Ef 4=21-32 Kerkbode 1981
Die Gees skep nuwe lewe
LEES: Etes. 4:21-32
SING: Ges. 212: 1, 3, 4 336: 1, 2
TEKS: Efes. 4:23 - "en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed"
BOODSKAP
ONS atoom- en ruimte eeuse mensdom het 'n skreiende behoefte aan nuwe lewe. En hoe sal hy dit bekom? Deur die voorskrif van 'n geneesheer by 'n apteek? Of deur 'n nuwe wonder wat die tegniek sal bewerk? Deur die verskyning van 'n wêreldfiguur wat ons nasionale en internasionale vure sal doodslaan? Of sal die mens binne bereik hiervan kom deur geleerdheid, opvoeding, of die afskawe van 'n klompie growwe maniere?
Die Woord van God weet van beter. Niemand verkry nuwe lewe kragtens sy geboorte, sy nasionale afkoms of uit hoofde van kerklidmaatskap nie. Net die Heilige Gees kan suiwer water bring in die vuil fontein van die menslike lewe.
Of in die taal van die Heiland self: "... as iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh. 3.3).
En dit is presies dieselfde woord wat die apostel aan die adres van die eertydse gemeente van Efese, en daarmee aan die adresse van alle mense van alle eeue, rig "dat julle vernuwe moet word in die Gees van julle gemoed" (Efes. 4.23).
DIE EIS
Hierdie nuwe lewe is 'n eis, 'n imperatief vir al wat mensekind is. Sy lewenstyd moet word vernuwingstyd, feestyd. God se tyd. Hy wil dat sy skepsels veranderde mense sal wees. Alles en almal met nuut word (2 Kor. 5.17).
Die apostel Paulus gebruik in die verband die beeld van 'n kleed wat verwissel moet word. Die onaantreklike kleed moet met die nuwe vervang word. In die eerste elf hoofstukke van die boek Romeine vertel die apostel van die krag van die evangelie wat nodig is om mense se lewens te vernuwe.
Die doodsheid van hart moet vervang word met tintelende lewe.
Dorre takke moet plek maak vir vrugdraende ranke.
Vuil harte moet geheiligde harte word.
Mense wat in genade veragter het, moet herstel word.
Sukkelaars moet oorwinnaars word.
Strome van lewende water moet uit die binneste vloei.
Die woestynland moet bloei soos 'n ontluikende roosknop. Die alledaagse lewe moet 'n nuwe wyding kry.
Daar is te veel mense wat verskonings en ekskuse vir hulle vuil 1ewens soek. Die swakke durf nie skuil agter sy swakheid nie; die twyfelaar agter sy twyfel nie; die geleerde agter sy verstandelike probleme nie en die afvallige kerklidmaat vir sy slordige lewe nie.
God ken geen uitsonderinge nie. Of ons presidente en ereburgers in die voorste gestoeltes is, en of ons mense in karige wonings langs die grootpaaie van die lewe is, almal moet vernuwe word.
Die nuwe lewe is 'n geestelike weelde wat nie slegs vir enkele begenadigdes bedoel is nie, maar 'n uiterste noodsaaklikheid vir elke mens. Almal moet vernuwe word.
Wat behels die vernuwingswerk? Ons tekswoord spreek van die vernuwing van die gemoed. Die gemoed is mos die sentrum, of dieptepunt van die lewe. Dit is die stamwortel van die persoonlikheid. Hiervandaan kom die slegte en goeie dinge te voorskyn (vgl. Mk. 7:21-23).
Vernuwing is dus niks anders as die vernuwing van hart nie. Die innerlike mens moet reggepak, of gesuiwer word van rommel. Daar is verkeerde gewoontes, verwronge verhoudinge, slegte gesindhede en donker hoeke wat skoongemaak moet word. As die hart verander, verander die hele mens.
Hartsverandering, of vernuwing van die mens, kan van twee kante benader word.
Negatief beteken dit dat die mens ophou om die prioriteite van sy lewe rondom die dinge van die wêreld in te rig - sy geld en spele, sy kuns en tegniek, sy genot en arbeid.
Positief beteken dit dat daar 'n nuwe verpakking kom, dws dat die mens die belange van die koninkryk van God eerste stel (Matt. 6.33). In sy spel, huwelik en arbeid, beproef hy wat God se goeie wil vir sy lewe is. -
Aanpassing by die dinge van die wêreld - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe (1 Joh. 2:16) - is in ons tyd besonder subtiel en dreigend. Niemand hoef in die growwe vorme van wêreldgelykvormigheid te val asof dit die enigste vorm van gruwelike sonde, is nie. 'n Mens se hartsbegeertes kan maar net opgaan in die dinge van die wêreld om die eintlike doel in sy lewe te mis.
