Luk 19=1-10 Kerkbode 1981
Perspektief op 'n reddingsdaad
LEES: LUK. 29:1-10.
TEKS: LUK. 19:10- Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was".
SING: Ps. 8: 1, 3, 4; Ges. 304: 3; Ges. 7: 1, 4.
BOODSKAP:
Die aangrypendste boodskap wat die wêreld ooit verneem het, is die aangaande die roemrykste verlossing denkbaar. En hierdie verlossing voer ons onvermydelik terug na die skrikwekkendste noodsituasie van alle tye. Die boodskap is die wat die Woord van God as die evangelie van heil verkondig. Die verlossing waarvan dit getuig, is die van 'n onsterflike siel. En die noodsituasie waaruit hierdie siel verlos word, is die van die ewige verderf waarin elke mens van nature gevange sit. Die heilsgebeure waardeur die sondaarmens van sy sonde en ellende verlos word om deel te hê aan die oorwinningsgetuienis tot eer van God, vorm die kern-inhoud van die Skrifgetuienis. Wat die Heiland na aanleiding van sy ontmoeting met Saggeus in ons teksgedeelte meedeel, bevat dan ook as't ware die evangelie in die kleine, en sou op baie plekke in die Skrif woordeliks toegevoeg kon word sonder om die logiese gang enigsins te versteur.
1. Ons begin vanselfsprekend by die NOODSITUASIE: die toestand waarin die mens hom van nature bevind. Dit is 'n toestand van verlorenheid. Die "wat verlore was" is nie slegs enkeles onder die baie nie, nie slegs swakkelinge nie, nie slegs misdeeldes en ongelukkiges vanweë dwaashede wat hulle begaan het nie, nie slegs die uitvaagsel van die samelewing nie. Nee, die "wat verlore was", sluit almal in. Want almal, selfs die voortreflikste, sien die lewenslig as 'n verlorene: Dit is eie aan sy sondige natuur om verlore te wees, om verlore te gaan.
Ons het hier met 'n noodsituasie van die grootste diepte en omvang te doen. Waarom? Dit het die mens allereers by die wortel van sy lewensbestaan getref, sy verhouding tot God asook sy Godgegewe doel en roeping aangetas.
Die beelddraer van God het 'n vyand van God geword deur iets wat kragtens sy ingeskape vryheid toegang tot sy lewe gekry het, ingedra is. Die weg daartoe is gebaan deur 'n twyfelvraag van Satan: "Is dit so dat God gesê het?" Die doel van God met sy skeppingskroon is bevraagteken. 'n Noodsituasie van ontsaglike diepte word hierdeur geskep, want met die kultuuropdrag om te vermeerder en die aarde te onderwerp (Gen. 1:28) vind die vyandskap teen God toegang tot elke faset van die mens se bestaan.
Namate die kwaad van geslag tot geslag voortgedra word, word die noodsituasie ook vererger vanweë die omvang daarvan. Juis omdat die uitvoering van die opdrag om te vermeerder nie op die gehoorsame vervulling van God se kultuuropdrag afgestuur het nie, maar 'n geslag gekweek het wat eeu op eeu God na die kroon sou steek, het die kwaad met die getalle-groei van die mensdom toegeneem. Elke volk en nasie soos God aan hulle hul woonplekke gegee het, het op die voetspoor van die sondeval in opstand teen die Almagtige betrokke geraak (Ps. 2).
Volksleiers word aanvoerders teen die Here en teen sy Gesalfde (vs. 2). En dit is nie 'n toestand wat die mens in sy primitiewe staat tref nie, nie iets wat eie is aan die skemeroggend van sy onheilsgeskiedenis nie, maar 'n lot waaronder hy op die hoogte van sy geestelike en verstandsvermoëns gebuk gaan. Ondanks sy hooggeroemde wetenskaplike en tegniese prestasies en sy diepgaande wysgerige insig, dryf die mens wat sy ankers met God verloor het, al verder van sy heilsbestemming weg. Voorwaar 'n eeue-oue noodsituasie wat gekarakteriseer word deur die ellende waarin hulle verkeer wat van God vervreemd lewe. Durf iemand hom dan in eiewysheid en met 'n beroep op enige prestasie aan hierdie toestand van verwording onttrek? Temeer as ons God se vrymagtige optrede in hierdie situasie in oënskou neem?
