Luk 22=31-34 Kerkbode 1981
Christus het vir jou gebid
LEES: Luk. 22:31-34
SING: Ps. 103:1, 11 Ges. 62:2, 3 Ges. 305:4
TEKS: Luk. 22:31, 32 - ``En die Here sê: Simon, Simon, kyk die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk."
BOODSKAP:
GEDURENDE die Pinkstertyd, nie so lank gelede nie, het die kerkklokke elke aand in elke dorp en stad oor ons hele land gelui om mense tot gebed op te roep. En ons het tot God gebid.
Maar die grootste bemoediging is dat Jesus Christus eenmaal aan Petrus gesê het: "Ek het vir jou gebid." Want dit geld vir alle gelowiges.
Ons merk dat Jesus die ou naam Simon gebruik om Petrus aan sy swakhede te herinner. Petrus was die leier-dissipel, die eerste dissipel wat Jesus Christus bely het as die Seun van God. En juis daarom was hy by uitstek die skyf vir die aanvalle van die Satan.
En nou word Petrus, wat tot hiertoe die mondstuk van die dissipels was, die oorstuk vir die dissipels, deur wie Christus met hulle praat. En deur hom verneem hulle dat hulle nie van beproewings en probleme gevrywaar sou word nie, maar dat hulle deur Christus se gebede in die geloof versterk sou word om staande te bly.
Met betrekking tot hulle omstandighede gee Jesus aan Petrus:
1. DIE OPSOMMING:
Die kort samevatting van die feit dat hulle in die nabye toekoms nie langer in so 'n geëerde en beskermde posisie sal verkeer nie: "Die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif." En Jesus Christus gaan die Satan toelaat om die harde, maar so nodige siftingsproses uit te voer, sodat die beskermende kaf van die graankorrels verwyder kan word, hoewel Satan seker gedink het dat alles net as kaf aan die lig sou kom.
Die Satan, letterlik die aanklaer, die belasteraar, wil Petrus en die ander dissipels skud en Skok in sy sif. Hy wil hulle rondruk en rondskommel temidde van moeilike omstandighede ten einde hulle geestelik afvallig te probeer maak. Hy wil Petrus probeer uitsif wanneer sy Meester in Getsemane in die gebed worstel, en wanneer Hy gevange geneem word, en wanneer 'n diensmeisie hom by die vuur in die binneplaas uitvra aangaande sy volgelingskap van Jesus, en wanneer Jesus verhoor word en gekruisig word. En Jesus draai geen doekies om die vooruitsig dat daar vir die dissipels minder gunstige tye in die wêreld wag wanneer Hy hulle hier sal agterlaat nie. Dit is die nasleep van die sondeval waaronder ons almal vandag nog ly. En die dissipels van die Here moet gesif en gesuiwer word.
Ja, vandag nog wil die Satan ons op baie maniere uitsif! Hy dreig ons met militêre magte, hy maak 'n aanslag op ons gees en denke, hy probeer ons sedes aftakel, hy vergiftig ons gedagtes met die materialisme van ons tyd. En hy hou ons so besig met gebeurtenisse en prestasies en probleme en bedrywighede en sport en beeldradio dat die geestelike dinge naderhand op die agtergrond geskuif word.
Die mens is inderdaad so besig met die stoflike, met die staal en die sement, en met sy brood en botter, dat hy op die Lewensbrood nie meer ag gee nie.
So besig met homself dat hy van God vergeet.
So besig met die ruimtevaart van die mens dat hy die hemelvaart van Christus gering ag.
So besig met die wêreld dat hy die hemel uit die oog verloor.
So besig met die versinsels van sy eie gees dat hy nie meer in die Gees van God belangstel nie.
So besig om voort te hardloop dat hy die blomme op die lewenspad vertrap...
Maar Jesus Christus sien die lewensnood van die mens. En Hy hou aan Petrus voor:
2. DIE OPLOSSING:
"Maar Ek het vir jou gebid." Petrus, dank Hom vir daardie Goddelike "maar"! Ja, Petrus verloën sy Meester voor die haan kraai: "Ek ken Hom nie". Maar sy Meester ken hom en Hy bis vir hom!
O, Godswonder! As Ons ontrou is, Hy bly getrou. As ons ons houvas verslap, hou Hy ons vas. Want die geloof is 'n onverliesbare gawe van God. Eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God. Al is jy soms 'n ongehoorsame kind, bly jy kind van God! Omdat Hy die werk van sy hande nooit laat. vaar nie, maar voleindig wat Hy in ons en deur ons begin het: Hy wat ons eerste liefgehad het, Hy wat vir ons intree by sy Vader - dat die voorneme van God volgens die verkiesing kan bly staan.
Soms, veral in beproewing, kan ons glad nie bid nie, maar Hy bid vir ons, soos Hy vir sy bedreigde dissipels gebid het. En "as God vir ons is, wie kan teen ons wees?"
Uiteindelik gee Hy aan Petrus:
3. DIE OPDRAG:
"Jy moet jou broeders versterk." Daar is 'n toerusting, 'n toekoms en 'n taak. En Petrus word 'n instrument in die hand van die Here. Die bevreesde dissipel word die Pinksterprediker, die Rotsman, op die rots van wie se getuienis die kerk van Christus gebou word!
Geliefdes, ook in hierdie twintigste bestaansjaar van ons Republiek is ons dankbaar dat die Christelike godsdiens deur mense soos Jan van Riebeeck in hierdie land ingedra is en deur leiers soos Piet Retief en Paul Kruger voortgedra is - geestelike aristokrate vir wie die Christendom nie vormlik uit 'n stel reëls bestaan het nie, maar vir wie dit 'n lewenswyse was, manne en vroue vir wie die kerk nie bloot dooie organisasie was nie, maar 'n lewende organisme.
Deur hulle toedoen is "die broeders versterk" en is ons dankbaar dat ons vandag 'n Grondwet en 'n Volkslied besit waarin die Naam van die Here vermeld word, dat die hoogste vergadering van ons land met gebed geopen word, dat godsdiens-onderrig in ons skole aangebied word, dat 'n groot persentasie bewoners van hierdie land nog die kerk besoek, en dat die evangelie ook onder die heidene uitgedra is en word. Dankbaar vir mense wat nie net agtertoe en vorentoe kyk nie, maar wat ook Omhoog kyk.
Maar die opdrag is ook aan ons adres gerig om op alle lewensvlakke Woord van God te laat geld en om die godsdiens nie net die kerkpak te laat dra nie, maar ook die werkpak. Want as Suid-Afrika ooit in die sif van die Satan was, dan is dit nou.
Ons word geskud deur die kommunisme, die liberalisme en die humanisme wat geestelike waardes wil verwater en vernietig. Mag ons in die gedruis van die lewe, temidde van die stof en die roet van die daaglikse roetine steeds in woord en voorbeeld getroue getuies bevind word - mense wat wandel as siende die Onsienlike, die oog gevestig op ons Verlosser, Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof.
Luister weer na die opsomming, die oplossing en die opdrag: "Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie. En ... jy moet jou broeders versterk."
AMEN.
Ds. J. H. Loubser