Luk 22=7-46 Kerkbode 1981
Lyding, afsondering en nabyheid.
LEES: Luk. 22:7-23 en 39-46.
TEKS: Luk. 22:41, En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid.
BOODSKAP
Dit is Donderdagnag in die maand Nisan meer as 2 000 jaar gelede.
Twaalf man stap deur die stadspoort by die dal van Josafat uit. Hulle steek die spruit Keebron oor, en toe hulle aan die westelike helling van die Olyfberg kom, staan hulle vir 'n oomblik stil.
Voor hulle lê Getsemane, daar waar hulle al so baie bymekaar gekom het om te bid. Maar vanaand sal dit anders wees, veral vir Een van hulle.
Van vanaand af gaan Jesus begin om die Olyfpers alleen te trap.
Hy sal so beangs en benoud word dat sy sweet soos druppels bloed op die grond sal val.
Maar nou doen Jesus iets ongewoons. Hy vra van sy dissipels om agter te bly, die ander drie neem Hy saam met Hom, en hulle klim die helling verder uit.
Toe hulle bo kom lees ons: "Hy het Hom van hulle afgesonder sover as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid."
In hierdie skynbaar niksseggende woorde, "sover as 'n mens met 'n klip kan gooi" lê daar 'n diepte en draagwydte wat ons nie altyd besef nie. As ons ons in hierdie gebeure inleef dan kom ons tot die ontdekking dat lyding na afsondering en nabyheid smag.
Christus sonder Hom af in sy lyding.
Hy sonder Hom van Petrus, Johannes en Jakobus af, "Sover as 'n mens met 'n klip kan gooi." Letterlik staan hier Hy het Hom van hulle afgeskeur. "Sover as 'n mens met 'n klip kan gooi," dis tog nie baie ver nie, sowat dertig of veertig meter.
Wat sien ons hierin? Hy is afgesonder, maar tog nie te ver verwyder nie. Op hierdie afstand is Hy nie heeltemal sigbaar nie, maar tog ook nie onsigbaar nie. Sagte woorde wat geprewel word, en snikke wat onderdruk word kan nie gehoor word nie, maar harde uitroepe en 'n gil is duidelik hoorbaar oor so 'n afstand.
In hierdie oomblikke het Jesus Hom van hulle afgeskeur, en het Hy ook vir hulle gesê: "My siel is diep bedroef tot die dood toe". (Matt. 26:38).
U wat ook al deur die meule gegaan het, u weet hoe 'n mens in krisistye jou wil afsonder, hoe jy soms begeer om net alleen te wees. Toe u so ernstig siek was in die hospitaal, toe dit so swaar was om met mense te kommunikeer, hoe het u toe nie begeer om alleen te wees nie, en tog, hoe het u ook nie daarna uitgesien dat besoektyd moet aanbreek nie.
Toe u u dierbare aan die dood afgegee het, toe het u die opregte simpatie van dierbares en vriende so waardeer, maar soms het die toeloop vir u te veel geword, en die gelui van die telefoon, hoe het u toe nie ook begeer om alleen te wees, sodat u u smart kan verwerk.
Laat ons dit maar in gedagte hou, mense in hul droefheid het afsondering nodig.
Toe u kind u teleurgestel het, toe u dogter of u seun u teleurgestel het, toe hulle oor die tou getrap het, toe hulle geskei het of wou skei, toe wou u met mense praat, maar u het soms ook gevoel asof u geen mens wou sien nie. Toe u gehoor het u of u dierbare ly aan 'n ongeneeslike siekte, toe u verneem het daar sal nooit 'n eie kindjie in u huis wees nie, toe was dit ook so.
In hierdie opsig is die mens baie soos 'n diertjie. U weet hoe u hondjie, as hy seergekry het of siek is, 'n eensame, donker plekkie opsoek. U moet gedurig soek en roep en dan kom hy ook maar nie.
Christus sonder Hom af, Hy gaan dertig tree opsy. Hierin sien u hoe Hy stadig maar seker deur God verlaat word, God begin Hom isoleer van diegene wat die naaste aan Hom gestaan het. In sy alleenheid moet Hy boete doen vir die sonde, vir u en my sonde.
Sonder die steun van mense moet Hy die pers alleen trap, want Hy is die enigste Middelaar tussen God en mens.
In hierdie afsondering skuil daar ook iets van verberging. Op so 'n afstand van 30 tot 40 treë is dit asof daar iets soos 'n kantgordyn tussen Hom en sy dissipels ingeskuif het.
God wil nie alles laat hoor en sien nie.
Hulle mag sien, maar nie alles nie.
Hulle moet hoor, maar nie alles nie.
Is dit nie ook so as ons ly nie?
Daar is soveel wat ons vir mense wat sal verstaan wil sê, maar daar is ook soveel wat ons nie graag wil openbaar nie - vandaar die afsondering.
Maar tog is daar Een vir wie ons alles kan sê, immers, Hy weet tog alles! En Christus doen dit ook. "Hy sonder Hom af, sover as wat 'n mens met 'n klip kan gooi - om te bid."
Wat Hy vir niemand anders kan sê nie, dit kan Hy vir sy vader sê. Vir sy dissipels en ook vir ons sê Jesus: "Bid dat julle nie in versoeking kom nie." Die stryd teen die Bose - ook ons stryd - word nie geveg met menslike wapens nie, maar op die knieë.
