Luk 10=38-42 Kerkbode 1981
Wie kom eerste in u lewe?
LEES: LUKAS 10: 38-42
TEKS: LUKAS 10: 41-42 "Martha, Martha, jy is besorg oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie."
SING: Ps. 95: 1 en 4 Ges. 277: 1, 3, 5
BOODSKAP
Het u al kort voor etenstyd op 'n ander dorp by mense gekom om dan genooi te word: "Eet saam met ons. Ons gooi somaar iets in die pan; dis glad nie moeite nie." En dan spring daardie vriendelike gasvrou aan die werk en berei 'n maaltyd voor en maak soveel moeite, dat jy ongemaklik begin voel? Ek kan my voorstel dat dit is wat moontlik daardie dag in Betanië gebeur het toe Jesus daar aangekom het en Martha Hom genooi het om vir ete te bly.
Ons lees in die Nuwe Testament 'n paar keer van geleenthede toe Jesus by ander vir ete aangesit het. Daar was die ete by Simon, die Fariseër toe die vrou Hom gesalf het en die ete by Saggeus waarheen Jesus Homself genooi het. En nou hier in Betanië by sy geliefde vriende. Elke keer wanneer so 'n ete in die Bybel vermeld word, kan u seker wees dat daar 'n belangrike iets is om te leer.
Prioriteite
Hier leer ons van Jesus dat ons ons prioriteite moet regkry.
Loer ons by hierdie huis in Betanië in, dan sien ons die ouer suster, Martha, baie besig om die ete reg te kry en Maria, die jonger suster, rustig aan die voete van Jesus sit, besig om te luister na alles wat Jesus haar leer. Ons sien hoedat Martha met 'n mate van wrewel na haar jonger suster kyk. Later kan sy dit nie meer inhou nie en sy kom staan waar Jesus en Maria sit en vra met 'n verwytende stem: "Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help." - Het u nie ook meer as eenmaal so gevoel, maar dit dalk net nie hardop gesê nie?
Jesus byt nie terug nie. Met 'n liefdevolle stem sê HY: "Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie."
Kyk ons na hierdie twee susters, dan sien ons dat mense van geaardheid verskil. Martha is die praktiese mens. Maria is baie duidelik daardie soort mens wie se aanleg anders is - moontlik 'n dromer of meer denkende mens.
Afspeel
Maar, ons moet nie hierdie twee soorte mense teen mekaar probeer afspeel nie. Albei soorte is in hierdie wêreld, en veral ook in die kerk, nodig. Ons moenie die Martha's geringskat nie en ons moet veral nie hierdie Martha veroordeel nie. Hierdie Martha het die Here liefgehad. Martha het die Here in haar huis ontvang. Martha het voorsiening gemaak vir Jesus se behoeftes. As Martha baie besig was, dan was dit net 'n bewys van haar liefde vir Jesus. En Jesus het haar ook liefgehad. In Joh. 10 vers 5 lees ons: "Jesus het Martha en Maria en hulle broer, liefgehad."
Ons is nie almal eenders nie en ons moenie anders probeer wees as wat ons Here ons gemaak het nie. Christene moet altyd onthou dat die Here hulle liefhet met die voorkoms en persoonlikheid wat Hy hulle gegee het.
Tog moes Martha 'n groot waarheid leer. Daar was dinge wat sy moes regmaak. Kom ons kyk na die foute wat Martha gemaak het, nie om te veroordeel nie, maar om uit haar ondervinding te leer. Martha was so besig vir die Here dat sy nie opgemerk het hoe bitterheid in haar hart ingekruip het nie. Bitterheid teenoor haar eie suster.
So kry ons soms bitterheid tussen susters in die gemeente omdat die een reken sy doen meer as die ander.
Ons moet onthou dat bitterheid teenoor ons medemens ook bitterheid teenoor die Here bring. Luister wat doen Martha. Sy praat nie met Maria nie, sy gaan staan voor die Here Jesus en sê vir Hom: "Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help." Sy tree op as aanklaer van haar eie suster en haar klagte is terselfdertyd ook 'n aanklag, teen die Here.
