Luk 17=11-19 Kerkbode 1981
Verheerlik God deur 'n dankbare lewe
LEES: Luk. 17: 11-19
SING: Ps. 86: 1 en Ges. 186: 1, 3.
TEKS: Luk. 17: 15 - "En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik."
BOODSKAP
NOG 'n bleek dag verskyn op die vaal horison en die grys son laat sy strale oor tien eensame melaatses val. Eensame melaatses omdat almal hulle weens hierdie verfoeilike siekte vermy. En omdat almal glo dat God sy aangesig vir hulle verberg vanweë hulle sonde. Geen simpatie of medelye word gegee nie. Verwerping is 'n melaatse se voorland. By hierdie verwerping is daar die pyn en sere van die siekte. En die lomp verwronge liggaam wat homself beswaarlik kan voortsleep - soos 'n sprinkaan wat een van sy pote verloor het en moeilik sy weg moet vind. Daar is geen hospitaal, geen dokter om hulle te versorg nie. Net hulle en hulle alleen teen die wind en weer.
Op die dag wat net soos al die ander gewone dae gekom het, is daar tog iemand wat stilstaan as hulle na Hom roep. Die ander verbygangers die hardloop behoorlik van hulle weg, maar vandag kom hier iemand oor hulle weg wat bereid is om na hulle te luister.
"Eienaardig, die man wat na ons wil luister. Is Hy dan nie bang om aan te steek nie? Is Hy dan nie bang om God te trotseer nie? God het ons gestraf en hier kom 'n vreemdeling na ons?" sê die melaatses vir mekaar. Hulle is al so deur die lewe vertrap en verbrysel, so deur die mense verstoot dat hulle op 'n afstand bly staan.
"Dalk is die man bysiende" sê hulle, "dan kan ons hom iets vra." Ons kan Hom 'n aalmoes, 'n tienstuk of brood vra, miskien sal Hy dit gee, flits deur hulle gedagtes.
Hulle voeg die woord by die gedagte en roep uit: "Jesus Meester, wees ons barmhartig!"
Maar hierdie roep was 'n roep wat onmeetbare gevolge vir hulle ingehou het. Hulle was by die uitroep nie in die minste bewus van wat sou volg nie..
'n Ander Son het op hulle siek liggame begin skyn, die Son van Geregtigheid. Daar op die stofpad tussen Samaria en Galilea gaan hulle hele wese en bestaan verander. Want hulle het in die kragveld van die evangelie te staan gekom.
En die vreemde persoon sê: "Gaan vertoon julle aan die priesters."
Wat 'n woord! Dit beteken net een ding, die tien is genees. In die Bybelse tyd kon 'n melaatse in die gemeenskap opgeneem word indien die priester hom ondersoek en as gesond sertifiseer.
So ervaar hierdie melaatses, toe hulle op pad na die priester is om hulle daar aan hom te gaan vertoon, dat hulle genees is. Hulle kan weer normaal loop en uit opgewondenheid vir die genesing begin hulle sommer hardloop.
"Ongelooflik," roep hulle uit. Sommige het seker van blydskap gehuil. Wat 'n wonderlike dag. Tien melaatses verander in tien gesonde mense. Tien mense wat lag, jubel, spring en opgewonde is soos kinders. Alles het verander.
Deur die gebeurtenis wil die Bybel 'n bepaalde boodskap oordra en die boodskap is: "Jesus is Koning". In sy Hande word alle strale van mag saamgevat. "En Jesus het nadergekom en met hulle gespreek en gesê: "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde". (Mat. 28:18).
Omdat Jesus oor alle mag beskik het, kon Hy hierdie siekte in die ban doen. Maar deur hierdie magsdaad het sy Messiasskap deursigtig geword. Jesus was waarlik die Messias wat na die wêreld gekom het.
Die kerk van Jesus se tyd moes net hierdie feit bely deur middel van hulle verteenwoordigers, naamlik die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Maar hulle het nie aanvaar dat Jesus die Messias is nie, nog minder het hulle die evangelie wat Hy kom verkondig het, aanvaar.
Een van die geneeste mans word egter diep deur hierdie magsdaad getref, hierdie wonder wat Jesus hom kom aandoen het. Terwyl hy hygend en snakkend na sy asem soek om so gou as moontlik by die priester te kom; slaan iets sy voete onder hom uit. Hy kon nie meer net weghardloop nie. Hy moes God-verheerlik.
Die Bybel sê hy, "het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik". Hy wil die Bron van hierdie wonderdaad dank bewys. Hy huppel terug en kom val aan die voete van Jesus.
Hoe onmeetlik groot was die man se dankbaarheid nie. Net maar een woord het oor sy lippe gerol, dankie, dankie Here Jesus Christus.
Dan die interessante: "En hy was 'n Samaritaan." Die kerk van destyds het geen tyd vir hulle gehad nie. Samaritane is baster-Jode en vir 'n basterbevolking was daar nie plek binne die mure van die kerk nie.
Die Bybelse verwysing na die dankbare Samaritaan wil maar net Jesus se boodskap beklemtoon wat hy teenoor die Fariseërs en Skrifgeleerdes by vorige geleenthede verkondig het, naamlik "Voorwaar ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God." (Matt. 21:31).
Ons wat deel is van vandag se kerk, waar lê ons dankbaarheid?
Hierdie stralend-gelukkige Samaritaanse man. wat Jesus se strale van genesing ervaar het, het sy lewe aan God gewy en Jesus het gesê: "Staan op en gaan. Jou geloof het jou gered."
Maar by dieselfde geleentheid vra Jesus na die kerk se mense wat so fatsoenlik lewe en Christus nie as Messias erken nie: "Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?"•
Kerkmens, het u al een keer in u dolle gejaag tot stilstand gekom en doelbewus omgedraai en God gaan dank?
Kom ons dink 'n oomblik aan die genade van God wat ons daagliks en vir die ewigheid ontvang.
Ons het 'n Vader in die Hemel wat ons liefhet. So liefgehad het dat Hy sy Eniggebore Seun na hierdie doemwaardige wêreld gestuur het om ons as sondaarmense te red. Ons wat onvermydelik op 'n afgrond afgestuur het, is van totale vernietiging geweer deur Jesus Christus onse Here. Deur sy Reddingsdaad het ons die vergifnis van sondes ontvang. Ons is bevry van die sondelas - dit het van ons afgerol toe God se genade in ons lewens sigbaar geword het.
Afgesien van die geestelike seën wat ons ontvang, ontvang ons ook talle aardse seëninge.
Maar waar is ons dankbaarheid?
Ons bedroef God deur ons gewetenlose ondankbaarheid. En dit verdien Hy nie. -
Amen