Jes 42=1-7 Kerkbode 1981
Hy breek nie die geknakte riet
LEES: Jesaja 42:1-7 en Mattheus 11:25-30
TEKS: Jesaja 4 2:1, 3 "Daar is my Kneg Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie
SING: Gesang 6:1-3 GESANG 130:1, 2
BOODSKAP
MISKIEN het iemand al voor 'n toe deur gestaan en klop en die persoon wou nie oopmaak nie. U was in nood. U het groot probleme gehad en u het hulp gesoek, maar moes rug draai.
Miskien het iemand geklop en die deur is oopgemaak. U het u probleme gestel en vir 'n antwoord gewag, maar die man het geen aanvoeling met u nood gehad nie. U kon sien hy begryp nie. Hierdie man se hart was koud teenoor u, en daarom stel hy nie belang om te help nie.
Dit kan ook wees dat hy wel met deernis belanggestel het, maar hy kon nie help nie.
Miskien het u voor 'n toe deur omgedraai om verder te gaan. Waarheen nou? Miskien het iemand weggestap, innerlik geboë onder die nood wat druk en iemand het na die hemel gesug: "Here, is dit dan nie soms moeilik in hierdie wêreld nie?" Hoe groot kan die wêreld tog wees en hoe klein en hulpeloos die arme ou mens!
Ek weet nie of iemand al so 'n ondervinding gehad het nie, maar so-iets is nie snaaks in hierdie lewe nie. En weet u, dis ook nie iets nuuts nie. Dit was juis die toestand wat die God van die hemel duisende jare gelede aangegryp het en wat Hom in sy liefde laat besluit het om neer te daal na die hulpgeroep wat Hy gehoor het. En toe het God gekom om woning in hierdie wêreld te maak. Hy het die Vaderhuis in hierdie wêreld kom indra, sodat die verlore seun en die getrapte, gebreekte dogter maar kan kom aanklop.
En nooit sal die deure meer gesluit wees nie, want om dit baie duidelik te stel het die Here eenmaal deur Jesus, die Gestuurde, gesê: "En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen." Die deure was vir hom oop.
Dit is juis hierdie heerlike voorsiening aan God se kinders in nood, wat die Here hier deur Jesaja aankondig. En Hy doen dit so teer en ontfermend, met 'n boodskap so innig-uitnodigend, want die mens wat voor toe deure gestaan het, moet nou luister: "Daar is my Kneg". Daar is die deur waar jy kan gaan aanklop om altyd op die regte tyd gehelp te word. Daar is Jesus!
'n Mens dink onwillekeurig aan die wonderlike woord van die Heiland in Matteus 11:28 "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee."
Maar let nou op die werk wat Gods Kneg hier kom doen het en nou nog doen. Kyk, daar staan hulle voor aardse deure en klop; neergebuig en gedruk deur soveel sorge en leed en nood. Kyk, die deure gaan toe en hulle moet verder Kyk, hulle is so vermoeid en belas. Luister, God sien hulle ook en Hy sê vir Jesaja: "Ek sien hulle soos geknakte riete en dowwe lamppitte. Maar roep hulle en sê vir hulle: Daar is my Kneg, daar is Jesus en Hy sal die geknakte riet nie breek en die dowwe lamppit sal Hy nie doodblaas nie."
Ja, Jesus staan en wag vir hulle, soos Hy eenmaal by die Jordaan heen-en-weer gestap het, terwyl Johannes na Hom wys en sê: "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem." Jesus wag soos daardie dag toe Johannes volgelinge aan Hom wou voorstel.
Wat het Jesus, die Kneg, nie alles vir sulke mense gedoen nie? Dink maar aan die ontroue vrou wat op die daad van owerspel betrap is. O, wat 'n geknakte stukkie riet toe hulle vir haar na Hom gebring het! En hulle wat haar betrap het, sou die geknakte riet heeltemal gebreek het, maar Jesus doen dit nie. Hy maak heel.
Dink aan Maria hy die graf. 'n Geknakte riet onder haar vrae en droefheid daardie dag in die tuin, en nie een van die vroue, en nie een van die baie ander word weggestuur of verder gebreek nie. Hulle word gehelp!
