2 Tim 3=10-17 Kerkbode 1981
Die Bybel Godgegewe openbaring
LEES: 2 Tim. 3:10-17
SING: Ges: 302 : 1, 2 en 306:1, 4
TEKS: 2 Tim. 3:16: "Die hele skrif is deur God ingegee
BOODSKAP
GELOWIGES en ander is lief om te praat van die geweldige invloed van die Christendom deur die eeue heen. Dis seker 'n feit dat byna honderd persent van wat goed en reg en ordelik is, te danke is aan die Christendom. Ek glo dis ook 'n feit dat die Christendom gebring en lewendig gehou word in die harte van mense alleen deur die Bybel en die verkondiging van die evangelieboodskap.
Sonder die Bybel was die waarheid lankal tot niet.
Sonder die Bybel het die beeld van Christus lankal in die van mense vervaag.
Sonder die Bybel was die opvatting oor God lankal onherkenbaar verwronge, die evangelie verdraai en leringe van Christus begrawe onder 'n berg van menslike uitvindings.
Dis seker nie 'n oordrywing nie om te sê dat die Bybel in sekere sin behouer van die wêreld tot nou toe was. Want die Bybel is die maatstaf van alle rigtinggewende en vormende kragte in die ganse lewe, omdat dit die absolute, onfeilbare waarheid is; omdat dit die Woord van God is.
Dit is wanneer ons van hierdie waarheid afwyk, dat ons ons bevind op die pad na godsdienstige en algemene verwarring en chaos, soos ons dit vandag byna oral te voorskyn sien kom.
2 Tim. 3:16-17 leer ons. "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome toegerus kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
SKRIF
Let daarop dat die Heilige Skrif deur God self gegee is. Geen mense kan God soek en vind en leer ken nie. Nie uit sy eie nie. Die mens kan God alleen ken in soverre Hy hom aan die mens openbaar; in soverre Hy hom laat ken en aan die mens toon.
Sonder openbaring, sonder selfbekendmaking van God se kant af is dit onmoontlik om enige kennis van God te hê.
Selfs na openbaring is dit nie die menslike rede wat God ontdek nie, maar die Here wat homself openbaar aan die gelowige oog. Die ware godsdiens en godskennis is absoluut onmoontlik sonder die selfopenbaring van God.
M.a.w. as God hom nie self bekend maak aan die mens nie, is geen ware godsdiens en godskennis moontlik nie. Dit kom nie langs die weg van filosofiese wysheid en logiese denke nie.
Hierdie stelling is nie so verbasend nie. Dis in 'n mate ook waar t.o.v. die mense self. U kan u medemens alleen werklik ken in soverre hy gewillig is om sy innerlike aan u te ontbloot. Daarom skryf Paulus ook in 1 Kor. 2:11: "Wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.
Dink ook aan die woorde van Jesus in Luk. 10:22: "Niemand wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar."
NATUUR
Nou kan ek na die natuur kyk en tot die gevolgtrekking kom dat God bestaan! Maar die God wat Hom in liefde ontferm het oor my in die gawe van sy Seun, die God kan ek nooit leer ken bloot uit die natuur nie. Hierdie selfopenbaring, hierdie selfbekendmaking van God, vind ek alleen in die Heilige Skrif en daarom praat ons van die Bybel as die Godgegewe openbaring aan die mens.
Van die genade wat gebroke en verlore sondaars red van sonde en die die gevolge van sonde, leer ons alleen tussen die bladsye van die Bybel, die Heilige Skrif. Hierdie besondere openbaring, hierdie verlossingsplan wat die sondaars aangebied word, vind ek in die Bybel en die Bybel alleen! Die mens in sy natuurlike sondige toestand is geslaan met geestelike blindheid en kan met die grootste inspanning nie korrek lees wat God geskrywe het in die werke van die skepping en die natuur daarbuite nie.
DOEL
Om hierdie ellende te oorkom en sy doel met die mens te bereik, het God twee dinge gedoen:
Hy het die besondere openbaring in die Bybel gegee, in eenvoudige menslike taal neergeskrywe, gesuiwer van alle wanopvattings en toegepas op die behoefte van die mens, sodat ons die verlossing deelagtig kan word.