2. Die toestand van sy gevalle skepping regverdig die ingryping van God self. Die roemrykste VERLOSSING van die skepping word nie voltrek deurdat God die skoonste maaksel van sy hand saam met al sy handewerk vernietig, verdelg om weer voor te begin nie. God verlos nie deur te vernietig nie. Dit sou 'n wanhoopsdaad wees. Nee, God verlos deur die redding van 'n onsterflike siel, die enkeling-mens in sy toestand, om daardeur hierdie skepsel 'n waardige rentmeester in sy omgang met sy skeppingswerk te maak.
En hierdie reddingsdaad kan alleen deur die neerbuigende bemoeiing van die Almagtige met die mens sy beslag kry. Die Seun van God het as die Seun van die mens in die gedaante van ons vlees onder ons kom woon. "Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was" (vlg. Fil. 2: 1-11). Die val van die enkeling (Adam) laat as vrug die mees tragiese verwording by die enkeling-mens van alle eeue. Die reddingsdaad van God bestaan dan ook daarin dat Hy deur die Seun die enkeling aanspreek (Luk. 23:43) en die hand van redding na die enkeling uitsteek (joh. 21: 15-19).
Die daad van redding waardeur die enkeling behou word, gee onverganklike inhoud aan die grootste reddingsgebeure denkbaar: Een-vir-een word ons opgeroep om as nuwe skepsels in Christus afsonderlik en gemeenskaplik sy eer te verkondig. Die waarde van een siel is te groot en die bestemming daarvan te verhewe om krag of geweld of die stoflike wapen daaraan te waag. Feilbare mensewerk is as voor-die-hand-liggende toevlug van die afvallige mens, verwerplik (Ps. 49: 8-10). Wat 'n les vir ons as enkelinge, en vir die wêreld van ons dag! Om tot onontwykbare persoonlike dienslewering aan God te kom, moet persoonlike, proefondervindelike ervaring van die verlossing in Christus as die enigste voorwaarde tot diens, ons deel wees.
3. Danksy die ingrypende vernuwing wat die verlossing in Christus vir die gevalle skepsel meebring, word die getuieniswoord wat hierdie wese geroep word om uit te dra, DIE HEERLIKSTE BOODSKAP ooit. Die heilsverkondiging in Christus bestaan daarin dat ons vir die wêreld sal sê dat nie die sonde nie, maar die verlossing in Christus diep, onuitwisbare spore in die wêreld gelaat het. Dit is geen sensasionele nuwigheid wat ons verkondig nie, maar 'n betroubare getuienis waardeur die wêreld van alle eeue sedert die vleeswording van die Woord, aangespreek word: "Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is" (1 Tim. 1:15.
Die boodskap wat ons mag uitdra, is intiem gemoeid met die verlossing wat ons deelagtig geword het, nie alleen vanweë die lewewekkende inhoud van hierdie boodskap nie, maar ook vanweë die intense betrokkenheid van die nuwe mens as getuie van Christus en as draer van hierdie boodskap. Wie vanuit die diepe noodsituasie tot die lewende verlossing in Christus gekom het, is heilig verplig om die wêreld daarvan te laat hoor: Die eer kom God toe deurdat die heilswoord ander tot redding bereik. Gelukkig word die getuienisopdrag halfweg ontmoet deur die getuienisdrang in die hart van die nuwe mens.
En so word die universele noodsituasie, danksy die magtige verlossing deur Christus se kruis-offerande, die klankbodem vanwaar die heerlikste boodskap in die wêreld weerklink. Christus het tot ons lyding en ellende ingegaan om vanuit dit wat 'n ontsaglike krisissituasie vir die mens was, u boodskap van hoop vir die ontredderde wêreld te bied.
Ons mag die werklikheid van die sondeval nooit aan die vergetelheid uitlewer nie. Dit moet steeds 'n deel van ons getuienis vir die Here wees, te meer omdat dit steeds moet bydra om suiwer perspektief aan God se genadebemoeiing met sy duurgekoopte eiendom te gee.
Ds. H. C. de Wet, Dutoitspan