So is daar vandag ook maar die geknakte riete en dowwe lamppitte, die vermoeide en belaste mense. Wat dink u dan is die ongeredde mens anders as geknak, vermoeid, belas met die baie sonde voor God? Wie anders is die mens wat sy Here verloën het? As 'n mens maar kon kom tot daar waar 'n siel met God worstel! Ja, 'n mens wat in hierdie wêreld op twee voete lewe, en die sonde lê elke dag vir jou en loer, hoe word die mens nie dikwels soos 'n riet geknak nie en jou lewensliggie raak dof om dood te gaan. "Want ons lampie gaan uit" so het die dwase aan die verstandige meisies eenmaal gesê. En so gaan die mens se lampies ook maar uit!
Geknakte riete, dowwe lamppitte, vermoeide en belaste mens!
Waar is die mense onder soveel sorge en met kommer belaai dat hulle soos 'n oorlaaide pakdier stadig en moeg beweeg? Waar is die ander geknakte riete wat deur leed en beproewing moet gaan? Ek dink aan die gebroke hart van menige ouer en van menige kind en jongmens. Wie het dit gedoen? Wie het te hard aan 'n brose riet-halmpie gaan ruk en dit geknak? Dowwe lamppit, waarom het jou lewe so dood en dof begin word? Was dit die sonde wat jou lampie so geblus het; is dit die swaarkry omdat iemand op die hart getrap het? En nou is jou krag maar min en jou geloof is miskien ontneem, en jy twyfel omdat jy voor toe deure moes omdraai en iemand jou nie kon help nie! Maar u word toegeroep en teruggeroep: "Daar is my Kneg. Daar is Jesus" Luister tog nog 'n keer: Hy sal nie breek nie, Hy sal nie doodblaas nie, maar Hy sal aanblaas en Hy sal sterk maak.
Dit is Hy wat sê: "Ek sal julle rus gee". En as iemand mooi nadink dan besef u, dat wat 'n mens die meeste nodig het, is rus. Rus vir my vermoeide siel, rus vir my stukkende, wenende hart, rus onder 'n lewe geknak en wat rook.
En nou is Jesus nooit groter nie as wanneer Hy hierdie rus vir iemand aanbied. Dit sou reeds so wonderlik wees as Hy sou sê: "Ek kan rus gee." "Ja, Here", sou iemand dit saggies wou terugsê: "U en U alleen kan vir my rus gee".
Dit sou reeds so wonderlik wees as Hy sê:" Ek wil vir jou rus gee." "Ja, Here," sou iemand dit wou uitween: "Ander wil nie, maar ek weet, U wil".
Maar Hy sê: "Ek sal vir jou rus gee". Ek sal!
Dis belofte en dis Ja en Amen. Met 'n voorwaarde egter, dat iemand na Hom moet kom. Kom weg van alles waar jy al na rus gesoek het. Kom weg van jou ou opvattinge in verhand met beloofde heil. Kom weg van jou verkeerde staanplek en kom na Hom toe!
O, daar vind so 'n heerlike ruil plaas tussen Jesus en 'n mens wanneer iemand kom sê: "Heiland, Here, wat myne is, gee ek vir U." Ek gee vir U 'n geknakte lewe, 'n rokende lamppit, al my sorge en sonde, al my kwellinge en my gebroke, stukkende ou gewe. Dan gee Hy vir iemand alles wat Syne is: sy vrede, sy vergifnis, sy rus, sy salf, sy vlam!
Geknakte riet, u het Jesus se woord. Dowwe lamppit u het Jesus se belofte. 'n Lewende Jesus by 'n rokende lamppit, dit is wat ek nodig het, en dit is wat vir my aangebied word.
Ek het gehoor van ryke seën wat Hy uitstort mild en vry. Ek het gesien hoe Hy nuut maak. Hy verkwik 'n siel.
O, as Hy oor 'n rokende lamppit blaas!
As Gods Gees oor geknakte riete begin waai!
Amen
Ds. G. Boshoff, Clanwilliam