Joh 3=22-30 Kerkbode 1981
HY MOET MEER WORD.
LEES: Joh. 3:22-30
TEKS: Joh. 3:30; Hy moet meer word en ek minder
SING: Ps. 146: 1,8; Ges. 130:1,4
BOODSKAP:
DIE gelese gedeelte wil 'n uiters belangrike Bybelse boodskap aan ons oorbring. Met die eerste kennismaking met die gedeelte, ondervind ons aanvanklik twee probleme. Die eerste sou ons as 'n Bybelse probleem en die tweede as 'n persoonlike kwessie kon tipeer.
'n Bybelse probleem?
"Hy (Jesus) doop ook" (3:26) - plaas ons midde in die problematiek: Volgens die Evangelie volgens die beskrywinge van Mattheus en Markus word nooit na Jesus se bediening van die doop verwys nie. Wat wel ter sprake gebring word, is Jesus se doopopdrag. Dit sê, Mat. 28:19 en Markus 16:15, onderskeidelik: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels; doop hulle ..." en "Wie glo en gedoop is, sal gered word." Het ons hier met 'n Bybelse teëspraak te doen?
'n Persoonlike kwessie?
'n Woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en 'n Jood lyk op die oog af na 'n rusie wat uit jaloersheid spruit. Hulle argumenteer oor die doop. En dan sê hulle: "Almal gaan na Hom toe." (3:26). So gesien wil Johannes se volgelinge sê dat al die kerkmense na Jesus stroom en hier sit hulle nou met niks.
As dit die geval is, kan 'n teenvraag gestel word. Was die dissipels van Johannes nie teenwoordig toe hy die volgende van Jesus getuig het nie: "Hy (Jesus) wat na my kom, is my voor, want Hy was voor my reeds daar." (1:15) en verder: "Daar is die Lam van God wat sonde van die wêreld wegneem" (1:29). Johannes het dan uitdruklik en onomwonde Jesus as die Messias en Sentrale figuur aangemerk en hoe nou?
Die bedoeling van Joh. 3:22-30 is nie om die By bel in teëspraak met homself te bring of om 'n jaloerse gesprek weer te gee nie. Want die gedeelte self toon nie tekens van Bybelse verwarring of 'n jaloerse gesprek nie. Die Johannes-Evangelis wil nie verwar nie, maar 'n boodskap aan sy lesers meegee. Vanuit die boodskap van die gedeelte verdwyn die Bybelse en persoonlike kwessies.
Die Boodskap
"Hy moet meer word en ek minder." (3:30) - dit is die boodskap. Kortom: Jesus Christus is die belangrikste en Johannes die Doper die ondergeskikte. Om hierdie boodskap tuis te bring, gebruik die Johannes-Evangelis die doop van Jesus om die sentrale gedagte van 3:22-30 aan sy lesers oor te dra. Ter wille van die boodskap, die vermelding, van die doop wat Jesus werklik bedien het. Die Johannes-Evangelis gebruik die doopgedagte waar Mattheus en Markus dit nie vermeld nie met die doel om aanvullend tot die aardse optrede van Jesus te wees en nie as 'n teenstrydigheid nie.
Dat die genoemde boodskap ook nie beperk is net tot hierdie gedeelte nie, is Johannes se getuienis in hoofstuk 1 vers 7 en 8, naamlik: "Hy (Johannes) het gekom om getuienis af te lê Hy was self nie die lig, maar hy moes oor die lig getuig." So gesien word dan ook die 15de vers duidelik: "Hy wat na my kom is my voor, want Hy was voor my reeds daar."
Dat Christus Jesus die belangrikste is, word nie om sentimentele of enige ander redes verkondig nie. Jesus Christus is die belangrikste omdat Hy God is (1:1). Hy is die Woord en die Woord woon by God en is self God soos die eerste hoofstuk van die Johannes-Evangelie getuig.
Hierin lê die outoriteit van Jesus se optrede. Hy is van die hemel (3:27) en gevolglik is Hy die belangrikste. Dit het egter gevolge. Christus se woorde en opdragte is met Goddelikheid gestempel en moet dus in gehoorsaamheid uitgevoer word.
Die persoon van Johannes die Doper kom ook in die gedrang. Ons vind al hier tekens dat Johannes se rol aan die uitspeel is. Hy is nog nie in die tronk nie (3:24). Uiteindelik gaan sy kop ge-eis word en sal hy ook van die toneel verdwyn. Dit beklemtoon maar nog-eens die feit dat Christus Jesus die belangrikste is.
Die doop van Jesus word in die gedeelte gebruik om te beklemtoon wat Johannes alreeds in Markus 1:8 getuig het: "Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop." Nogeens 'n bewys van die ondergeskiktheid van Johannes se doophandeling in vergelyking met die van Jesus Christus. Aansluitend by hierdie hele sentrale gedagte naamlik dat Christus Jesus die belangrikste is, word die beeld van 'n huwelik gebruik. Die bruidegom, Jesus, wat in die huwelik saam met Sy bruid, die kerk, die belangrikste is, word nou met Jesus se koms in die eg verbind.
Dit is waarom alles wentel. Die vriend van die bruidegom se rol is vervul; hy staan eenkant toe en het blydskap (3:29) om te sien dat die groot dag wat so lankal voorspel is, bewaarheid is.
Die kerk het nou sy Hoof, Jesus Christus, ontmoet (Kol. 1:18). Die kerk, die gemeente, die kerkraad die predikant en trouens elke lewende siel moet buig voor Jesus, die Heer. Hy moet die belangrikste plek, die sentrale plek in sy bruid (die kerk) se lewe inneem.
In haar besluite moet na die Christus-gehalte gevra word. Want as Christus die belangrikste is, dan volg dit logies dat Christus Jesus se lewe gestalte in die kerk moet verkry en in al sy vertakkinge tot openbaring moet kom. Dan gaan dit nie om my tradisies, gevoelens, smake en voorkeure nie, maar om die volle erkenning van Christus in my lewe en in die besluite van die kerk ten opsigte van die ganse lewe. Amen