een soos jy na jou nie sal opstaan nie". (vers 13)
Voel u hieroor verwonderd? Dit is tog volgens die belofte van die Here Jesus: "Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word." (Mat. 6:33)
En wat is die wysheid anders as die soeke na die koninkryk van God en sy geregtigheid? Salomo sê reeds: "Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here." (Spr. 9:10)
Ook in die maand van ons Republiekfees moet ons weer duidelik sê wat ons diep begeerte voor God is vir volk en owerheid. In ons antwoord hierop sal die karakter van ons feesviering openbaar word. Wil ons waarlik die wysheid van bo hê of sal ons tevrede wees met dit wat die vlees met sy eie wysheid kan bied.
"Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad." (Spr. 3:5-7)
Dr H.W. de Jager