2 Kon 18=17-36 Kerkbode 1981
GELOOFSVERTROUE ... SKRYF VAN SATAN
Lees: 2 Kon. 18:17-25 en 28-36.
Sing: Ges. 130:2; 62:1-4; 131:4,5.
Teks: 2 Kon. 18 vers 19: Sê tog vir Hiskia: "So spreek die groot koning,' die koning van Assirië: Wat is dit vir 'n vertroue wat jy koester?"
Boodskap:
Ons stryd is teen 'n uiters geslepe vyand en dis opperste dwaasheid om nie met hom rekening te hou en te waak en bid nie. Hy geniet dit veral om ons ondermynende vrae te vra. Dit doen hy op 'n baie subtiele wyse. Ja! dink daaraan dat sy heel eerste woorde aan 'n mens in die vorm van 'n vraag was aan Eva: "Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?" En met hierdie ewe onskuldige, subtiele vraag lei hy haar die afgrond in! As hy net 'n effense twyfel kan laat posvat in die gemoed met vragies soos: Wat is dan juis hiermee of daarmee verkeerd? Dan rig hy net daar 'n basis op om ons te beveg!
Wanneer genade ons gered en op die geloofsweg geplaas het, dan weet hy, wat Satan is, goed waar om te mik om ons verdediging te ontsenu. So laat hy vir Hiskia, die godvresende koning, vrae vra om die wortels van sy VERTROUE los te wikkel: "Wat is dit vir 'n VERTROUE wat jy koester?"
Het die hemeltergende, aanmatigende vermetelheid in, vs. 25 u nie ook opgeval nie? Dis ook in die vorm van 'n vraag: "Het ek nou sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes? DIE HERE• het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit." Ontsettende leuenagtige terrorisering! Geslepe, vermetele, twyfelverwekker. Parmantig en brutaal.
Daar eindig dit nie. Eindelik kom sy ware kleure ongekamoefleerd na vore as sy diensknegte nog 'n vraag inryg onomwonde en uitdagend: (vs. 35) "Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, DAT DIE HERE JERUSALEM UIT MY HAND SOU RED? Geen wonder nie dat die Here opgetree het toe Hy gelykgestel is met die stomme, magtelose afgode! Kan HY wat Gees is groter belediging verduur as dat afgodsbeelde naas Hom gestel word?
Hoor u nie hierin reeds die stem van die moderne aanbidders van die materialisme nie? Hulle wie se hemel op aarde belowe word en vir wie God nie bestaan nie? Is dit nie juis hier waar Satan ons vandag ook toets nie om die dinge van die tyd en stof eerste te soek en die koninkryk van God van tweede belang te laat wees nie?
Daarom was daar ook nie heerliker woorde vir God as in Hiskia se gebed in hoofstuk 19 vs. 11 nie: "Here, God van Israel, wat op die gerubs troon, U ALLEEN is die God van al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak . . . hoor die woorde van Sanherib, wat hy gestuur het om DIE LEWENDE GOD TE SMAAD."
Vandag nog ly Gods volk onder sulke aanvalle. Petrus waarsku (1 Pet. 4:12 en 5:8,9): Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging asof iets vreemds oor julle kom nie wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. HOM MOET JULLE TEËSTAAN, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is."
Satan gaan al brutaler word namate die openbaring van die antichris nader kom. Die geestelike toets sal verskerp ... veral namate die afval toeneem want dit is beslis volstoom aan die gang in die wêreld. Daarom sal VOLHARDING tot die einde toe ons uitstaande kenmerk moet wees! Daar moet gewaak word teen die onkruid wat die geloofslewe verstik. Aardse bekommernisse moet op ons Heiland gewerp word. Satan soek om twyfel te bring en gevolglike verslapping want daardeur wikkel hy ons los van die ENIGSTE EEN wat hom oorwin het op Golgota deur sy dood en sy daaropvolgende TRIOMF oor alle mag deur sy opstanding uit die dode.
Geloofsvertroue gepaard met stiptelike gehoorsaamheid wat op ware vertroue volg, hou ons voortdurend met Christus in verbintenis om te deel in sy oorwinning. "In die wêreld sal julle verdrukking hê maar HOU GOEIE MOED, EK HET DIE WÊRELD OORWIN!
Wil u as oorwinnaar alles erf? Die kroon van oorwinning ook? Wil u die goeie stryd met sukses stry? Dan moet u die geloof BEHOU en u vertroue in die Here dag na dag voed uit sy Woord en op sy beloftes teer.
Dan sal u soos Hiskia ondervind: "En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die leër van die Assiriërs een-honderd-vyf‑
en-tagtig-duisend. verslaan ..." JY SAL WEET DAT JESUS WAARAGTIG OORWINNAAR EN JOU NOOIT BESKAAM LAAT STAAN NIE. AMEN