Ons patroon van lewe, ons taalgebruik, ons ganse lewensinstelling kan so maklik skeef trek. As die oog donker is, word die hele lewe donker. En so verdwyn die andersheid met die sondige in die wêreld. Lidmate word so maklik slegs nominele Christene wat God nie help nie en die duiwel nog minder hinder.
Eers as die mens van binne uit gegryp word deur die dinamiese en vernuwende krag van die Heilige Gees, dan word gevra na die welgevallige en volmaakte wil van God vir elke situasie - by die draaibank, die ateljee, die beroeps- en huwelikskeuse, die pole van wieg en graf.
Daar bly letterlik geen faset van die lewe oor wat nie deur die Gees van God aangeraak word nie.
Vir baie mense is dit 'n skoonklinkende teorie of droom wat objektief bokant hulle sweef, maar waarvan hulle om een of ander rede niks weet en verstaan nie. Hulle lewe bly maar die ou dorslandtrek sonder verfrissende oases op die pad.
DIE GEVOLGE
As die Heilige Gees werk, kom nuwe dinge tot stand. Want wie kan Hom keer? Ou gevestigde bome word ontwortel. Gevestigde skeure en barse in menselewens en verdroogte takke verdwyn. Donker hoeke word skoongemaak en stukkendes heel gemaak. Daar kom paaie in die woestyn en riviere in die wildernis (Jes. 43. 13, 19).
'n Heilige volk; n nuwe geestelike huis kom tot stand (1 Pet. 2:5, 9). Doodsbene word lewendig (Eseg. 37). Die nuwe lewe weerklink uit die takke van die balsembome.
In die plek van hoogmoed kom nederigheid. Murmurering en opstand maak plek vir oorgawe en berusting in die wil van die Vader.
Begeerlikheid en verleiding word vervang met 'n nuwe voedsel, naamlik om die wil van die Vader te doen. Eie wil en selfvertroue word vervang met kinderlike geloof.
Neerlae slaan om in triomfe deur die oorwinnende krag van God.
Niks minder nie as 'n Godswonder word losgelaat in u en my wese. Daar kom 'n hemelse dimensie in die lewe.
Die werk van die Vernuwingsgees kom tot uiting in nuwe lewensverhoudinge: tot God, tot die naaste, tot die wêreld en tot jouself.
God kom eerste in alles. 'n Innerlike afhanklikheid van Hom beheers die lewe - van die hoed wat jy koop tot die aandelebeurs wat jy betree.
Ook die naaste kom in 'n nuwe lig te staan. Voor ons vernuwing het ons hom met sy foute en gebreke gehaat en met minagting bejeën. Maar nou kom hulle naas ons te staan. Hulle is nie meer opposisie, gevaar of bedreiging nie. Ook nie onpersoonlike nommers op die lewenskaart nie. Hulle word skepsels van God vir wie ons lewensruimte help maak.
Wie tot God bekeer is, is ook bekeer tot die medemens.
Vernieude mense staan ook nie teenoor die wêreld nie. Hulle word lasdraers. Die las van die onverloste mense in die wêreld is hulle verantwoordelikheid. Hulle ken die heil, dog die wêreld ken dit nog nie. Hulle weet dat hulle bestaansrede in hierdie wêreld nie hul egoïstiese genot van die heil is nie, maar om van die Heilbrenger te getuig.
Sulke mense laat hulle meeneem in die beweging van die Gees na die uiteindes van die aarde om van Christus te getuig. Meer nog: hulle word nie verwurg in hulle tradisionele vorme en strukture nie, word ook nie weggesteek agter die mure van hulle niksdoen nie, maar hulle is opgewonde, entoesiastiese mense - metgeselle van Christus. (Luk. 24.48).
Vernieude mense is ook diegene wat hulleself gevind het. Hulle het ontdek dat hulle skepsels van God is wat in afhanklikheid van Hom lewe. Van die eerste kindersnik tot die laaste lewensuiting, is God hulle daaglikse brood. Die wrede self kry 'n ander middelpunt (vgl. Gal. 6-14). Juis omdat hy sy identiteit in Christus gevind het, is die gebed van die Doper die slagspreuk van sy lewe: "Hy moet meer word, en ek minder" (Joh. 3:30).
Mag ek aan u vra of u lewe vernuwe is? Dra dit die vrug van die Vernuwingsgees? Die Gees is magtig om dit ook vir u te doen, maak nie saak wat u agtergrond, probleme, leeftyd of omstandighede is nie. Hy wil dit doen nou en vir altyd: totdat u aanland by die voleinding van alle dinge. By die volle feeslewe in die huis van die Vader.
Amen.
Dr. G.J. Kotze