Tweedens het Hy gegee die genesing van geestelike blindheid deur wedergeboorte, en verligting van die geestelike oog deur die werk van die Heilige Gees, sodat ons weer eens in staat sou wees om God waarlik te ken en so die ewige lewe te hê.
Ons godsdiens, die Christendom, die hele lewe staan of val by hierdie belydenis, nl.: Is die Bybel die Woord van God of is dit nie?
As Paulus sê: "Die hele Skrif is deur God ingegee", dan staan daar letterlik "deur God geadem". En Petrus sê: "deur die Heilige Gees gedrywe (letterlik gedurig gedra. Nuwe Vertaling: meegevoer) het die mense die Woord wat van God kom, gespreek."
UNIEK
Die Bybel, die Heilige Skrif is geheel en al die besondere werk van die Heilige Gees en daarom is dit uniek. Die Bybel ken geen plaasvervanger nie, ook nie filosofiese bespiegelinge en menslike redenering nie. Die Bybel ken geen gelyke nie. Dis nie 'n boek te midde van ander boeke nie, maar die enigste Godgegewe openbaring waarin die Here self tot die mens spreek.
Nou is dit waar dat die Here mense gebruik het om dit neer te skrywe, en tog is dit die Woord van God. Sommige sê vandag: "Alleen die deel wat op die godsdiens betrekking het, is onfeilbaar, deur God geadem, (geïnspireer) maar die dele wat oor die geskiedenis gaan, is nie onfeilbaar nie."
Kom ons doen 'n proefneming. Die verhaal van die opstanding van Jesus is geskiedenis; maar raak aan die onfeilbaarheid van die opstandingsverhaal en jy tas die waaragtigheid van die woorde van Jesus Christus self aan.
En sonder die opstanding is ons almal verlore. (1 Kor. 15:14 en 18.)
`SLIMMER'
En wat van Golgota? Is dit nie ook geskiedenis nie? Prof. Potgieter het dit pragtig gestel: "Soos Christus, die Woord, (Joh. 1:1) vlees (mens) geword het en nogtans die goddelike Woord gebly het, so is die Heilige Skrif in verswakte menslike taal gestel en het nogtans die onfeilbare Woord van God gebly".
Deur die wêreld self al in ons land, is daar mense wat van die Bybel praat as 'n menslike boek. Sommige sê "Dit is nie die Woord van God nie, maar word die Woord van God wanneer dit Hom behaag om dit deur die Heilige Gees sy Woord te maak." Almal slimmer as Paulus. Slimmer as God self!
Non is dit waar dat die Bybel nooit vir my die Woord van God sal wees tensy die Heilige Gees my hart daarvoor oopmaak nie, maar dit bly die Woord van God al sou tienduisende geestelike blindes sê dis 'n gewone boek. Die feit dat ek kleurblind is, maak nog nie dat rooi nie meer rooi is nie, al lyk dit vir my pers of swart.
Die feit dat die Bybel in menslike taal geskryf is, ontneem hom nie sy majesteit en goddelikheid nie, net soos die feit dat Jesus in dienskneggestalte gekom het, Hom nie sy Godheid ontneem het nie. Die Heilige Skrif bly Gods Woord, net soos Jesus die vleesgeworde Woord, God gebly het selfs in sy dienskneggestalte.
Daarom dat Paulus kan sê "Daarom dank ons God, dat toe julle die Woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het, nie as die woorde van mense nie, maar soos dit ook waarlik is, as die Woord van God."
Die Skrif is die Woord van God en word nie telkens die Woord van God nie, soos Jesus in dienskneggestalte ook nie telkens God geword het nie, maar dit gebly het. As ons hierdie wonder los laat, is ons op die pad na nêrens; erger nog, na die verderf. Jesus het mens geword, maar Hy het God gebly, sonder sonde en sonder dwaling. So het die Bybel die onfeilbare Woord van God gebly, al het dit as 't ware 'n dienskneggestalte aangeneem (soos Jesus) deurdat dit in menslike taal geskrywe is. Dit is deur God geïnspireer. Letterlik: "deur God geadem" sê ons teksvers in 2 Tim. 3:16.