Martha vra nie haar suster om te help nie, sy kla haar direk by die Here aan. Sy praat nie mooi met haar suster en vra haar hulp nie, nee, sy wil hê die Here moet haar op haar plek sit. Hoeveel misverstand kan nie uit die weg geruim word as ons net met mekaar wil praat nie? 'n Vrou vertel my hoedat sy ongelukkig by haar werk gevoel het omdat haar baas 'n perfeksionis is en hoë eise stel. Sy het dikwels vir hom gebid dat hy moet verander. Toe hoor sy hierdie woorde van die Here: "Martha, Martha " en sy kom tot die besef: "Maar ek bid mos vir die verkeerde persoon. Ek moet vir myself bid; dat die Here my gesindheid moet verander."
Martha se ander fout was dat sy te besig en besorg oor te veel dinge was: bv. die groot ete en al die voorbereidings. Daarmee was in sigself niks verkeerd nie. Ons moet ook onthou dat sy dit vir haar Here gedoen het. Maar luister wat sê die Here vir haar: "Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie."
Ja, dit waarmee Martha besig was, was op sigself nie verkeerd nie, maar, dit waarmee sy besig was, was nie die belangrikste nie. Vir Martha was al die dinge waarmee sy besig was die belangrikste en tog was dit dinge wat alles van haar weggeneem kon word. Vir Maria was die Koninkryk van God die belangrikste. Haar prioriteite was reg.
Ons werk, ons voetbal, ons gholf, ons TV en al die ander dinge is op sigself niks mee verkeerd nie, maar, is dit die belangrikste? Kom dit nie dalk by ons eerste en die Koninkryk van God by ons tweede nie? Hoe maklik kan hierdie dinge nie alles van ons weggeneem word nie? Maria het die deel gekies wat op aarde en selfs na die dood, nie van haar weggeneem sou kon word nie. Is u prioriteite reg? Om ons prioriteite reg te kry, vereis 'n beslissing, 'n keuse wat gemaak moet word, soos by Maria.
Belangrikste
Die beslommernis van die lewe het Martha so besig gehou dat sy die belangrikste vergeet het. Dit is 'n les vir die besige mense van ons dag, wat dikwels so besig is dat ons vergeet dat daar soms belangriker dinge is as dit waarmee ons besig is. Ons is soms so besig dat ons vergeet van die tyd en liefdesbewyse wat ons aan ons vrou, man of kind verskuldig is.
Ja, ons is dikwels so besig dat ons nie meer gereeld aan die voete van Jesus sit nie. Ons besige program veroorsaak dat ons soms nie kerk toe gaan nie, ons binnekamer afskeep en meestal nie eers dink aan die bywoning van die gemeentebiduur nie. Dit is ook 'n les vir die huisvrou wat soms 'n afgod van haar huis en huiswerk maak en dan die belangrikste dinge vergeet. Maar dit is veral 'n les vir die gelowige Christene. Ja, Martha was 'n goeie Christen, maar sy moes haar prioriteite regkry, sy moes leer om die koninkryk van God altyd eerste te laat kom.
In hierdie gedeelte sê Jesus nie dat om 'n Maria se geaardheid te hê, beter is as om soos 'n Martha te wees nie. Nee, Hy wil ons leer dat ons aktiewe lewe sodanig moet wees dat ons nie oorbesorg, klaerig en ontevrede moet wees nie. Hy wil hê dat ons nie sal toelaat dat hierdie dinge waarmee ons so besig is, ons verhouding met Hom sal benadeel nie. Daarom sê Jesus aan haar: "Martha, Martha, Maria het die goeie deel uitgekies." Asof Hy vir haar wil sê: "Maria het gekies en jy moet ook kies. Martha jy moet jou prioriteite reg kry." Is u prioriteite reg, kom Christus eerste in u lewe? Dit bly die keuse wat elkeen van ons elke dag moet maak. AMEN
Ds. H.M. Janse van Rensburg, Beaufort-Wes