So sien ons vir Christus daar in Getsemane, geknak op sy knieë. Hy deins terug vir die sonde, die sonde waarmee u en ek so maklik speel. In sy smartnag vind ons Hom op sy knieë. Daar is geen steun in sy bomenslike stryd nie. Geen wakende deelname gedurende sy intense spanning nie. Hier vind ons die strydende Christus op sy knieë, en die slapende Kerk, sy dissipels, 'n klipgooi van Hom af.
Die enigste ligbron in hierdie donker nag van angs en eensaamheid is sy Vader, en daarom hoor u Hom ook roep: My Vader!
As u benoud en beangs is, as die donker nag oor u as weduwee of wewenaar toegesak het, as die eensaamheid van die ouderdom kwel, as u siek is of teleurgesteld is, weet dan dat u ook deur Jesus Christus kan roep: Vader. Abba Vader, dit is iets soos my Vader. Nog intiemer: Pappie.
Weet dan, in u afsondering, kan u in die gebed u nood by Hom kla. In die lig van ons teks leer ons om ons eie, en ander se begeerte tot afsondering, so goed verstaan. En laat ons wat buite staan ons tog daarvan weerhou om ons nie in sulke tye op te dring nie, nie met onheilige voete heilige grond te betree nie. Laat ons nooit ongevraagd indring nie.
Ons moet verstaan daar kom tye dat die mens sy smart en droefheid wil verberg. Maar tog moet ons daar wees, bereid tot diens, en nie slapende nie, as ons bystand benodig word.
Ons sien dit ook by Christus:
Hy soek na die nabyheid van sy dissipels.
'n Klipgooi - dis nie te ver nie, Hy bly binne die bereik van hulle teenwoordigheid. Keer op keer gaan Hy dan ook hulle teenwoordigheid opsoek.
Ons sien hier: Hy wil alleen wees, maar nie eensaam nie.
In sy verlatenheid soek Hy ondersteuning by hulle wat so naby Hom was. Hy moet sekere dinge verberg, maar Hy het ook soveel om te openbaar en mee te deel.
Dis die twee pole waartussen Hy, maar ook u en ek heen en weer geslinger word. Afgesonder en nabyheid. Verberging en openbaring.
Vir Christus word hierdie nabyheid egter nie gegun nie. Teleurgesteld moet Hy vir sy dissipels sê: So was julle dan nie in staat om een uur saam met my te waak nie. (Matt. 26:40)
Maar God hoor sy smeek geroep, ken en verstaan sy eensaamheid: " 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn om Hom te versterk." As u en ek in ons lydensnag heen en weer geslinger word tussen die begeerte na afsondering en nabyheid, wanneer ons so diep afhanklik is van menslike meelewing en simpatie, en mense tog soms so ver staan, dan kom Christus en Hy verseker ons van Sy goddelike meelewing. Hy kom bied dit vir ons aan. Hy vir wie geen meelewing gegun was nie. Hy sal begrip hê vir u eensaamheid, u afsondering, maar ook vir u soeke na nabyheid.
U weet dit mos, u het dit ook al ervaar, ja, u het dit ook al gesê: "As dit nie vir die nabyheid van die Here was nie, dan het ek dit nooit oorleef nie, sou ek dit nie kon verwerk nie!"
Maar tog het u u medemens nodig gehad, hoe dankbaar was u nie vir opregte meelewing nie.
Wat betref sterwensbegeleiding word ons geleer, dat ons ons sterwende dierbares nie alleen in 'n eensame kamertjie moet stoot in hulle laaste sterwens oomblikke nie. Nee, ons moet daar wees om te waak, hulle het ons nabyheid so nodig.
Telkens as ons let op die lye van Jesus kry ons die aanvoeling: Alles is nie geopenbaar nie, ons het alles nie verstaan nie. Ons het Hom gevolg sover as 'n mens met 'n klip kan gooi. Ons kon nie tot die volle diepte deurdring nie.
Waarom nie? Daar is altyd afstand, daar moet altyd eerbied vir lye wees. Maar tog is daar nabyheid, omdat ons Hom in die geloof kan volg.
En laat dit vir elkeen die geheim opklaar. In u lyding mag u Christus nooit uit die oog verloor nie, want Hy is nooit verder van u as wat u met 'n klip kan gooi nie, en as u roep, dan is Hy by u, nader aan u as die klere aan u lyf.
Maar sonder Hom in u lewe is u tans nie verder as 'n klipgooi van die oordeel af nie, beweeg u op die rand van die verdoemenis. Dan oorval die angs van Getsemane u sonder dat daar iemand is om te help. Dan is u van God en mens verlate, en dit is hel. Want dit is mos wat hel beteken. Daar waar God nie is nie!
Is u eensaamheid, u smart, nie juis nou vir u hel omdat Christus nie saam met u, by u is nie?
Kind van God, weet, glo dit. Christus het die eensame stryd gestry sodat u en ek dit nooit weer alleen hoef te doen nie! Glo dit met u hele hart en u eensaamheid sal verdwyn - u "hel" sal hemel word.
Amen
D. F.A. Dreyer Drie Riviere-Oos