As God spreek, dan is dit Gods Woord en nie 'n menslike woord nie, al kom dit in menslike taal. Anders sou ons dit nie verstaan nie. Sou ons die engele-taal verstaan?
NUTTIG
Daarom is die Skrif nuttig tot lering, want dis die enigste leerboek wat die pad na God en die ewige lewe aandui. Rom. 15:4 sê: "Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê." En hoop op God en geloof is broer en suster.
Is geloof dan nie juis die kennis van die beloftes van God (wat ons in die Skrif kry) en 'n vaste vertroue op Jesus Christus nie?" (Van wie ek alleen in die Skrifte leer.) Daarom is die Skrif nuttig tot weerlegging, want dis die enigste onfeilbare maatstaf waardeur ek die verkeerde kan uitken.
Nie my aanvoeling nie, selfs nie my feilbare gewete nie, nie 'n misterieuse, buite-die-Skrifom-leiding van die Gees nie (en daarmee word die leiding van die Gees hoegenaamd nie ontken nie), maar die Skrif is die maatstaf.
Ook geen filosofiese stelling of logika nie!
Daarom is die Skrif nuttig tot teregwysing, want dis die enigste gesag wat met volle verantwoordelikheid kan sê: "Jy mag nie!"
Daarom is dit nuttig tot onderwysing in die geregtigheid, want dis die enigste leerboek wat met goddelike onfeilbaarheid die weg van verlossing aandui! 1 Kor. 10:11: "Al hierdie dinge het hulle oorgekom en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het."
Hierdie boek, wat ons die Bybel noem, is die enigste boek wat 'n mens kan lei tot volkomenheid, vir elke goeie werk volkome toegerus. Daar is geen ander boek wat sy plek kan inneem nie.
Daarom vind ek dit jammer dat toegewyde gelowiges soms beïndruk is met 'n waarheid wat hulle gelees het in 'n geestelike boekie van so en so; asof dit 'n heel nuwe waarheid is. Nie dat geestelike leesstof nie 'n uitnemende aanvullende hulpmiddel is nie. Maar al hierdie waarhede is lankal reeds neergepen in die Woord van God; en sou dit nie soveel beter gewees het om dit uit die mond van God self deur sy geïnspireerde Woord te verneem nie? Dan weet jy verseker dat jy jou nie verlaat op die opinie van 'n blote mens nie.
Nee, daar is geen ander boek wat sy plek kan inneem nie, want die Skrif, die Bybel, is niks minder as die openbaring van God self aan die mens nie.
Ander boeke toon jou slegs wat mense dink. Die Bybel vertel jou wat God weet! Ander boeke bevat die gedagtes waarmee ander mense spekuleer. Die Bybel bevat die waarheid wat die alwyse God aan ons openbaar het.
Hierdie is die Boek wat mense wys maak met 'n goue wysheid, 'n wysheid wat die ewige saligheid bring. Niemand kan hierdie Boek eerlik bestudeer, sonder om te deel in hierdie kosbare wysheid wat die lewe bring nie. Geen ander Boek (of geleerde) het die mag om die mens bekend te stel aan die God wat Jesus Christus sy eniggebore Seun gegee het ter wille van die verlossing van sondaars nie. Hierdie Boek is die maatstaf waaraan alle rigtinggewende en vormende kragte in die ganse lewe gemeet word, omdat dit die onfeilbare waarheid, die Woord van God self is.
Mense wat hierdie waarheid vergeet, ontken of nie mee rekening hou nie, bevind hulle op die pad na godsdienstige en algemene verwarring en chaos. Sonder die Woord - en uiteindelik sonder God.
Moenie in hierdie verwarde tyd waarin ons leef u in groter verwarring laat lei deur die opinies van allerlei slim mense nie. Gaan in eenvoud en met 'n onbevange hart na die Skrif, die Woord van God. U sal die waarheid daarin vind.
Amen
Ds. J.B. Linde, Tygerberg